| boekwinkel |
|
|
|
Volkstaat, volkstaat, maar hoe
groot?
______________________________________________________________________ Lees ook: Dan Roodt: 'n Afrikaanse utopie 2 Dan Roodt: Padkaart na vryheid Dan Roodt: Kan Suid-Afrika weer 'n Afrikanerstaat word? Dan Roodt: Tussen Vryheidsfront en HNP is middelgrond Reinhardt Buys: Afrikaners is onplesierig Dan Roodt: Kan ANC Afrikanerselfbeskikking verhoed? Dan Roodt: Padkaart na vryheid 2 Sydney Gregan: 'n Volkstaat of die Republiek? Anton Barnard: Nooit weer apartheid nie! Verlede jaar het ek ten minste drie rubrieke oor die gedagte van 'n volkstaat geskryf (sien hierbo), waarop dr. Sydney Gregan van die HNP intussen geantwoord het in sy artikel van verlede week, 'n Volkstaat of die Republiek? Hierdie uiters belangrike debat het intussen ook wyer op die internet uitgekring, o.a. in 'n bydrae van mnr. Anton Barnard op www.praag.org waarin hy bepleit dat Afrikaners nooit weer oor die hele Suid-Afrika moet regeer nie want, soos hy dit stel, "kán mens jou nie net blind hou vir demografiese realiteite nie. Buiten dit wíl bitter min Afrikaners ooit weer die paternalistiese verantwoordelikheid vir die welvaart van tienmiljoene ander mense aanvaar." Eintlik is hierdie 'n baie ou debat in Afrikanergeledere wat teruggaan na die keuse wat die Afrikaner direk ná 1902 moes maak tussen 'n herstel van Boeresoewereiniteit of die aanvaarding van 'n breër Suid-Afrikanisme wat Boer en Brit in een land sou verenig. Daar is 'n toespraak van Louis Botha waarin hy dié keuse noem en uitdruklik op die tweede alternatief besluit. Honderd jaar later is ons steeds besig om te argumenteer of ons moet afstig in 'n eie staat en of ons oor "die Republiek" soos dr. Gregan dit stel, moet regeer. Maar ek meen dat selfs hy nie oor die stamgebiede en voormalige tuislande wil regeer nie, want hy ondersteun ná Verwoerd die gedagte dat "daar vir elke volk in Suid-Afrika 'n onafhanklike staat tot stand moet kom waarin daardie volk homself kan regeer". Met ander woorde dr. Gregan begeer ook 'n volkstaat, behalwe dat dit groter as sê maar 60 000 vk. km (5% van Suid-Afrika se grondgebied) moet wees en dat dit deur die blanke Suid-Afrikaner pleks van die Afrikaner regeer moet word. Myns insiens is 'n blanke nasionalisme in dié land problematies, want een van die redes waarom die ANK/SAKP ons vandag regeer, is juis omdat die Engelse elite (sakemanne, akademici, intellektuele) ná 1948 nie met Afrikanerregering tevrede was nie. In samewerking met die Britte en Amerikaners het hulle hemel en aarde beweeg om die Afrikaner te ontsetel en tot sy huidige magteloosheid te reduseer. In wese het die ANK aan bewind gekom vanweë hierdie onophoudelike Boer-Britstryd van die verlede. Dis nie te sê dat daar vandag nie vele Engelssprekendes bestaan wat die Afrikaner goedgesind is nie, maar oënskynlik verkies die Engelse sake- en akademiese elite om deur die Xhosas of Indiërs in die ANK regeer te word as deur Afrikaners. Dis eenvoudig 'n feit om van kennis te neem. Dr. Gregan is 'n regsgeleerde; hy beroep hom op die volkereg wat kwansuis die RSA as "blanke gebied" sou erken. Maar hy noem nie dat die Verenigde Nasies wat sedert 1945 met sy internasionale verdrae 'n vername rol speel om die volkereg te bepaal, juis 'n uiters vyandige rol teenoor blanke oorheersing in Suid-Afrika ingeneem het nie. Die gedagte van 'n volkstaat mag 'n "utopie" wees soos ek reeds daarna verwys het, maar dan 'n positiewe en inspirerende utopie wat boonop haalbaar is. Myns insiens is dr. Gregan besig met wensdenkery as hy beweer dat "die huidige demografiese werklikheid tydelik is" en "oor tien jaar deur etniese spanning en Afrika-siektes" omgekeer kan word. Daar bestaan 600 miljoen swartes suid van die Sahara waarvan bykans 'n miljoen per jaar onwettig oor ons grense stroom. Voeg hierby 'n jaarlikse geboortesyfer van 500 000 in ons land self, wat beteken dat anderhalfmiljoen swartes en kleurlinge per jaar tot die bevolking toegevoeg word! Selfs al sak duisende swartes op straat inmekaar weens vigs, malaria en ander siektes, kan ek moeilik sien hoe die demografie skielik in ons guns gaan beweeg, gegewe ons lae geboortesyfer en blanke emigrasie. Veel eerder moet dr. Gregan die teenoorgestelde scenario oorweeg waar die huidige Afrikaner- (en blanke) demografie "tydelik" is en ons oor die volgende tien jaar verder deur emigrasie en 'n ouerwordende