| daboekwinkel |
|
|
|
Politiek ná Carl Schmitt
repliek aan Johan X van Litnet ______________________________________________________________________ Beste Johan X, Jy skryf onder 'n skuilnaam; soos die guerillastryder dra jy geen uniform nie. Oor die afgelope jare vind oorlog nie meer tussen geuniformde magte op 'n slagveld plaas nie, maar tussen mense sonder uniform en burgerlike bevolkings. Daarom heers daar sedert 9/11, Bali en Londen 'n hernieude internasionale belangstelling in die teorieë van die Duitser Carl Schmitt wat die liberale demokrasie as 'n inherent swak stelsel gesien het. Vir hom draai die politiek om "die buitengewone" en om "vyandskap". Hoewel jyself X-gegradeer is, beskuldig jy my van "politieke pornografie" omdat ek openlik Afrikaner-sesessie in die Sunday Times bepleit. Inteendeel, in 'n wêreld waar die pornografie van geweld en eksplisiete propaganda hoogty vier, reageer ek bloot rasioneel hierop. Die huidige orde van ANC-oorheersing met sy ideologie van Afrikanisering, swart bewussyn en (kwansuis geregverdigde) rassediskriminasie teenoor blankes is nie by die stembus bepaal nie. Indien dit van die blanke kieser afgehang het, sou die Nasionale Party nog aan bewind gewees het want nêrens het enige blanke party behalwe die Liberale Party in die vyftigerjare 'n oorgawe aan die swart meerderheid voorgestaan nie. Die ANC/SAKP het mag verwerf, nie deur liberaal-demokratiese metodes nie, maar deur wat Schmitt "buitengewone" aksies sou noem: stedelike terreur (bv. die Kerkstraatbom van 20 Mei 1983 waarin 19 burgerlikes dood en 200 beseer is), asook 'n intense propagandaveldtog teen die ou SA bewind waarin hulle gedemoniseer is as "Nazi's", "massamoordenaars", "rassiste", "die boosheid self", "'n bedreiging vir wêreldvrede", ens. Met ander woorde, die ANC/SAKP het vir hulself 'n absolute vyand geskep wat geheel en al vernietig moes word en waarteen enige moontlike metode soos stedelike terrreur, die stel van myne op plaaspaaie, ens. geregverdig was. Joe Slovo en Ronnie Kasrils het aanvalle op boere en hul gesinne as deel van 'n geregverdigde militêre strategie beskou. Die kwessie wat jy vir jouself moet oplos, is of "die koms van liberale demokrasie" in 1994 werklik hierdie situasie van vyandskap tussen Afrikaner en Afro-nasionalis ongedaan gemaak het? Boere word nog steeds aangeval, dikwels met aanvalsgewere. Von Clausewitz het gesê: "oorlog is die voortsetting van politiek met ander middele". Maar wat van "politiek as die voortsetting van oorlog met ander middele"? Indien jy jou vyand van sy taal, identiteit, bates, grond, poste, museums, simbole, ens. wil beroof, asook sy reg om handel te dryf of toegang tot kapitaal te verkry met wetgewing belemmer, kan mens dit "vrede" noem? Het die ANC se baie suksesvolle propaganda-oorlog opgehou, of word ons jaar na jaar steeds gedemoniseer as haatlike rassiste, Nazi's en massamoordenaars? Nou onlangs is daar mos "massagrafte" in Namibië "ontdek", al het mense sedert 1989 daarvan geweet. Aanstaande jaar word daar 'n hele orgie beplan rondom die 30-jarige herdenking van die Soweto-onluste wat kwansuis deur Afrikaans veroorsaak is. Behoort ons voor te gee dat ons soos die Swede of Switsers oor 'n model-demokrasie beskik en behoort ons die tierende revolusionêre diskoers van die ANC-bewind met sy klem op "transformasie", radikale verandering, die onderliggende dreigement van geweld (daar sál grondhervorming en herverspreiding plaasvind, of anders...) met geykte liberaal-demokratiese retoriek te beantwoord? Oor die afgelope vyf jaar het ek (en 'n paar ander) die byna onmoontlike reggekry: om die gedagte te vestig dat Afrikaners die reg het om aan te hou Afrikaans praat. Ek kan onthou hoe ek vyf jaar gelede op die einste "LitNet" 'n "Hitler" genoem is omdat ek dit gesuggereer het. Oor vyf jaar mag die Afrikaner se reg op 'n eie staat as ewe vanselfsprekend beskou word. "Politieke taal, omdat dit as instrument in die mededinging om mag gebruik word, is inherent buitensporig, selfs gewelddadig". Jy mag dit maar aanhaal, met of sonder erkenning aan die uwe. |