|
|
Kan ANC Afrikanerselfbeskikking
verhoed?
- antwoord op Reinhart Buys
______________________________________________________________________
Dan Roodt
Die
debat tot dusver:
Reinhardt
Buys: Afrikaners is onplesierig
Dan
Roodt: Padkaart na vryheid
Tien vrae aan Dan Roodt, Deel I — Reinhardt Buys
Tien vrae aan Dan Roodt, Deel II — Reinhardt Buys
Tien vrae aan Dan Roodt, Deel III — Reinhardt Buys
Reinhardt
Buys het so pas 'n tiental stelle vrae aan my gevra, wat ek soos volg
beantwoord:
-
Politieke
oortuiging speel nie ‘n rol by Afrikaner-wees nie, maar in
die praktyk speel ras vir seker (en toenemend) ‘n rol. Gaan
kyk maar in enige woordeboek of ensiklopedie, waar jy
“Afrikaanssprekende blanke” as ‘n sinoniem vir
“Afrikaner” sal vind. Net soos die Afro-Amerikaners ‘n
swart minderheid in die VSA verteenwoordig, is ons ‘n wit
minderheid in Afrika. Net Naspersjoernaliste sal so iets wil
ontken. Ek het self verlangse Joodse
voorouers en seker ook iewers Skotse voorsate, dus is
jou eie genetiese erfenis nie die belangrikste nie. Wat tel is
dat mens jou met die Afrikaner-identiteit en –tradisie moet
vereenselwig, van die Kaapse Patriotte regdeur die Groot Trek
en Bloedrivier tot verby die Vryheidsoorloë, en dat melktert
en N.P. van Wyk Louw iets vir jou moet beteken. Ek dink dat
ongeveer die helfte van al die Engelse in die land eintlik uit
verengelsde Afrikaners bestaan, dus sal hulle hopelik in die
toekoms weer by ons aansluit. Die Boer/Afrikaner-argument
verveel my en dis werklik net aanhangers van die Israelvisie
wat meen dat daar ‘n onderskeid tussen die twee begrippe
bestaan. Dis soos “Fransman” en “Galliër”, of
“Duitser” en “Germaan”; vinkel en koljander.
-
Koos
Reyneke en nou Anton Barnard, het die Afrikanermeerderheid op
die kaart oos van Pretoria met dele van die Oos-rand geïdentifiseer.
Anton is tans besig om dit op ‘n meer gedetailleerde kaart
waar elke punt 200 huise verteenwoordig, af te merk en dan sal
ons presies weet waar die grenslyn behoort te loop. Maar selfs
al was daar nie so ‘n gebied nie, skuld Suid-Afrika ons vyf
persent van die grondgebied ná ons oor 350 jaar 100% daarvan
vir hulle ingerig het met infrastruktuur om die mees
ontwikkelde staat in Afrika uit te maak.
-
Ons
was die eerste om dié bepaalde gebied te beset. Hoofman
Tshwane is ‘n spook want sy stam was aan die ander kant van
die Magaliesberg en boonop was hy ‘n Ndebele waarvan die
meeste nou in Zimbabwe woon. Behoort Pretoria dus aan
Bulawayo? Ons historiese aanspraak berus daarop dat ons
onsself reeds vir 150 jaar in dié gebied regeer en dat dit
ons demografiese swaartepunt verteenwoordig. Soos die VN se
Konvensie oor Burgerlike en Politieke Regte (wat die
ANC-bewind terloops onderteken en bekragtig het) dit in
Artikel 1 stel: “All peoples have the right of
self-determination. By virtue of that right they freely
determine their political status and freely pursue their
economic, social and cultural development.” Sub-artikel 3
van dieselfde artikel lê ‘n verpligting op state om “die
verwesenliking van self-beskikking te bevorder”.
-
Blykbaar
het die Volkstaatraad ‘n meningsopname in die
Afrikanermeerderheidsgebied in die negentigerjare uitgevoer
waarin meer as 50% van Afrikaners wel die gedagte van ‘n eie
staat ondersteun het. Myns insiens sou die persentasie
ondersteuning nou baie hoër wees. As jy daaraan dink, ‘n
Afrikanerstaat sou vir ons almal ‘n paradys wees met lae
belastings, nog laer misdaad, Afrikaanse skole en
universiteite, ‘n kulturele opbloei soos daar nog nooit was
nie, kleuterskole vir werkende moeders, hospitale soos daar
laas in die sewentigerjare bestaan het, ens. Geen persoon by
sy volle verstand sal tog teen so iets gekant wees nie? Myns
insiens is die ANC-staat verplig om ‘n referendum onder
Afrikaners hieroor te reël en ons almal onbevooroordeelde
toegang tot die staatsuitsaaier te gee sodat daar ‘n werklik
demokratiese debat hieroor kan plaasvind, net soos wat die
Kanadese staat dit vir Québec gedoen het.
