| boekwinkel |
|
|
|
Die Weste en Afrika, en Singapoer
en die Ivoorkus
___________________________________________________________
Westerse betrokkenheid by Afrikanasies word soms deur historiese redes gemotiveer. So byvoorbeeld kan ‘n eertydse koloniale mag by ‘n krisis in ‘n voormalige kolonie betrokke raak. Andersins is dit die oordrag van ontwikkelingshulp of kos om desperate toestande in ‘n Afrikastaat te verhoed wat ‘n Westerse moontheid se aandag op Afrika kan vestig en wat die Westerse staat oortuig om hom aktief met die interne politiek van ‘n Afrikastaat te bemoei. Maar normaalweg gesien is Westerse moonthede, selfs voormalige koloniale moonthede soos Brittanje en Frankryk, nie behep met Afrika nie. Afrika is die lastige kontinent, wat net aandag kry as daar ‘n krisis is. Dit is hoogstens ‘n bodemlose put waarin geld en ander bates skynbaar sonder effek in die vorm van ontwikkelingskapitaal gestort word, en is ‘n bron van nuus wat verskriklike wrede en onmenslike optrede openbaar maak. Met ander woorde, vanuit ‘n Westerse oogpunt is Afrika arm, wreed, onbenullig, behoeftig, en onbeskaafd. Die ontleding verskaf aan die Weste ook die geleentheid om “goed” te doen. Westerse regerings en indiwidue (bv. Stephen Lewis en Bob Geldoff) maak aanspraak op hulle eie morele meerderwaardigheid deur skenkings of aksies wat Afrika sou bevoordeel. Sommige moderne Westerse politici gee dus wel aan Afrika aandag, veral omdat die anti-rassistiese klimaat in die Weste dit moreel van hulle verg. Met ander woorde, om goed te lyk in die Weste, kan ‘n politikus op een of ander stadium wys dat hy vir Afrika omgee, en dat die swart lyding in die kontinent hom roer. Dit is natuurlik moeilik om die egtheid daarvan te peil, maar sommige kommentators in die Weste interpreteer dit dikwels wel baie sinies. Dié anti-rassistiese sosiale klimaat in die Weste was dan ook verantwoordelik vir die Weste se skerp optrede teen wit Suid-Afrika in die 1980s. Dié sosiale klimaat (wat eintlik in die VSA ontstaan het as gevolg van Martin Luther King Junior se desegregasieveldtog) is ook ‘n Westerse ideologie, en Westerse idees tesame met kommunisme (ook ‘n Westerse ideologie) het die ideologiese klimaat onderliggend aan “bevrydingsbewegings” soos ZANU-PF en die ANC geskep. Dit is ongetwyfeld die geval dat beide die organisasies vandag regeer omdat hulle deur Westerse inmenging en ondersteuning verkose was om regerings in onderskeidelik Zimbabwe en Suid-Afrika te word. Daar was ‘n tweevoudige beleid jeens Suid-Afrika vanuit die Weste in die tydvak vanaf 1960 tot 1989. Enersyds het die Koue Oorlog die Weste beïnvloed om wit Suid-Afrika as ‘n bondgenoot teen kommunisme te sien, en andersyds was wit Suid-Afrika se apartheidsbeleid lynreg teen die ontwikkeling van Westerse insig omtrent ras en veral ten opsigte van die Westerse gelyksheidsideaal. Selfs in die post-apartheidtydvak beïnvloed Westese idees die ekonomiese en sosiale beleid in Suid-Afrika, asook die res van Afrika. Die ANC se swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie-beleidsrigtings is byvoorbeeld vanuit die Weste ingevoer. Daar is weergawes van SEB, RA, desegregasie, ensovoorts in die VSA, Kanada, Engeland en ander lande, maar weergawes hiervan wat nie naasteby so drakonies soos die ANC se beleid is nie. Dit is verder duidelik dat Suid-Afrika en post-koloniale Afrika veral na die Weste kyk vir beleidsontwikkeling, vir hulp, vir