| boekwinkel |
|
|
|
Die postmoderne horde
"Meer en meer dink ek aan myself as 'n postmoderne vlugteling wat in 'n veiligheidsbuurt van die nare werklikheid daarbuite wegkruip." _____________________________________________________________________ Gisteraand kon ek nie slaap nie. Rondom middernag het 'n swaar reënbui my wakker gemaak en soos so dikwels gebeur, het ek agterna begin tob oor ons toekoms in Suid-Afrika. Onlangse gesprekke met uiteenlopende mense, van 'n ontwikkelaar in ons woonbuurt wat geen toekoms vir hom en sy kinders hier sien nie tot Chris Jordaan van die TLU se visie van 'n post-territoriale Afrikanervolk wat hom "ontvoog" van die SA regering en 'n postmoderne, internasionale bestaan voer met slegs sy taal en etniese afkoms as oorblywende ankers. Oor die afgelope dekade of meer het ek gesien hoe Johannesburg onder die aanslag van die demografiese en politieke revolusies onherkenbaar verander het. Enigeen wat dit nie self gesien het nie, sou dit nie kan glo nie. Die middestad het binne enkele jare leeggeloop van maatskappye; die dig bevolkte Hillbrow, Berea en Yeoville het sedert 1995 binne 'n ommesientjie verswart. Misdaad het die hemel ingeskiet. Motorkapings, moord, verkragting en 'n skietery in winkelsentrums het alledaags geword. Afrikaans het verdwyn. In die plek daarvan het 'n globale, kwasi-Amerikaanse kultuur gekom wat homself met reusagtige reklameborde langs die snelweë aankondig. Meer en meer dink ek aan myself as 'n postmoderne vlugteling wat in 'n veiligheidsbuurt van die nare werklikheid daarbuite wegkruip. Om saam met die Duitse filosoof Peter Sloterdijk te praat, woon ek in 'n "sfeer", 'n kapsule, in my eie private seepbelwêreld waar ek myself teen misdaad, globale Engels, kultuurverlies en ander manifestasies van postmoderne barbarisme probeer beskerm. My enigste kontak met die buitewêreld is in werklikheid my ADSL-konneksie wat ek ten duurste van Telkom moet huur. In Europa kos so 'n koppeling 'n vyfde van die Suid-Afrikaanse tarief. Via die internet kom ek agter dat ek nie die enigste postmoderne vlugteling op aarde, in Suid-Afrika, of selfs in Johannesburg is nie. Wat staan my eenuur of twee-uur in die oggend te doen? Toevallig sien ek 'n boek deur drie linkse akademici (ja, ek weet dis 'n toutologie, want alle akademici is deesdae links) raak: Uniting a divided city: governance and social exclusion in Johannesburg deur Beale, Crankshaw en Parnell. Die onderwerp van die boek is, nodeloos om te sê, Johannesburg, deels moderne stad met wolkekrabbers en 'n aandelebeurs, deels plakkerskamp waar mens reuse swart gesigte op reklameborde vir bier of middels wat hare reguit maak kan waarneem met slagspreuke wat dae lank by jou spook. Hier naby op die hoek van die ingang na die Diepslootplakkerskamp was daar maande lank 'n Hansa-advertensie met die enigmatiese motto vir 'n motorkaper of gesteelde selfoonverkoper: Your rules are exactly that. Yours. Ek het nog altyd gewonder hoe Diepsloot so vinnig van plakkerskamp tot Verwoerdiaanse woonbuurt met rye identitiese huise soos vuurhoutjiedose gevorder het. In Verwoerd se tyd was sulke huise natuurlik groter, maar die argitektoniese beginsel het dieselfde gebly. In die boek wat deur 'n soort Middeleeuse moraliteit van "alle siele moet gered word" tesame met die bekende linkse ontkenning van ras en etnisiteit gekleur word, lees ek dat USAID, die Europese Unie, die Nederlandse ambassade en ander instansies deur 'n NRO genaamd Planact by die aanlê van