| boekwinkel |
|
|
|
Van Grootman-diktatuur na
Grootman-demokrasie
'n repliek op Christi van der Westhuizen ___________________________________________________________
Dra by tot
die Groot
Afrikadebat. In hierdie stuk reageer ek op Christi van der Westhuizen se bydrae tot die KKNK se Oopgesprek wat op 7 April vanjaar in Oudtshoorn gelewer is: "Kan daar iets goeds uit Afrika kom?" As 'n nasaat van 'n Duitse voorouer wat 301 jaar gelede in die Kaap van Goeie Hoop aangekom het, het ek Van der Westhuizen se bydrae met belangstelling gelees. My familie is onlosmaaklik aan hierdie land verbonde en enige positiewe boodskap wat te midde van die chaos en geweld wat ons omring uitgaan, is immers meer as welkom. Ek was egter teleurgesteld. Afgesien van 'n klompie clichés en banaliteite wat opgedis word, was daar ongelukkig nie veel in haar bydrae wat my optimisties gestem het nie. Die skryfster meen dat daar 'n soort "Afrika-eksepsionalisme" geld en dat mense geneig is om met ander oë na Afrika te kyk as na ander vastelande. Ek is bevrees daar is talle goeie redes hiervoor. 'n Vasteland wat so onlangs as 1994 nog 'n volksmoord in Rwanda opgelewer het waartydens amper 'n miljoen mense die lewe gelaat het en waar diktators soos die Ethiopiese despoot Mengistu sonder vrees vir vervolging rustig in weelderige villas lewe, bring tog mee dat mense met 'n ander bril na dié wêrelddeel kyk. Die Belgiese bevolking (met wie ander Europeërs toevallig graag die spot dryf) bestaan uit slegs 10 miljoen mense. Hulle ekonomiese uitsette vergelyk egter met dié van meer as 600 miljoen mense wat in Afrika suid van die Sahara woonagtig is. Iewers is daar dus fout. En dit raak regtig lank in die tand om die blaam telkens voor die deur van die Europeërs en Amerikaners te wil lê, soos wat Van der Westhuizen doen. In sy boek, Negrologie - waarom Afrika vergaan, bewys die liberale Franse joernalis, Stephen Smith, met verdoemende statistiek hoe Afrika se ekonomie en produktiwiteit ná die vertrek van die koloniale heersers afgeneem het. Kom ons kyk na 'n paar voorbeelde. Volgens 'n studie van die Senegalese Departement van Ekonomie en Finansies wat in 2003 gepubliseer is, het die land se produktiwiteit afgeneem tot dieselfde vlak as in 1960, die jaar van Senegalese onafhanklikheid. Die verslag het voorts bepaal dat indien Senegal se agterstand sou voortduur, dit die land 471 jaar sou neem om die (huidige) produksievlakke van die VSA te bereik. Dan is daar die voorbeeld van die grootse Pan-Afrika-projek, die lugdiens Air Afrique, wat in 1961 deur 11 onafhanklike Afrika-state geskep is. Die lugdiens het mettertyd bekend geword as Air peut-être (Lugdiens Miskien) as gevolg van wisselvallige vlugskedules. Vlugte is letterlik vertraag op bevel van Afrika-heersers of topamptenare wat te lank in die bad gelê het, maar nogtans wou vlieg, op 'n tyd wat hulle beter gepas het. In 2002 is die maatskappy finaal gelikwideer, nadat nepotisme, onderlinge bakleiery tussen Afrika-state en korrupsie sy tol geëis het. Teen die einde het "Lugdiens Miskien" dubbel die hoeveelheid personeellede gehad as waarmee 'n normale lugdiens van dié grootte gewoonlik funksioneer… In 1820 was die gemiddelde Wes-Europeër se inkomste 2,9 keer hoër as dié van die Afrikaan en in 1992 was die verhouding 13,2. Afrika is die enigste wêreldstreek waar per capita-beleggings sedert 1970 afgeneem het. Die Wêreldbank reken dat ongeveer 40% van Afrika se privaat rykdom buite die vasteland in veilige bewaring gehou word. Volgens 'n verslag wat in 2002 vir die Afrika-unie voorberei is, word beraam dat Afrika jaarliks $148 miljard aan korrupsie inboet. Dit is gelykstaande aan meer as 'n kwart van die vasteland se totale BBP. Kan 'n mens buitelandse beleggers blameer wat in 2002 slegs $6 miljard van die globale som van $534 miljard privaat kapitaal in Afrika belê het? Teen die einde van die negentigerjare was meer as die helfte van Afrika-state afhanklik van Westerse hulp om 50% van hul regeringsbegrotings en amper 