kundigheid en vir leiding. Die ideologie onderliggend aan desegregasie het teen die einde van die twintigste eeu ryp geword as “anti-rassisme” en die “gelyksheidsideaal”, wat onderliggend aan Westerse beleidsrigtings soos regstellende aksie en swart (of eerder minderheids-) ekonomiese bemagtiging. (Wit) Westerse idees oefen dus steeds belangrike invloed op Afrika uit, ten spyte van aansprake deur verskeie Afrika-leiers dat Afrika sy eie ideologie moet ontwikkel (daar word dikwels van Ubuntu gepraat as die grondslag vir ‘n Afrika-filosofie, waaruit ekonomiese en sosiale beleid gevorm kan word). Anti-rassisme en die gelykheidsideaal is vandag integraal deel van die Westerse wêreldsiening. Afrika word dus normaalweg vanuit hierdie perspektief bejeën. Indien daar natuurlik hoegenaamd aan Afrika gedink word, bygesê. Vanweë migrasie vanaf Asië na die Weste, handel asook olie en ander rustowwe, is die Ooste en Midde-Ooste ekonomies en kultureel baie belangrikriker as Afrika in die Weste. Westerse kultuur en politiek is besig om aan te pas by die opkomende Ooste, met die gevolglike verskraling in enige invloed wat Afrika mag uitstraal. Afrika was eens internasionaal van kardinale belang in Europa, en veral gedurende die koloniale tydvak. Westerse moonthede het soms oorlog verklaar oor sake in Afrika. Toegang tot grondstowwe en produkte soos goud, koffie en rubber, was van groot belang in Westerse ekonomië, en internasionale politiek is dikwels oorheers deur kompetisie vir en handel in dié kommoditeite. Ná die Tweede Wêreldoorlog het Afrika se ekonomiese belang in die Weste begin afneem. Die nuwe olie-ekonomie het die Midde-Ooste se strategiese belangrikheid verhoog, en Westerse state het belangstelling in hulle kolonies begin verloor. Tesame met die opkoms van die desegregasieveldtog in die VSA, is dit die hoofrede waarom koloniale moonthede onafhanklikheid aan hulle kolonies na 1945 begin toestaan het. Afrika se belangrikheid het dus ongetwyfeld reeds internasionaal getaan het. Die opkomende Ooste en natuurlik die olie-ryk Moslem Midde-Ooste het sedert die 1980's sleutelrolle op internasionale vlak begin speel, met die gevolg dat Afrika nie meer in Westerse lande as belangrik beskou word nie. Daar is ook vandag ‘n historiese kompetisie wat dalk eeue kan duur tussen Islam en die Weste, en niemand weet wat die uiteindelike resultaat sal wees nie. Die kompetisie is van kardinale belang in die Weste, met die gevolg dat veral Afrika nie meer as nuuswaardig of interessant in die Weste beskou word nie. Verder verskuif ekonomiese mag na die Ooste, en verander die internasionale magsbalans. Europa se sentrale rol in die wêreld is besig om af te neem, en kan tesame met 'n geïsoleerde Amerika in 'n post-olie tydvak daartoe lei dat die Weste heeltemal uit Afrika onttrek. Dit is veral die kontrasterende ekonomiese verskille tussen die Ooste en Afrika wat die Weste se blik op Afrika tans beïnvloed. Waarom slaag die Ooste, maar Afrika is skynbaar besig om te vergaan? Westerse media (en winkels) is vol van nuus en produkte vanuit die Ooste. Motors uit Korea, elektroniese produkte uit Sjina, dienslewering uit Indië, vakansies in Thailand, Japanese toeriste en produkte, om maar 'n paar verskynsels op te noem, is vandag volledig deel van 'n Westerse lewenservaring. Uit Afrika is daar ongelukkig egter net gerugte van oorlog en hongersnood. Daar is ook gerugte van onverantwoordelike bevolkingsgroei, en