boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Skepping en herkoms (deel 3)

___________________________________________________________

Buks van Rensburg

In deel 1 en deel 2 van dié rubriek het ek aspekte van herkoms in die sin van familie, etnisiteit en religie verduidelik.  Terwyl die begrippe nou verwant is, is hulle egter oor verskeie tydvakke werksaam.  Een belangrike gevolg hiervan is dat familie, wat oor ‘n tydskaal gemeet in generasies werk, in ‘n sekere sin ontkoppel is van etnisiteit en van religie, wat oor langer tydskale (eeue) gemeet word.  Met ander woorde, individuele identiteit is die gevolg van die wisselwerking tussen familie, etnisiteit en religie, maar die begrippe speel egter net eensydig op mekaar in.  Religie (en ander faktore) vorm etnisiteit, wat dan familie vorm.  Individuele bewussyn en identiteit word deur families gevorm, en is gebaseer op skeppingsmites vanuit die etniese en religieuse erfenis van die groep. Individuele identiteit is ook die kortstondigste van al die begrippe – dit oorleef net in een individu oor een leeftyd.

Synde etniese groepe wat uit individue bestaan, elk met ‘n identiteit wat net een leeftyd oorleef, is dit vanselfsprekend dat etniese groepe net sal oorleef oor tydperke gemeet in generasies of eeue.  Daarom is dit ook die skaal waarmee tyd in die politiek gemeet word.  Die konstitusies van lande, politieke ooreenkomste, die leeftyd van etniese gemeenskappe, hulle politieke invloed, en hulle ekonomiese mag, en selfs die Ryke wat hulle bou, word ook ten beste meestal net in enkele generasies gemeet.  Dit is skynbaar onvermydelik dat selfs die magtigste gemeenskappe uiteindelik verdwyn.  Geskiedenis is vol van vergane mag – die Egiptenare, die Mede en Perse, die Grieke en Romeine, die Inkas, en andere se geraamtes is al wat oor is van hulle eens onverbiddelike mag.  Die Weste, en selfs die Amerikaners, sal definitief ook nog aan sy einde kom. Daar is deesdae angsvallige analises oor die demografiese toekoms van Europa, iets waaroor ek reeds kommentaar gelewer het in my opstel Soos die sand van die see elders in dié ruimte.  Europeërs begin ook nou besef dat die magtige ekonomiese en kulturele Ryke wat hulle gebou het, ook miskien besig is om te vergaan.  Daar was nog nooit ‘n Duisendjarige Ryk nie, en daar sal waarskynlik nooit een wees nie.

Heersende Ryke gaan onder deur ‘n proses wat ons dikwels “dekadensie” noem.  Dit is naamlik ‘n langsame uitholling en dekonstruksie van die beginsels en kondisies wat onderliggend aan die ontstaan en mag van die Ryk was.  Die finale stuiptrekkings is egter nie langsaam nie. ‘n Dekadente Ryk word meer dikwels omvergewerp deur mededingers wat die vakuum wat hulle laat, vul met ‘n nuwe paradigma. 

In ‘n sekere sin is dit wat met Suid-Afrika in 1994 gebeur het.  ‘n Dekadente Afrikaner-heersersklas, wat oor dekades ondermyn is deur hulle opponente se volgehoue propaganda, is omvergewerp deur nuwe magshebbers, wat nou die leë doppe wat deur hulle dekadente voorgangers agtergelaat is, vul.  Die eens magtige Afrikanerdom se blink bates word nou beset deur hulle plaasvervangers.  Afrikaner-universiteite en ander instellings, die Boere se skole en hulle besighede, in die toekoms hulle plase,  alles wat oor ‘n tydvak van Afrikanergroei en Afrikanermag opgebou is, is in die nuwe orde beset en oorgeneem binne die bestek van ‘n paar jaar. Wat dekades en selfs eeue geneem het om gebou te word, het vinnig ondergegaan toe die toestande sodanig verander het dat ‘n dekandente Afrikanergemeenskap ondermyn en omvergewerp is.

