| boekwinkel |
|
|
|
Moorde: Dr. Knoffel (en Koos
Kombuis) speel met vuur
"Koos Kombuis se nihilisme word egter deur 'n groot deel van die Afrikaanse media gedeel wat in geweld slegs goedkoop sensasie en hoër sirkulasiesyfers sien. Gewoonlik word die gruweldade wat ons mense tref sonder enige kontekstualisering op die voorblad aangebied asof sulke dade deur 'n natuurramp veroorsaak is." _____________________________________________________________________ Terwyl Suid-Afrika oor die afgelope weke geteister word deur 'n nuwe vlaag moorde en aanvalle op boere en stedelinge, het die ANC-minister van Gesondheid, Manto Thshabalala-Msimang, aangekondig dat "Die Euwels van Apartheid" voortaan as skoolvak ingestel gaan word. Terselfdertyd het Afrikaner-nihilisme 'n nuwe hoogtepunt bereik toe die sanger Koos Kombuis op sy internetwoernaal die spot gedryf het met die kleredrag van boere wat op Brits 'n protesvergadering ná die moord op mnr. De Ville Roos bygewoon het. Hier naby waar ek woon is 'n gesin op die N14-snelweg tussen Krugersdorp en Centurion deur "gewapende mans" aangeval toe hul voertuig onklaar geraak het. Die man is doodgeskiet en die vrou in haar skouer gewond. Hierdie soort insident, tesame met die wreedaardige, barbaarse plaasmoorde wat nou byna daagliks gepleeg word, toon dat Suid-Afrika reeds in 'n vorm van etniese konflik verval het. Asof die tierende geweld wat die Suid-Afrikaanse bevolking - maar dan veral blanke Afrikaners - teister nie genoeg is nie, wil dr. Knoffel veral die swart jeug indoktrineer met anti-blanke haat in die vorm van "Die euwels van apartheid". Regoor die wêreld het navorsing bewys dat negatiewe propaganda oor 'n bepaalde etniese of rassegroep spontaan tot aanvalle op daardie groep ly. 'n Woordvoerder van die Onderwysdepartement het intussen vir dr. Knoffel weerspreek deur te sê dat daar geen skoolvak soos "Die Euwels van Apartheid" oorweeg word nie, maar ons weet dat vele ander skoolvakke soos geskiedenis reeds deur die regime misbruik word om openlike propaganda teen blankes, maar veral die Afrikaner, te doseer. Ook die SAUK, tans bekend as SABC, het 'n handige instrument geword om etniese vyandigheid teen die Afrikaner aan te blaas. Myns insiens bestaan daar 'n regstreekse verband tussen die propagandaveldtog van die ANC wat deur die skole en die nasionale uitsaaier gevoer word en die huidige plaasmoorde of geweldsmisdaad. Daarom is dit soveel te meer ongelooflik dat Koos Kombuis, 'n rubriekskrywer van Rapport, die spot kan dryf met die kleredrag van boere wat op 25 April vanjaar 'n vergadering te Brits ná die moord op mnr. De Ville Roos in die omgewing bygewoon het. Kombuis se ligsinnige nihilisme aangaande die moord op mnr. Roos getuig sekerlik van swak smaak. Platvloersheid en gebrek aan menslikheid is eienskappe wat Koos Kombuis, die vyftigjarige tiener, met trots vertoon. Kennelik is hy reeds so afgestomp dat hy ewe maklik oor Auschwitz of die Boere-konsentrasiekampe van 1900 ook sou kon lag. Maar dat Kombuis hom insgelyks aanbied as 'n arbiter van manlike kleresmaak is 'n element waaroor mens binne hierdie tragiese situasie ietwat wrang kan glimlag. Al is dit net omdat Kombuis self een van die swaks geklede mense in die land is met 'n styl iewers tussen dié van 'n ou hippie en 'n bergie. Soos Etienne Leroux in Sewe dae by die Silbersteins geskryf het, "die boere is die aristokrasie van die land". Self het ek die vergadering op 25 April