Westerlinge wonder soms waarom Afrikane so baie kinders kry. Dié vraag word omtrent altyd misverstaan. Westerlinge bevraagteken nie waarom Afrikane kinders kry nie, maar waarom hulle kinders kry vir wie hulle skynbaar nie kan sorg nie. Dis is ongewoon in Westerse gesinne om kinders te kry vir wie daar nie gesorg kan word nie. Die gevolg is kleiner gesinne, en in Westerse kultuur rus die plig om ‘n kind op te voed vierkantig op die skouers van die kind se ouers. Die onderliggende motief aan die vraag is dus waarom Afrikane kinders baar vir wie hulle self (indiwidueel) nie kan sorg nie. Kontrasteer die vraag nou met Westerse ouers se aanvaarding dat ouers primêr vir kinders verantwoordelik is, en die motief onderliggend aan “Why do those people have so many children?” word duidelik. Die vraag is nie rassisties nie, maar getuig eerder van ‘n kultuurverskil tussen die Weste en Afrika. Maar om terug te keer tot oorspronklike vraag: Waarom slaag die Ooste, maar Afrika is skynbaar besig om te vergaan? Om die vraag ‘n bietjie verder te ontleed kan ons twee lande, een ‘n Asiese staat, en die ander ‘n Afrikastaat, in geskiedkundige kontras teenoor mekaar plaas. As Asiese staat kan ons na Singapoer kyk, wat as ‘n Britse kolonie ‘n taamlike parallelle geskiedenis met sommige kolonies in Afrika het. Dit is ‘n eiland met geen natuurlike hulpbronne nie, en met inwoners wat op ‘n stadium nie baie welkom in hulle omgewing was nie. As Afrikastaat ontleed ons die Ivoorkus. Tot onlangs was dit een van die min Afrikastate wat kon aanspraak maak op “sukses”, en ek plaas “sukses” in aanhalingstekens omdat dit eintlik relatiewe sukses is – sukses relatief tot ander Afrikastate. Singapoer is ‘n multikulturele staat in die ware sin van die woord, met etniese Chinese, Maleise en Indiese inwoners asook ‘n groot aantal Europeërs en mense uit ander wêrelddele. Die bevolking bestaan uit ongeveer 4.5 miljoen mense waarvan ongeveer 75% Chinees is. Terwyl Chinese lank reeds in die area doenig was, begin die moderne verhaal van Singapoer in 1819, toe die Britte ‘n handelspos op ‘n eiland in die Singapoer seestraat gestig het. Singapoer bestaan uit net een eiland wat geleë is ongeveer 85 myl vanaf die ewenaar. Dit was ‘n tropiese moeras, maar sy ligging langs ‘n besige handelsroete was van strategiese belang. Die ekonomie was ten eerste gebaseer op die uitvoer van palmolie en rubber vanaf Maleisië. In 1867 skei die Britte Singapoer formeel van sy ander Asiese kolonies, en word Singapoer ‘n Kroonkolonie, saam met lande soos Australië, Natal en die Kaapkolonie, en Kanada. In die Tweede Wêreldoorlog word Singapoer deur Japan aangeval – nie van die see af nie, maar oor land. Die Japanese soldate het met fietse deur Maleisië getrek en die Britte, wat ‘n see aanval verwag het, verras. Die Japanese okkupasie was brutaal, en tienduisende inwoners van Singapoer is dood terwyl die ekonomie tot stilstand gedwing is. Met bevryding in 1945 was dit reeds duidelik dat Singapoer nie baie langer as ‘n kolonie sal voortbestaan nie, en in 1955 kry die land vir die eerste keer selfregering. In 1963 sluit Singapoer by Maleisië aan in ‘n kortstondige unie, maar die Maleisiërs kon ‘n oorwegend Chinese stad in hulle midde nie verdra nie (die gevolg van blatante rassisme) en Singapoer is oplaas uit Maleisië geskop op 9 Augustus 1965. Net een eiland, sonder grondstowwe, en ekonomies afhanklik van handel met Maleisië; seker