70% van openbare beleggings te finansier. Kan 'n mens die Weste kwalik neem as hulle vingers wys na 'n vasteland waar hulle sonder ophou geld skenk sonder om wesenlike verbeterings te sien? Sedert onafhanklikheid in die sestigerjare van die vorige eeu het Afrika meer buitelandse hulp gekry as enige ander geografiese gebied. Meer as $300 miljard is op die vasteland bestee. Kan Mbeki regtig nog wonder waarom die Weste nie gaande is oor sy idee van 'n Afrika-renaissance nie? Dieselfde figuur wat die despoot van Zimbabwe agter die skerms steun en in sekere kringe reeds van "volksmoord" beskuldig word weens sy regering se onvermoë om die vigs-krisis doeltreffend die hoof te bied, kan nie verstaan hoekom die G8-lande nie oorgretig is om die bedelbak te vul wat hy namens Afrika uithou nie. Die uitbuiting van Afrika deur Westerlinge is nie onwaar nie, maar word soms as 'n karikatuur voorgehou om Afrikane se eie aandadigheid aan hulle probleme, wat sedert onafhanklikheid vermenigvuldig het, te verminder. Dat Afrikane deur hul mede-Afrikane uitgebuit word, is 'n feit, maar nie een wat mense graag oor praat nie. Dit is immers makliker om die blaam voor die deur van eksterne faktore te lê. So byvoorbeeld bewys die linkse denker, André Glucksmann, op treffende wyse in sy boek, Silence on tue (Stil, ons is besig om te moor), dat die Westerlinge wat in 1984 op ongekende skaal hulp na die sterwende Ethiopiërs gestuur het, bloot gereageer het op die televisiebeelde van uitgeteerde kinders en glad nie belanggestel het in waarom hierdie mense besig was om dood te gaan nie. Die feit dat Mengistu gedwonge bevolkingsverskuiwings onderneem het waartydens duisende mense dood is en wat die landbousektor vernietig het, was ongemaklike feite waarmee die Weste nie gekonfronteer wou word nie. Volgens Van der Westhuizen begaan Stephen Smith die fout om na Afrika as 'n homogene entiteit te verwys en sien hy nie die diversiteit raak nie. Ongelukkig perpetueer Afrikane self hierdie beeld, deur hulle swart bewussyn gedurig op die voorgrond te stel. Hiervan is Thabo Mbeki se onlangse toespraak van 1 April 'n uitstekende voorbeeld. Hy verwys na die Afrika-vasteland as een konsep en eien beskawingsprestasies van eiesoortige Afrikane soos die Egiptenare vir die hele swart bevolking toe. Een van die grofste veralgemenings wat Van der Westhuizen in haar stuk begaan, is om te verwys na Afrika-vroue wat kwansuis gedurende die 19de eeu meer gelykheid met mans geniet het as wat die geval in Europa was. Die feit dat vroue meeste van die vasteland se kos produseer, word ook bygesleep om te bewys hoe onafhanklik en selfstandig hierdie vroue is. Ek wonder of die seksuele verminking wat jong meisies in Wes-Afrika ondergaan het (en steeds ondergaan) 'n teken van gelyke regte is? Of afwesige vaderfigure en mans wat meer belangstel in oorlog as in omsien na hulle gesinne iets is wat met ander woorde implisiet goedgekeur word? Die helfte van Afrika se vroue is steeds ongeletterd en meeste van die vasteland se vigs-slagoffers is vroue. Van der Westhuizen sien die "iets goeds uit Afrika" van haar titel in die feit dat soveel miljoene Afrikane oorleef ten spyte van die "groot struikelblokke" op hulle pad. Of die sukkelbestaan wat meeste Afrikane voer iets is om op trots te voel, weet ek nie. Veel eerder is dit 'n aanklag teen die korrupte elite wat in weelde leef, terwyl die res skarrel vir kos. Volgens die VN gaan 2,6% van Senegal se nasionale inkomste aan die heel armste deel van die bevolking en 48,2% aan die heel rykstes. In Zimbabwe is dit 1,8% wat na die armstes gaan terwyl 55,7% in die rykstes se sakke beland. Nog 'n veralgemening waarop ek moet reageer, is die skryfster se stelling dat die kolonialiste verantwoordelik is vir die huidige korrupsie in Afrika, omdat hulle destyds lede van die plaaslike bevolking in diens geneem het en hierdie elite gewoond gemaak het aan 'n goeie leefstyl. Hoe verklaar 'n mens dan die korrupsiefenomeen in Suid-Afrika, waar die apartheidsbewind kwalik