daboekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Kan Suid-Afrika weer 'n Afrikanerstaat word?

Indien Suid-Afrika weer 'n Westerse land word, kan dit 'n groot bydrae tot Afrika-stabiliteit lewer.

______________________________________________________________________

Dan Roodt

Waarskynlik kan mens vandag sê dat daar twee politieke kampe onder Afrikaners bestaan: diegene wat met die huidige stelsel wil saamwerk en diegene wat dit verander wil sien. Onder die eerste groep tel natuurlik Marthinus van Schalkwyk, die FW de Klerk-stigting, Ton Vosloo en Nasionale Pers, Willie Esterhuyse en sy sakemanne, die Afrikanerbond en die Afrikaanse Handelsinstituut.

Met betrekking tot die huidige stelsel, kan ons hulle die "konserwatiewe" noem. Hulle is gekant teen verandering en glo dat enkele klein hervormings soos "meer regverdige" regstellende aksie, gelyke geleenthede en die toepassing van grondwetlike meertaligheid Suid-Afrika in 'n lushof gaan omskep.

Die tweede kamp, wat ons vir die doeleindes van my argument die "radikale" kan noem, voel dat 'n ANC-Suid-Afrika vir die Afrikaner bloot 'n meulsteun om die nek is en dat drastiese verandering nodig is. Onder hul doelwitte tel die herstel van Afrikaner-soewereiniteit, die afskaffing van rassewetgewing wat swartes bevoordeel en blankes benadeel, asook selfbeskikking en 'n eie grondgebied.

Die konserwatiewe groep bestaan hoofsaaklik uit die sake- en akademiese elite wat almal op een of ander manier by die huidige stelsel baat vind. Hierteenoor verteenwoordig vandag se Afrikaner-radikale 'n heterogene versameling huidige en oud-nasionaliste, ontnugterde liberale en linkses, klein sakemanne, asook die gewone Afrikaner rondom die spreekwoordelike braaivleisvuur wat spreekwoordelik "gatvol" is vir misdaad, diskriminasie en swart grypsug.

Selfs iemand soos die digter Breyten Breytenbach wat bekend is vir sy wispelturige politieke standpunte, is deesdae erg ontnugter met die ANC-regime. Nie net het hy die verengelsing van die Universiteit van Stellenbosch teengestaan nie, maar hy het ook blykbaar onlangs bitsige private briewe aan die rektor, Chris Brink, gerig waarin hy hom van verraad beskuldig.

Die radikale Afrikaner sou nogal heelwat inspirasie kon put uit Breyten Breytenbach se beroemde "Blik van buite" uit 1973, wat ek hier so effens parafraseer om by die huidige werklikheid aan te pas:

"Ek is partydig. Ek kies kant. Omdat dit vir my gaan om die totstandkoming van leefbare omstandighede in ons gemeenskap. Omdat dit vir my gaan om 'n soeke na, 'n óópmaak na 'n samelewing waarin elkeen van ons en almal van ons sy regmatige aandeel kan hê, waarin ons op gelyke voet verantwoordelikheid vir mekaar kan aanvaar. Omdat dit vir my gaan om die bevegting van daardie instansies en mites en vooroordele en onwaarhede en stompsinnigheid en selfsugtigheid en selfvernietigingsdrifte en common onnoselheid wat so 'n samelewing onmoontlik maak. Dís my lojaliteit. Dít is die inhoud van my Afrikanerskap."

Die probleem is nou dat daardie Afrikaners wat partydig is en kant gekies het vir Afrikanervryheid, nie eintlik kan ooreenkom oor hul uiteindelike doelwit nie. Ek is veral hiervan bewus omdat 'n groepie van ons by die Tussentydse Afrikanerraad tans besig is om so 'n debat oor die Afrikaner se toekoms te voer. Persoonlik is ek natuurlik daarvan oortuig dat die weg na vryheid deur 'n eie staat of gebied loop wat as eerste "bevryde sone" tot stand moet kom. Hierteenoor is daar die HNP-standpunt dat die Afrikaner weer "die hele Suid-Afrika" moet regeer.

Dan word daar ook gepraat van 'n federale of kantonstelsel wat landwyd opgerig moet word sodat elkeen waar hy woon selfbeskikking ná die Switserse model mag geniet. Die probleem is natuurlik dat die ANC nooit so 'n stelsel sal toelaat nie en waar dit ook al tot stand kom, die staatsmag sal gebruik om dit af te breek en sy verdrukking voort te sit.

'n Jong vrouejoernalis het my onlangs laat verstaan dat ons "die visier hoog moet stel". Selfs al kom mens nie by die hele doelwit uit nie, kan slegs 50% intussen goed genoeg wees.

