| boekwinkel |
|
|
|
Afrikaner-sekerheid
___________________________________________________________
Sekerheid is vandag 'n gewilde begrip onder politici en in die howe. Moderne konstitusionele ontwikkelinge wentel dikwels rondom die begrip, wat dikwels as "sekuriteit van die persoon" as 'n staatkundige begrip ontwikkel is in regsfakulteite en in die hooggeregshowe van meer as een Westerse land. Suid Afrika se wonderlike konstitusionele dokument, wat maar onlangs geskryf is, en dus verskeie moderne giere insluit, sluit ook klousules rondom die begrip in. 'n Google-soektog op die Web met "Security of the person" as soekterm lewer 324,000,000 resultate, met "South African Law Resource, Freedom and Security of the Person" as die tweede resultaat. Dit volg net op "Book Results for Security of the Person" wat verskeie boeke oor die onderwerp adverteer. Die boeke sluit onder andere "Dying Justice" deur Jocelyn Downie, "Taking Care of Mom and Dad" deur Mike Rust, en "Harry Truman and Civil Rights" deur Michael R Gardner in. Terwyl mens nie veel wil maak van Google se ranglys nie, is dit tog opvallend dat 'n websoektog met die enjin in Noord Amerika na Suid Afrika se konstitusie as een van die belangrikste bronne oor "Security of the Person" verwys. Derde op die lys is 'n skakel na die "Canadian Charter of Rights - Section 7", en dit word opgevolg deur verskeie ander skakels wat verwys na "Civil Liberties" organisasies, 'n skakel na voorgestelde "Liberty and Security of the Person" vir gestremdes, en dies meer. In die geval van die skakel na die Suid Afrikaanse grondwet, is dit na artikel 12, wat lees 12. (1) Elkeen het die reg op vryheid en sekerheid van die persoon, waarby inbegrepe is die reg om – (a) nie arbitrêr of sonder gegronde rede vryheid ontneem te word nie; (b) nie sonder verhoor aangehou te word nie; (c) vry te wees van alle vorme van geweld van hetsy openbare hetsy private oorsprong; (d) op geen wyse gemartel te word nie; en (e) nie op ’n wrede, onmenslike of vernederende wyse behandel of gestraf te word nie. (2) Elkeen het die reg op liggaamlike en psigiese integriteit, waarby inbegrepe is die reg – (a) om besluite oor voortplanting te neem; (b) op sekerheid van en beheer oor die eie liggaam; en (c) om nie sonder hul ingeligte toestemming aan mediese of wetenskaplike eksperimente onderwerp te word nie. Artikel 12 (2) gee aan individue die reg van kontrole oor hulle liggame, en net in geval dit nie duidelik is nie, verklaar in duidelike terme dat aborsie 'n "sekerheidsreg" is. Met ander woorde, beheer oor voortplanting is 'n reg wat voortvloei uit die "sekerheid van die persoon". So asof aborsie enige-iets te doene het met "persoonlike sekuriteit", wat mens naief anders wil vertolk. Artikel 12 (1) verklaar dat "sekerheid van die persoon" die staat se mag aan bande lê ten opsigte van aanhouding sonder verhoor, marteling, of om iemand op 'n onmenslike manier te straf. Terwyl dit nie uitdruklik geskryf is nie, beteken die klousule byvoorbeeld dat die doodstraf waarskynlik nie weer in Suid Afrika toegepas sal word nie. Maar dit is dan skynbaar ook al wat daar oor "sekuriteit van die persoon" in die grondwet is. Die Kanadese grondwet is nog korter in die opsig: die "Charter of Rights" verklaar doodeenvoudig in seksie 7 dat "Everyone has the right to life, liberty and security of the person and the right not to be deprived thereof except in accordance with the principles of fundamental justice." Die interpretasie hiervan word vir die howe gelos, en met die seeviering van linkse idees in die Weste oor die laaste dekades kan mens redelik maklik raai hoe 'n hof of 'n parlement die seksie sou vertolk In die geval het die seksie direk tot die afskaffing van die doodstraf gelei, en is wette wat aborsie beheer afgeskaf. Is dit dan al waaroor "sekuriteit van die persoon" handel? Instinktief, sou ek dink, is wat die Grondwet nie oor persoonlike sekuriteit sê nie miskien belangriker as wat dit wel sê. 'n Normale interpretasie sou sekuriteit, veral van die persoon, verbind aan baie ander idees. Meeste mense ondergaan nie aborsies nie, en word nooit aangehou of summier verhoor nie. Dus, die artikels is taamlik irrelevant sover as wat dit gaan. Sekuriteit, op 'n persoonlike vlak, gaan oor eet, oor gesondheid, oor misdaad, oor vrees, en oor veiligheid. Geeneen van dié konsepte word aangespreek in die artikels oor persoonlike sekuriteit hierbo nie. In die opsig is die toestand sover dit persoonlike sekuriteit aangaan in Suid Afrika surreel, om die minste te sê. 