die kleinste tuisland ooit geskep vir ‘n ongewenste minderheid. Apartheid in Suid-Afrika het Xhosas en ander etniese groepe ten minste baie meer beskaafd behandel.. Hierna het Singapoer ‘n moeilike tydvak betree waarin ‘n nasionale identiteit vir haar burgers geskep moes word. Singapoer moes ook ‘n ekomiese rede vind om vooruit te gaan. In die opsig het hulle voordeel getrek uit die strategiese ligging van Singapoereiland. Die eerste minister van Singapoer, Lee Kuan Yew, het Singapoer vir die daaropvolgende 31 jaar met ‘n ysterhand regeer. Sy regerende party was so oorweldig verteenwoordig in die parlement dat Singapoer feitlik ‘n eenpartystaat was. Drakoniese reëls is ingestel met heftige boetes en soms lyfstraf vir rommelstrooi, die versuim om ‘n toilet te spoel, ensovoorts. Die doodstraf is ingestel vir dwelmsmokkelary en selfs Westerse oortreders, soos toeriste, het nie gespaar bly nie. Singapoer was dus nie ‘n demokrasie in die Westerse sin van die woord nie, maar eerder ‘n baie meer outoritêre weergawe van ‘n demokrasie. Ten spyte, of dalk as gevolg van, die outokratiese regering, het Singapoer se ekonomie vinnig begin groei ná 1970. Vandag is Singapoer een van die juwele van Asië – ‘n ryk stad met wolkekrabbers en ryk en besige inwoners. Dit is skynbaar die enigste stadstaat wat in die VN sit, en invloed uitoefen ver bokant sy landomtrek. Eers in 1990 kry Singapoer ‘n tweede eerste minister, Goh Chok Ton. Die area wat vandag die Ivoorkus beslaan daarenteen, was ‘n onafhanklike staat so lank terug as die elfde eeu. Die Portugeese het die gebied besoek om te verken en handel te dryf, maar het dit nooit gekoloniseer nie. Eers in 1843 land ‘n paar Franse koloniste en word die Ivoorkus ‘n Franse protektoraat. In 1893 word die Ivoorkus ‘n volwaardige Franse kolonie, en in 1904 ‘n deel van die Franse Wes-Afrika. In 1946 word die Ivoorkus ‘n Franse Oorsese Area (soortgelyk aan Algerië, en ander lande) en met die dissolusie van Franse Wes Afrika in 1958 verkry die Ivoorkus outonomie as die Republiek van die Ivoorkus. Die leier van die dominante party, Felix Houphouët-Boigny word eerste minister in 1958, en lei die Ivoorkus tot onafhanklikheid in 1960. Houphouët-Boigny bevorder homself tot president en verander die Ivoorkus in ‘n eenpartystaat. Onder Houphouët-Boigny groei die ekonomie relatief tot ander Afrikastate, en teen 1990 word daar dikwels na die land as ‘n Afrika suksesverhaal verwys. Met die dood van Houphouët-Boigny in 1993 word hy opgevolg deur Bédié wat die volgende multiparty verkiesing in 1995 wen. Die weermag voer ‘n staatgreep uit in 1999 en die Ivoorkus word ‘n militêre diktatuur onder genl. Robert Guei. In ‘n verkiesing in 2000 word Laurent Gbagbo verkies tot president, maar Alassane Ouattara, oftewel ADO, ‘n leidende opposisie figuur, word verbied om aan die verkiesing deel te neem. ‘n Regering van Nasionale Eenheid word deur Gbagbo in 2002 gevorm en Guei sterf in ‘n staatgreep wat deur rebelle van die Mouvement Patriotique de Côte d’Ivoire (MPCI) uitgevoer word. Die staatgreep is nie suksesvol nie, maar die rebelle slaag daarin om ‘n deel van die Ivoorkus oor te neem. Intussen ontstaan ander rebellegroepe, onder andere die Mouvement Populaure Ivoirien du Grand Oeust (MPIGO) en Mouvement pour la Justice et la Paix (MJP), en die rebellie ontaard in ‘n burgeroorlog. In 2003 word Franse en Afrika Vredesmagte ontplooi en ‘n regering van nasionale rekonsiliasie