bevolking gerysmier gaan word sodat die aantal Afrikaners in die land tot minder as twee miljoen mag daal. Dink daaraan dat die jaarlikse swart bevolkingsaanwas weens immigrasie en lewendige geboortes byna gelykstaande aan ons totale bevolking is en ons kry 'n beter besef van die afgrond waarlangs ons staan! Dr. Gregan se voorbeeld van Litoue, Letland en Estland wat op "historiese gronde" weer onafhanklikheid van die VSSR verkry het, ondersteun eerder die argument vir 'n volkstaat as vir die herowering van mag oor 'n veelrassige Suid-Afrika. Elkeen van die drie Baltiese state beskik oor 'n inheemse demografiese meerderheid teenoor die ingevoerde Russiese minderhede. Indien die meerderheid in daardie lande tans Russe was, sou hul historiese onafhanklikheid tussen die twee wêreldoorloë min gewig gedra het. In 'n wêreld waar George Bush oorlog maak om sy idee van demokrasie af te dwing en waar dit insgelyks die hoeksteen van die Europese Unie se buitelandse beleid verteenwoordig, sou dit vir die Afrikaner fataal wees om demografie en die demokratiese aanspraak wat daaruit voortvloei, te ignoreer. Die Afrikaner se eis om 'n gedeelte van die land waar hyself sterk gevestig is, beskik oor sowel internasionale as plaaslike legitimiteit aangesien artikel 235 van die huidige SA Grondwet vir selfbeskikking voorsiening maak. Selfs die linkse regsgeleerde prof. Johan Dugard het in 'n artikel beweer dat "dit nie onmoontlik is dat toekomstige sessionistiese groepe" van artikel 235 en veral die frase "selfbeskikking binne 'n territoriale entiteit of op enige ander wyse" gebruik mag maak maak om 'n eie staat af te dwing nie. Sodanige selfbeskikking in 'n staat rondom Pretoria hoef nie die Afrikaner se rol in die Kaap, die Vrystaat en elders ongedaan te maak nie. Trouens, ek is van mening dat 'n onafhanklike volkstaat Afrikaners buite so 'n staat kan ondersteun in die behoud van hul grond en ander eiendom op 'n soortgelyke manier as wat ander lande hul burgers se regte in die buiteland verdedig. Die bestaan van Israel negeer nie die regte en invloed van Jode in Amerika nie, inteendeel. Afrikaanse skole in Suid-Afrika kan insgelyks vanuit die volkstaat ondersteun word. Die ligging van die volkstaat moet deur huidige Afrikanerbesetting bepaal word. Die herstel van ons soewereiniteit is oneindig belangriker as die grootte van ons grondgebied; eerder 'n klein Nederland of België as 'n reuse Kongo… Wat ons uiteindelike ideaal betref, sou ek selfs verder gaan as Sydney Gregan wat die Afrikaner in sy heersende posisie oor Suid-Afrika herstel wil sien, deur Paul Kruger se dictum "Afrika vir die Afrikaner!" aan te haal. Jan Smuts het ook voorsien dat Suidwes, Botswana, Swaziland en Lesotho by Suid-Afrika ingelyf moet word ten einde aan swartes meer grondgebied buite blanke Suid-Afrika in 'n soort konfederasie te verleen, maar Brittanje het 'n stokkie daarvoor gesteek. Beheer oor Suid-Afrika deur die Afrikaner gaan nie deur binnelandse politiek opgelos word nie, maar deur die geopolitiek van 'n toekomstige Afrikaner-volkstaat. Eers moet ons egter ons huidige magteloosheid oorkom. Met die nodige ywer en skerpsinnigheid is ek daarvan oortuig dat ons binne enkele jare 'n volkstaat sonder geweld of bloedvergieting kan bekom. Dit sal geskied deur 'n kombinasie van nie-gewelddadige optrede, internasionale druk en 'n ideologiese veldtog via die media. Dieselfde kan egter nie van 'n herinstelling van apartheid en blanke heerskappy oor Suid-Afrika gesê word nie, wat desnoods met geweld en téén die wêreldmening in sal moet geskied. Sekere Afrikaners meen dat "die huidige bestel vanself in duie gaan stort" en dat ons dus net vir dié oomblik hoef te wag om "weer die mag oor te neem". Ek is bevrees dat sulke denke wêreldvreemd is en nie kennis neem van die stygende aandelebeurs, sterk geldeenheid en meer as driehonderd miljard rand aan belastings wat die staat jaarliks in nie. Selfs al moet die ANK Amerikaanse en Britse konsultante ten duurste betaal om sy staat vir hom te bedryf, sal hy aanhou regeer net soos wat Mugabe sonder geld, sonder kos en sonder petrol aanhou regeer. Teen die tyd dat die SA staat in duie stort (of die hemel val), mag Afrikaners soos blanke Rhodesiërs almal reeds geëmigreer het en mag dit waaroor ons tans skryf so ter sake wees soos 'n paar stukkies keramiek van 'n ou beskawing wat deur 'n argeologiese uitgrawing blootgelê word.
|