daboekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Kan ANC Afrikanerselfbeskikking verhoed? 

- antwoord op Reinhart Buys

______________________________________________________________________

Dan Roodt

Die debat tot dusver:

Reinhardt Buys: Afrikaners is onplesierig

Dan Roodt: Padkaart na vryheid

Tien vrae aan Dan Roodt, Deel I — Reinhardt Buys
Tien vrae aan Dan Roodt, Deel II — Reinhardt Buys
Tien vrae aan Dan Roodt, Deel III — Reinhardt Buys

Reinhardt Buys het so pas 'n tiental stelle vrae aan my gevra, wat ek soos volg beantwoord:

  1. Politieke oortuiging speel nie ‘n rol by Afrikaner-wees nie, maar in die praktyk speel ras vir seker (en toenemend) ‘n rol. Gaan kyk maar in enige woordeboek of ensiklopedie, waar jy “Afrikaanssprekende blanke” as ‘n sinoniem vir “Afrikaner” sal vind. Net soos die Afro-Amerikaners ‘n swart minderheid in die VSA verteenwoordig, is ons ‘n wit minderheid in Afrika. Net Naspersjoernaliste sal so iets wil ontken. Ek het self verlangse Joodse  voorouers en seker ook iewers Skotse voorsate, dus is jou eie genetiese erfenis nie die belangrikste nie. Wat tel is dat mens jou met die Afrikaner-identiteit en –tradisie moet vereenselwig, van die Kaapse Patriotte regdeur die Groot Trek en Bloedrivier tot verby die Vryheidsoorloë, en dat melktert en N.P. van Wyk Louw iets vir jou moet beteken. Ek dink dat ongeveer die helfte van al die Engelse in die land eintlik uit verengelsde Afrikaners bestaan, dus sal hulle hopelik in die toekoms weer by ons aansluit. Die Boer/Afrikaner-argument verveel my en dis werklik net aanhangers van die Israelvisie wat meen dat daar ‘n onderskeid tussen die twee begrippe bestaan. Dis soos “Fransman” en “Galliër”, of “Duitser” en “Germaan”; vinkel en koljander.

  2. Koos Reyneke en nou Anton Barnard, het die Afrikanermeerderheid op die kaart oos van Pretoria met dele van die Oos-rand geïdentifiseer. Anton is tans besig om dit op ‘n meer gedetailleerde kaart waar elke punt 200 huise verteenwoordig, af te merk en dan sal ons presies weet waar die grenslyn behoort te loop. Maar selfs al was daar nie so ‘n gebied nie, skuld Suid-Afrika ons vyf persent van die grondgebied ná ons oor 350 jaar 100% daarvan vir hulle ingerig het met infrastruktuur om die mees ontwikkelde staat in Afrika uit te maak.

  3. Ons was die eerste om dié bepaalde gebied te beset. Hoofman Tshwane is ‘n spook want sy stam was aan die ander kant van die Magaliesberg en boonop was hy ‘n Ndebele waarvan die meeste nou in Zimbabwe woon. Behoort Pretoria dus aan Bulawayo? Ons historiese aanspraak berus daarop dat ons onsself reeds vir 150 jaar in dié gebied regeer en dat dit ons demografiese swaartepunt verteenwoordig. Soos die VN se Konvensie oor Burgerlike en Politieke Regte (wat die ANC-bewind terloops onderteken en bekragtig het) dit in Artikel 1 stel: “All peoples have the right of self-determination. By virtue of that right they freely determine their political status and freely pursue their economic, social and cultural development.” Sub-artikel 3 van dieselfde artikel lê ‘n verpligting op state om “die verwesenliking van self-beskikking te bevorder”.

  4. Blykbaar het die Volkstaatraad ‘n meningsopname in die Afrikanermeerderheidsgebied in die negentigerjare uitgevoer waarin meer as 50% van Afrikaners wel die gedagte van ‘n eie staat ondersteun het. Myns insiens sou die persentasie ondersteuning nou baie hoër wees. As jy daaraan dink, ‘n Afrikanerstaat sou vir ons almal ‘n paradys wees met lae belastings, nog laer misdaad, Afrikaanse skole en universiteite, ‘n kulturele opbloei soos daar nog nooit was nie, kleuterskole vir werkende moeders, hospitale soos daar laas in die sewentigerjare bestaan het, ens. Geen persoon by sy volle verstand sal tog teen so iets gekant wees nie? Myns insiens is die ANC-staat verplig om ‘n referendum onder Afrikaners hieroor te reël en ons almal onbevooroordeelde toegang tot die staatsuitsaaier te gee sodat daar ‘n werklik demokratiese debat hieroor kan plaasvind, net soos wat die Kanadese staat dit vir Québec gedoen het.

