| daboekwinkel |
|
|
|
Kissinger se verskoning oor
Angola
______________________________________________________________________ Sedert 1994 het ANK-propaganda ons laat glo dat jong Suid-Afrikaners in die grensoorlog en in Angola geveg het om "apartheid te verdedig". 'n Mens vind nou nog sulke onnadenkende stellings wat lukraak op sekere webwerwe gemaak word.
Ons was nie in Angola oor apartheid
nie, maar omdat die Amerikaners en spesifiek Henry Kissinger wat
toe Staatsekretaris oftewel Buitelandse Minister van die VSA was,
ons gevra het om ná die MPLA se magsoorname tot Angola toe te
tree. 'n Vriend wat saam met my in matriek was, was van die
eerstes wat die ou Suidwes-Angola-grens oorgesteek het en hulle is
vooraf deur 'n amptenaar van die Amerikaanse CIA toegespreek wat
hulle vertel het dat hulle teen kommunisme en vir die vrye wêreld
gaan veg.
Kissinger en die CIA kon egter nie die oorlog in Angola so kort na Viëtnam aan die Amerikaanse Kongres verkoop nie. Die New York Times het daarvan te hore gekom en 'n spotprent gepubliseer van 'n vliegtuig wat oor 'n oerwoud met die naam ANGOLA vlieg met die inskripsie, "If you liked Vietnam, you'll love this one".
Lank voor Suid-Afrika tot die oorlog
toegetree het, het die Kubane reeds met 'n magsopbou in Angola
begin, met Russiese en Oos-Duitse instrukteurs.
Ons is op Westerse aandrang na
Angola, maar hierna het die Weste, en veral Amerika, ons lelik in
die steek gelaat. Dis een weergawe.
Een van die dae mag ek dalk 'n boek oor my gesprekke verlede jaar met P.W. Botha skryf. Een van die fassinerende feite wat hy my vertel het, is dat Kissinger in 1978 by die Uniegebou saam met Harry Oppenheimer opgedaag het, PW se hand geskud het en aan hom gesê het: "About Angola, I owe you an apology."
Is dit nie pragtig nie? Ons raak betrokke by 'n oorlog wat uiteindelik iets oor 'n duisend lewens en 'n paar duisend beseerdes gaan kos en Kissinger sê ewe nonchalant: "I owe you an apology". Kort hierna het die VSA natuurlik onder Carter begin om geweldige diplomatieke druk op SA toe te pas en selfs ekonomiese sanksies in te stel.
Terloops, terwyl Kissinger in SA was het hy ná 'n ontmoeting met die destydse minister van inligting, Dawie de Villiers, terug by sy hotel opgemerk: "If that is the quality of people in your cabinet, this country will be handed over to the ANC in 1995." Onthou, dit was 1978. Kissinger was met een jaar uit want dit het toe in 1994 gebeur.
Daar is egter 'n tweede weergawe van die VSA se rol wat ek nie by PW gehoor het nie, maar wat ek nogal geneig is om te glo. Dit is naamlik dat Amerika 'n dubbele spel teenoor ons gespeel het. Aan die een kant het hulle ons aangehits om tot die burgeroolog in Angola teen die MPLA en die Kubane toe te tree. Aan die ander kant het hulle agter ons rug satellietinligting oor SA posisies en ander logistieke steun aan die MPLA verleen om as hulle "vriende" te poseer! Dit alles het geskied omdat die VSA se oliemaatskappye kontrakte met die MPLA wou sluit, wat toe inderdaad gebeur het. Vandag word Angolese olie grotendeels deur Amerikaanse maatskappye beheer.
Vir ons was Angola die traumatiese "grensoolog" en vir die VSA maar een van vele olie-oorloë sedertdien.
As iemand soos ds. Izak du Plessis dus sê, "daardie oorlog moes nooit gebeur het nie!" moet hy dit vir Henry Kissinger gaan sê. Maar, indien ons nie weerstand gebied het nie en die Kubane het tot in Pretoria gekom, ons mense in strafkampe gestop soos hulle met hul eie dissidente gemaak het, sou ons dan beter daaraan toe gewees het?
Die Afrikaner is twee keer verraai:
een keer deur die Weste vir wie hy vier oorloë (WO1, WO2, Korea
en Angola) geveg het en een keer deur sy eie sogenaamde leiers.
Ons was almal baie naïef. |