word gevorm. Die bevolking van die Ivoorkus is ongeveer 17.5 miljoen wat verskeie etniese groepe insluit. Die grootste etniese groep is die Akan (42% van die bevolking) gevolg deur die Gur (18%). Daar is ook ongeveer 130,000 Lebanese en daar was tot onlangs ongeveer 20,000 Franse koloniste in die land. Die aankoms van Franse troepe met Operasie Licorne in die land in 2003 was goed bedoel – ‘n Franse politieke ontleder, Justin Vaisse, stel dit soos volg “France cannot afford – and the international community cannot afford – to let Ivory Coast, which was one of the pillars of stability in West Africa, fall apart”. Frankryk wou ook ten alle koste verhoed dat die Ivoorkus ‘n mislukte staat word, en was besorg oor die 20,000 Franse burgers in die land. Maar daar was ook kommer in Parys dat Frankryk in ‘n moeras van geweld en teëspoed verstrengel kon raak. Intussen word veral wit Franse deur Afrikane in die Ivoorkus aangeval. Westerse koerante vermy die storie, of skaal dit af in hulle bladsye, waarskynlik om die rassekomponent in die moorde te ontken en om beskuldigings van rassisme te vermy. Oosterse koerante skryf meer openlik oor die gebeure. In November 2004 berig The Manilla Times in die Filipyne dat “For more than 100 years, French families have made their home in this tropical country [The Ivory Coast], rich in coffee and cocoa. Its main city [Abidjan], with its towering skyscrapers, crisp croissants and fine wines, became known as the Paris of West Africa. Now an unparalleled and deadly showdown between France and its former prize colony has the majority of them fleeing wild looting and burning. For many on both sides of the crisis, it was a turning point that threatens to reshape France’s cozy relationship with its former African empire. “It is the end of a the decolonization process,” said one French longtime resident, an autoparts dealer who asked not to be named.” (The Manilla Times, 30 November, 2004) Die Manilla Times berig verder dat: “Antiforeigner crowds rampaged across the government-held south, sending more than 8000 of the the country’s 14,000 French residents fleeing in one of the largest evacuations of Westerners in post-independent Africa... A number of European women were raped, according to France.” Die Ivoorkus was die enigste Wes-Afrikaanse staat met ‘n stabiele Europese bevolking. Franse onderwysers, adviseurs, tegnici en ingeneurs, het na die Ivoorkus gevloei en gehelp om die Ivoorkus die grootste uitvoerder van kakao in die wêreld te maak. Vandag ervaar die Ivoorkus ekonomiese verarming. Die CIA-webwerf stel dit soos volg “Political turmoil damaged the economy in 2005, with fear among Ivorians spreading, foreign investment shriveling, French businesses and expats fleeing, travel within the country falling, and criminal elements that traffic in weapons and diamonds gaining ground.” Die Ivoorkus is tans net nog 'n mislukte Afrikastaat, dit ten spyte die groot markte vir haar produkte in Europa, en ‘n tradisie van handel met Frankryk. Vanuit die Westerse oogpunt is die verskil tussen Singapoer en die Ivoorkus onverklaarbaar. Twee lande, beide tropies, en een word ‘n wenland in die ware sin van die woord, terwyl die ander skynbaar glad nie werk nie. In Asië was Singapoer ‘n moerasagtige eiland gewees met ‘n Chinese weesbevolking wat in ‘n Britse kolonie omskep is. Dit was ‘n plek sonder grondstowwe of landboupotensiaal en het net gedien om