-
Op die keper
beskou, was Mandela ‘n terroris. Daar is steeds opnames van
Radio Freedom op die internet beskikbaar waar die ANC alle
swartes in die land tot ‘n rasseoorlog aanhits en bediendes
en tuiniers aanspoor om met tuinvurke, kombuismesse of enige
ander wapen hul werknemers te vermoor. Onlangse onthullings
deur Conny Braam, die eertydse hoof van die Nederlandse
Anti-Apartheidsbeweging in haar boek oor Operasie Vula, maak
dit duidelik dat Mandela van dit alles bewus was en
waarskynlik terreur soos die Kerkstraatbom goedgekeur het. In
elk geval het hy hom nog nooit daarvan gedistansieer nie. Die
huidige Afrikanerbeweging is vir seker nie op terreur ingestel
nie en verstaan die beginsels van guerilla-oorlogvoering veel
beter as die ANC of SAKP van destyds. Guerilla-oorlogvoering
is “propaganda deur dade”. Myns insiens gaan ons
selfbeskikking sonder geweld verkry, bloot deur ‘n baie
goeie kommunikasiestrategie waarin ons ons huidige
slagofferstatus gaan beklemtoon en die ANC op die verdediging
gaan stel. Maar onthou: ons woon in Afrika, die kontinent van
Zimbabwe, van Rwanda, Burundi, ens. Net in die DRK is reeds
3,2 miljoen mense in massamoorde gedood. Daarom moet ons bedag
wees op die risiko dat die ANC, sodra hy begin voel dat hy die
argument verloor, met geweld teen die Afrikanerminderheid sou
kon reageer. In daardie geval sal ons nie, soos ek dit iewers
‘n jaar of twee gelede in ‘n toespraak gestel het,
“vrywillig op die trein na Auschwitz klim nie”. Van meet
af aan moet die ANC egter daarvan bewus wees dat hy ons nie
met geweld of die dreigement daarvan kan intimideer om van ons
selfbeskikkingstrewe af te sien nie. My eerlike opinie is dat
die Boeremagsage deur die Nasionale Intelligensiediens
uitgedink is om die Afrikaner weereens belaglik te probeer
maak.
-
Natuurlik
gaan ons nie absurditeite soos aparte sport, ‘n ontugwet, of
enige diskriminerende of kwetsende maatreëls in ons nuwe
staat instel nie. As dit daarop aankom, kan ons die VN se
Konvensie oor die Eliminering van Alle Vorme van
Rassediskriminasie onderteken en ons sodoende in dié verband
internasionaal laat dophou. Waarom nie? Menseregte, ‘n
regstaat, demokrasie, persvryheid, spraakvryheid, dit alles
spreek vanself. Oor die doodstraf en aborsie dink ek kan ons
‘n referendum hou en die kwessies behoorlik van alle kante
beskou. In Ysland weet ek moedig die regering indirek
“glipse” aan uit vrees dat die bevolking daal (daar is
maar 279 000 Yslanders).
-
As jy nou
praat van nie-Afrikaanse minderhede binne ons grondgebied
bring dit natuurlik die hele problematiek van minderhede en
minderheidsregte in die gedrang. Gegewe ons redelik bedreigde
status as die laaste blanke minderheid in Afrika (ná Zimbabwe
sy laaste blankes met geweld vedryf het), dink ek sal die
internasionale gemeenskap begryp as ons taamlik snoep met
burgerskap en stemreg aan nie-Afrikaners omgaan. Noem dit die
Switserse model: tien jaar van bewese wettige teenwoordigheid
in die gebied, ’n getroue belastingbetaler, vaardigheid in
Afrikaans, wetsgehoorsaamheid, ‘n goeie vlak van opleiding,
ens. In die aanvanklike stadium sal daar ‘n groot styging in
eiendomswaardes plaasvind soos wat Afrikaners van heinde en
verre op die gebied toesak. Vermoedelik sal vele
nie-Afrikaanse inwoners hul eiendomme verkoop om eerder in
‘n goedkoper Suid-Afrika te gaan woon. Net soos wat baie min
swartes ooit Afrikaanse skole bywoon, sal baie min van hulle
in ‘n volledig Afrikaanstalige staat met streng
wetstoepassing wil woon. Die kultuurskok vergeleke met
Suid-Afrika, Engelse land van laissez faire en laissez aller,
sal eenvoudig te groot wees. Waarom verlaat al die Britte nie
hul klein reënerige eiland en gaan woon in Frankryk noudat
Europese grense opgehef is nie? Want hulle praat nie Frans nie
en onderskryf nie Galliese kultuurgewoontes nie. Taal en
kultuur hou (onder andere) grense in stand; by ons sal dit nie
anders werk nie.
