daboekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Maak 2006 ons jaar van kommunikasie

______________________________________________________________________

Dan Roodt

Indien 'n mens nog enige illusies gehad het oor die Afrikaner se toekoms in dié land het 'n artikel in die Finweek einde November dit baie duidelik gemaak dat die blanke bevolking van Suid-Afrika letterlik gaan uitsterf. Dis heel eenvoudig: omdat 'n groot deel van die blankes tussen 20 en 40 (die ouderdomsgroep wat die volgende geslag moet voortbring) reeds in die buiteland verkeer, is die blanke geboortesyfer besig om rampspoedig te daal.

Net soos in Zimbabwe gaan daar uiteindelik net blanke bejaardes in die land oorbly. Ná hulle dood sal die land onherroepelik verafrikaniseer wees en alle grond, minerale en ander bates sal in swart hande verkeer. Hoewel die ANC dit alles waarskynlik nie haarfyn beplan het nie, het die kombinasie van geweldsmisdaad en rassewette net een gevolg en dit is om blankes onder 40 uit die land te verdryf.

Soos ek al in dié rubriek geargumenteer het, is die Afrikaner se tyd besig om uit te loop. Tussen 500 000 en 800 000 Afrikaners bevind hulle reeds in die buiteland. Die oorgrootte meerderheid van hierdie mense se kinders sal Engelssprekend wees. Oor die afgelope Kersseisoen het ek oral om my verhale gehoor van grootouers wat met hul kleinkinders oorsee Engels moet praat omdat dié geen ander taal verstaan nie.

Duitsers, Franse en Italianers kry dit reg om jare lank in die buiteland te woon, maar steeds hul moedertaal aan hul kinders oor te dra. Kennelik het Afrikaners, afgesien van iemand soos Tossie Lochner wie se Italiaans gebore seun ná 26 jaar in Italië vlot Afrikaans kon praat, nog nie hierdie kuns bemeester nie. Daarby moet ons egter ook voeg dat die Afrikaner sedert 1994 'n staatlose volk geword het en sonder openbare fondse om Afrikaanse skole in die vreemde te finansier en ambassades wat bande met die vaderland lewendig hou, vind diaspora-Afrikaners dit moeilik om hul kultuur te handhaaf. Daarby is die meeste emigrante pessimisties dat omstandighede in hul vaderland ooit weer so kan verander dat hulle sal kan terugkeer.

Indien ons nie in 2006 daarin slaag om beduidende vooruitgang te maak in ons bevryding van ANC-oorheersing nie, kan ons maar net sowel tou opgooi en aanvaar dat ons as volk deur die geskiedenis geweeg en te lig bevind is. Ons, of dan 'n vorige geslag Afrikanerleiers, sou ons vaderland afgestaan het sonder om 'n skoot te skiet en agterna sou niemand probeer het om ten minste 'n deel daarvan weer terug te kry nie. Soos die blanke Rhodesiërs sou ons maar verlief geneem het om oor twintig, dertig jaar uit ons geboorteland uitgewerk te word totdat daar uiteindelik net enkele tienduisende bejaardes agterbly wat die dood in betreklike armoede sou afwag.

Dis die harde werklikheid van die Afrikaner se huidige magteloosheid, dat hy demografies sal aanhou bloei totdat die punt van uitsterwing bereik word en 350 jaar se geskiedenis daarmee volbring word.

Auguste Comte het gesê dat "demografie die noodlot is". Tans is ons besig om die wet van getalle op alle gebiede aan eie bas te ervaar. Gedurende die vakansie het ek C.M. van den Heever se hervertelling van die Mosesverhaal in sy boek "Woestynsand dek die spore" gelees. Interessant is dat Farao die eersgeborenes van die volk van Israel laat doodmaak het, juis omdat hulle 'n groter bevolkingsaanwas as die Egiptenare gehad het. Vanaf die vroegste tye het demografie dus 'n bepalende rol in die politiek gespeel.

Die enigste manier waarop ons aan vooraf bepaalde uitsterwing gaan ontkom, is indien ons weer 'n eie staat verkry, sy dit dan 'n veel kleiner staat as dié wat ons voorheen gehad het. Vyf jaar is omtrent al wat ons oorhet om by daardie doelwit uit te kom, want teen 2011 gaan ons waarskynlik minder as twee miljoen wees. Met onwettige immigrante wat nog steeds oor ons grense stroom en boonop aangetrek deur die wêreldwye publisiteit van die Sokkerwêreldbeker in 2010, kan ons verwag dat die totale bevolking teen daardie tyd goed op pad na 60 miljoen mag wees.