tropiese produkte vanaf nabygeleë Maleisië na Europa uit te voer. Dit het in die 1960’s onafhanklik geword en het 'n infrastruktuur ge-erf, is deur ‘n eenpartystaatperiode met ‘n outokratiese leier, en het ontwikkel in ‘n suksesvolle onafhanklike en ryk staat. In Afrika was die Ivoorkus as tropiese gebied vol landboupotensiaal (koffie en kakao) en grondstowwe wat in ‘n stabiele en welvarende kolonie met goeie infrastruktuur deur die Franse omskep is. In die 1960’s word dit onafhanklik en word dit, soos Singapoer, ‘n eenpartystaat met ‘n outokratiese leier. Maar ekonomies faal die Ivoorkus, en dit ontaard in ‘n burgeroorlog tussen rebellebewegings wat ook veral teen (wit) Franse inwoners optree. ‘n Verdere vergelyking tussen die Ivoorkus en Singapoer wys dat die twee state uiteenlopende ontwikkelingspaaie gevolg het. As twee lande is die Ivoorkus en Singapoer vandag wêrelde van mekaar verwyder. Die lewensverwagting in Singapoer is 82 jaar en kindersterftesyfer is 2.29 kinders per 1000 lewende geboortes. In die Ivoorkus is die lewensverwagting 49 jaar en die kindersterftesyfer is ‘n skokkende 89.11 kinders per 1000 lewende geboortes. 92.5% van Singapoerese oor die ouderdom van 15 kan lees en skryf, in die Ivoorkus is dit net 50.9%. Die bruto nasionale produk per kapita in Singapoer is $29,900 terwyl dit net $1,500 (twintig keer laer) is in die Ivoorkus. Vergelykings soos die bostaande het die Weste sinies oor Afrika gemaak. “Waarom slaag die Ooste, en waarom slaag Afrika nie?”, word dikwels gewonder, en veral waarom slaag Afrika nie ten spyte van die biljoene dollars in ontwikkelings- en ander hulp wat die Weste oor die laaste dekades verskaf het nie. Waarom het Zimbabwe ondergegaan nadat Brittanje ingegryp het om ‘n stabiele regering onder Mugabe in te stel? Waarom het lande soos Mosamiek en Angola vergaan? Hoekom is Kenia en Tanzanië vandag so brandarm - armer en meer onstabiel as wat dié lande gedurende die koloniale tydperk was? Kolonialisme op sig self, kan nie die rede wees nie. Chinese in Singapoer was net soveel “gekoloniaseerd” as wat die Akan in die Ivoorkus was. Handel het in beide Singapoer en die Ivoorkus op koloniale terme plaasgevind, en op die koop toe is Singapoer gedurende die Tweede Wêreldoolog erg deur die Japanese verniel. Daar was al verskeie pogings om dié tergende vrae te beantwoord. Boeke deur ekonomiese en politieke onleders in die Weste bespiegel dikwels oor Afrika se universele mislukkings. Onder andere is daar Peter Schwab se boek “Africa – a continent self-destructs”, en “Negreogie” deur Stephen Smith. Peter Schwab skryf op bladsy 2 van sy boek dat: “By the late 1970s and into the 1980s and 1990s, much of the continent [Africa] had devolved into chaos. Little was left of the optimism that had permeated African leaders, African specialists, and western academics who were writing about and studying the continent. Although many intellectuals including myself attempted to hold onto some enthusiam, it really did seem apparent that Africa south of the Sahara had matriculated into a period in which pandemonium, war, predatory governments, disease, poverty, famine, and western neglect were strikingly in ascendence. As the world entered the new millenium, sub-saharan Africa had all but collapsed into anarchy and viciousness.” “Anarchy and viciousness” om Schwab weer aan te haal. Die ander kenmerk wat Westerse kommentators erg oor Afrika onstel is die