| boekwinkel |
|
|
|
Ras en oorlog
___________________________________________________________ Die afgelope week was die PRAAG-forum aan die praat oor die alombekende dog omstrede vergelyking tussen ras en gedrag. 'n Gunsteling wat hier genoem word is die verskille in intelligensie tussen verskillende rassegroepe, en toevallig het Max du Preez in dieselfde week soos gewoonlik sy voor-in-die-koor-trompetmajoor rol ingeneem as dit kom by sy haat teen blankes. Tog lyk dit asof daar so langsamerhand 'n ligstraaltjie begin deurbreek in Max se rubriek. Hy het uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat die ANC arm swartes bloot as stemvee gebruik, en uiteindelik net aandag aan hul ydelheid en oordrewe narcisme skenk. Ek twyfel egter of hierdie 'n teken van politieke kentering in Max se denke is. Hoe gaan daardie Afrikaanse idioom nou weer oor hare en snare? Ek lees nou die dag in Steven Pinker se boek The Blank Slate: The Modern Denial of Human Nature 'n interessante antropologiese staaltjie raak wat moontlik 'n opskudding by Suid-Afrika se Anglofiele proletariaat kan veroorsaak. In hierdie betoog gebruik Pinker onlangse navorsing oor mense en kulture en kom tot opsienbare konklusies wat oorloë tussen volkere aanbetref. Op bladsy 57 van die hardebanduitgawe is daar 'n grafiek wat verskillende kulture aandui en hul persentasie van mans wat dood is as gevolg van oorlog. Die grafiek wys agt Suid-Amerikaanse Indianestamme se persentasies aan, met blankes (in sowel die Verenigde State as Europa) se persentasie onderaan. Die Jivarostam staan die hoogste op die lys met 60% van alle manlike sterftes as gevolg van oorlog, gevolg deur die Shamataristam met 40%. Die persentasies neem geleidelik af oor die gegewe Suid-Amerikaanse stamme met heel onderaan die blankes, waarvan die manlike sterftesyfer deur oorlog op iewers tussen 1% en 2% staan, die Eerste en Tweede Wêreldoorlog ingesluit! Verder verwys Pinker na 'n antropoloog wat navorsing gedoen het onder die !Kung boesmans en wat die mite van die vredeliewende inboorlinge, soos wat in Jamie Uys se rolprente aan ons tentoongestel is, genadeloos afbreek. In hierdie antropoloog se bevindings het geblyk dat Boesmans 'n hele stam 'vyandige' Boesmans uitgemoor het om 'n moord te wreek op een van hul stamgenote. Geen vrou of kind is gespaar nie. In feite is die moordsyfer onder Boesmans persentasiegewys nog hoër as onder ghettobewoners in Amerikaanse stede. Eweneens het ondersoeke onder die volkere van Samoa Margaret Mead se bevinding van die 'vredeliewende, seksueel nonchalante' Samoane, totaal weerspreek. Samoane is in staat om hul eie dogters dood te slaan as hulle ontdek dat dogterlief geen maagd is voor haar troudag nie, en dis nie ongewoon om owerspelige mans te vermoor nadat hy sy vrou probeer verlei het nie. 'n Belangrike rede hoekom die eerste antropoloë se bevindings so sotlik verkeerd was, was omdat hulle nie die omvang van die moorde per hoof van die bevolking in ag geneem het nie. In naturellesamelewings word twee moorde per vyftig mense as 'gering' geag. Overgezet zijnde sou dit 'n jaarlikse dodetal wees van sowat 10 miljoen Amerikaners. Vir naturelle is oorlog nie soseer 'n ritualistiese gebeurtenis nie, maar 'n doodernstige een. 'n Argeoloog genaamd Lawrence Keeley het geskryf oor naturelle wat wapens vervaardig wat - in soverre hul tegnologie dit toelaat - maksimum skade aan hul vyande aanrig, en dis nie ongewoon om hul oorwinning te vier met martelinge, kannibalisme van vyandige vlees of onthoofde koppe as trofees te gebruik nie. 'n Ander antropoloog, Carol Ember, het in 1978 'n paar rekensomme gemaak en bevind dat 90% van jagterversamelaarsamelewings bekend is met oorlogvoering, en soveel as 64% ten minste een keer elke twee jaar in oorlog verkeer. Selfs die 90% syfer is nie sonder dispuut nie, aangesien navorsers nie lang genoeg by 'n bepaalde gemeenskap kan bly om 'n grondige ondersoek te verrig nie. 