| daboekwinkel |
|
|
|
Koos Kombuis en die verghwarring
van die Afrikaner
______________________________________________________________________ 'n Verkorte weergawe van dié rubriek het reeds op LitNet verskyn. Hierdie is egter die eerste publikasie van die volledige weergawe. Daar is seker min openbare figure in dié land wat so deur die media op die hande gedra word soos Koos Kombuis. Onder andere skryf Kombuis 'n weeklikse rubriek in Rapport, die grootste Afrikaanse koerant, waarin hy so pas sy "bedanking uit die Afrikanerdom" aangekondig het. "Want," sê die Koos in sy anglisistiese Afrikaans, "die konsep (van Afrikaner) is obsoleet." Dus oudmodies, uitgedien, oorbodig. Wie en wat is Koos Kombuis nou eintlik dat hy hom kan aanmatig om sy uittrede uit die volk aan te kondig, amper asof hy ons staatspresident was wat nou iewers aan die kus gaan woon om sy mémoires op te teken? Myns insiens is die Koos 'n soort Bertolt Brecht vir die swaksinniges, die dronkes, die bedwelmdes, die skorriemorrie, die lumpenproletariaat. Soos Bertolt Brecht wat ná die Tweede Wêreldoorlog deur die Oos-Duitse Kommunistiese Party toegelaat is om sy Berliner Ensemble in Oos-Berlyn te vestig, tree Kombuis as Afrikaanse gelukbringer vir die ANC-regime op. As Marthinus van Schalkwyk liedjies kon skryf, sou hy en Koos 'n PK-Groep Twee op die been kon gebring het. Naas André Brink wat hom self in sy romans aan groteske politiekery en selfs Afrikanerhaat skuldig maak, is die Koos 'n soort vlagskipskrywer vir die Nasionale Persgroep en word sy pueriele boeke en infantiele politiek aggressief aan die volk afgesmeer. Brecht was 'n kommunis en het homself in die eerste plek nie as 'n skrywer nie, maar as 'n politikus beskou. Die Koos verteenwoordig insgelyks 'n buite-parlementêre politikus wat soms letterlik verdwaal, net om homself weer te vind en ons met sy kleinlike prekies in geradbraakte Afrikaans te vergas. Terloops verneem ek onlangs dat Nasionale Pers se vlagskiptydskrif waarin politiek korrekte idees onder die dekmantel van "leefstyl" aangebied word, Insig, intense sirkulasieprobleme ondervind. Blykbaar sou Insig se omset van 20 000 na 7 000 gedaal het. Die volk waaroor die Koos en sy marionetmeesters so neerhalend is, is dus nie dom genoeg om die ANC en Naspers se ideologie wat in kleurfoto's verpak word, huidjie en muidjie te sluk nie. Daar is egter 'n ander sy aan Koos Kombuis wat my interesseer, en dit is juis sy status as ghwar. Insig, KykNet, Rapport en ander Naspersmedia is nie soseer besig om die Afrikaner soos in Oos-Duitsland met Marxistiese ideologie te voer nie, maar poog om hom onherroepelik te verghwar. Onder die vele metodes waarmee ons tans ondergrawe en afgetakel word, hetsy fisies deur plaasaanvalle en misdaad, hetsy sielkundig deur manipulasie van ons godsdiens of geskiedenis, tel ook verghwarring. Pleks van Karl Marx se Das Kapital te moet lees, word ons gevoer met Die Son en die skryfsels van Kombuis. Of die nihilistiese liefjies van Fokofpolisiekar. In die vyftiger- en sestigjare was Mimi Coertse een van ons heldinne, tesame met Gé Korsten, Min Shaw en ander. Mimi Coertse was 'n internasionaal beroemde operasangeres en gekultiveerd op die Europese manier. Sy het 'n keurige Afrikaans gepraat, maar ook Duits en Italiaans. In populêre taal was sy vir baie Afrikaners 'n "rolmodel" tydens die Afrikaner se fase van opwaartse mobiliteit. In die jaar 2006, met die Afrikaner op pad na armoede weens uitsluiting op grond van ras en taal, het ons nuwe rolmodelle nodig. Pleks van Mozart-operas en eurosentriese sofistikasie, moet ons tans geïndoktrineer word met 'n soort jolliehotnothedonisme soos deur die Koos verpersoonlik word. Hy drink homself poepdronk en spog agterna oor sy babelaas in Rapport. Drank is koning en dwelms is koel. Tereg noem die Koos aan die einde van sy rubriek in Rapport dat sy kinders as nie-Afrikaners "…ten minste nooit hoef uit te draai soos die Waterkloof-Vier nie." In die Nuwe Suid-Afrika is die ideaal dus nie meer Waterkloof waar 'n seder soms geval het nie (met apologie aan PG du Plessis), maar Mitchellsplein waar die messe blink en die dagga- en Mandraxwalms uit gebreekte bottels opstyg. Die wêreld sonder reëls van Mitchellsplein se jeugbendes verteenwoordig die nuwe ideaal waarheen die verghwarde Afrikaner moet aspireer. Vanuit die direksiekamer van Naspers se gebou in Heerengracht word hierdie grootse kultuurtransformasie met kille oë op Die Son en Die Huisgenoot se verkoopsyfers beplan. Vergeet van boeke lees; luister liewer "songs". Wees vry en nihilisties. Maak 'n dop, wees vrolik, want môre is jy landuit, gekaap of vermoor. Carpe diem. As Omar Kajam vandag in Suid-Afrika geleef het, sou hy gesing het van "bier, gekleurde vroue en songs". Selfs 'n Hervormde predikant van Naboomspruit het lyk my voor die aanslag geswig en vir hom 'n swart courtisane of twee by die plaaslike Truckstop gaan oplaai. Of die man vooraf deur Koos Kombuis beïnvloed is, weet mens nie. Dis altyd makliker om af te breek as op te bou. Dis insgelyks geriefliker om te verghwar as om te veredel. Sowel die ANC as Naspers het hierdie natuurwet goed ter harte geneem en is daarom besig om ons al dieper in die modder in te druk. Arnold Toynbee skryf iewers in sy Study of History dat dit vir die ordentlike en patriotiese mens besonder pynlik is om tye van dekadensie te moet beleef. Deur die eeue heen was satire en spot egter die gekose wapen van die patrisiër wat moet ly onder die geweld, die swak smaak, die malle rumoer van die gepeupel wat fuif asof daar geen dag van môre is nie. Omdat die Afrikaner deur sy godsdiens en verbintenis tot die grond geleer is om hoogmoed te verafsku, kan ons nie maklik snobisties wees nie. Anders as die Britte of die Franse byvoorbeeld wat elke teken van swak smaak, 'n swak gekose kledingstuk of "'n aksent wat gly" met vernietigende minagting behandel. Onder die huidige aanslag vanuit die ANC-beheerde of ANC-gesinde media wat ten doel het om 'n eens trotse volk kombuiswaardes aan te leer, kan 'n bietjie hoogmoed en snobisme ons egter net goed doen. Soos een ontstoke leser van Rapport dit prontuit aan Koos Kombuis gestel het, "jy is 'n vark". Hy kon bygevoeg het: Meng jou met die semels… |