boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Chris Brink wil Stellenbosch verswart

"Waarom is "diversiteit" beter as 'n holistiese kultuur wat deur soortgelyke mense bedryf en in stand gehou word? Waarom is die wetenskap van 'n 'n Einstein, 'n Niels Bohr, 'n Heisenberg, die wiskunde van Fermat of Gauss minder waardevol omdat dit binne 'n nie-diverse Eurosentriese omgewing en kultuur bedink is?"

_____________________________________________________________________

Dan Roodt

Prof. Chris Brink, rektor van die Universiteit Stellenbosch, het so pas 'n boek oor die taaldebat gepubliseer met die titel No lesser place - the taaldebat at Stellenbosch. Sover ek kan vasstel, het prof. Brink nog nooit enigiets in Afrikaans gepubliseer nie; vandaar sy Engelse bydrae tot die taaldebat.

Of hy wel in staat is om enige tegniese of filosofiese onderwerp in Afrikaans te beredeneer, weet 'n mens nie. In elk geval besing die boek kort-kort die wondere van Engels en van "diversiteit". Die vraag het by my opgekom of Brink meen dat Einstein of Pasteur swak opvoedings gehad het omdat hulle s'n onderskeidelik deur medium van Duits en Frans geskied het? Mozart of Beethoven het nooit "diversiteit" ervaar nie; is hul musiek daarom van minder waarde?

Aanvanklik het ek gedink dat ek bloot 'n soort kort resensie van die boek hier sou skryf, maar Brink loods ondere andere 'n besonder venynige persoonlike aanval op my in 'n voetnoot op bladsy 76 waarin hy verwys na "die hiperaktiewe manier waarop (ek) ekstremistiese idees oor Afrikanerskap en Afrikaans verkondig". Volgens hom is my "sienings so onsmaaklik dat mense dikwels nie met my wil debatteer nie" en daarom het die universiteit dit goed gedink om op 19 Maart 2005 advertensies in Die Burger en die Cape Argus te publiseer waarin Stellenbosch "hom van my sienings distansieer".

Die hoofrede waarom daar verlede jaar so 'n histeriese reaksie van die handjievol ekstreem-linkse akademici en Rooi Tannies by Stellenbosch was, is omdat hulle die mag van logiese denke vrees. Deur sy voetnoot-kommentaar daag prof. Chris Brink my tot 'n intellektuele geveg uit, dus sal ek hom iewers behóórlik en minder sketsmatig moet antwoord.

Kortom egter: No lesser place bevat 'n oorsig oor tweetalige universiteite elders ter wêreld, maar stel twee beginsels teenoor mekaar: 'n Afrikaanse universiteit en 'n multikulturele een. Volgens Brink berus 'n Afrikaanse universiteit ipso facto op "dwang en uitsluiting" en is daarom onaanvaarbaar. Die summum bonum, volgens Brink, is "diversiteit" en dit beteken 'n universiteit wat deur 'n groot aantal swart studente - en verkieslik 'n meerderheid swart studente - bygewoon word.

Die gedagte wat deur Naspers voorgestaan word, dat wit en bruin Afrikaanssprekendes 'n "Afrikaanse gemeenskap" moet vorm sodat Stellenbosch "steeds Afrikaans, maar divers" vanuit 'n rasseoogpunt sou wees, is vir die radikale multikulturalis Brink nie genoeg nie. Volgens hom staan of val "diversiteit" by die teenwoordigheid van wat hy "Black Africans" noem. Indien Stellenbosch nie 'n genoegsame aantal swart Afrikane as studente én dosente, noodwendig deur medium Engels, sou kon aantrek nie, sou dit "immoreel" wees.

Die "moraliteit van diversiteit" verduidelik hy na aanleiding van ene "Sipho X" wat in Kayamandi, die swart plakkersbuurt in Stellenbosch, woon maar nie die taxigeld na die Engelstalige UWK 25 km verder of UK 50 km verder kan bekostig nie. Daarom sou Stellenbosch hom 'n onreg aandoen deur daarop aan te dring dat hy in Afrikaans kom studeer, al ontvang hy nou ook 'n studiebeurs van die universiteit en lesse in Afrikaans. Sodoende beskik Sipho oor 'n Engelse vetoreg.

Interessant is dat Brink laat val dat die enigste swart studente wat by Stellenbosch aansoek doen, gegewe die nabyheid van twee Engelse universiteite, diegene is wat akademies so swak is dat hulle nie elders aanvaar word nie. Om deesdae toegang tot 'n Engelstalige universiteit in Suid-Afrika geweier te word, moet 'n mens seker werklik baie hard probeer. 'n Mens lei dus af dat die standaard van swart ondergraadse studente wat by Stellenbosch aansoek doen nie te goed kan wees nie.

