| daboekwinkel |
|
|
|
Tussen Vryheidsfront en HNP is
middelgrond
______________________________________________________________________ My vorige rubriek in twee dele, 'n Afrikaanse utopie 1 en 2, het in HNP-geledere taamlik reaksie ontlok. Omdat die debat oor die Afrikaner se toekoms binne hierdie vyandige bestel so broodnodig is, wil ek graag repliek lewer op mnre. Louis van der Schyff en Fritz van Graan se reaksies in Die Afrikaner se briewerubriek. Ter inleiding moet mens erken dat daar in die Afrikanerpolitiek vandag twee denkskole bestaan wat deur die onderskeie standpunte van die Vryheidsfront en die HNP verteenwoordig word. Hierby kom daar dan nog 'n derde denkrigting wat eenvoudig aanvaar dat die Afrikanerprojek in 1994 aan sy einde gekom het. Volgens hierdie anti-Afrikaanse filosofie sou die seëviering van die ja-stem in 1992 ook die implisiete doodswens van die Afrikaner gewees het en het die volk dus gekies om vrywillig te ontbind en in 'n veelrassige en multikulturele "Suid-Afrikaanse nasie" op te gaan. Laasgenoemde is natuurlik die standpunt wat deur die koerante in die Nasionale Persgroep, asook die amptelike opposisieparty (die DA) verkondig word. Hiermee sluit die aanhangers van "nasiebou" hulleself uit van enige vorm van Afrikanerpolitiek en kan ons hulle vir die huidige debat maar gerus buite rekening laat. Jan Smuts, wat terloops 'n groot voorstander van segregasie tussen wit en swart was as mens sy Rhodes-gedenklesing van 1929 in Oxford onthou, se begrip "holisme" het voorsiening gemaak vir die versoening van politiek teenoorgesteldes. So wou hy Boer en Brit met mekaar versoen ten einde, soos hy dit genoem het, "'n grootse rasse-aristokrasie" in Suid-Afrika tot stand te bring. Myns insiens moet ons vandag die debat oor ons toekoms in dieselfde holistiese gees benader. Die strewe na 'n volkstaat soos dit deur die Vryheidsfront beredeneer is en die HNP se begeerte om weer oor "die hele Suid-Afrika" (ook oor die Transkei en Zoeloeland?) te regeer, is nie onderling uitsluitend nie. My huidige opmerkings moet in dié verband as opbouende kritiek gesien word. Mnr. Louis van der Schyff sê: "Wanneer jy die politieke mag het, skep jyself die utopie. Wanneer jy die politieke mag het, vra jy nie vir 'n volkstaat nie, dan regeer jy oor Suid-Afrika, die hele Suid-Afrika, Blank Suid-Afrika." Hierop kan mens antwoord: vir 46 jaar het die Afrikaner politieke mag in die land gehad en tog kon hy nie vir homself 'n utopie inrig nie. Politieke mag - selfs in 'n militêre diktatuur - is nooit absoluut nie. Bismarck het gepraat van politiek as "die kuns van die moontlike". Selfs George Bush wat vandag oor die wêreld se enigste supermoondheid regeer kan nie maak en breek soos hy wil nie. Toevallig het ek die afgelope naweek na die onlangse Duitse film oor die laaste dae van Adolf Hitler in sy Berlynse bunker, Der Untergang, gaan kyk. Dié meesleurende rolprent is op die feite in sy sekretaresse, Traudl Junge, se dagboek gebaseer. In die film spog Hitler op 'n stadium dat hy "die hele Europa verower het". Napoleon sou dieselfde kon sê. Nietemin moes Hitler op die ou end saam met sy minnares Eva Braun op 30 April 1945 selfmoord pleeg en het Napoleon in 1821 op Sint Helena in ballingskap gesterf. 'n Mens hoef maar net Napoleon of Hitler se grootheidswaan met Bismarck se meer beskeie maar blywende prestasies te vergelyk. Volgens mnr. Louis van der Schyff "roep die HNP elke Afrikaner op tot deelname aan die politieke stryd". Maar wat is die inhoud van daardie stryd? Die HNP verkies om nie aan verkiesings deel te neem nie; desnieteenstaande funksioneer dit as politieke party en nie as buite-parlementêre weerstandsbeweging nie. Gegewe die ANC/SAKP-alliansie se beheer oor die SA staat - wat die polisie, weermag en intelligensiediens insluit - hoe voorsien die HNP dat hy die politieke mag gaan bekom? Verteenwoordig dit 'n reële projek of moet ons dit, getoets aan Bismarck se beginsel van politieke realisme, as 'n stuk nostalgie oor vergange Afrikanermag onder Hendrik Verwoerd beskou? Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek gun die HNP sy ambisieuse denke en sou dit selfs kon ondersteun indien ek oortuig kon word dat dit strategies deurdag en haalbaar was. Teenoor die HNP se (Napoleontiese?) plan om oor 'n ongeskonde "blanke Suid-Afrika" te heers, staan die Vryheidsfront se bedeesde Orania-opsie wat tereg deur prof. Carel Boshoff snr. as "opofferende selfbeskikking" bestempel is. Ons offer die hele Suid-Afrika aan die ANC in ruil vir enkele vierkante kilometer wat tot dusver nog nie op eie munisipale status kon aanspraak maak nie. Ter ere van die Vryheidsfront moet ons tog erken: Orania bestaan, terwyl "blank Suid-Afrika" toenemend die skakering van die Pretoriase middestad aanneem... Sowel die Vryheidsfront se volkstaatprojek as die HNP se droom van 'n herstel van die ou Suid-Afrika word aangevuur deur die versugting na Afrikanervryheid, wat allermins afgekraak moet word. Myns insiens lê die haalbare "middelgrond" of "padkaart na vryheid" iewers tussen 'n klein Orania en 'n herstelde Afrikaner-empaaier soos ons dit onder Verwoerd geken het. Ek gebruik spesifiek die woord "empaaier" hier omdat ons 'n denkfout begaan deur Suid-Afrika met sy krioelende menigte mense uit Afrika, Asië en Europa as 'n tradisionele "republiek" te sien. Weliswaar verteenwoordig die Afrikaner as grondbesitter en as volk wat by uitstek aan dié land sy nasionale identiteit verleen het, 'n patrisiese klas net soos wat die burgers van republikeinse Rome dit was. Maar vir die grootste deel van ons geskiedenis leef ons omring deur 'n soms onderdanige, soms opstandige plebs. Niks kan meer inspirerend wees as Paul Kruger se spreuk, "Afrika vir die Afrikaner!" nie. Ook Smuts het dit op die vooraand van die Tweede Vryheidsoorlog aangehaal. Moontlik gaan ons in die toekoms nog oor 'n hele federasie van vasal-state tot aan die ewenaar regeer. Waarom nie? Maar dis alles, soos hulle sê, toekomsmusiek. Waarop ons in die hier en nou moet fokus, is om 'n territoriale magsbasis te bekom. Hoe lank gaan die politieke stryd van die HNP duur om politieke mag oor Suid-Afrika te bekom? Vyf jaar? Tien jaar? Dertig jaar? Honderd jaar? Ongelukkig beskik ons nie oor die luukse van tyd nie, want daar heers 'n toestroming oor ons grense heen terwyl ons eie mense, veral jongmense, die land op strepe verlaat. Net soos die ou Nasionale Party sit die HNP al sy eiers in een mandjie: dis alles of niks. Die ou Nasionale Party het 'n groot fout gemaak deur nooit 'n Afrikanerkerngebied te definieer wat in geval van verowering uit die buiteland of binnelandse revolusie 'n toevlug of hinterland aan ons mense kon bied nie. Nou, in ons byna ongeëwenaarde oomblik van swakheid, sou so 'n duidelik omskrewe Afrikanerland 'n soort ark kon gewees het om die stormwaters te trotseer en agterna weer die stryd om hegemonie oor die groter streek aan te pak. Maar dis nog nie te laat om 'n wesentlike Afrikanergebied waar ons die meerderheid verteenwoordig, op te eis nie. Mnr. Fritz van Graan maak 'n fout as hy dink dat hierdie groter volkstaatplan "afhanklik is van die gunste en gawes van die ANC". Ons moet dit eenvoudig vát, deur nie-gewelddadige aksie soos boikotte of die verf van die oranje-blanje-blou. Die Afrikaner moet begin spiere wys voordat ons, soos die oorblywende blankes in Zimbabwe, te oud en te uitgedun raak om dit te kan doen. Myns insiens kan ons binne twee tot vyf jaar 'n eerste outonome gebied verkry. Die basis hiervoor is reeds deur die huidige taalstryd gelê. Selfs Ton Vosloo, Koos Bekker en so pas Johann Rupert stem saam dat Afrikaans behoort te oorleef. Afrikaners was nog nooit so saamgesnoer rondom hul taal soos tans nie. My denke is eenvoudig: gebruik die taalkwessie om 'n wesentlike volkstaat op te eis. Dit is hoe dit in Vlaandere en Québec gewerk het. Binne vyf jaar kan die meerderheid Afrikaners grootliks vry van oorheersing in 'n volkstaat leef en kan ons met 'n heropbou begin. Dís die middelgrond tussen Vryheidsfront- en HNP-denke wat ek in gedagte het. |