beskuldig kan word van die skep van 'n elitegroepering? Dit is interessant om te kyk na die reaksies van diegene wat hulle tans in die Jacob Zuma-kamp bevind. Vir hulle is Zuma 'n onskuldige figuur, wat niemand kwaad aangedoen het nie. Die feit dat hy geld op 'n twyfelagtige manier bekom het, is in hulle oë nie 'n misdaad nie. Hy het bloot gedoen wat hy moes om sy uitgebreide familienetwerk en werklose oud-kamarade te onderhou. Soos 'n Gaboenese joernalis dit treffend ten opsigte van die gemiddelde Afrikaan in die koerant, L'Union, gestel het: "Môre, as hy nie meer daar is nie, sal hy nie gemeet word aan watter paaie hy ook al laat teer het nie, maar aan hoeveel persone hy in sy familiegroep gehelp het." Deur te beweer dat koloniale grense "waarskynlik die wortel van die kwaad is" in 'n land soos Rwanda is 'n indirekte beskuldiging dat die Weste eintlik vir die volksmoord van 1994 verantwoordelik is. So word die Hutu's en Tutsi's se eie aandadigheid aan hierdie gruwelike gebeurtenis ontken en maak Van der Westhuizen haar eintlik aan 'n erg patroniserende houding skuldig. Die Rwandese is immers nie kinders nie en diegene wat lede van die teenoorgestelde etniese groep met kapmesse uitgemoor word, nie bloot slagoffers van 'n onregverdige bestel nie, maar mense met 'n sin vir reg en verkeerd en 'n onafhanklike besluitnemingsvermoë. Die skrywer verwys voorts na die programme wat deur die Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds op Afrika "afgedwing" word. Die vraag moet egter gestel word waarom Afrika, meer as veertig jaar ná onafhanklikheid, nog hierdie soort hulp nodig het? Martin Meredith verduidelik in sy fassinerende boek, The State of Africa, hoe die "boelies" van die Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds by Afrika betrokke geraak het. Teen die tagtigerjare van die twintigste eeu het die ekonomiese situasie in Afrika drasties versleg. Teen die middel van die 1980's was meeste van die Afrika-state armer as voor onafhanklikheid. Gewone mense moes hulle toenemend tot smokkelhandel en die informele ekonomie wend in 'n poging om liggaam en siel aanmekaar te hou. Regerings se greep op die situasie was besig om te verslap. Zaïre se informele ekonomie het die amptelike ekonomie verbygesteek. Om lae produksiepryse te vermy, het Ghana se kakaoboere hulle produkte onwettig na die Ivoorkus gestuur. In 1980 is twee derdes van Senegal se grondboontjie-oes onwettig in Gambië verkoop. In dieselfde tyd is twee derdes van Tanzanië se landbouprodukte by informele markte van die hand gesit. Aangesien hulle nie plaaslik fondse kon genereer nie en buitelandse handelsbanke nie in hulle lot belanggestel het nie, het Afrika-state besluit om hulle tot die Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds vir hulp te wend. In 1979 het Senegal die eerste Afrika-land geword om 'n sogenaamde "strukturele aanpassingslening" van die Wêreldbank te ontvang. Een na die ander het die res van die Afrika-lande gevolg. Die internasionale instansies het radikale ekonomiese hervormings voorgestel en die staat gesien as die hoofoorsaak van die gebrek aan ontwikkeling op die vasteland. Daar is gepoog om die privaat sektor daadwerklik uit te brei. Daar was heelwat plaaslike teëstand teen hierdie instansies se pogings om van subsidies ontslae te raak, landboupryse te verbeter, lomp staatsdiensdepartemente meer vaartbelyn te maak en om beperkings op buitelandse beleggings op te hef. Die Afrika-elite het gesien hoe hulle magsbasis hierdeur verswak word en die soewereiniteit van hulle regerings aangetas sou word. Min Afrika-state was bereid om die internasionale kriteria te aanvaar en het die minimum veranderings aangebring sodat hulle net-net nog vir hulp gekwalifiseer het. Afrika-leiers het gou begryp dat daar nie ernstige sanksies was as hulle hulle nie aan die Wêreldbank-voorwaardes gesteur het nie. Die geldtoevloei het dieselfde gebly. Kenia het tydens die tagtigs vier maal onderneem om dieselfde stel landbouhervormingsmaatreëls te