| boekwinkel |
|
|
|
Die gevaar van boerse denke
"Ons moet pasop vir boerse denke, vir die lekkergeloof van 'n Flip Buys, 'n Lets Pretorius, 'n Tobie Louw." _____________________________________________________________________ So pas het ek 'n brief aan die Sunday Times geskryf in repliek op Flip Buys van Solidariteit wat verklaar het dat hy, in navolging van Naspers en die Afrikanerbond, "Suid-Afrika wil maak werk". Buys stel dit ook onomwonde dat hy 'n voorstander van teregstellende aksie is: "Ons erken dat, noudat ons in 'n demokratiese land bly, ons met wanbalanse uit die verlede moet handel en dat die voorheen benadeelde mense geleenthede moet ontvang." Hy verskil egter met "die manier waarop regstellende aksie (veral op jong blankes) toegepas word." Die bebaarde Buys het tot onlangs as "'n regse leier" bekend gestaan maar praat nou agter Cosatu aan en begin hom selfs oor "kolonialisme" moeg maak. Ek het reeds in dié ruimte oor "Die triomf van links" in ons land geskryf en ek meen Flip Buys verteenwoordig een van die meer skouspelagtige slagoffers hiervan. Iets wat my egter meer bekommer as Flip Buys se politieke manteldraaiery is dat dat hy soos die fluitspeler van Hamelin besig is om 'n klomp ander naïewelinge wat nie die ANC se revolusionêre oogmerke ernstig opneem nie soos kinders na die spelonk van hul ondergang te lei. Sy politieke korrektheid verteenwoordig bloot 'n ander vorm van ongekunsteldheid. As ons praat van die triomf van Links in Suid-Afrika, het dit onder meer gebeur omdat daar geen intelligente, georganiseerde respons van Regs gekom het nie. Teenoor geslepe, intelligente kommuniste soos Joe Slovo, Alec Erwin, Kader Asmal, Albie Sachs, die Pahad-broers en dergelike, het die regse Afrikaner hom soos 'n ploeterende naïeweling gedra. Flip Buys word deesdae soos 'n profeet behandel, ook deur Radio Pretoria wat aan elke publisiteitsfoefie van Solidariteit aandag bestee. Die topmanne van dié vakbond huiwer nie om gewone sterflinge te laat verstaan dat hulle "die Afrikanerleiers van vandag en môre" verteenwoordig nie. Twee ander "regse leiers" wat blykbaar opgang maak, is dr. Lets Pretorius en prof. Tobie Louw, skrywer van die onlangs verskene boek, "Visies van vryheid". Dr. Pretorius is 'n medikus wat hom met die politiek bemoei. Sy politieke ideologie bestaan uit 'n mistieke geloof wat skynbaar in die voorspellings van Siener van Rensburg na te speur is. By Kleinfontein het ek Pretorius hoor sê dat "die Boerevolk binne tien jaar vry gaan wees, hoe weet ek nie, maar ek glo vas daaraan". Dit kan my min skeel waarin dr. Lets Pretorius glo of nie glo nie, lewe op Mars of die tandmuis, indien hy of enigiemand anders wel 'n bydrae tot die Afrikaner se vryheidstryd kan lewer. Ongelukkig is hy, asook prof. Tobie Louw, aanhangers van die Boerevolk-kultus wat "die Afrikaner" as hul vernaamste opponent sien. Louw se boek kon net sowel "Visies van verdeeldheid" geheet het, gegewe sy sektariese definisie van "die Boerevolk" wat uit 'n gesuiwerde groepie uitverkorenes sou bestaan. Soos Flip Buys het Tobie Louw die linkse ideologie in dié land huidjie en muidjie gesluk, want jou wrintiewaar beweer hy dat "die maaksel waarna histories as 'Afrikaner-identiteit' verwys is, wat veral gedurende die tweede dekade na die afloop van die Goudoorlog beslag gekry het, 'n kunsmatige skepping van die (Afrikaner) Broederbond en die Nasionale Party was". Tydens my studies in staatsleer destyds by Wits het ek dié teorie male sonder tal gehoor, soos verwoord deur al die Marxistiese teoretici van die SAKP soos Harold Wolpe, Brian Bunting, Shula Marks, Belinda Bozzoli en ander. Trouens, dit klink soos 'n woordelikse aanhaling uit een van hul geskrifte. Alec Erwin het tydens verlede jaar se ontmoeting tussen die ANC die FAK/Naspers/Afrikanerbond-afvaardiging presies dieselfde idee voorgehou. Die Kapenaars wat 'n groot rol in die totstandkoming van Afrikaans gespeel het en wat ook tydens die Tweede Vryheidsoorlog die Kaapse Rebelle opgelewer het, word deur Tobie Louw as nie-Boere gereken. Sy argument is so vol teenstrydighede dat ek my rubriekruimte sou mors deur verder daarop in te gaan. Wat my egter opval is dat hy die oorsaak van ons huidige probleme aan 'n identiteitsprobleem by ons mense toeskryf. Asof daar nie jare lank van Links gewerk en beplan is aan die uiteindelike oorname van die land en die implementering van 'n gelykheidsideologie van die kommunistiese en Afrikanistiese tipe nie! Geen volk op aarde sou kon staande bly teen die ongelooflike propaganda-oorlog wat daar in die tagtigerjare teen ons mense gevoer is nie. De Klerk se uiteindelike oorgawe het nie soseer gebeur omdat hyself so 'n groot verraaier was nie - hoewel daar tog 'n element van verraad in sy optrede was - maar omdat die vyand vanuit Londen en elders op diplomatieke vlak ongekende suksesse behaal het deur Suid-Afrika van sy destydse bondgenote te isoleer en ook die Afrikanervolk deur leuens en oodrywings tot die muishond van die wêreld te maak. Anders as wat die selfaangestelde "Boere" beweer, kan dit alles nie aan 'n identiteitsprobleem van die Afrikaner toegeskryf word nie. Veel eerder gaan dit oor die magspel wat as politiek bekend staan en waar ons mense en ons leiers baie ver verloor het en nog steeds verloor, spyt dit my om te sê. Die Xhosas van die ANC wen elke dag nog veld omdat ons aanhou om ons met beuselagtighede soos die Boer-teen-Afrikaner-stryd op te hou, of polities korrekte speletjies soos Flip Buys die Groot Regse Leier te speel. Ons moet verstaan dat die beweging teen blankes en teen blanke heerskappy in Suider-Afrika wat sowel teen Ian Smith se Rhodesië as teen ons gemik was, deel van 'n groter internasionale anti-Westerse tendens was wat nog steeds besig is om homself uit te woed. Ook die suidelike blankes in die VSA het al deurgeloop en hul skole, universiteite en hele stede insgelyks aan swartes tydens "desegregasie" moes afstaan. Van die ou Boere en veral hul generaals was belese, gesofistikeerde mense wat in hul tyd die wêreldpolitiek verstaan het. Van hulle was verskeie Europese tale magtig en het in die veld Rousseau of Kant gelees. Hulle was Boere en Afrikaners, maar nie "boers" nie. Ons moet pasop vir boerse denke, vir die lekkergeloof van 'n Flip Buys, 'n Lets Pretorius, 'n Tobie Louw. Dit sê ek nie omdat ek enigiemand se rol in ons huidige stryd wil misken nie, inteendeel. Maar ons moet waak teen, hetsy die klakkelose herhaling van ANC-propaganda waaraan Solidariteit, Naspers en die Afrikanerbond hulle skuldig maak, hetsy die sektariese idees van die Boerevolk-fanatici.
|