| boekwinkel |
|
|
|
Afrikaans is geen 'bastertaal'
"'n Mens wil vra: Indien Breyten werklik ten gunste van taalkundige verbastering is, waarom het hy dan sy poësie in Standaardafrikaans geskryf en nie in "Kaaps" of Tsotsitaal nie?" _____________________________________________________________________ Breyten Breytenbach het onlangs in Die Burger die stelling gemaak dat Afrikaans 'n "Kreoolse" of "bastertaal" sou wees. 'n Mens het waardering vir Breyten se pogings om as tiers-mondiste oftewel "Derdewêreldgesinde" die indruk te probeer skep dat Afrikaans sy Westerse en Wes-Germaanse wortels verloor het en in die mond van slawe en verdruktes tot "Kreools" gepromoveer het. In sy voorliefde vir die "Kreools-teorie" word Breyten gesteun deur die eertydse Nederlandse taalkundige aan Wits, Marius Valkhoff, wat iets soortgelyks in sy boek Studies in Portuguese and Creole beweer het. Valkhoff se bewerings is egter deur die hoofstroom-taalkunde in Afrikaans verwerp en het nooit inslag gevind nie. Daarom bly Breyten se bastertaalteorie 'n blote slagspreuk wat in die huidige tydsgewrig nogal erg konformisties aandoen. Negerhollands, 'n uitgestorwe taal wat tot 1945 in die Amerikaanse Maagde-eilande gepraat is, verteenwoordig 'n voorbeeld van 'n Kreoolse taal. Sedertdien is Negerhollands natuurlik deur Engels vervang. Hoewel Nederlandse sendelinge Negerhollands probeer standaardiseer en vir evangeliseringsdoeleindes aangewend het, het die taal egter nooit meer as 'n spreektaal geword nie. Wat is 'n Kreoolse taal? En wat is nou die verskil tussen Negerhollands en Afrikaans, afgesien nou van die feit dat Afrikaans oor 'n uitgebreide letterkunde en tegniese woordeskat beskik? Die definisie van 'n Kreool is "'n kontaktaal oftewel pidgin wat agterna tot 'n volwaardige spreektaal ontwikkel en deur die bevolking aanvaar word". Nóg Valkhoff, nóg enigiemand anders kon tot dusver bewys dat Nederlands of Afrikaans ooit in Suid-Afrika gepidginiseer is. In die negentiende eeu is daar 'n pidgin in Suidoos-Asië gepraat wat as "Chinglish" bekend gestaan het. Somminge Chinglish-uitdrukkings wat uit letterlike vertalings vanuit Kantonees bestaan, het in moderne Engels oorgebly en lesers van Die Burger sou hulle al teëgekom het: long time no see, look-see, no can do, en no-go. Daar is mense wat beweer dat Tsotsitaal, wat uit Zulu, Sotho, Tswana, Afrikaans en Engels bestaan, 'n Suid-Afrikaanse pidgin is. Dit word hoofsaaklik in Soweto en ander dele van die Gauteng-provinsie gepraat en het 'n bepaalde kulturele waarde deur gebruik in kwaito-musiek vewerf. Uit die duisende Germaanse dialekte wat in Noorwes-Europa gepraat is en steeds gepraat word, het maar drie standaardtale ontwikkel: Duits, Nederlands en Afrikaans. Die titel van Edith Raidt se boek, Afrikaans en sy Europese verlede, som die problematiek van Afrikaans baie mooi vir ons op. Trouens, Xhosas in die Wes-Kaap kyk mens onbegrypend aan as jy Afrikaans praat terwyl mens omtrent oral in Nederland en Vlaandere met Afrikaans oor die weg kan kom. Afrikaans verteenwoordig daarom 'n Europese taal (sewentiende-eeuse Nederlands) wat op reis gegaan het en in sy nuwe tuiste gestandaardiseer en ontwikkel is. Selfs die term "kombuistaal" wat Breyten en ander deesdae in hul verbete tiersmondisme rondslinger, druk dit uit: die Nederlandse woord vir kombuis is "keuken" terwyl "kombuis" juis sewentiende-eeuse Nederlands vir "skeepskombuis" is. Afrikaans en Kaaps-Hollands beskik oor 'n omvangryke geskrewe tradisie wat in ons argiewe bewaar word. Onlangse transkripsies van argivale tekste het juis getoon dat Afrikaans, ten minste wat ons woordeskat betref, 'n suiwerder vorm van Nederlands verteenwoordig as moderne Nederlands! En dis nou nog voor die Hollanders links en regs begin "computer" en "uplink" het, of "het management" 'n gewilde begrip geraak het. Breyten en ander wat ons taal as 'n minderwaardige "bastertaal" afmaak, het nog nie Middelnederlands gelees nie. Hier is enkele reëls uit Van den vos Reynaarde wat uit die twaalfde eeu afkomstig is. Afgesien van die spelling wat verander het, bestaan die meeste woorde steeds in moderne Afrikaans: "Wat coste Reynaerde scone tale? Al seghet sine tonghe wale, Sine herte die es binnen fel."
