| boekwinkel |
|
|
|
Linkse breinspoeling in
Suid-Afrika
'Die meeste Suid-Afrikaanse universiteite, dinkskrums, koerante, TV-kanale en radiostasies het grootliks na links beweeg en stigmatiseer gewoonlik regse of konserwatiewe idees as reaksionêr, rassisties, 'n hunkering na apartheid, en someer.' _____________________________________________________________________ Regstelling: Drie weke gelede het ek in my rubriek oor Koos Kombuis verwys na 'n "hervormde predikant van Naboomspruit wat vir hom 'n swart courtisane of twee by die plaaslike Truckstop gaan oplaai het". Hier het ek natuurlik verwys na 'n berig in Rapport oor emeritus predikant ds. Hennie Botha en beslis nie na my goeie vriend dr. Hennie Botes wat self leraar in die Hervormde gemeente Naboomspruit is nie. Soos sy vrou Hulda dit aan my gestel het, "ons volg die reguit pad" en ek dink dis belangrik dat ons nie dr. Botes met sy skynbaar losbandige kollega verwar nie. 'n Onlangse artikel in die Londense Guardian, 'n tradisioneel linkse koerant, beweer dat "die kultus van liberale idees diskriminasie aan universiteite veroorsaak en debat onderdruk. Toenemend word slegs die linkse politiek van die sestigerjare gedoseer en het dit die enigste aanvaarbare manier van dink geword". Volgens die skryfster, Dorothy King, het die akademiese triomf van Links oorgespoel na die media waar popsterre, Hollywood-akteurs en openbare persoonlikhede toenemend 'n politieke rol speel deur die sêgoed van linksgesinde professore klakkeloos te herhaal. Blykbaar kan geen ondersteuner van die Republikeinse Party in die VSA hoegenaamd meer vir 'n akademiese pos aansoek doen nie, ten minste nie in die geesteswetenskappe nie. Deel van die drieledige alliansie (SAKP/ANC/COSATU) se sukses in Suid-Afrika is moontlik toeskryfbaar aan 'n selfs meer ekstreme vorm van politieke konformisme as "die kultus van liberale idees" wat me. King beskryf. Die meeste Suid-Afrikaanse universiteite, dinkskrums, koerante, TV-kanale en radiostasies het grootliks na links beweeg en stigmatiseer gewoonlik regse of konserwatiewe idees as reaksionêr, rassisties, 'n hunkering na apartheid, en someer. De facto-sensuur word op konserwatiewes toegepas. Dis 'n rare gebeurtenis as hulle toegelaat word om in die openbaar gehoor te word en dan meesal om hulle belaglik te maak, en nie om enige openhartige bespreking of openbare debat toe te laat nie. Suid-Afrika is waarskynlik een van die mees linksgesinde samelewings in vandag se wêreld, afgesien van Kuba en dele van Latyns-Amerika. Nie so lank gelede nie het ons amper dagga wettig verklaar; byna niemand waag dit om homoseksuele huwelike, teregstellende aksie, geslote vakbonde, aborsie of stemreg vir misdadigers te bevraagteken nie. Selfs onwettige immigrante het die reg op staatsgesondheidsdienste en maandelikse toelaes vir kinders wat op Suid-Afrikaanse grondgebied gebore is. Enigeen wat sulke tradisioneel regse opvattinge soos meritokrasie, patriotisme, selfbeskikking en waardering vir mens se eie taal, kultuur of godsdiens uitspreek, word onmiddellik as 'n malmens of 'n Nazi gestigmatiseer. Verlede jaar het 'n groep linkse akademici aan die Universiteit van Stellenbosch 'n histeriese veldtog gevoer teen my besoek aan 'n boekwinkel waar ek aan 'n onskuldige literêre bespreking sou deelneem, eenvoudig omdat ek as 'n kritikus van Heilige Links gesien is. Soos Dorothy King oor kampusse elders in die Weste verklaar: "Ons beweeg vinnig na die eenpartykampus, en universiteite waar jy aan Links moet behoort is net so gevaarlik soos dié waar jy aan die Nazi-party moet behoort." Een akademikus aan die Universiteit van Potchefstroom wat sy Afrikaneridentiteit hoog aanslaan het my onlangs vertel dat hy afgedank of ten minste nie bevorder sou word nie