bygewoon en selfs pamflette daar uitgedeel. Onder een van die inheemse bome langs die Laerskool Brits se rugbyveld het vele van die boere my kom groet en het ons hier en daar taamlik intellektuele gesprekke kon voer. Hierteenoor het Koos Kombuis en sy boepmaag 'n groter kans om die loopplank by die volgende modevertoning in Parys of Milaan te haal as wat sy angsvallige poging om hom as 'n gekultiveerde intellektueel voor te doen, gaan slaag. Indien hy hoegenaamd enigiets van Camus verstaan het, sou hy hom nie aan sulke ploertige gedrag skuldig gemaak het nie. Hy herinner my aan die karakter Salamano in Die Buitestaander wat sy eie hond mishandel en eers hartseer oor hom voel as hy dood is. Die dag as al ons boere vermoor is, sal Koos Kombuis moontlik tot inkeer kom, maar dan sal dit te laat wees. Koos Kombuis se nihilisme word egter deur 'n groot deel van die Afrikaanse media gedeel wat in geweld slegs goedkoop sensasie en hoër sirkulasiesyfers sien. Gewoonlik word die gruweldade wat ons mense tref sonder enige kontekstualisering op die voorblad aangebied asof sulke dade deur 'n natuurramp veroorsaak is. Die vaagheid van "gewapende mans", "verdagtes", ens., verklap niks oor die onderliggende etniese motief van sulke gewapende aanvalle nie. In die VSA word sulke misdade waar 'n rassemotief ter sprake is as "haatmisdaad" geklassifiseer. Met behulp van die onderwysstelsel en die staatsuitsaaier is die ANC letterlik besig om haat uit te saai, op 'n baie meer gesofistikeerde en sluwe manier as wat Radio-Télévision des Milles Collines in Rwanda dit in 1994 tydens die Rwandese volkslagting gedoen het. Myns insiens moet die etniese konflik in ons land nou aan die groot klok gehang word. Buitelandse ambassades, asook die Verenigde Nasies, moet in kennis gestel word dat etniese haatgevoelens teen die Afrikaner aangehits word. Afrikaanse organisasies moet dringend bymekaar kom om onder spesifieke VN-konvensies wat die SA regering onderteken het 'n klag in Genève aanhangig te maak. Soos ons die VN onder Kofi Annan ken, sal daar waarskynlik niks gebeur nie. (Ook in Rwanda het die VN niks gedoen om die Hutu-opmars teen die Tutsi's te stuit nie.) Maar die blote feit dat so 'n klag deur die totale Afrikanervolk teen die regiem gelê is, sal aan ons vryheidstryd vorentoe legitimiteit verleen en simpatie by potensiële buitelandse bondgenote wek. Veral moet die ANC uitgedaag word om sy verregaande bewerings oor apartheid soos dat Afrikaners swartes voor die voet sou uitgewis het of skoolopleiding van hulle weerhou het, met feite te staaf. Die basis van alle propaganda is oordrywing; dit onderlê ook dr. Knoffel en ander ministers se demonisering van die Afrikaner wat bedoel is om die huidige moordbendes tot groter hoogtes aan te spoor. Insiggewend is ook dat nóg Mbeki, nóg enige ANC-hooggeplaaste hom al ooit teen plaasmoorde en aanvalle op stedelike burgerlikes uitgespreek het. Kultuurminister Pallo Jordan het by die Nasionale Konferensie teen Rassisme in November 2000 te kenne gegee dat plaasmoorde en die gruweldade wat daarmee saamgaan "te begrype" is, waarmee hy dus implisiet sulke aanvalle goedgekeur het. Ons Afrikaners is nog steeds veels te beskroomd en goedgemanierd as dit by uitsprake oor die weeklikse en daaglikse aanvalle op ons mense kom. Geen ander volk op aarde sou kalm en bedaard so iets aanskou het nie. Laat ons nie langer met gevoude hande staan nie. Dis tyd om te sê: genoeg is genoeg! |