In Afrikaans lui dit: Wat kos mooi taal vir Reinaard? Al sê sy tong dit wel, Sy hart is binne-in fel. Met ander woorde, oor die afgelope 900 jaar het ons taal grotendeels behoue gebly. Vanaf die Middeleeuse klooster of begynehof tot by die rekenaar (Afrikaans is, tesame met Frans en sy ordinateur, een van die min tale ter wêreld wat oor 'n eie woord vir die Amerikaanse computer beskik) het Afrikaans soos 'n tydkapsule gereis en al hoe meer geestesgoedere in hom versamel. Die reisende taal, van die skeepskombuis tot oor die Drakensberg tydens die "Groot Trek"! Vandag kyk die Amerikaners na Star Trek en die Franse beoefen le trekking. Die huidige SA staat, wat byna geheel en al Engelstalig is, is egter besig met 'n georganiseerde poging om Afrikaans af te breek deur die taal toegang tot instellings en veral ons belastinggeld te ontsê. Via die staatsmedia soos radio en TV bedryf die staat "negatiewe taalbeplanning" waardeur gepoog word om Standaardafrikaans af te takel deur die lukrake invoeging van Engelse woorde, sleng, swak en nie-standaard taalgebruik, ens. In die naam van transformasie en rassevoorkeur word Afrikaanse skole en universiteite verengels. Prof. Chris Brink en ander polities korrekte akademici aan Stellenbosch is bereid om 'n tradisie van 900 jaar op te offer vir hul eie korttermyngewin en om witvoetjie by die ANC-staat te soek. Indien Afrikaans as 'n hoogstaande kultuurtaal afgetakel en daar 'n minderwaardige Kreools van gemaak word, sal dit soos Negerhollands uitsterf en sal Engels finaal ná twee eeue van onophoudelike taalstryd in die land koning kraai. 'n Mens wil vra: Indien Breyten werklik ten gunste van taalkundige verbastering is, waarom het hy dan sy poësie in Standaardafrikaans geskryf en nie in "Kaaps" of Tsotsitaal nie? In weerwil van sy taalkundige naïwiteit, aanvaar mens egter Breyten se bona fides in die huidige taalstryd. Soos in die verlede, sal daardie stryd egter net gewen word as dit gepaard gaan met 'n politieke herontwaking van die Afrikaner. In Afrikaans en sy Europese verlede beklemtoon Raidt byvoorbeeld die ooreenkomste tussen die Nederlandse taalbeweging van die 16de en 17de eeue en die Afrikaanse taalbewegings van die 19de en vroeë 20ste eeue. Die opbloei van die eie taal vind eers plaas wanneer die volk van sy eie bestaan bewus raak en politieke bevryding aanbreek. Eers toe J.B.M. Hertzog in 1924 eerste minister geword het, het Afrikaans werklik tot sy reg gekom, want tydens sy bewind van 1924 tot 1939 is meer Afrikaanse skole en veral hoërskole opgerig as ooit tevore. Daar is vandag taalstryders wat "Afrikaans sonder die Afrikaner" bepleit. Onder andere het Van Zyl Slabbert onlangs verklaar dat hy ten gunste van Afrikaans by Stellenbosch is, maar "nie die Afrikaner wil red nie". Die vraag is: bepleit Slabbert daarmee dat alles wat deur Afrikaners in Afrikaans voortgebring is, naamlik die grootste deel van ons letterkunde, 300 woordeboeke, wetenskaplike publikasies, mediese en regsterme, volksliedere, selfs hedendaagse rock-musiek deur jong Afrikaners, op die ashoop moet beland? Ek hou van Kanna hy kô hystoe, maar net 'n "hys" sonder 'n "huis" mag benouend en vir Afrikaans fataal wees. Ek is bevrees "Afrikaans sonder die Afrikaner" is so goed soos Nederlands sonder Nederlanders of Frans sonder Franse. Oor die afgelope 350 jaar is daar nog nooit enige taalnasionalisme onder bruin Afrikaanssprekendes opgeteken nie en om die toekoms van Afrikaans om politiek korrekte redes aan daardie groep op te dra, gaan ons "van die wal in die sloot laat beland". (Om nou 'n goeie Nederlandse uitdrukking te gebruik wat tussen 1201 en 1250 vir die eerste keer opgeteken is.) Dit sal ook help as ons digters hul taalkunde kan begin opskerp en uitvind wat die term "Kreoolse taal" werklik beteken.
|