boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Zuma: 'n politieke geleentheid?

"Ná die Zuma-verhoor is die opvolgstryd besig om 'n onmiskenbaar etniese aard aan te neem. Die illusie dat swart politiek in Suid-Afrika anders sou wees as in die res van Afrika is gelukkig besig om te wyk en van nou af aan kan ons uitsien na die "normalisering" van ons politiek, waar etnisiteit toenemend op die voorgrond gaan tree."

_____________________________________________________________________

Dan Roodt

Ek moet sê dat ek nie die besonderhede van Jacob Zuma se verkragtingsaak gevolg het nie. Wel was dit al lankal duidelik dat die klaagster se getuienis en geskiedenis van vals verkragtingsklagtes moontlik op Zuma se ontslag sou uitloop.

Dat die saak egter verskuiwings in die Suid-Afrikaanse politiek teweeggebring het, is gewis. Anderhalf dekade lank al word ons vertel dat daar iets soos 'n "reënboognasie" bestaan en dat etnisiteit as 'n politieke faktor verdwyn het.

Veral swart rubriekskrywers het egter opgemerk dat Zuma sy Zoeloeskap van meet af aan in die hof beklemtoon en slegs Zoeloe gepraat het. In 'n Engelsmal Suid-Afrika was dit sekerlik ongewoon. Een so 'n swart rubriekskrywer het selfs beweer dat Zuma se "landelike Zoeloe" hom "bang maak" omdat dit die taalkundige vorm sou wees waarin Inkatha-vegters van die vroeë negentigerjare hulself uitgedruk het.

Daar is vir seker 'n opvolgstryd aan die gang rondom Mbeki se aftrede as president in 2009. Enkele dae gelede het Mbeki hom uitgelaat ten gunste van 'n "vroulike president" vir Suid-Afrika, wat 'n bedekte manier was om te sê dat sy "kroonprinses" Phumzile Mlambo-Ngcuka hom behoort op te volg.

Die huidige adjunk-presidente is genoegsaam middelmatig dat Mbeki van die kantlyn af sal kan regeer, bes moontlik vanuit die voorsitterstoel van die Afrika-unie, 'n organisasie wat vanuit Suid-Afrika befonds sal word. In elk geval is mag in Afrika gesetel in die persoon soos 'n Mandela of 'n Mugabe, en nie in die instelling nie.

Ná die Zuma-verhoor is die opvolgstryd besig om 'n onmiskenbaar etniese aard aan te neem. Die illusie dat swart politiek in Suid-Afrika anders sou wees as in die res van Afrika is gelukkig besig om te wyk en van nou af aan kan ons uitsien na die "normalisering" van ons politiek, waar etnisiteit toenemend op die voorgrond gaan tree.

Zuma se massasteun onder Zoeloes moet ook gesien word as 'n newe-effek van Inkatha se verswakking. Buthelezi is bejaard en het geen duidelike opvolger nie. Daarbenewens het Buthelezi groot foute begaan. Onder andere het die Inkatha-leier reeds erken dat hy tydens die sewentigerjare volle onafhanklikheid vir Kwazoeloe moes aanvaar het; dit sou die hele gang van die SA geskiedenis beïnvloed het en die huidige ANC- en Xhosa-hegemonie verhoed het.

Die magstryd in aanloop tot 2007 wanneer die ANC blykbaar 'n nuwe leier by sy kongres gaan verkies, kan net verhewig en die huidige etniese spanning tussen Zoeloe en Xhosa verhoog. Zuma staan steeds tereg op 'n klag van korrupsie, maar volgens die Mail & Guardian sou hy reeds R12 miljoen van kolonel Khaddafi ontvang het om sy regskostes en boetes te dek. Dus staan die Zoeloeleier 'n goeie kans om op 31 Julie taamlik ongedeerd van die korrupsiesaak af te kom.

In elk geval praat ons hier van korrupsie in die Westerse sin en het Zuma in die oë van sy volgelinge weinig gefouteer.

Waarskynlik gaan daar intense teenkanting teen 'n Zuma-presidentskap wees. Groot Besigheid is gemaklik met 'n Xhosa-oorheersde ANC-regering wat met swart bemagtigingstransaksies afgekoop kan word. 'n Populistiese Zuma met sterk etniese steun onder Zoeloes is, by wyse van spreke, 'n perd van 'n ander kleur.