gerugte van ongeëwenaarde wreedhede wat tydens misdaadpleging en oorlog plaasvind, en die algemene wetteloosheid wat regoor die kontinent geld, tot in die hedendaagse Suid-Afrika, wat voorheen ‘n redelike geordende samelewing was. Die volksmoord in Rwanda in 1994 het die Weste diep geskok, veral omdat hulle beskuldig is van 'n ongeërgde en siellose benadering tot die gebeure (waarskynlik omdat die slagoffers swart was). Verder merk Schwab op dat “The exuberance and innocence of the 1960s [are] gone. Violence and death have replaced the expectations of four decades ago.... Too many African countries exist in name only, and their appearance on maps is the only thing coherent about them.” Terwyl Afrika-leiers soos die President van Suid-Africa, Thabo Mbeki, dikwels kla oor die beeld wat die Westerse media oor Afrika versprei, let Schwab op dat “The Western media has overall presented a bleak yet ordinarily accurate view of the continent in the late twentieth and early twenty-first centuries.” Met ander woorde, Westerse kommentators is meestal eerlik as hulle oor Afrika skryf. Dit is duidelik in die Weste dat Afrika suid van die Sahara in ‘n destruktiewe siklus vasgevang is waarvan die einde nog steeds nie in sig is nie, ten spyte van Nepad, en die Afrika-unie se mooi gebare en ander tekens. Terwyl menseslagting, verarming, onrus en siektes Afrika verteer, is Afrika ook ekonomies onbenullig. Net een persent van die wêreld se Bruto Nasionale Produk kom uit Afrika, en net twee persent van wêreldhandel is met of in Afrika. Per kapita inkomste in Afrika is laer vandag as in 1960. Daaglikste roetine op die kontinent is oor die algemeen maar somber. Drinkwater is onveilig en skaars, meeste Afrikane leef sonder sanitasie, en VIGS is ‘n kontinentale katastrofe. Westerse ingryping in die vorm van hulp (op ‘n massiewe skaal) het skynbaar min verskil aan die situasie gemaak, en daar word in die Weste van “donor-fatigue” gepraat – ‘n sinisme dat daar geen salf aan Afrika te smeer is nie. Dit is duidelik dat omtrent geen Westerse kommentator meer optimisties oor Afrika skryf nie, ten spyte van die historiese las van “wit skuld”. Die relatiewe ondergang van Europa, die opkomende Islamitiese wêreld en Ooste gaan die posisie van Afrika in die wêreld beduidend verander. Voormalige Europese koloniale moonthede en die VSA het ‘n lang tradisie van beheptheid met Afrika. Die beheptheid is deels toe te skryf aan die koloniale geskiedenis en deels aan “wit skuld” gebaseer op “koloniale uitbuiting” (as daar so iets was) en “Civil Rights” op die Amerikaanse tema. Asiese lande deel nie die uitgangspunt nie, en nóg “wit skuld” nóg ‘n koloniale geskiedenis sal Asiese moonthede oortuig dat Afrika spesiale regte of aansprake het. Met ander woorde, die feit dat die Weste se aandag nou op die Moeslemwêreld gevestig is, en verder ook deur ekonomiese sukses in China en ander Oosterse moonthede getrek word, maak van Afrika ‘n toenemend onbenullige wêrelddeel. Westerse hulp, wat eens so mildelik oor Afrika uitgestort is kan dalk heeltemal opdroog as Westerse ekonomië weens olietekorte of weens kompetisie met Oosterse lande nie meer floreer nie. Opkomende Oosterse state mag na Afrika kyk as ‘n bron vir noodsaaklike grondstowwe, en sal waarskynlik stappe neem om hulle ekonomiese belange daar te beskerm, soos wat Europa en die VSA dit gedoen het, en vandag nog doen sover dit olie aangaan in die Midde-Ooste. |