daboekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

In die land van die blindes is Eenoog koning

Verwante artikels: 

Jaap Steyn, Weet matrieks wie Plato was?

Jan-Jan Joubert, Kritiek op matriek spruit uit onkunde

______________________________________________________________________

Dan Roodt

Jan-Jan Joubert is 'n rubriekskrywer van Beeld, so genoem omdat die koerant die spieël-Beeld van die heersende ideologie verteenwoordig. Trouens, indien enigiemand daaraan twyfel dat Beeld 'n ANC-partykoerant is, hoef hy maar net te kyk met hoeveel prominensie die onderwysminister, Naledi Pandor, se artikel in vandag se koerant aangebied word.

Pandor se eie flou verskonings vir die vrot en vrotter wordende SA skoolstelsel is kennelik nie genoeg vir die Afrikaanstalige mondstuk van die ANC nie, want op dieselfde dag publiseer Joubert 'n stuk jaai-jaai-joegaai-propaganda onder die titel "Kritiek op matriek spruit uit onkunde".

Onkunde, nogal. Komende van die klein (en kleinlike) ANC-juigkommando aan die stuur van Beeld wie se gesamentlike intellektuele kapitaal op 'n posseël neergeskryf sou kon word, is dit nogal bietjie dik vir 'n daalder. Maar voordat ek die verdoemende Innocenti-verslag aanhaal oor wiskundekennis wat enkele jare gelede deur UNICEF gepubliseer is, moet ons een element in dié polemiek uitlig, en dit is dat Joubert in sy artikel vir Jaap Steyn aanvat wat die vorige dag die euforie rondom die honderde leerlinge wat deesdae onderskeidings in alle vakke behaal probeer temper het deur te verwys na die sogenaamde dumbing down of verdomming van die skoolstelsel.

In sy stuk vra Steyn die vraag: "Maar lei te maklike prestasies nie partykeer tot selfoorskatting en oormoed nie?" Dis 'n geldige vraag, want as mens die media hier aan die einde van Desember kon glo, produseer Suid-Afrika 'n jaarlikse oes van genieë waarop Singapoer, Japan of Finland jaloers moes wees.

In die dae toe ek matriek geskryf het, het slegs enkele leerlinge onderskeidings in alle vakke verkry. Hoogstens was daar vier of vyf sulkes in die ou provinsie Transvaal wat deesdae in vier provinsies opgedeel is. In sommige jare was daar net een of twee leerlinge wat dié prestasie kon behaal. Óf vandag se "leerders" beskik oor 'n hoër gemiddelde IK as destyds, óf die standaard het gedaal. Saam met Jaap Steyn is ek geneig om eerder die tweede hipotese te oorweeg.

Dis 'n geval van: in die land van die blindes is eenoog koning. Terwyl massas skoolleerlinge in Suid-Afrika nie eens matriek skryf nie, slegs 'n minumum wiskunde neem (en dan nog 'n baie kleiner persentasie op die hoër graad) en mens blykbaar net 30% in 'n vak nodig het om te slaag, kan diegene wat 80% in alle vlakke behaal hulle dalk saam met Jaai-Jaai-Joegaai Joubert verbeel dat hulle Einstein of Newton is.

Maar vir iemand wat meer objektief na die toestand van ons onderwys kyk, is daar rede tot kommer. Ons weet almal dat daar nie meer nie, of kwalik, wiskunde-onderwysers opgelei word. Wiskunde is die een vak wat vir ons moderne tegnologiese bestaan onontbeerlik is en juis daarin vaar die SA onderwysstelsel die swakste. Slegs 26 000 leerlinge uit meer as 500 000 matrieks slaag jaarliks wiskunde in die hoër graad, met ander woorde omtrent 5%! 'n Mens kry verdere perspektief op dié 5% as jy in ag neem dat daar "opwaartse aanpassings" in punte deur die onderwysowerheid gemaak word. Hoofsaaklik swart leerlinge ontvang insgelyks 'n positiewe aanvulling van vyf persentasiepunte omdat hulle kwansuis nie moedertaalsprekers van Engels is nie.

En nou kom ons by die Innocenti-verslag wat in November 2002 'n ranglys (A League Table of Educational Disadvantage in Rich Nations, bl. 29) gepubliseer het waarin die wiskundevaardighede van graad 8-leerlinge in 52 lande met die gemiddelde internasionale vaardigheidsvlak vergelyk word. Die boonste ses lande is Singapoer, Hong Kong, Korea, Japan, Taiwan en Nederland en die onderste ses Chile, Kuwait, Colombia, die Fillipyne, Marokko en (in die heel laaste plek) Suid-Afrika.

Hierdie ontleding is gebaseer op die sogenaamde TIMMS-toetse (Trends in International Mathematics and Science Study). Terwyl slegs 7% van graad 8-leerlinge in die topland, Singapoer, nie op die internasionale gemiddeld of beter presteer nie, is die vergelykbare syfer vir Suid-Afrika gelyk aan… 95%. Met ander woorde, 95% van Suid-Afrika se graad agts presteer onder die internasionale gemiddeld in wiskunde!

Hierdie graad agts word aanstons die "blink matrikulante" waarna Jan-Jan Joubert in sy rubriek verwys. Sekerlik bestaan daar steeds enkele blink matrikulante, maar nie soveel as wat die onderwysdepartement met sy statistiese goëltoertjies aan ons wil voorhou nie, terwyl die oorgrootte meerderheid terugsak in die halfgeletterdheid wat deesdae voldoende is om 'n matrieksertifikaat te verwerf.

