| boekwinkel |
|
|
|
Westerse leiersrol vir
Afrikaners?
"Sonder om ooroptimisties te wees, is my wildste drome tydens hierdie besoek eintlik reeds bewaarheid. Vir alle praktiese doeleindes geniet ons reeds die steun van die ongeveer 20% konserwatiewes wat daar vandag in die Westerse węreld bestaan. Hierdie mense saam verteenwoordig bykans 200 miljoen welvarende, eerste-węreldburgers wat ons uiteindelik nie net moreel nie, maar ook finansieel en polities sal steun." _____________________________________________________________________ Hier waar ek ingedruk op die vliegtuig tussen Parys en Johannesburg hierdie rubriek sit en skryf, is die volle implikasies van my warrelwindbesoek aan Parys, Antwerpen, Brussel en Washington nog besig om in te sink. Ná die gulle ontvangs wat my en my vrou te beurt geval het, is dit ook bra moeilik om objektief te bly. In Brussel is ons ‘n hele middag lank by die Vlaamse Parlement deur mnr. Filip de Winter, leier van die Vlaams Belang, asook ander parlementslede onthaal. Daar is aan my belowe dat ek met ‘n volgende besoek deur al die behoudende partye in Europa ontvang sal word: die Franse, Oostenrykers, Nederlanders, Italianers, Dene en ander, waarvan somminge natuurlik ook aan hul onderskeie lande se regerings deelneem. Asof dit alles nie genoeg is nie, het ek neffens Washington in Herndon, Virginia, ná my toespraak by die American Renaissance-konferensie ‘n staande applous van die volgepakte saal ontvang. Een jong Amerikaner wat tot onlangs as marinier gedien het, het hom selfs as vrywilliger in die stryd om Afrikanerbevryding aangebied. Dit sou maklik wees om op loop te gaan en te dink dat ons halfpad daar is om weer die simpatie van ons Westerse stamlande en bondgenote te geniet. Daarom moet ek onmiddellik byvoeg dat ons natuurlik hier met groepe en partye te make het wat enersyds aan die regtervleuel van die politiek in hul eie lande verkeer en andersyds goed oor Suid-Afrika ingelig is sodat mens dikwels die indruk had dat jy vir die reeds bekeerdes preek. Aan die negatiewe kant was daar buite die Hyatt-hotel waar die American Renaissance-konferensie gehou is, ‘n betoging deur ‘n handjievol ekstreem-linkse betogers (anargiste, kommuniste en ander) wat die byeenkoms sonder meer as “rassisties” wou voorstel. Die liberale Washington Post het twee taamlik bevooroordeelde berigte hieroor geplaas. Nieteenstaande die vyftal betogers en die Washington Post se vooroordeel, moet mens aan die ander kant nie dié oorweldigende positiewe gesindheid in Herndon, maar ook in België, geringskat nie. Hierdie gesindheid teenoor ons verteenwoordig nie die hoofstroommening in België of die VSA nie. Maar die blote feit dat die nuus in verband met plaasmoorde, Zimbabwe, anti-wit rassisme en ons oorheersing deur die Xhosas van die ANC reeds internasionaal bekend is, verteenwoordig reeds ‘n groot stap vooruit in ons eventuele bevryding van sodanige oorheersing. Volgens Filip de Winter van die Vlaams Belang is sy party, wat reeds 25% steun onder die Vlaminge geniet, steeds aan’t groei en verwag hulle in die eerskomende Belgiese munisipale verkiesings dat ongeveer 27% van alle kiesers vir hulle sal stem. Die linkse partye soos die sosialiste en groenes is egter besig om hand en tand terug te veg met hofsake oor “rassisme” en “haatspraak” in ‘n poging om die demokratiese proses te fnuik en die regse kiesers vir alle praktiese doeleindes te ontkieser. Nietemin verwag De Winter dat hulle binnekort tot munisipale regering, asook die streeksregering van Vlaandere self, sal kan toetree. Hoewel hulle by verre die grootste party onder die Vlaminge verteenwoordig, sal hulle egter steeds in terme van die sogenaamde “cordon sanitaire” vanuit die Belgiese koalisieregerings uitgesluit word. Die openingstoespraak by die American Renaissance-konferensie is deur mnr. Nick Griffin van die