Die onderliggende meganismes aan hierdie soort veranderinge is skynbaar universeel.   Gemeenskappe evoleer in ‘n proses waardeur nuwer geslagte die ouer geslagte vervang.  Nuwe geslagte kom onder die invloed van (ingevoerde) nuwe idees.  Op die wyse verander of evoleer die gemeenskap met tyd.  Die evolusionêre proses waardeur ouer geslagte deur nuwe geslagte vervang word, is nie eweredig nie.  Met ander woorde, dit is nie die geval dat elke individu in ‘n geslag eweredig vervang word deur ‘n plaasvervanger wat ongeveer dieselfde is nie. Wat eerder plaasvind, is dat sekere individue of sub-populasies se afstammelinge, geneties of kultureel, ‘n groter deel van die die nuwe geslag vorm, as wat hulle voorgangers in die ouer geslag was.  Uiteindelik kan die afstammelinge van so ‘n subpopulasie die hele bevolking verplaas, wat dan evoleer tot iets wat glad nie soos die voorgeslagte lyk nie.

Die proses werk onverbiddelik in gemeenskappe reg oor die wêreld.  Politieke waarnemers wat deesdae angsvallig oor demografie in Europa skryf verwys ook na die feit.  In hulle konteks is dit dat ‘n subpopulasie Moslems sal groei as ‘n persentasie om uiteindelik die dominante deel van die Europese bevolking te word.  Die is waarom die Britse tydskrif The Spectator onlangs ‘n voorblad gehad het met die woord “Eurabia” prominent uitgebeeld. Vanuit ‘n demografiese oogpunt gaan Moslems ‘n baie belangrike, indien nie dominante deel nie, van Europa word.  Dit is ook nie onmoontlik dat Christendom deur Islam vervang sal word as die dominante kulturele feit in Europa nie.

Die meganisme onderliggend aan die kulturele verskuiwing in Europa is dat ‘n subpopulasie Moslems besig is om Christendom te vervang in ‘n evolusionêre proses waar die afstammelinge van Christene, wat minder is, vervang word deur die afstammelinge van Moslems, wat meer is.  Die belangrikste feit is nie soseer die huidige persentasie Moslems nie, maar die persentasie Moslem kinders onder vyf jaar, vergeleke met die aantal Christen kinders onder vyf jaar.  Die verhouding gee ‘n aanduiding van die toekomstige persentasie Moslems in Europa.  En dit is ook die statistiek wat verskeie Europese leiers slaaplose nagte gee as hulle anstig wonder wat die toekoms vir hulle eens magtige lande inhou.  Soos die kommentator Mark Steyn erêns opgemerk het (en ek vertaal vrylik): “Italië sal op ‘n stadium moet ophou om Italië en Rooms-Katoliek te wees”. Die Pous en die Vatikaan gaan hulle in ‘n oorwegend Moslemland bevind, met moontlike ernstige gevolge vir die Katolieke kerk.

Die proses van vervanging of verplasing van bevolkings deur subpopulasies is beide onopmerklik (omdat die effekte daarvan eers in die volgende geslag gesien word), en vinnig, omdat dit eksponensieel in karakter is.  Daarom is die “Moslemifikasie” van Europa partykeer ‘n proses wat deur party met ‘n groot gaap aanskou word.  Die demografie van die huidige geslag is taamlik konstant, en demografiese verandering word net in die volgende geslag gevoel.  Dit raak dus ‘n probleem in die volgende geslagte, en dit is maklik om moontlike knelpunte wat eers oor twintig jaar aandag sal vereis te ignoreer.

‘n Soortgelyke proses het hom reeds in Suid Afrika in die twintigste eeu afgespeel.  Ouer geslagte Afrikaners in die eerste helfte van die twintigste eeu was beide onbewus en onbekommerd oor die vinnig groeiende aantal swart Suid Afrikaners.  Geslagte Afrikaners wat na 1950 gebore is, het hulle in ‘n baie veranderde demografiese omgewing bevind (vergeleke met hulle ouers), en moes die werklikheid van minderheidstatus in ‘n land met ‘n oorweldigende meerderheid Afrikane op een of ander manier probeer oorleef.  

Die demografiese golf van swart Afrikane het uiteindelik net oor hierdie geslag Afrikaners gespoel, wat eers polities begin reageer het toe dit reeds te laat was om iets aan die saak te doen.  In dié opsig het figure soos Jopie Fourie die korrekte instinkte gehad, maar miskien om die verkeerde redes.  Daar was in die lang termyn nooit ‘n Afrikanertoekoms in ‘n Unie van Suid Afrika nie, en net die herstel van ‘n Boere republiek sou die oorname van Afrikanerbates deur die ANC in 1994 kon verhoed.