implementeer en geweier om die grootte van sy staatsdiens daadwerklik te verminder. In die Ivoorkus, onder Houphouët-Boigny se bewind, is Wêreldbank-fondse wat bestem was vir privatisering, doodeenvoudig gebruik om die semi-staatsinstellings uit te brei en onnodige personeel aan te stel. President Biya het in Kameroen soortgelyke fondse gebruik om die Beti-groep waaraan hy behoort het, ekonomies te bevoordeel. Teen die laat 1980's het militêre offisiere in Nigerië oor die meerderheid aandele in vier vyfdes van die 100 geprivatiseerde maatskappye beskik. In ander lande is openbare ondernemings aan kliënte of familielede van die politieke elite verkoop. Teen die einde van die tagtigerjare het die Wêreldbank tot die gevolgtrekking gekom dat ekonomiese hervormings alleen nie die krisis in Afrika sou oplos nie. Politieke verandering was ook belangrik. Ekonomiese sukses kon alleenlik behaal word as die gunstige politieke konteks daarvoor geskep kon word. Daar is toenemend druk op Afrika-leiers geplaas om aan voorwaardes vir hulpverlening te voldoen. Kan 'n mens die Wêreldbank-amptenare kwalik neem? In plaas van om hierdie internasionale instansies vir Afrika se ekonomiese probleme verantwoordelik te hou, moet Afrikane gekonfronteer word met die harde werklikheid dat hulle mislukkings hulle steeds onderdanig aan buitelandse moondhede en organisasies maak. Hedendaagse heiliges soos Bono en Bob Geldof ("Mr Bloody Africa", soos hy enkele maande gelede na homself verwys het) reis deur die wêreld om staatshoofde te berispe omdat hulle Afrika nie genoeg help nie. In Afrika word hulle saam met opgewonde kinders en in vlugtelingkampe afgeneem, beelde wat die simpatie en deernis van TV-kykers wêreldwyd uitlok. Ons hoor egter nie van besoeke aan Afrika-staatshoofde nie. En nog minder dat hierdie selfaangestelde ambassadeurs Afrikane oor die vingers raps weens wanbestuur en gebrekkige ontwikkeling. "Wesenlike demokratisering" word deur Van der Westhuizen as "die enigste werklike hoop" vir Afrika beskou. Dit is juis wat internasionale instansies, wat vroeër in haar artikel gekritiseer is, probeer regkry! Die vraag kan seker ook gevra word of 'n Westerse konsep soos demokrasie hoegenaamd op die Afrika-vasteland afgedwing moet word. Die skrywer erken voorts dat mense dikwels so sukkel om te oorleef, dat demokrasie gevolglik nie 'n prioriteit is nie. Hoe kan dit ook anders wees, as meer as die helfte van Afrika se 880 miljoen inwoners op minder as $1 per dag oorleef? Alhoewel vele diktators in die vroeë negentigerjare aan hul einde gekom het, het ander oorleef. 'n Nuwe geslag despote het na vore getree, wat vernuftig 'n demokratiese fasade aan die buitewêreld voorhou om steeds vir Westerse hulp te kwalifiseer. Soos Martin Meredith dit stel: "In place of Big Man rule came Big Man democracy, with little difference between the two." Demokratiese veranderinge wat wel oor die afgelope klompie jare plaasgevind het, het nie veel gedoen om die ekonomiese krisis in Afrika te besweer nie. Om Afrika se onderontwikkeling te sien as "'n funksie van die wêreldstelsel" word Afrika weereens van verantwoordelikheid vir die chaos wat op die vasteland heers, onthef. In Junie 1994 het oud-president Nelson Mandela 'n OAE-vergadering toegespreek en die volgende gesê: "We must face the fact squarely that where there is something wrong in how we govern ourselves, it must be said that the fault is not in our stars but in ourselves that we are ill-governed." Daar kan nie daadwerklike oplossings vir Afrika se probleme gevind word as die blaam voortdurend voor ander se deur gelê word nie. Christi van der Westhuizen doen die vasteland geen guns met haar pogings om Afrika te normaliseer en binne 'n globale konteks te plaas nie. Die wêreld is moeg vir Afrika se litanie oor die onreg van die verlede. Wat nou nodig is, is om die prekerige frases oor die Afrika-renaissance in dade te omskep. Dit is al wat Afrika-skeptici sal oortuig en wat werklike hoop vir Afrika se inwoners kan bring. |