Britse Nasionale Party gelewer. Hy is ‘n vurige spreker wat ysingwekkende feite aangaande gereelde rasse-onluste, asook die viktimisering van blankes in teenswoordige Brittanje, oorgedra het. Amptelik ontvang sy party reeds 5% steun in Groot Brittanje, maar hy verwag enige dag die soort tweede golf van ondersteuning wat regse partye soos die Franse Front National, die Oostenrykse Vryheidsparty of die Vlaams Belang reeds geniet en waar tot ‘n kwart van die kiesers hulself ten gusnte van ‘n nasionalistese standpunt uitspreek. Sowel Griffin as mnr. Derek Turner van die Britse tydskrif Right Now! het my gevra om bydraes tot hul onderskeie publikasies te lewer waarin die SA situasie, asook die Afrikaner se posisie uiteengesit word. Dit alles gaan my oor die volgende paar maande besig hou, veral as ek na Brussel moet terugkeer vir ‘n opvolgbesoek aan die volledige groep van konserwatiewe Europese partye wat hulself soortgelyk aan die sosialiste, groenes en liberale in ‘n pan-Europese koukus aan die Europese Parlement georganiseer het. Sonder om ooroptimisties te wees, is my wildste drome tydens hierdie besoek eintlik reeds bewaarheid. Vir alle praktiese doeleindes geniet ons reeds die steun van die ongeveer 20% konserwatiewes wat daar vandag in die Westerse węreld bestaan. Hierdie mense saam verteenwoordig bykans 200 miljoen welvarende, eerste-węreldburgers wat ons uiteindelik nie net moreel nie, maar ook finansieel en polities sal steun. Soos altyd, wil ek u verbeelding prikkel met die volgende gedagte: vanweë die uitsonderlike situasie van die Afrikaner wat vandag as Westerse volk volledig deur swartes en Indiërs oorheers word, bied dit ons die geleentheid om ‘n unieke rol in die huidige węreldpolitiek te kan speel. Ons ervaring en insigte in swart rasseoorheersing moet so goed moontlik aan die res van die Westerse węreld gekommunikeer word, nie net om onsself te red nie, maar ook die blanke, Westerse en Christelike beskawing wat vandag soos tydens min ander tye in die geskiedenis bedreig word. Op die vliegtuie heen en weer tussen Johannesburg, Parys en Washington het ek allerlei tydskrifte en koerante in ‘n hele paar tale kon lees. Weereens kon ek my vergewis dat die intense internasionale debat rondom ras, kultuur, immigrasie, beskawingsbotsing en godsdienstige konflik nog lank nie begin taan het nie. Inteendeel, dit is besig om te verhewig. Om maar een voorbeeld te noem: so pas is ‘n jong Joodse selfoonverkoper by name Ilan Halimi in Parys deur ‘n swart bende met die gepaste naam, “Die Barbare”, vermoor. Die afgelope week is dit voorbladnuus in Frankryk en het daar reeds ‘n betoging van dertig duisend mense plaasgevind waarvan die meeste deelnemers uit Jode bestaan het, maar ook politici vanuit ‘n breë politieke spektrum, waaronder die nasionalistiese Front National en die Beweging vir Frankryk (Mouvement pour la France) van mnr. Philippe de Villiers. Selfs ‘n jaar gelede sou dit onvoorstelbaar gewees het dat die Franse Jode, asook die Front National en MF, saam in ‘n betoging teen swart bendegeweld sou kon loop. Ons beleef voorwaar interessante tye. Ons mag egter nie stilsit nie en sal moet sorg dat Afrikanerlyding en die onreg van ANC-oorheersing net so deel van die internasionale debat word soos Europese immigrasie of die oorlog in Irak. Myns insiens mag daar selfs vir ons ‘n soort intellektuele leiersrol in die Weste uitkristalliseer omdat ons denkers en politici in die verlede nog altyd op die voorpunt van besinning oor botsende kulture en veelvolkige samelewings was. Indien ons byvoorbeeld die groot aantal jong Afrikaners in Londen polities bewus kan maak, kan hulle in samewerking met die BNP en ander partye dalk die hele politieke toneel in Brittanje verander, wat weer ‘n domino-effek regoor Europa tot gevolg mag hę. Al wat ons tans beperk, is gebrek aan waagmoed en verbeelding.
|