'n Besoeker uit omtrent enige Westerse land word oorweldig deur die Afrika-armoede, deur sekuriteitsmure om middelklas wonings met tronktralies voor die vensters, deur 'n onveilige en wettelose misdaad situasie, deur gerugte van moord en doodslag. Daar is stories oor motorkapings, gerugte oor ou kennise wat doodgemaak is, en stories oor marteling en verkragting. Afrikaners, selfs diegene wat die nuwe orde aanvaar as normaal, maak soms glipse in hulle skrywers as daar na sekuriteit verwys word. In 'n brief op SêNet verwys ene Reinhardt Buys soos volg na sy persoonlike situasie: "Elke aand as ek gaan slaap wonder ek of ma en pa vanaand veilig is op die plaas. Wonder ek of broer en skoonsuster al die deure gesluit het." http://www.litnet.co.za/senet/senet.asp?id=41733 Maar selfs diegene soos Mnr Buys, wat skynbaar erg aangetas is deur die situasie, weet presies waar om die blaam te plaas. Hy skryf verder oor Afrikaners wat meer uitgesproke oor sekuriteit is dat [Diegene wat die ANC aanvat oor sekuriteit en vir Afrikanerregte en Afrikaner self-determinasie argumenteer] "sweep net aggressiewe elemente in die townships op. Julle maak ons die teiken van rasse aanvalle. Julle is stelselmatig besig om die Afrikaner te ontman. Julle maak ons sad victims . Julle maak ons oumense bang met julle kaffer-kaffer stories. Julle maak ons Afrika se losers. White trash." http://www.litnet.co.za/senet/senet.asp?id=41821 Met ander woorde, sover dit sekuriteit aangaan, moet Afrikaners stilbly. Netnou word die ANC kwaad, en dan gaan Afrikaners skynbaar eers bars. Die drogredenasie duik telkens in die Afrikaanse pers op - "moet asseblief nie die heersers kwaad maak nie, want dan gaan hulle dit op Afrikaners uithaal". Sulke glipse bewys natuurlik dat selfs Afrikaners wat die nuwe heersers prys, wat die nuwe orde aanvaar, wat skynbaar die onderdanige gedrag van Afrikaners teenoor die regeerders aanvaar, steeds eerder vermoed of besef dat die Afrika-heersers waaronder ons nou leef, miskien gevaarlik is. Daar is steeds 'n ondertoon in selfs die geskrifte van die mees positiewe Afrikaners wat onrustigheid verklap, en wat Afrika nie vertrou nie. Selfs die redakteur van Rapport, Tim du Plessis, wat normaalweg positief oor die situasie skryf, het op 'n slag geskryf dat "Zuma gaan ons nog Zim". Dit oor 'n man wat tot onlangs die visie-president van die land was. Die oorsprong van die onrustigheid is diep gewortel in die Afrikaner-psige - dit kom vanuit die rassegeheue oor laagers en konsentrasiekampe, vanuit trane oor grafte, en onveiligheid op die oop veld. Die verlede het van die Afrikaner 'n baie onsekere mens gemaak. Uitlewering aan die Zoeloe of aan die Engelse was die Afrikaner se nagmerrie. Doodslag op die Oosgrens in die 1820's steek nog steeds vars in ons geheue, en in ons onrustige oomblikke spook kindergrafte met die oorskot van ongelewende lewens by ons. Insekuriteit is vandag weer die normale ervaring vir Afrikaners - die laaste twee geslagte was die abnormaliteit, die ongewone. Ouer geslagte het in laagers oorleef, of gesterf in konsentrasiekampe, of van ontbering in die verwoeste ekonomie na die oorlog. Jonger geslagte Afrikaners kyk weer na Afrika as 'n gevaarlike plek, en probeer bes moontlik om dit te vermy. Dit is egter so dat 'n langtermyn demografiese projeksie van Suid Afrika dit hoogs onwaarskynlik maak dat Afrikaners ooit weer veilig in die land sal wees. Die vraag wat Afrikaners dus moet beantwoord is die volgende: Waarheen nou? Insekuriteit het gegroei om verder as net misdaad om nou ook ekonomiese en kulturele onsekerheid in te sluit. 'n Insekure omgewing kan nog die einde van 'n Afrikaanse Boer en platteland beteken (iets wat die ANC sal verwelkom), en die verengelsing van Afrikaanse universiteit en ander tersiëre instellings gaan die ondergang van Afrikaanse Sekondere skole as gevolg het. Met ander woorde, op die langtermyn blyk dit dat die stabiliteit van 'n Afrikaanse kultuur moedswillig deur die ANC en deur demografiese werklikhede ondermyn word. 'n Vorige minister van onderwys, Kader Asmal, het presies geweet wat hy doen toe hy na Afrikaans as 'n "barrier-language" verwys het [daar is natuurlik nie so iets nie]. Afrikaners wat argumenteer dat die grondwet gebruik kan word om 'n Afrikaanse kultuur te stabiliseer en persoonlike sekuriteit te verseker moet nie te optimisties wees nie. Sover dit persoonlike sekuriteit aangaan verseker die grondwet net die reg op aborsie, en beskerm dit die individu teen summiere aanhouding deur die staat. Ander klousules soos byvoorbeeld die reg op assosiasie, en die verklaring dat Afrikaans 'n amptelike taal is, is taamlik tandloos. Daar is geen klousules in die grondwet wat die staat verplig om kondisies te skep wat sekuriteit vir Afrikaners, sover dit misdaad, kultuur of taal aangaan, te bevorder nie. Met ander woorde, die grondwet verg glad nie dat enige deel, of gebied, in Suid Afrika, as sekuur vir Afrikaners ingerig word nie, of dat Afrikaners op enige manier as kulturele Afrikaners geakkommodeer word nie, of selfs dat Afrikaners grondwet kan aandring op kollektiewe sekuriteit en dat hulle kultuur en taal nie misken word nie. Om enigsens vordering op die gebied te maak, sal Afrikaners buite-om die perke wat die grondwet stel moet dink.
|