boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Soweto tot vervelens toe

"Die tragiese gebeure by Soweto toe 'n konfrontasie tussen oproerige swart jeugdiges en onervare, onopgeleide polisiemanne plaasgevind het, word dertig jaar later steeds skaamteloos uitgebuit om te sorg dat die haat jeens Afrikaans en die Afrikaner in stand gehou word."

_____________________________________________________________________

Dan Roodt

Lees ook Dan Roodt se woernaal van 18 Junie 2006: Herinneringe aan Soweto

Gedurende dié hele week het ek die artikels en kommentaar oor Soweto raakgesien, maar min lus gekry om self daaroor te skryf.

Ek moet sê dat die Johannesburgse dagblad Beeld weereens met die louere wegstap as dit kom by die kruiperigste hoofartikel van die week, van die jaar en moontlik van die eeu. Volgens Beeld was dit "'n uitbarsting teen jare se verdrukking en die minagting van menseregte. Dit was 'n draaipunt in ons geskiedenis." Daarom behoort die Afrikaanse jeug ook dié anti-Afrikaanse dag te vier en te "erken". Die ANC se eie propandiste sou niks beter kon skryf nie.

Enersyds was Soweto bloot nog 'n irrasionele onlusmakery, andersyds was dit die aanvang van die propaganda-oorlog wat die hulpelose Nasionale Party omver sou werp en vernietig. Wat die afgelope paar dae duidelik gemaak het, is dat daardie propagandaveldtog nog nie ten einde geloop het nie, maar sal aanhou totdat die finale oorwinning bereik is.

Hoe lyk die finale oorwinning? Ons hoef maar net oorkant ons grens na Zimbabwe te kyk om uit te vind waarna "Soweto-denke" uiteindelik neig. "Soweto" is sinoniem met blanke boosheid en swart onskuld. Dit konstrueer die swartman as hulpelose slagoffer wat hom heroïes teen blanke wreedheid verset.

Die werklikheid is natuurlik heel anders. Die destydse Vorster-regering was hopeloos houtgerus as dit by opleiding in skarebeheer en onlusbestryding gekom het. Toe die eerste brandstigting en massageweld in Soweto uitbreek, stuur hulle onervare jong polisiemanne met skerppuntammunisie in die swart woonbuurt in. Die gevolge was voorspelbaar.

Tot en met Soweto het die ANC en SAKP van 'n werkersopstand in Suid-Afrika gedroom. Aanvanklik het hul ideoloë ook die onluste deur skoolleerlinge (waarvan baie egter in hul twintigerjare was, gegewe die hoë ouderdom waarop swartes op daardie stadium nog skoolgegaan het) as die stuiptrekkinge van 'n "kleinburgery" verwerp. Maar soos wat die BBC en die Britse pers daaraan aandag begin gee het, het die ANC besef dat die Vorsterregering onwetend vir hom 'n reddingsboei gewerp het waar rondom hy 'n nuwe propaganda-aanslag kon bou.

Sedert 1994 was daar honderde onluste in die land. Treine is verbrand, motors is met klippe gegooi. By Katlehong aan die Wesrand het 'n maandelange opstand teen die inlywing van dié woonbuurt by die Noordwes-provinsie gesmeul. Selfs die historiese stasie van Pretoria is deur woedende swart pendelaars afgebrand, kwansuis omdat die trein laat was. Al hierdie onluste en openbare geweld kon in die regte hande gebruik gewees het om te toon dat die ANC-regering 'n "verdrukker" is wat verdien om in die see gejaag te word.

Sedert 1994 is 2000 Afrikanerboere vermoor, meer mense as die sowat 900 slagoffers van openbare geweldpleging wat daar tydens 40 jaar van apartheid in die land omgekom het. Min mense sien hierdie sterftes egter as tekenend van 'n regeringskrisis in die land. Waarom? Die verskil is dat daar geen gefokusde propaganda- en ideologiese veldtog gevoer word om plaasmoorde, misdaad en ander geweld om politieke doeleindes uit te buit nie.

Op die keper beskou, verdien die ANC en SAKP om te regeer. Suiwer polities gesproke, het dié beweging oor jare sy doelwit fanaties nagestreef en geen leuen of truuk ontsien om daarby uit te kom nie. Die tragiese gebeure by Soweto toe 'n konfrontasie tussen oproerige swart jeugdiges en onervare, onopgeleide polisiemanne plaasgevind het, word dertig jaar later steeds skaamteloos uitgebuit om te sorg dat die haat jeens Afrikaans en die Afrikaner in stand gehou word.

Een rede waarom die ANC tans nodig het om anti-Afrikaanse gevoelens te stook, is omdat hy die argument rondom taal so ver verloor het. As voorstander van die koloniale taal, Engels, gebruik hy die staatsmag om daardie taal af te dwing, maar slaag nie daarin om legitimiteit aan sy taalbeleid te verleen nie. Die meeste Afrikaners is teen Engelseentaligheid gekant; selfs koerante in die Naspersstal, wat gewoonlik so gedienstig aan die huidige bewind is, skryf daarteen.

Daarom word die Soweto-spook weereens uit die dode opgewek, met 'n nuwe standbeeld van Hector Pietersen, asook die histrioniese manewales waarop ons die afgelope week getrakteer is.

Daar mag egter 'n meer sinistere motief agter die georkestreerde opwelling van Soweto-sentiment skuil en dit is dat die ANC, soortgelyk aan Mugabe, voel dat hy nooit volkome in beheer sal wees solank as wat daar blankes en veral Afrikaners in die land teenwoordig is nie. Die onlangse uitlatings van Minister Nqakula dat mense wat nie van misdaad en geweld hou nie, welkom is om die land te verlaat, toon dat die ANC heeltemal tevrede is met aanvalle op motoriste langs die paaie, plaasmoorde, verkragtings en dergelike meer.

Deur ou griewe vars te hou, skep die ANC 'n klimaat waarbinne die huidige geweld wat oor 'n onmiskenbare rasse- en etniese element beskik, kan gedy. Die Soweto-vieringe mag dus 'n bedekte manier wees om die gepeupel tot verdere rassegeweld op die blanke middelklas op te sweep.

Die afgelope week is die joernalis Megan Herselman by die Rivonia-afrit van die N1 in Johannesburg koelbloedig tereggestel. Sy mag 'n gepaste simbool van die "nuwe Soweto-bewussyn", dertig jaar later, wees.