| daboekwinkel |
|
|
|
Kiewietapartheid
______________________________________________________________________ So 'n ruk terug is daar druk gedebatteer oor sub-spesies en rasse. Dit het my nou weer aan die dink gesit oor die kiewietapartheid wat ek byna daagliks aan die oorkant van my huis kan waarneem. Een van die eienaardighede van kiewiete is dat hulle snags wei. Twee-uur in die oggend kan mens hulle hoor waar hulle skril na mekaar roep. Trouens, dit kan jou nogal uit die slaap hou as jy soos ek langs 'n gholfbaan woon. In my terloopse ervaring van my bure, die kiewiete, is daar nou een ding wat my fassineer, en dit is die naasbestaan van twee spesies of is dit dalk rasse, die kroonkiewiet (vanellus coronatus) en die bontkiewiet (vanellus armatus). Ek hoop ek het die Latynse name reg onthou, want ek is nou te lui om dit op te kyk. Hulle is min of meer dieselfde grootte, maak dieselfde geluide en het dieselfde gewoontes, maar handhaaf 'n streng kiewietapartheid want hulle teel nie met mekaar nie. Die vraag wat my nou interesseer, is: is die twee soorte kiewiete werklik afsonderlike spesies of bloot rasse? Met ander woorde, indien een of ander sosiale ingenieur nou die manlike en vroulike bont- en kroonkiewiete in mekaar se geselskap sou dwing tydens die kiewiet-ekwivalent van Amerikaanse "bussing", sou hulle in staat wees om te teel? Indien wel, sou dit beteken dat hulle bloot rasse is en nie spesies nie volgens die klassieke onderskeid tussen 'n ras en 'n spesie. Daar is byvoorbeeld drie soorte gorillas, die berggorilla, die westelike vlaktegorilla en die oostelike vlaktegorilla en wat sover ek weet drie gorillarasse verteenwoordig. Maar 'n gorilla en 'n sjimpansee en 'n mens verteenwoordig verskillende spesies, hoewel hulle al drie primate en dus geneties baie na aan mekaar verwant is. Is daar enige meer geleerde persone soos dierkundiges of ornitoloë wat lig op die saak kan werp? Ek het nog nie opgelet watter soort territoriale mededinging tussen die twee soorte kiewiete bestaan nie, en of hulle mekaar soms verjaag nie. In teorie ontstaan 'n nuwe spesie wanneer 'n sub-groep afstig en net onder mekaar begin teel. Hierdie vrywillige segregasie lei tot die ontstaan van 'n nuwe ras van die spesie. Indien lede van die nuwe ras lank genoeg net onder mekaar teel, evolueer hulle na 'n nuwe spesie wat nie meer in staat is om met die ander groep te teel nie. Dis heel moontlik dat bontkiewiete en kroonkiewiete op 'n stadium tot 'n enkele groep/ras/spesie behoort het. Kennelik teel hulle deesdae apart, want ek het nog geen gemengde telge opgemerk nie hoewel hulle dikwels in dieselfde territorium en selfs enkele meters van mekaar af opgemerk kan word. Dit wil ook lyk asof daar meer kroonkiewiete as bontkiewiete is, so asof gholfbane vir vanellus coronatus 'n beter habitat bied as vir vanellus armatus. Biodiversiteit mag immoreel wees in die sin dat dit op segregasie gebaseer is. Maar sonder biodiversiteit sou daar nooit mense (of menslike rasse) gewees het nie. Moontlik was die Markies de Sade en sy dissipel Georges Bataille reg deur te dink dat die natuur boos is... |