Brink beskou Afrikaners, of ten minste diegene wat daarop aandring om Afrikaners te wees, as "irrasioneel". Hul aandrang om Stellenbosch Afrikaans te hou, gaan nie oor standaarde en 'n goeie opvoeding vir hul kinders nie, maar berus op wat hy 'n "belief system" of geloofstelsel noem. Hoe 'n beginner-filosoof rektor van Stellenbosch geword het, weet mens nie, maar die ooglopende ding wat hy nie doen nie, is om sy eie geloofstelsel of moraliteit wat diversiteit as hoogste waarde poneer, te ondersoek.

Waarom is "diversiteit" beter as 'n holistiese kultuur wat deur soortgelyke mense bedryf en in stand gehou word? Waarom is die wetenskap van 'n Einstein, 'n Niels Bohr, 'n Heisenberg, die wiskunde van Fermat of Gauss minder waardevol omdat dit binne 'n nie-diverse Eurosentriese omgewing en kultuur bedink is?

Brink, kom 'n mens agter, is 'n intellektuele konformis. Onderliggend aan sy denke is twee vername invloede: enersyds beleidsverklarings en ideologiese uitsprake van die ANC wat nooit bevraagteken word nie en andersyds 'n soort populêre Amerikaanse politieke korrektheid wat gekenmerk word deur die rojale gebruik van terme soos "diversiteit", "openheid", "progressiwiteit", ens., tesame met 'n afkeer in reëls, homogeniteit, nasionalisme of mense wat waarde aan hul eie taal of kultuur heg.

Bygesê: binne die paradigma van politieke korrektheid staan dit 'n Moslem of 'n Xhosa vry om waarde aan sy kultuur te heg en dit selfs op ander te wil afdwing. Só meen Brink dat almal in die Wes-Kaap Xhosa behoort te leer ten einde "drietalig" te raak, maar dit is te veel om van Sipho X te verwag dat as hy aan Stellenbosch wil studeer hy dit in Afrikaans behoort te doen.

Die vraag hoe Stellenbosch se komende "diversiteit" met "kwaliteit" gaan rym, is gewis netelig. Ons is natuurlik almal bekend met die positiewe gevolge van groter "diversiteit" in die sin van "meer swart Afrikane" wat terwille van rassekwotas op die stelsel afgedwing word. Nou onlangs het die Kapenaars die voordele van rassevoorkeure en "diversiteit" by Eskom aan eie bas ervaar.

Daarom trap Brink heelwat klei rondom die kwessie van die noodwendige verlaging van akademiese standaarde wat moet volg indien die universiteit gaan verswart volgens die program wat hy in die vooruitsig stel. (Voordat iemand my weer van "rassisme" beskuldig: Brink erken dan self dat die Engelse universiteite reeds die room van swart kandidate afskep...)

Sy antwoord hierop is sofisties deurdat hy "kwaliteit" en "diversiteit" aan mekaar gelyk stel. 'n Goeie universiteit is nie noodwendig een wat standaarde handhaaf en goeie opvoeding verskaf nie, maar een wat "divers" is en dus eerder aanvaarbare rassekwotas handhaaf wat swart en bruin studente insluit en blanke kandidate uitsluit. Dis net logies dat blanke Afrikanerstudente uitgesluit gaan word omdat ons weet dat ongeveer tien keer meer blankes as swartes matriek met wiskunde op die hoër graad slaag. Vir Stellenbosch om dus sy kwotas reg te kry, gaan vele blanke studente nie die paal haal nie terwyl swakker bruin en veral swart kandidate met ope arms verwelkom gaan word.

Volgens Brink kan daar "geen kwaliteit sonder diversiteit wees nie". Hy bied 'n onsinnige verdediging teen die noodwendige afleiding dat geslagte Afrikanerstudente aan Stellenbosch swak opgelei is omdat Sipho of Mpho nie langs hulle op die bank gesit het nie, en begaan dan 'n byna kinderlike toutologie as hy die volgende stelling maak: "Quality is after all a qualitative concept, not a quantative one".

In 'n karikatuur van postmodernisme lewer Brink 'n pleidooi dat ons "doelbewus botsende idees moet gebruik om tot 'n nuwe sintese te kom". Hiermee word die deur oopgemaak vir allerlei plataarde-teorieë soos die postmodernis wat 'n artikel in 'n gesiene Amerikaanse akademiese tydskrif gepubliseer het waarin hy swaartekrag ontken het.

In die VSA word daar deesdae heelwat vergelykings tussen multikulturalisme en Stalinisme getref. Sensuur en 'n histeriese swartsmeerdery verteenwoordig by uitstek die wapens van die multikulturalis en onder Chris Brink het ons geliefde suidelike universiteit die bynaam "Stalinbos" verwerf. Al waag ek nou my lewe in die proses, voel ek 'n onblusbare drang om weer eens af te gaan Stellenbosch toe en die kettery van spraakvryheid en Eurosentriese logiese denke te gaan beoefen alvorens die Donker Eeue van Diversiteit op ons neerdaal.