Diepsloot betrokke was. Agter SA Brouerye en L'Oreal se reklameborde wat oor Diepsloot troon skuil dus internasionale politiek! Weereens kom ek onder die besef van hoe onkundig die meeste van ons is oor die politieke prosesse wat ons werklikheid bepaal, van al die rolspelers wat duisende kilometer hiervandaan besig is om ons lewensruimte vir ons in te rig, plakkers in of naby ons woonbuurte kom vestig, 'n groot deel van Afrika se bevolking oor ons grense na ons toe aan te lok, en dergelike meer. Die postmoderne mens agter sy rekenaarskerm is magteloos, so lyk dit my. Of kyk ons nie op die regte manier na die werklikheid nie? Iewers voor vyf in die oggend, ná ek die eindelose statistieke en ontledings van Johannesburg se munisipale eindspel gelees het, kom ek skielik onder die besef: die ou wêreld van die nasiestaat, van munisipaliteite wat werk en deur verteenwoordigers van belastingbetalers en inwoners bestuur word, is vir goed verby. Sedertdien het ons gepromoveer tot postmoderne barbarisme, 'n wêreld waar die struikrower in die parkeerruimte of die winkelsentrum en die multinasionale maatskappy meeding om jou van jou laaste paar besittings - en hier sluit ek geestelike besittings in - te beroof. Dis 'n wetenskapfiksiewêreld soos in die rolprent Blade Runner van Ripley Scott uitgebeeld word, waar rykdom en armoede, tegnokratiese beheer en anomiese wanorde vrylik meng. Toordokters praat oor selfone en tradisionele partypolitiek word beheer deur Afrika-hoofmanne in Mercedesse. Watter soort politiek bly daar vir ons oor, vir u en my, die postmoderne vlugtelinge in ons veiligheidsbuurte? Hoe verset ons onsself teen die globale orde van die post-nasionale korporatiewe monsters wat soos Fidel Castro of Mao ons omgewing versier met reusagtige beelde van oorheersing waarin die gesaniteerde weergawe van die horde dolgelukkig ronddans met hul handelsmerkbier en -selfone? Hoe beskerm ons onsself teen die werklike horde wat ons oral inwag om ons vir 'n paar sent van die gras af te maak of hospitaal toe te stuur waar slegs dié met mediese fondse behandeling mag ontvang? Duidelik het ons 'n radikaal nuwe politiek nodig. Min mense onder sestig woon nog politieke vergaderings by. Ons gemeenskap is vernietig omdat die postmoderne horde al ons openbare ruimtes beset. My drie linkse akademici praat van "winkelsentrums en afgekampte woongebiede soos forte". Ook verwys hulle na die meeste middelklasmense "wat slegs die openbare ruimte agter die stuurwiel van 'n motor" betree. Hulle kon bygevoeg het: "gewoonlik is die deure van die voertuig gesluit". In hierdie baie eienaardige Blade Runner-wêreld verteenwoordig ek en jy die buitestaanders, die "replicants" waarop daar genadeloos jag gemaak word deur sowel die postmoderne jagterversamelaars op die straathoeke as die tegnokratiese keisers in hul korporatiewe kastele in Sandton en Midrand wat net gou-gou wil geld maak totdat hulle oor drie jaar Sidney of Toronto toe emigreer. Watter soort politiek bly daar vir ons oor, omdat ons - anders as die horde in hul plakkerskampe met hul onwettige elektrisiteitsaansluitings en verteenwoordigers op die stadsraad en in die regering - oor geen politieke mag beskik nie? Ons mense in hul individualistiese kokonne, bunkers met tuisvermaak en internetkonneksies, is nie meer deel van die stelsel, of van enige stelsel nie. Skynbaar is vandag se middelklas-Afrikaner of middelklasblanke nie meer mobiliseerbaar nie. Hy oorleef ietwat meer gemaklik as die gemiddelde