indien hy dit aan sy kollegas sou laat blyk. Universiteitshoofde in Suid-Afrika wissel van ultraliberaal tot ekstreem-links of Afrikanisties. Joernalistiekdepartemente aan dieselfde universiteite produseer elke jaar robotte wat PK-taal foutloos kan praat sodra jy hulle aanskakel, met die gewone doktrinêre menings oor feminisme, anti-rassisme, kolonialisme en multikulturalisme wat soos resitasies opgesê word. Vele intelligente joernaliste met wie ek praat, erken hul vrees om geviktimiseer te word or afgedank te word al wyk hulle net effens van ANC-ideologie in hul artikels af. Suid-Afrikaanse dinkskrums en NRO's is nog radikaler as universiteitsprofessore en joernaliste. Baie van hulle is openlik sosialisties, en propageer grondhervorming en die herverspreiding van rykdom. Kommunistiese intellektuele soos Jeremy Cronin of Albie Sachs preek gereeld in die pers of by uitspattige onthale wat deur die staat of groot maatskappye geborg word. Twee van ons mees gesiene geskiedkundiges, Hermann Giliomee en Fransjohan Pretorius, het onlangs hul kommer uitgespreek oor die nuwe geskiedenis wat op skool gedoseer word. Met handboeke wat deur neo-Marxistiese of Afrikanistiese historici geskryf is, beoog Links om die hele volgende geslag met sy siening van Suid-Afrika se verlede te breinspoel. Dog die grootste gevaar vir Suid-Afrika mag in die aanvaarding van linkse idees deur die korporatiewe sektor te vinde wees. Alle genoteerde maatskappye dwing hul werknemers om sogenaamde "diversiteitsopleiding" te ondergaan wat in die praktyk min van heropvoeding in 'n geriefliker omgewing as 'n Khmer Rouge-konsentrasiekamp verskil. Die meeste reklame in Suid-Afrika dra die politieke ideologie van die ANC-bewind oor, waarin blanke mans dikwels as dom, rassisties of boos voorgestel word. Andersins drup advertensies so van Afrika-mistiek dat hulle selfs vir Kwame Nkrumah naar sou maak. Ek doen my banksake by ABSA; elke keer as ek 'n nuwe tjekboek gaan haal, word ek blootgestel aan muurskilderye in die Kubaanse styl wat 'n gelukkige multikulturele gepeupel voorstel. Behoort banke en ander ondernemings aan die ikonografie van politieke korrektheid mee te doen? Boonop word korporatiewe skenkings aan die linksgesinde universiteite, dinkskrums en NRO's uitgedeel, waardeur die intellektuele eenpartystaat bestendig word. Enersyds is vele ryk sakemense so afgesny van die alledaagse lewe dat hulle ook sjiek-radikale idees begin aanhaag. Andersyds sal hoof-uitvoerende beamptes en ander senior bestuurders dolgelukkig wees om aandeelhouers se rydkom te oorhandig indien hulle self in die proses 'n bonus ontvang, soos so dikwels tydens swartbemagtigingstransaksies gebeur. Miskien vrees baie maatskappye dat hulle deur die regering geviktimiseer sou word indien hulle nie by partybeleid inval nie, maar die gevolge van korporatiewe deelname aan linkse ideologiese beheer is potensieel rampspoedig. As die ANC eers agterkom hoe min intellektuele weerstand daar teen grootskaalse nasionalisering sou wees - alternatiewelik deur die konfiskering van blanke aandeelhouers se aandele en die herverspreiding daarvan aan swartes tydens 'n Zimbabwe-tipe transformasie - kan die regerende party in die versoeking kom om sulke beleid te begin toepas. Wat landbou betref, het Thabo Mbeki so pas sy party se verbintenis tot die mees radikale grondhervormingsprogram buite Latyns-Amerika en voormalige kommunistiese state bevestig. Deur konserwatiewe of regse denke na die kantlyn te verban, is 'n valse eenstemmigheid in Suid-Afrika geskep. Nie net maak die huidige stelsel van breinspoeling 'n bespotting van demokrasie nie, maar ons mag binnekort daartoe verdoem word om die ongelukkige maatskaplike proefnemings van Links gedurende die twintigste eeu te herhaal.
|