Volgens die mees onlangse gegewens van TIMMS wat op 2003 se toetse gegrond is, het Suid-Afrika nóg verder teruggegly. In 1999 het Suid-Afrikaanse graad agts 'n gemiddelde punt van 275 vir wiskunde en wetenskap behaal, wat sedertdien 264 geword het. Dit is die heel laagste punt op die lys van 34 lande met Singapoer wat steeds die louere inoes met 'n gemiddeld van 605.

Hierdie internasionale studies bevestig net wat elkeen van ons met kinders op skool reeds weet, naamlik dat Suid-Afrikaanse onderwys toenemend in 'n krisis verkeer. Ook die gehalte van die merkwerk tydens die matriekeindeksamen is nie bo verdenking nie. Baie van die onderwysers wat as merkers en moderators optree, is self nie gekwalifiseerd nie en word op grond van ras eerder as bekwaamheid aangestel.

In dié verband het 'n vriend se suster 'n jaar gelede deelgeneem aan die merk van wiskunde-vraestelle. Groot was haar verbasing toe sy opmerk dat leerlinge aan een van ons bekende Afrikaanse hoërskole in Noord-wes besig was om deur die bank wiskunde te druip met 'n gemiddelde syfer van 39%! Sy begin toe die antwoordstelle van naderby bekyk en kom agter dat hulle verkeerd gemerk is.

Hoewel sy by 'n ander groep skole betrokke was, het sy dit op haarself geneem om die hele pak anwoordstelle oor te merk. Hierna het die oorgrootte meerderheid matrikulante hul wiskunde geslaag, synde afkomstig van een van die top-Afrikaanse hoërskole in die land met 'n hoofsaaklik blanke Afrikaner-leerlingkorps. Gestel egter dat my vriend se suster nie toevallig die anomalie opgemerk het en met haar sin vir regverdigheid die vraestelle begin oormerk het nie? Dan sou 'n beduidende aantal matrieks wat moes deurkom, wiskunde gedruip het.

Daar is nog ander kwelvrae wat mens selfs huiwer om te noem: is die betrokke leerlinge deur die swart merkers gepenaliseer omdat hulle wit en Afrikaans was? Hoeveel sulke gevalle glip jaarliks deur? En in hoeveel gevalle slaag kinders en kry onderskeidings wat hulle nie verdien nie?

Die huidige puntestelsel en merkery tydens die matriekeindeksamen is omtrent so deursigtig soos modder. Wat wel soos 'n paal bo water staan, is dat Suid-Afrika heel onder aan die lys verkeer sover dit prestasie in wiskunde en wetenskap betref, 'n feit wat nóg Pandor nóg haar imbongi Jan-Jan Joubert kan ontken.

Afgesien van gebrekkige wiskunde en wetenskap, is daar anekdotiese getuienis (en dit is waaroor Jaap Steyn se oorspronklike rubriek gehandel het) dat die taalbeheersing en skryfvermoë van selfs blanke moedertaalsprekers van Afrikaans of Engels besig is om drasties agteruit te gaan. Elke universiteit bedryf vandag sogenaamde "oorbruggingskursusse" omdat 'n groot deel van sogenaamde "matrikulante" nie in staat is om 'n basiese skoolopstel te skryf of oor elementêre syfervaardighede beskik nie.

Indien die matrieks so "blink" was, sou "oorbrugging" mos nie nodig gewees het nie, of hoe mnr. Jaai-Jaai-Joegaai Joubert? Volgens 'n dosent in die geesteswetenskappe aan UNISA, wat ook deeltyds aan Tukkies klas gee, word die taalvermoë van eerstejaarstudente elke jaar swakker. Die meeste universiteitsdosente met wie ek praat, meen dat daar deesdae vele blanke Afrikaanse matrikulante bestaan wat in hul lewe nog nooit 'n boek deurgelees het nie, nie eens 'n Trompie of 'n Saartjie nie. Hulle kan nie spel nie en is onbekend met elementêre begrippe wat vir abstrakte denke vereis word.

'n Ander ironie is natuurlik dat daar deesdae 'n rasse-onderskeid tussen "benadeelde" en "gewone" matrieks getref word. Provinsiale onderwysministers is meer begaan daaroor om eer te bewys aan swart matrikulante as aan blankes. Sulke swart matrikulante word as "benadeeld" beskou selfs al is hul ouers miljoenêrs en woon hulle die beste voorheen blanke skole by. Swartes in die "benadeelde" liga word ten hemele geprys al sou hul prestasies in die "gewone" liga nie watwonders wees nie.

Daarom het die jaarlikse aankondiging van matriekuitslae in 'n media-sirkus met ideologiese en politieke ondertone ontaard. Vandat Kader Asmal as onderwysminister jaar na jaar wonderbaarlike stygings in die matriekslaagsyfer kon aankondig, het sodanige syfers min geloofwaardigheid en weet mens by voorbaat dat dit gemanipuleer word om die dikwels haglike toestande in veral "benadeelde" skole te verdoesel.

Suid-Afrika bestee reeds 'n groter deel van sy Bruto Nasionale Produk aan onderwys as enige ander land ter wêreld, terwyl werklike skoolprestasie volgens internasionale norme besig is om te daal. Dis 'n feit wat nóg die ANC-minister nóg die ANC-mondstuk Beeld kan ontken.

Wat Afrikaners betref, sal ons ernstig daaraan moet dink om 'n eie matriekeksamen vir ten minste wiskunde en Afrikaans in te stel wat leerlinge naas die amptelike matriekvakke behoort af te lê. Aan voornemende werkgewers en universiteite sal dit 'n meer objektiewe kwalifikasie verteenwoordig as die huidige matriek waar ideologie die septer oor akademie swaai.

Boontoe