-
Israel bied
burgerskap aan alle Jode en ek dink dit sal vir ons ‘n wyse
model wees om na te volg. Ons sal enige Afrikaner vanuit
Suid-Afrika, Australië, Kanada, waar ook al, burgerskap kan
aanbied solank hy aan sekere vereistes voldoen en ongeag sy
eie politieke oortuigings. Iemand soos Breyten Breytenbach mag
selfs kwalifiseer vir ‘n staatstoelaag of mag ‘n leerstoel
in skeppende skryfkuns aan ‘n universiteit beklee. Dit sal
staatsbeleid wees om Afrikaanse kunstenaars, skrywers, musici
en wetenskaplikes te beloon en te vereer, anders as
byvoorbeeld onder die Nasionale Party toe hulle gesensureer en
van die staat vervreem is. Dieselfde geld natuurlik vir jou of
Max du Preez, hoewel “Mad Max” dalk eerder in ons goeie
psigiatriese hospitale mag belangstel om homself te laat
behandel (grappie).
-
Apartheid is
nie die oorsaak van die huidige geweldsmisdaad nie, anders sou
Haïti, die “wêreld se oudste swart republiek” (Thabo
Mbeki), misdaadvry gewees het. SA misdaad is ‘n swart/bruin
probleem. Punt. Of die ANC plaasmoorde ondersteun of nie, is
eintlik irrelevant. Daar bestaan wel sekere uitsprake (onder
andere deur Pallo Jordan) wat dit laat lyk asof hul simpatie
eerder by die plaasmoordenaars as by hul slagoffers lê. Feit
is dat daar ‘n geweldskultuur in die Nuwe Suid-Afrika heers
wat die land wêreldwyd berug gemaak het en vir ons geheel
en al onaanvaarbaar is. Volgens Stephen Smith in sy boek Negrologie
kom plaasmoorde op “rassewraak” neer. Die ANC kan of wil
nie iets hieraan doen nie, wat ons met twee opsies laat:
emigrasie of ‘n volkstaat. Ek kies laasgenoemde. Voeg hierby
“grondhervorming” wat geen ekonomiese sin maak nie en dis
duidelik dat ons nie meer werklik in dié land welkom is nie.
-
Ek lees nou
die dag dié definisie van ‘n “rassis”: iemand wat ‘n
argument teen ‘n linkse gewen het. Natuurlik sal die ANC en
sy meelopers ons van “rassisme” beskuldig omdat ons dan
nie lus is vir die kastige veelrassige samesyn van die NSA
nie, want watter ander argument het hulle? Die volkereg is aan
ons kant, die geskiedenis is aan ons kant en anders as die
meeste Afrikalande beskik ons oor die vermoë om ‘n eie
staat sonder hulp van buite te bedryf. Boonop wil hulle nie
graag hul melkkoeie verloor wat so gewillig hul belastings
betaal en oënskynlik niks in ruil verwag nie. Die
“rassisme”-muti verteenwoordig egter verlede jaar se
Viagra. Ná Zimbabwe en ná die Franse onluste van 2005 heers
daar nuwe internasionale begrip vir blankes wat in ‘n
ordelike samelewing wil leef sonder mense wat treine, busse of
skole afbrand, onderwyseresse met messe steek, babas verkrag,
ens. Ook die ANC se gulsigheid om ons van alle kollektiewe
bates (skole, universiteite, museums, ens.), tesame met ons
taal en identiteit te stroop, het die morele basis vir die eis
om selfbeskikking geskep, anders as tien jaar gelede toe dit
miskien bloot as ‘n konserwatiewe teenreaksie teen die
“wonderwerk” gesien kon word. Maar bowenal – en hiervoor
moet ons die ANC se blanke Engelse raadgewers bedank – het
die regime die taalkwessie geheel en al onderskat as iets wat
maar net onder die mat ingevee kon word. Afgesien van ons
persoonlike veiligheid, bied die behoud van ons taal en
kultuur waarskynlik die sterkste argument ten gunste van
selfbeskikking, iets wat boonop universeel verstaanbaar is.
Afgesien van “rassisme”, is die enigste teenvoeter die
tipering van selfbeskikking as “regs” of “verregs”,
maar dan is die Palestyne, Tsjegge, Slowake, Sloweniërs,
Litouers, Letlanders, Estlanders, Tsjetsjene, Katalane, Baske,
Québecois, Vlaminge, Tibetane, Taiwannese — kortom, die
hele mensdom buite Suid-Afrika — “regs” of
“verregs”. Die vraag is dus nie soseer: hoe hanteer die
ANC Afrikanerselfbeskikking nie, maar hoe gaan hy dit kan
verhoed?
Boontoe
|