'n Ander antropoloog genaamd Donald Brown het ook allerlei etnografiese besonderhede nageslaan en gevind dat verskynsels soos konflik, verkragtings, jaloesie en dominansie universele menslike eienskappe is. Pinker noem vervolgens 'n interessante argument wat ons hedendaagse Max du Preez's en Willie Esterhuyses mag interesseer. Vroeër was die opvatting van die barbaar 'n voorwendsel om hele naturellevolkere uit te moor om hul land of hul skaars hulpbronne te steel. Vanuit hierdie standpunt is dit voor die hand liggend dat Westerse mense nou in die post-koloniale era die opvatting wil versprei dat die inboorlinge van Afrika, Suid-Amerika, Australië ensovoorts die onskuld self is. Net ons Westerlinge is wreed, barbaars en genadeloos. In die Weste het die opvatting van die een uiterste (barbare) tot die ander een (onskuldige slagoffers) geswaai. As daar een eienskap is waarin nie-Westerse etniese groepe (baie) beter vaar as blankes, is dit hul vermoë om ondanks alles trots en verdedigend oor hul etniese groep te wees. Blankes in sowel Suid-Afrika as Europa stuur op een of ander irrasionele skuldkompleks af wat inboorlinge en etniese minderhede aanbetref, en ons etniese groepie wil verkieslik geen harde woorde hierteen gebruik nie. As 'skuldige' blanke moet jy op jou woorde let, maar nie-Westerse groepe mag maak en breek soos hulle wil. Dis nogal vreemd dat daar in Nederland honend na die minister van Integrasie, 'n sosioloog genaamd Rita Verdonk, as die minister van Deportasie (met natuurlik 'n onmisbare verwysing na die Tweede Wêreldoorlog) verwys word, juis omdat sy streng maatreëls durf neem het teen oortreders en onwettige immigrante. Linkse Nederlanders kan nie genoeg kry om haar van alles te beskuldig nie, en een of ander gek het 'n paar maande gelede in die verbygaan op haar gespoeg. Die merkwaardige is dat geen lid van 'n etniese minderheid of radikale Moslem haar tot dusver nog met die dood gedreig het nie, selfs al is dit deesdae mode onder hulle om dit wel te doen. Waarom die minister nie deur minderhede gedreig word nie, is 'n vraag wat wag om beantwoord te word. Dit is egter nie te vergesog om te verwag dat streng maatreëls 'n meer bindende uitwerking op volke het wat oor geen uitgebreide, formele regstelsel beskik nie. Bogenoemde statistieke het dit duidelik aangetoon. Ons leef in 'n periode waarin Marx se opvattings in Das Kapital steeds minder geldig word, of altans grootliks hersien moet word. Hoewel daar beslis 'n verband bestaan tussen konflik en armoede, is armoede al lankal nie meer die enigste oorsaak van konflik onder die 'have-nots' nie. Hoekom is dit juis die eerste en tweede generasie minderheidsgroepe wat in welvarende Europese stede opgegroei het wat oorgaan tot die mees radikale anti-Westerse houdings en opvatting? Hulle wat geleenthede gehad het om hulself op te voed en te verbeter? Het blanke skuld hiertoe bygedra, of is daar ander oorsake? Om Pinker aan te haal:"Die voorkoms van geweld in die soorte omgewings waarin ons geëvolueer het, beteken nie dat ons spesie 'n doodswens, 'n aangebore bloeddorstigheid of 'n territoriale verpliging het nie. Daar is baie goeie evolusionêre redes vir 'n intelligente spesie om in vrede te verkeer. Baie rekenaarsimulasies en wiskundige modelle het aangetoon dat samewerking lonend is in evolusionêre terme solank as wat die samewerkers breine het met die regte kombinasie van kognitiewe en emosionele eienskappe. Net soos konflik 'n universele verskynsel is onder mense, is konflikoplossing ook. [...] Wanneer 'n groep mense wil oorgaan tot geweld of werk vir vrede hang af van die soorte motiewe wat geaktiveer word." Tog wonder ek of Pinker se stelling geld vir kameraad Du Preez en kie. Sedert die middel jare tagtig was hy al besig om die Grundrisse waarop hy staan te vernietig. En hy het ondertussen baie hulp gekry van sy 'Comrades'. En hulle hou nie baie van hom nie. Wat Max motiveer, weet nugter. |