  5. Op die keper beskou, was Mandela ‘n terroris. Daar is steeds opnames van Radio Freedom op die internet beskikbaar waar die ANC alle swartes in die land tot ‘n rasseoorlog aanhits en bediendes en tuiniers aanspoor om met tuinvurke, kombuismesse of enige ander wapen hul werknemers te vermoor. Onlangse onthullings deur Conny Braam, die eertydse hoof van die Nederlandse Anti-Apartheidsbeweging in haar boek oor Operasie Vula, maak dit duidelik dat Mandela van dit alles bewus was en waarskynlik terreur soos die Kerkstraatbom goedgekeur het. In elk geval het hy hom nog nooit daarvan gedistansieer nie. Die huidige Afrikanerbeweging is vir seker nie op terreur ingestel nie en verstaan die beginsels van guerilla-oorlogvoering veel beter as die ANC of SAKP van destyds. Guerilla-oorlogvoering is “propaganda deur dade”. Myns insiens gaan ons selfbeskikking sonder geweld verkry, bloot deur ‘n baie goeie kommunikasiestrategie waarin ons ons huidige slagofferstatus gaan beklemtoon en die ANC op die verdediging gaan stel. Maar onthou: ons woon in Afrika, die kontinent van Zimbabwe, van Rwanda, Burundi, ens. Net in die DRK is reeds 3,2 miljoen mense in massamoorde gedood. Daarom moet ons bedag wees op die risiko dat die ANC, sodra hy begin voel dat hy die argument verloor, met geweld teen die Afrikanerminderheid sou kon reageer. In daardie geval sal ons nie, soos ek dit iewers ‘n jaar of twee gelede in ‘n toespraak gestel het, “vrywillig op die trein na Auschwitz klim nie”. Van meet af aan moet die ANC egter daarvan bewus wees dat hy ons nie met geweld of die dreigement daarvan kan intimideer om van ons selfbeskikkingstrewe af te sien nie. My eerlike opinie is dat die Boeremagsage deur die Nasionale Intelligensiediens uitgedink is om die Afrikaner weereens belaglik te probeer maak.

  6. Natuurlik gaan ons nie absurditeite soos aparte sport, ‘n ontugwet, of enige diskriminerende of kwetsende maatreëls in ons nuwe staat instel nie. As dit daarop aankom, kan ons die VN se Konvensie oor die Eliminering van Alle Vorme van Rassediskriminasie onderteken en ons sodoende in dié verband internasionaal laat dophou. Waarom nie? Menseregte, ‘n regstaat, demokrasie, persvryheid, spraakvryheid, dit alles spreek vanself. Oor die doodstraf en aborsie dink ek kan ons ‘n referendum hou en die kwessies behoorlik van alle kante beskou. In Ysland weet ek moedig die regering indirek “glipse” aan uit vrees dat die bevolking daal (daar is maar 279 000 Yslanders).

  7. As jy nou praat van nie-Afrikaanse minderhede binne ons grondgebied bring dit natuurlik die hele problematiek van minderhede en minderheidsregte in die gedrang. Gegewe ons redelik bedreigde status as die laaste blanke minderheid in Afrika (ná Zimbabwe sy laaste blankes met geweld vedryf het), dink ek sal die internasionale gemeenskap begryp as ons taamlik snoep met burgerskap en stemreg aan nie-Afrikaners omgaan. Noem dit die Switserse model: tien jaar van bewese wettige teenwoordigheid in die gebied, ’n getroue belastingbetaler, vaardigheid in Afrikaans, wetsgehoorsaamheid, ‘n goeie vlak van opleiding, ens. In die aanvanklike stadium sal daar ‘n groot styging in eiendomswaardes plaasvind soos wat Afrikaners van heinde en verre op die gebied toesak. Vermoedelik sal vele nie-Afrikaanse inwoners hul eiendomme verkoop om eerder in ‘n goedkoper Suid-Afrika te gaan woon. Net soos wat baie min swartes ooit Afrikaanse skole bywoon, sal baie min van hulle in ‘n volledig Afrikaanstalige staat met streng wetstoepassing wil woon. Die kultuurskok vergeleke met Suid-Afrika, Engelse land van laissez faire en laissez aller, sal eenvoudig te groot wees. Waarom verlaat al die Britte nie hul klein reënerige eiland en gaan woon in Frankryk noudat Europese grense opgehef is nie? Want hulle praat nie Frans nie en onderskryf nie Galliese kultuurgewoontes nie. Taal en kultuur hou (onder andere) grense in stand; by ons sal dit nie anders werk nie.