In baie opsigte staan ons voor die grootste uitdaging sedert die Groot Trek: om binne vyf jaar los te breek uit die wurggreep van die ANC en ons soewereiniteit te herwin. Laat 2006 daarom die eerste jaar van hierdie bevrydingstryd wees. Die begin van so 'n stryd moet 'n grootse kommunikasieveldtog wees om twee dinge te bereik. Ten eerste moet ons eie mense na die werklikheid teruggebring word ná elf jaar van intense vyandelike propaganda, dog sonder om hulle moedeloos te maak. In die tweede plaas moet ons die buiteland en potensieel simpatieke moondhede van die onregverdigheid van ons posisie oortuig.

Oor die Kersseisoen het ek heelwat opgelees oor die internasionale politiek en is ek oortuig dat inwoners van die volgende lande vatbaar kan wees vir ons boodskap: uiteraard Vlaandere, maar dan ook Nederland, Frankryk, Oostenryk, Italië, Japan, tesame met die Amerikaanse suide en middeweste. Ten minste 100 nie-amptelike Afrikaanse "diplomate" moet 'n grootskaalse kommunikasieveldtog van stapel stuur en daardie mense inlig aangaande die groot onreg wat ons moet verduur sover dit ons taal, ons eiendomsreg, ons persoonlike veiligheid, asook ons toegang tot werk en kapitaal betref.

Myns insiens gaan die internasionale kommunikasieveldtog veel makliker geskied as die binnelandse omdat die buitelandse media deesdae geredelik Afropessimisties geraak het en dus bereid is om enige negatiewe verhaal oor swart regerings op ons vasteland te glo. Dit is binnelands waar ons met 'n groot probleem sit omdat die ANC direk of indirek die meeste TV-kanale, radiostasies en koerante beheer. Al wil ons hoe graag, is daar dus geen manier waarop ons met die massa Afrikaners in die land kan kommunikeer nie, behalwe deur die internet, Radio Pretoria, sekere gemeenskapsradiostasies en 'n koerant met beperkte sirkulasie soos Die Afrikaner.

Hierteenoor beskik die regime oor 'n troue Nasionale Persgroep wat met sy beheer van satelliettelevisie, drie groot dagblaaie en 'n Sondagkoerant, asook 'n hele aantal tydskrifte wat die sirenegesang van "wees bly om van jul volkskap afstand te doen" en "assimileer binne die reënboognasie" dag na dag, week na week uitbasuin. Afrikaanse skole en universiteite word ook grootliks aangewend om ANC-propaganda aan die jeug oor te dra en hulle op tipies kommunistiese wyse van hul eie ouers en voorgeslagte te vervreem.

Ek is ten gunste van die oprigting van 'n nuwe Afrikaanse dagblad in die noorde, in die plek van die gesneuwelde Transvaler, Vaderland en Hoofstad wat die feitlik ekstreem-linkse Beeld kan opponeer. Toe ek in Frankryk gewoon het, het ek af en toe die kommunistiese dagblad L'Humanité gelees en ek meen dat Beeld vandag links van enige kommunistiese koerant in Europa verkeer. Beeld is anti-blank, anti-Afrikaner, anti-Westers en pro-grondhervorming, pro-Palestyns, pro-Derde Wêreld, pro-ANC en -SAKP met 'n ietwat anomaliese sakegedeelte waar die aandelebeurs en ekonomiese berigte ontkom aan die algemeen sosialistiese etos.

Ek is daarvan oortuig dat enige mededinger vir Beeld goed sal doen omdat ek my kwalik kan voorstel dat Afrikaners wat reeds meer as honderd jaar bekend is vir hul politieke konserwatisme skielik almal tot linkse radikalisme bekeer is. Die oprigting van 'n dagblad gaan duur wees, maar dis die enigste manier om doeltreffend met 'n groot aantal Afrikaners te kommunikeer. Op elke gebied van die bedryfslewe is daar verhale van ondernemings wat teen alle verwagting in geslaag het, onder leiding van verbeeldingryke en kloekmoedige entrepreneurs.

Indien Afrikaners nie in 2006 iets wonderbaarliks regkry nie, en by gebrek aan doelgerigte optrede, sien ek net hoe ons toekoms al hoe donkerder gaan word. Moses wou Farao oorreed om die Israeliete toe te laat om vir drie dae in die woestyn te gaan offer. Wat anders was so 'n byeenkoms as kommunikasie met die volk en die herbevestiging van 'n eie godsdienstige identiteit teenoor dié van die Egiptenare?

Boontoe