Terwyl kulture en tale skynbaar vinnig deur ‘n evolusionêre proses onder mense ontwikkel oor geskiedkundige tydskale, is evolusie op die genetiese vlak egter ‘n stadiger proses, wat oor honderde duisende jare plaasvind.  Dit moet vergelyk word met die tydskale waaroor religie mense beinvloed, en wat maar in duisende jare gemeet kan word. 

Biologies en geneties is daar vandag net een mensespesie: die sogenaamde Homo sapiens. Rassiste en ander rasse-teoretici misbruik wetenskap dikwels om te beweer dat daar meer as een soort mens is, en dat daar een of ander ‘n soort superieure tipe mens bestaan. Die woord “superieur” het egter geen biologiese betekenis nie, behalwe natuurlik as mens na ‘n spesie wil verwys wat suksesvol biologies voortplant oor honderd-duisende of selfs miljoene jare. In die opsig is die Coelecant vis (wat honderde miljoene jare reeds oorleef) seker biologies superieur, en as mens die onlangse demografiese veranderinge in Suid Afrika bestudeer, is swart Suid Afrikaners “superieur” omdat hulle suksesvol biologies voortplant en vermeerder in die huidige omgewing in Suid Afrika (biologies sou mens kon argumenteer dat hulle beter aangepas is in die omgewing).

Daar is argeologies vasgestel dat verskeie mensespesies reeds op aarde bestaan het. Mense is primate, en geneties nou verwant aan mensape soos gorillas en sjimpansees. Primate is soogdiere, en soogdiere het ongeveer 50 miljoen gelede op kontinente begin oorheers, en word gekenmerk deur liggaamshare en tepels (wat melk aan werpsels verskaf).  Die oudste mensespesie het waarskynlik meer as drie of vier miljoen jaar gelede verskyn (of “ge-evoleer”).  Een voorbeeld is Australipethicus Africanus, en fossiele is naby Soutpan in die Vrystaat gevind.  Was Australipethicus Africanus ‘n mens?  As ons hom vandag kon laat herlewe, sou hy vir ons baie dierlik voorkom, en sy gedrag was waarskynlik meer “dierlik” as “menslik”.  Australipethicus Africanus het miskien wel klip- en houtgereedskap gebruik, en was klaarblyklik sowel jagter as stroper. 

As Australipethicus meer dier as mens was, dan kan mens nie meer so seker oor primate in the genus “Homo” wees nie. Die eerste mensespesie is Homo habilis, wat ‘n tydgenoot van Australipethicus was en tussen 2.2 en 1.6 miljoen jaar gelede geleef het.  Die brein van Homo habilis is ongeveer 30% groter as die van Australipethicus Africanus, en seksuele diformisme (verskille tussen manlike en vroulike individue) was groot.  ‘n Manlike Homo habilis was ongeveer twee keer so groot soos ‘n vroulike Homo habilis, en dit is ‘n indikasie dat paar-formasie waarskynlik nie voorgekom het nie, en dat Homo habilis kultureel waarskynlik nie baie modern was nie.

Homo erectus, ‘n nuwer spesie as Homo habilis, het tussen 2 miljoen en 400 000 jaar gelede geleef.  Daar is verskeie subspesies van Homo erectus, en hulle het waarskynlik met Homo habilis in kompetisie getree en hulle geleidelik vervang as die dominante mensespesie.  Homo erectus het êrens, waarskynlik in Afrika, ontstaan.  Vandaar het die spesie uitgebrei en het hy Homo habilis verplaas.  Dit is onwaarskynlik dat die twee spesies met mekaar geteel het.  Synde Homo erectus, of eerder, ‘n subpopulasie van Homo erectus skynbaar die direkte voorsate van moderne Homo sapiens is, het Homo habilis verdwyn (daar is vandag geen nasate van hom nie).  Homo habilis is die slagoffer van die demografiese sukses van Homo erectus, wat hom uit sy habitat verdring het, en waarskynlik sy uitsterwe veroorsaak het. 