plakkerskampinwoner, maar skynbaar het hy insgelyks sy lewensideale afgeskaal tot dié van sy neo-primitiewe omgewing: hy is tevrede om net te oorleef. Dank god ek is nie doodgemaak nie, is die stadaardaanhaling van elke misdaadslagoffer wat in die koerante aangehaal word. Dis nou benewens dié wat wel die tydelike met die ewige verwissel. Is ons besig om die einde van politiek te beleef? Dis nou benewens die Afrikapolitiek van hierdie land waar die hoofman sy gunste en gawes in ruil vir steun aan sy volgelinge uitdeel, soos Matsole Motshega blykbaar in Diepsloot gemaak het. Halfvyf in die oggend, met die eerste voëls wat wakker skrik en geluide begin maak, rebelleer ek weereens teen hierdie pessimistiese gedagte: dat ons postmoderne vlugtelinge daartoe gedoem is om net te oorleef, boonop in globale Engels, met slegs die vergesogte skop-skiet-en-donder-sprokies van Hollywood as ons enigste kultuur en identiteit. Nee, sê ek. Ons moet onsself herkonsipieer, hernieu, herinstel en herdink om ook hierdie nuwe wêreld te kan beheers of miskien eerder te kan omseil. Kom ons skep 'n nuwe politiek vir die kokonmens van ons tyd. Laat ons die Kafkaeske amptenare in die banke en ander instellings gebruik om ons doelwit van vryheid te bereik. Kom ons bou ons Nuwe Jerusalem op krediet, selfs al lyk dit soos 'n Toskaanse pseudo-dorpie agter 'n Berlynse muur. Willie Lewies van die TLU het die vraag, "Maar waar is ons volkstaat?" lakoniek beantwoord met: "Dáár waar die wil is." Indien ons openbare ruimte voortaan deur die Ander en deur die postmoderne horde beset word, kom ons skep 'n nuwe virtuele ruimte vir onsself waar ons onsself kan bewapen met kennis en ons wil kan versterk. Sien jou huis agter mure, jou persoonlike laer, as jou volkstaat. Eendag sal ons uit ons kokonne bars soos die helde van die Matrix om die menere Smith en hul horde wapen in die hand die stryd aan te sê. Vir die oomblik is dit belangrik dat ons die nuwe wêreld waarin ons woon moet verstaan. Wetenskapfiksiefilms mag ons meer oor die politiek leer as die blaaie van jou kruiperige, horingdom Afrikaanse koerant wat soggens warm met die regime se propaganda soos met vars honde-ontlasting op jou voorstoep afgelewer word. In Blade Runner word reuse Coca-cola-advertensies snags teen die fasades van geboue gekaats. In Braamfontein is een kantoorgebou wat nie meer huurders kon vind nie, bedek met 'n reklamebeeld van vyf verdiepings hoog wat Dark 'n Lovely, 'n middel om swart hare reguit te maak, adverteer. Dark 'n Lovely is 'n handelsmerk van Carson, 'n volfiliaal van L'Oréal, die wêreld se grootste kosmetiekmaatskappy. Vanuit 'n voorstad aan die rand van Parys word twintig miljoen swart vroue in Suid-Afrika met propaganda bestook. In elke wetenskapsiefilm is daar 'n weerstandsbeweging wat eietydse tegnologie gebruik om teen die Ander, hetsy robotte, hetsy 'n vreemde beskawing, te veg. Blade Runner het my onder andere laat wonder of ons nie nou in die wintermaande as dit vroeër donker word, ons boodskappe oor Afrikaner-revolusie en 'n eie staat oor die multinasionale reklameborde langs die snelweë moet projekteer nie. Boere het mos bakkies. En skootrekenaars en projektors wat so iets behoort te kan doen. Ons gebrek aan kommunikasiemiddele wat deur die regiem en deur Naspers beheer word, behoort geensins in ons pad te staan om die sein aan al ons kokonmense daarbuite deur te stuur nie: u is nie alleen nie. Kom ons droom. Voor ons die Nuwe Jerusalem kan bou, moet hy eers geadverteer word.
|