Vandaar dus my huidige vraag in hierdie debat wat tans woed tussen voorstanders van 'n volkstaat, 'n kantonstelsel of die HNP-beleid van "dié land is ons land": kan Suid-Afrika weer 'n Afrikanerstaat word?

Myns insiens is dit moontlik, maar dan nie oornag nie. Demografies, militêr en polities is ons eenvoudig te verswak om onmiddellik weer oor die hele Suid-Afrika te kan heers. Daarbenewens moet ons rekening hou met die internasionale klimaat en groot moondhede wat in die eerste plek die ANC-revolusie op ons afgedwing het.

Maar as 'n langtermyndoelwit is dit haalbaar. Soos ek reeds in hierdie rubriek geargumenteer het en soos die Franse joernalis Stephen Smith ook in sy boek Negrologie met al die feite vir ons aandui, ervaar die Afrikakontinent op hierdie oomblik 'n geweldige krisis. Daar is oorloë, staatsverval, hongersnode en bevolkingsverskuiwings aan die gang. Een rede waarom Suid-Afrika in onlangse tye drasties verswart en verafrikaniseer geraak het, is omdat die Afrikakrisis die bevolkings suidwaarts oor ons grense dryf.

Onwettige immigrasie sal gestuit moet word en die tien tot vyftien miljoen onwettige immigrante in die land sal gerepatrieer moet word, tensy Suid-Afrika bloot die opvangbak van die kontinent se armoede en ellende wil word. Maar gegewe die Afrika-identiteit van ons eie swartmense, kan hulle nie ook oorreed word om mettertyd in ander lande te gaan woon en sodoende hulself te bevry van die Westerse invloed waarin hulle so 'n renons het nie?

Wat ek in gedagte het, is nie dat ons etniese suiwering op swartes moet toepas en hulle eenvoudig met geweld noordwaarts oor die Limpopo moet verdryf nie, maar dat daar 'n soort quidproquo in Afrika mag plaasvind. Noem dit 'n groot Afro-Westerse skikking of die wen-wenoplossing met as einddoel die Afrika-renaissance.

In ruil vir die rojale hulp en bystand wat ons reeds by wyse van ons belastings aan swartes verskaf, tesame met die $35 miljard per jaar van NEPAD wat hoofsaaklik uit Westerse lande afkomstig is, behoort swartes hul aanspraak op Suid-Afrika te laat vaar en die land toe te laat om onder 'n Afrikanerregering "terug te verwesters".

Botswana, byvoorbeeld, is 'n groot land met 'n baie klein bevolking waarvan 40% boonop met vigs besmet is. Pleks van 'n verbrokkelde tuisland soos die ou Bophutatswana te hê, kan die Tswanas van Suid-Afrika mos almal vrywillig in Botswana gaan woon waar 'n nuwe opbloei in die Tswana-kultuur behoort plaas te vind. Soos Cecil John Rhodes gesê het: "elke man het sy prys".

Suid-Afrika kan deur 'n eenmalige uitbetaling aan elke Tswana (of aan die regering van Botswana) hulle vergoed vir verlies aan Suid-Afrikaanse burgerskap. Hierdie metode kan gevolg word totdat Suid-Afrika oor 'n meer gebalanseerde bevolkingsamestelling beskik wat toekomstige konflik sal uitskakel. Pleks van 'n land wat gevaarlik wankel tussen 'n Westerse en Afrika-identiteit sal dit dan onbeskaamd Westers en Afrikaans wees.

Diegene wat meen dat dit 'n baie duur opsie sal wees, moet die toekomstige waarde van swart welvaartbetalings in Suid-Afrika in gedagte hou. Volgens die Financial Mail bestee ons reeds 70% van die land se begroting direk of indirek hieraan, wat 'n bedrag van R160 miljard per jaar verteenwoordig. Binne die volgende tien jaar gaan Suid-Afrika dus R1 600 miljard aan swart welvaart en hulp bestee. Hierdie fondse kan eerder buite Suid-Afrika aangewend word om die plakkers rondom ons stede in hul lande van herkoms te hervestig en om 'n geleidelike uitvloei van Suid-Afrikaanse swartes na die beloofde land van die Afrika-renaissance te finansier.

Dit sou interessant wees om met die Westerse skenkerlande in debat hieroor te tree, want tans word hul geld eenvoudig lukraak in Afrika rondgestrooi terwyl die politieke probleme van soveel lande nie opgelos word nie. Indien Suid-Afrika weer 'n Westerse land word, kan dit 'n groot bydrae tot Afrika-stabiliteit lewer.

Boontoe