Dit is op dié manier dat mensespesies skynbaar ge-evoleer het. ‘n Meer moderne mensespesie ontstaan en kring uit in golwe om bestaande mensespesies te verplaas.  Hierdie vertolking word sterk ondersteun deur opgrawings en genetiese studies, en is die “Out of Africa” model van menslike evolusie.  Die vroeëre paradigma, wat bekend gestaan het as die “multi-regionale model”, was ook op fossiele gebaseer. Daarvolgens sou mense ontstaan het deurdat die hele bevolking Homo erectus geneties stadig verander het om Homo sapiens te word.  Die “Out of Africa” model bevestig egter dat Homo erectus, net soos Homo habilis voor hom, verplaas is deur ‘n sub-populasie van Homo erectus, wie se nasate vandag Homo sapiens is.

Die proses het ook nie opgehou nie, en Homo sapiens sal, as hy nasate laat, vervang word deur die nasate van ‘n sub-populasie van Homo sapiens wat sal evoleer in ‘n nuwer spesie wat beter aangepas is in sy habitat en dus meer nasate agterlaat.  In dié opsig is demografie ons voorland.

‘n Meer “moderne” vorm van die Homo sapiens het 400 000 jare gelede in Afrika uit ‘n subpopulasie Homo erectus ontstaan.  Die nuwe groep word geklassifiseer as “argaiese Homo sapiens” of Homo heidelbergensis.  Fossiele van die spesies is in Afrika en Europa gevind.  Teen die einde van die laaste Ystydperk het Homo sapiens neanderthalensis die dominante Homo spesies in Europa geword, en hulle het waarskynlik Homo heidelbergensis daar vervang. 

Moderne mense, of Homo sapiens sapiens, wat alle lewende mense vandag insluit, het waarskynlik (volgens ‘n genetiese studie) ongeveer 50000 jaar gelede in Afrika evoleer waarskynlik in die Niger delta.  Vandaar het die nasate van die klein populasie Homo sapiens uitgebrei om alle ander mensespesies te verplaas, volgens die genetiese studies wat tot die “African Eve” of “Out of Africa” modelle vir evolusie van die mens gelei het.  Skynbaar is alle mense vandag die afstammelinge van ‘n vrou wat redelik onlangs (ongeveer vyftig duisend jaar gelede) êrens in Afrika geleef het.

In die “African Eve” of “Out of Africa” hipotese is die mees belangrike feit die woord “verplaas” (of “vervang”).  Argaiese vorme van Homo sapiens, insluitende die Neanderdallers in Europa, is deur die nuwe moderne sub-populasie Homo sapiens verplaas.  Genetiese smelting van die spesies met mekaar, soos voorgestel deur die “multi-regional model” het skynbaar nie plaasgevind nie, en vermenging was waarskynlik raar.  Neanderdallers is vervang deur moderne Homo sapiens, en as hulle nasate gehad het, is hulle genetiese bydrae skynbaar net ‘n klein deeltjie van die genepoel van moderne mense.  Net so is ouer populasies op die ander kontinente verplaas, soos wat die moderne Homo sapiens vanuit Afrika migreer het na al die ander kontinente uitsluitende Antarktika.

Geneties kan die bostaande prentjie geverifieer word.  Omdat klein groepies moderne Homo sapiens Afrika verlaat het, behoort die genetiese variasies onder Afrikane groter te wees as onder Europeërs of Asiërs.  Dit is dan ook die geval.   Genetiese studies dui aan dat populasies Afrikane geneties baie meer divers as populasies buite Afrika.  Die laaste groep mense waaroor daar dus veralgemeen kan word, is juis Afrikane.

Die evolusionêre proses van verplasing van populasies word in demografies gedrewe tydvakke van geslagte gemeet. Dit duur steeds onverpoos voort, en is besig om ons toekoms te skep. So byvoorbeeld het Europese immigrante Amerikaanse Inboorlinge in Noord Amerika verplaas.  Die bydrae van Amerikaanse Inboorlinge tot die huidige genepoel in Noord Amerika is baie minder as een persent.  Net so is die bydrae van die San tot die genepoel in Suid Afrika baie min, al was hulle eens die inboorling bevolking van die subkontinent. Terwyl daar lank geglo is dat Indiërs in Indië en Europeërs geneties nou verwant is, blyk dit nou uit genetiese studies dat ‘n baie groot bevolking in Indië direk  van migrante uit Afrika afstam, wat nie verwant is aan die Afrikaanse migrante wat Europa beset het nie.  Dit is ten spyte van dit feit dat tale in Indië definitief tot die Indo-Germaanse groep behoort.  Terwyl Indiërs hulle tale met Europeërs deel, is hulle genetiese oorsprong nie so nou verwant nie.