Soos ek al soveel kere in my rubrieke geargumenteer het, word die politiek deur die geskiedenis bepaal en verander dit baie stadig. Die gedagte dat daar in 1994 'n "historiese breuk" in ons land plaasgevind het, is loutere onsin. Nou reeds is die ware kragte van die geskiedenis besig om hulself voelbaar te maak.

Die skynbare wapenstilstand tussen Xhosa en Zoeloe van die afgelope tien jaar is grotendeels deur die Afrikaner se politieke abdikasie veroorsaak. Of liewer, nie die Afrikaner se politieke abdikasie nie, maar die irrasionele oorgawe van sy politieke elite in die vorm van die Nasionale Party wat onder die indruk van liberale individualisme gekom het en daarom gedink het dat taal, ras, en afkoms uit ons politiek gaan verdwyn.

Terloops is hierdie "naïewe liberalisme" - want wat anders moet mens dit noem? - ook 'n kenmerk van die stedelike Engelse elite wat steeds in 'n groot mate die privaat sektor beheer. Verder word dit natuurlik vanuit die buiteland en veral uit Brittanje as 'n geneesal vir veelvolkige of multietniese state aangeblaas.

Dié Engelse Weltanschauung het egter binne en buite die Hooggeregshofgebou in Johannesburg gesneuwel waar 'n strydlustige Zuma alles in sy vermoë gedoen het om 'n verkragtingsaak in 'n geleentheid vir nasionalistiese mobilisering te omskep. 'n Mens huiwer om te dink wat sou gebeur het as Zuma skuldig bevind was, aangesien sy volgelinge kwalik so 'n uitspraak sou aanvaar het.

Hoe dit ook al sy, die vraag behoort nou te wees: hoe kan die Afrikaner politieke munt uit die ANC-magstryd en etniese verdelings slaan? Aan die een kant is Afrikaners nog steeds te oorbluf deur die revolusie van 1994 om hoegenaamd polities betrokke te wees; onder meer lei dit tot sulke twakkerige uisprake soos dié van Leopold Scholtz wat meen dat Afrikaners "hul selfrespek moet herwin". Aan die ander kant is ons steeds meer polities verdeeld as die ANC self en veg ons onderling totdat die bloed loop.

Soos ek ook reeds geskryf het, het die Afrikaner behoefte aan bondgenote, sowel in dié land as oorsee. Twee dinge behoort nou te gebeur: 'n breë Afrikanerbegewing of -front behoort tot stand te kom, al is dit op 'n taamlik losse basis. Daarna behoort ons ten minste met Zuma, Buthelezi en ander prominente Zoeloes gesprek te voer met die doel om die huidige magskonstellasie van Groot Besigheid, Xhosas en Indiërs te ondermyn.

Ons moenie die rol van linkse blankes in die ANC se oorwinning onderskat nie. Soos ons weet is die Freedom Charter deur blanke kommuniste geskryf. Daarteenoor kan die Afrikaner se legendariese organisasievermoë wat ons in die liga van Duitsers of Hollanders plaas, enige swart groep met getalle aan sy kant aan die mag plaas.

Zuma stel blykbaar belang in Afrikaners. Toe hy nog adjunk-president was, wou hy 'n spesiale navorsingsgroep oor ons in sy kantoor vestig. Ons behoort heeltemal openlik oor ons eise en aspirasies te wees. In ruil vir ons vryheid sou ons bereid wees om 'n ander groep of groepe in die land te help om die Groot Xhosas uit die saal te lig - selfs al neem ons nie self aan die verkiesing deel nie.

Ons moet met die Zoeloes begin praat net soos wat die Engelse, Joodse (en enkele Afrikaner-) kommuniste die Xhosas beïnvloed het. Hier is 'n moontlike transaksie tussen Zoeloes en Afrikaners wat op die duur vir ons vryheid mag beteken en die ANC finaal kan breek.

Die politiek, soos Bismarck gesê het, is die kuns van die moontlike. As ons net genoeg verbeelding aan die dag lê, mag ons vind dat die huidige dwingelandy nie onoorkomelik is nie.

Sowel plaaslik as internasionaal is die omstandighede besig om in ons guns te swaai. Gaan ons egter betyds wakker skrik?