  8. Israel bied burgerskap aan alle Jode en ek dink dit sal vir ons ‘n wyse model wees om na te volg. Ons sal enige Afrikaner vanuit Suid-Afrika, Australië, Kanada, waar ook al, burgerskap kan aanbied solank hy aan sekere vereistes voldoen en ongeag sy eie politieke oortuigings. Iemand soos Breyten Breytenbach mag selfs kwalifiseer vir ‘n staatstoelaag of mag ‘n leerstoel in skeppende skryfkuns aan ‘n universiteit beklee. Dit sal staatsbeleid wees om Afrikaanse kunstenaars, skrywers, musici en wetenskaplikes te beloon en te vereer, anders as byvoorbeeld onder die Nasionale Party toe hulle gesensureer en van die staat vervreem is. Dieselfde geld natuurlik vir jou of Max du Preez, hoewel “Mad Max” dalk eerder in ons goeie psigiatriese hospitale mag belangstel om homself te laat behandel (grappie).

  9. Apartheid is nie die oorsaak van die huidige geweldsmisdaad nie, anders sou Haïti, die “wêreld se oudste swart republiek” (Thabo Mbeki), misdaadvry gewees het. SA misdaad is ‘n swart/bruin probleem. Punt. Of die ANC plaasmoorde ondersteun of nie, is eintlik irrelevant. Daar bestaan wel sekere uitsprake (onder andere deur Pallo Jordan) wat dit laat lyk asof hul simpatie eerder by die plaasmoordenaars as by hul slagoffers lê. Feit is dat daar ‘n geweldskultuur in die Nuwe Suid-Afrika heers wat die land wêreldwyd berug gemaak het en vir ons geheel en al onaanvaarbaar is. Volgens Stephen Smith in sy boek Negrologie kom plaasmoorde op “rassewraak” neer. Die ANC kan of wil nie iets hieraan doen nie, wat ons met twee opsies laat: emigrasie of ‘n volkstaat. Ek kies laasgenoemde. Voeg hierby “grondhervorming” wat geen ekonomiese sin maak nie en dis duidelik dat ons nie meer werklik in dié land welkom is nie.

  10. Ek lees nou die dag dié definisie van ‘n “rassis”: iemand wat ‘n argument teen ‘n linkse gewen het. Natuurlik sal die ANC en sy meelopers ons van “rassisme” beskuldig omdat ons dan nie lus is vir die kastige veelrassige samesyn van die NSA nie, want watter ander argument het hulle? Die volkereg is aan ons kant, die geskiedenis is aan ons kant en anders as die meeste Afrikalande beskik ons oor die vermoë om ‘n eie staat sonder hulp van buite te bedryf. Boonop wil hulle nie graag hul melkkoeie verloor wat so gewillig hul belastings betaal en oënskynlik niks in ruil verwag nie. Die “rassisme”-muti verteenwoordig egter verlede jaar se Viagra. Ná Zimbabwe en ná die Franse onluste van 2005 heers daar nuwe internasionale begrip vir blankes wat in ‘n ordelike samelewing wil leef sonder mense wat treine, busse of skole afbrand, onderwyseresse met messe steek, babas verkrag, ens. Ook die ANC se gulsigheid om ons van alle kollektiewe bates (skole, universiteite, museums, ens.), tesame met ons taal en identiteit te stroop, het die morele basis vir die eis om selfbeskikking geskep, anders as tien jaar gelede toe dit miskien bloot as ‘n konserwatiewe teenreaksie teen die “wonderwerk” gesien kon word. Maar bowenal – en hiervoor moet ons die ANC se blanke Engelse raadgewers bedank – het die regime die taalkwessie geheel en al onderskat as iets wat maar net onder die mat ingevee kon word. Afgesien van ons persoonlike veiligheid, bied die behoud van ons taal en kultuur waarskynlik die sterkste argument ten gunste van selfbeskikking, iets wat boonop universeel verstaanbaar is. Afgesien van “rassisme”, is die enigste teenvoeter die tipering van selfbeskikking as “regs” of “verregs”, maar dan is die Palestyne, Tsjegge, Slowake, Sloweniërs, Litouers, Letlanders, Estlanders, Tsjetsjene, Katalane, Baske, Québecois, Vlaminge, Tibetane, Taiwannese — kortom, die hele mensdom buite Suid-Afrika — “regs” of “verregs”. Die vraag is dus nie soseer: hoe hanteer die ANC Afrikanerselfbeskikking nie, maar hoe gaan hy dit kan verhoed?

 

 

 

 

Boontoe