Daar is nog baie ander voorbeelde.  Vier vroue wat net 1000 jaar gelede geleef het, is vandag die voorsate van 40% van Askenazi Jode.  Die vier vroue het vandag 3,5 miljoen afstammelinge, en hulle nasate kan met tyd, as hulle demografies bly groei, die genepoel van Askenazi Jode uiteindelik heeltemal domineer. Moderne swart Afrikane is klaarblyklik die afstammelinge van migrante uit die Nigerdelta van waar hulle Wes en Suid in Afrika gemigreer het.  Die suidwaartse migrasie het die inboorlinge van Afrika, die San inkluis, verplaas.  Swart Afrikane het Suider-Afrika in die historiese tydvak ingetrek, en teen 1652 het hulle nog nie in die Kaap aangekom nie, maar was skynbaar so ver suid as die huidige Natal en Oos-Kaap.  Dit is waarom Hollanders net die San en Khoi in 1952 in die Kaap aangetref het. 

Afrikaners het ontstaan uit ‘n groep mense, hoofsaaklik vanuit Europa (maar ook met enkelinge vanuit plekke soos Angola, Madagaskar en Asië), wat 350 jaar gelede na die Kaap gemigreer het of gebring is.  Die groep het biologies oorleef en vermenigvuldig tot ‘n paar miljoen mense vandag.  Dit is die genetiese en ook kulturele oorsprong van Afrikaners.  Daar was altyd ‘n moontlikheid dat Afrikaners ander mense in Suider-Afrika kon verplaas.  Dit is steeds moontlik, dog tans onwaarskynlik.  In sy boek “Guns, Germs and Steel” probeer Jared Diamond verduidelik waarom “the Dutch” onsuksesvol in Afrika was, teenoor die Engelse sukses in Australië. Soos u kan raai is die basiese rede hiervoor die demografiese realiteite in Suider-Afrika.  Dit is natuurlik moontlik dat Afrikaners heeltemal deur Afrikane verplaas kan word om in honderde jare net ‘n klein bydrae tot die genepoel in Suid Afrika te maak.  Dit is egter onmoontlik om te voorspel. 

Waar kom die moderne rasse vandaan?  Dit is ongetwyfeld ‘n feit dat verskeie groepe mense, gedurende migrasies oor tienduisende jare, geografies geïsoleerd geraak het.  Die geografiese isolasie veroorsaak dat geenpoele geisoleerd word, en die gevolg is dat geenpoele van geïsoleerde bevolkings van mekaar begin divergeer.  Die invloed van die omgewing (hitte in Afrika, koue in Europa, hitte in woestyne) het ‘n invloed op die seleksie van gene, en oor tienduisende jare het die geïsoleerde geenpoele genoeg verander om die moderne rasse te vorm.  Terwyl daar baie etniese groepe onder mense is, word daar meestal net vyf rasse erken:  Indo-Europeërs, Afrikane, Amerikaanse Indiane,  Oos-Asiërs en Australiese Inboorlinge (wat ook mense van eilande in die Stille Oseaan insluit).

Daar is definitiewe verskille in die voorkoms van sekere gene in rassegroepe. Verskille in voorkoms soos vel en haarkleur is definitief geneties, maar hierdie verskille is te wyte aan ‘n klein aantal gene.  Sekere genetiese siektes is ook beperk tot sekere rasse.  Sekelsel-anemie is byvoorbeeld beperk tot mense met Wes-Afrikaanse voorsate,  en Tay-Sachs siekte kom skynbaar net onder mense met Joodse voorsate voor.  Dit is ook bekend dat laktose-toleransie wydverspreid is onder Skandinawiërs, en dat dit afneem met afstand vanaf Skandinawië.  Blonde hare is eksklusief in die geenpoel van mense met Noord-Europese voorsate.  En daar is baie ander voorbeelde.

Terwyl dit alles baie interessant is, is dit ook ongelukkig so dat baie van hierdie wetenskaplike feite gebruik word as drogredenasies om die superieuriteit, al dan nie, van sekere rasse te “bewys”.  Genetiese effekte is biologies, en werk in op individue.  Die voorkoms van gene mag eienskappe aan hele bevolkingsgroepe gee – byvoorbeeld ‘n haarkleur of ‘n toleransie vir laktose. Maar alle mensegene is mensegene, en die enigste eienskap waaraan die superieuriteit van gene “gemeet” kan word in die biologiese sin is deur oorlewing oor duisende jare.  IK-toetse en dies meer is nie goed genoeg nie – iemand met ‘n hoë IK wat nie voortplant nie is in die biologiese sin glad nie superieur nie, en sy bestaan word deur Tyd uitgewis.

Dus, in dié opsig is alle moderne mense vandag, wie se voorsate oorleef het, en wat hulle opponente, omgewing en vyande oorleef het, biologies superieur.  Evolusie het nie nou opgehou nie, maar gaan onverpoos voort in die veranderde omgewing.  Selfs uitstekende huidige aangepaste spesies kan of gaan in die toekoms uitsterf.  Demografie en evolusie is ‘n spel waar die laaste man wat staan die wenner is.

Biologie staan dus neutraal teenoor eienskappe wat kwansuis superieuriteit bewys.  Miskien was Einstein intellektueel superieur ten opsigte van die res van ons.  Maar biologies is die enigste relevante kwessie of Einstein se gene suksesvol in sy nasate voortplant en veral vermenigvuldig.  Dit is om dié rede dat wetenskaplike aansprake op genetiese superieuriteit altyd drogredenasies is.  Om genetiese superieuriteit te bewys moet jy die toekoms ken, en dit kan jy nie.

Dit bring ons dus terug na die hede.  Daar is sonder twyfel ‘n groot aantal etniese groepe op aarde, elk met ‘n kultuur, taal, gewoontes, mites, en ‘n soeke na ‘n toekoms.  Daar is definitief, statisties gesproke, genetiese verskille tussen die groepe (wat die gevolg is van geografiese isolasie oor argeologiese tydperke).  Daar is ook kompetisie tussen etniese groepe, en in sommige gevalle is dit ‘n wrede en meedoënlose proses.  Kompetisie tussen Britte en Duitsers het byvoorbeeld in die twintigste eeu tot twee katastrofiese wêreldoorloë gelei, en daar is baie ander historiese voorbeelde van etniese kompetisie en etniese chauvinisme wat katastrofiese gevolge gehad het. 

Gene en biologie werp min lig op die toestand, wat in werklikheid meestal polities van aard is, en wat ‘n ander stel reels volg as die “wette” onderliggend aan biologie.  Biologiese drange kan egter inwerk op die manier waarop etniese groepe mekaar benader.  So byvoorbeeld sou ‘n streng Darwiniaanse benadering voorstel dat dit voordelig vir een etniese groep kon wees om die bates van ‘n ander groep te kaap, omdat dit die eerste groep sou help om beter omstandighede te skep waarin hulle kan floreer en miskien kan vermenigvuldig.

As daar dan iets biologies (of miskien sielkundig) onderliggend is aan die gedrag van die ANC teenoor Afrikaners, dan is dit hulle drang om Afrikaners se bates oor te neem.  Dit kan verduidelik waarom Afrikaanse skole en universiteite en ander kulturele en ekonomiese bates so onder druk van die ANC is.  Die instellings was natuurlik nie gebreek nie, maar het effektief gewerk om ‘n Afrikaanse etnisiteit te stabiliseer en selfs te laat floreer.  Deur die bates te ondermyn, ondermyn die ANC ook die meganismes waarmee Afrikaners hulleself bestendig het, en die gevolg is die vernietiging van Afrikaners se skeppingsmites en hulle gevolglike ondergang as ‘n etniese groep.  Dit is dan ook ‘n natuurlike doel van die ANC in hulle projek om ‘n unieke Engelsprekende Suid-Afrikaner te skep.  Daardie projek vereis die verplasing van Afrikaners se etnisiteit deur ‘n nuwe etinisiteit wat bitter min in gemeen met historiese Afrikaners het.  Dit kan dalk die toekoms wees, maar mens weet nooit.

Boontoe