boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Geestelike snuisterye: die opkoms van Afrosentrisme

_____________________________________________________________________

Toespraak gelewer by 'n Praag-dinee op 30 Junie 2006

Dan Roodt

Geestelike snuisterye: die opkoms van Afrosentrisme Toespraak gelewer by 'n Praag-dinee op 30 Junie 2006

Die revolusie van 1994 is, in die klassieke formulering van Marx, Engels en Mao Tsetoeng, nie net 'n politieke revolusie nie, maar ook 'n sosiale en kulturele revolusie.

Gewoonlik kyk en nie veel televisie nie, maar oor die afgelope week of twee volg ek die Sokkerwêreldbeker so op 'n afstand. Nie omdat ek soseer in sokker geïnteresseerd is nie, maar omdat ek glo dat sport mens ook heelwat van die politiek kan leer. Die samestelling en sukses van sokkerspanne vertel mens heelwat oor elke land wat deelneem. Die Franse span byvoorbeeld het soveel swart spelers dat dit net sowel 'n Afrikaspan kon gewees het, 'n Afrosentriese span dus. Hierteenoor beskik Swede en Oekraïne oor Eurosentriese spanne. 'n Mens sou heerlik oor die redes hiervoor kon spekuleer. Onder andere poog Frankryk om sy rasseprobleme te besweer deur bewustelik meer swartes in sportspanne en in die vermaaklikheidswêreld aan te stel.

Maar my laataand sokkerkykery het my ook heelwat oor Suid-Afrika aan die verstand gebring, veral dan die stand van ons reklamebedryf. 'n Mens sou vrywel kon sê dat die meeste televisie-advertensies Afrosentries is: ABSA se tipiese kliënt is 'n jong swart man wat lag-lag deur die lewe gaan, met 'n nuwe motor en 'n bank wat agter hom staan en hom as't ware al die pad ondersteun.

In vele van die advertensies vind ons 'n jukstaposisie tussen 'n Afrikawêreld van kaalvoetseuntjies wat miskien 'n draadkarretjie of ou motorband iewers in die veld stoot, teenoor 'n luukse verbruikersbestaan op die Westerse manier. As agtergrondmusiek word daar kwêla- of kwaito-musiek gespeel. Die onderliggende boodskap van sulke advertensies is egter een van 'n speel-speel sosiale mobiliteit. Vandag stoot ek nog my draadkarretjie in die veld en voer 'n paar passies op die maat van kwêla uit, maar môre is ek 'n ryk sakeman, 'n gesiene akademikus, 'n nasionale of internasionale leier. Die helde en heldinne van dié advertensies dans of toitoi as't ware hulself ryk.

Afrosentrisme, soos dit in TV-reklame uitgebeeld word, verteenwoordig dus die utopiese droom van swart sukses wat moeiteloos en byna vanselfsprekend behaal word, asof die geluksgodin self ook tot regstellende aksie oorrreed is.

Omstreeks 1998 het die NAACP (National Association for the Advancement of Coloured Peoples), die magtige swart drukgroep in die VSA, die groot Hollywood-filmateljees oorgehaal om ten minste 25% van alle akteursposte aan sogenaamde "minderhede" toe te ken. In die praktyk wil dit voorkom asof die mark nog steeds bepaal dat die meeste helde van Hollywoodfilms blankes sal wees, maar kennelik word daar by wyse van kompensasie bepaal dat die meeste karakters wat gesagsfigure voorstel (die polisiehoof, die regter, die burgemeester, die wetenskaplike, ens.), swartes sal wees. Hollywood se vorm van Afrosentrisme is dus nie heeltemal verskillend van Suid-Afrikaanse "transformasie" nie, want alle hoëstatusposisies word deur swartes gevul.

Ongeveer tien jaar gelede was ek by die Elephant Hills-hotel in Zimbabwe, naby die Victoria-waterval. Die argitektuur het my getref as 'n Westerse persoon se idee van hoe 'n Afrikahotel behoort te lyk, met oordrewe geometriese patrone, maskers of standbeelde oral. Ook in Nairobi het ek iets soortgelyks by die Intercontinental gesien. Dis snuisterykultuur, dit wat deur die Engelse woord "curio" benoem word. As mens na die meeste hotelle en toerisme-aantreklikhede in Suid-Afrika kyk, dan kom jy insgelyks onder die indruk dat ons ná 350 jaar geen inheemse kultuur kon produseer nie, behalwe die snuisterye wat in hul duisende dwarsoor die kontinent vir besoekende toeriste uitgestal word.

Ook die openbare argitektuur wat oor die afgelope tien jaar in Suid-Afrika geld, is van dieselfde tipe. Die meeste argitektuurdosente is gaande oor die Grondwethofgebou in Hillbrow, Johannesburg. Maar ook daardie gebou, wat terloops deur 'n blanke vroue-argitek ontwerp is, vertoon dieselfde pseudo-Afrika-kwaliteit. Afrosentriese argitektuur verhef die snuistery tot 'n stuk grootse kitsch van beton, glas en staal, maar in sy kern bly dit 'n verskoning vir 'n gebou, 'n poging om die niet met foefies te vul.

Tot dusver het ek bloot verwys na die sigbare manifestasies van Afrosentrisme in advertensies, geboue en hotelle. Die meeste mense is bewus hiervan en beskou dit as skadelose toevoegings tot die lang lys van lelike dinge rondom ons. Maar die gemiddelde persoon is waarskynlik onbewus van 'n ander aspek van Afrosentrisme, wat ek die geestelike sy sou noem.

Daar bestaan naamlik 'n wêreldwye beweging met twee pole, een in Suid-Afrika en een in die VSA wat ten doel het, so lyk dit my, om 'n soort omgekeerde kolonialisme uit te voer, waardeur Afrika die Weste intellektueel en wetenskaplik wil verower. Dit klink miskien vergesog, maar op 'n manier het hierdie proses hom reeds gedeeltelik in ons land voltrek waar Afrosentriese letterkunde, filosofie en teologie reeds in 'n groot mate die Westerse vorme daarvan vedring het.

In 2001 het ek mnr. Smuts Ngonyama van die ANC in die verbygaande by die sogenaamde "Wêreldkonferensie teen rassisme" onmoet. Ek kan nie mooi die strekking van ons gesprek onthou nie, maar een van die eerste dinge wat hy my gevra het, ter stawing van sy argument, was: "Het u dan nie Black Athena gelees nie?"

Op daardie stadium het ek al vaagweg van Martin Bernal se boek gehoor, maar dit nog nie self onder oë gehad nie. Aan die begin van vandeesmaand het Bernal 'n besoek aan Wits gebring en 'n rubriekskrywer van Business Day, Xolela Mangcu, het twee artikels daaraan gewy. Om te sê dat Black Athena een van die mees invloedryke boeke in ons land verteenwoordig, stel dit waarskynlik baie sagkens.

Die subtitel van Bernal se boek is "die Afro-Asiatiese wortels van klassieke beskawing". (Herhaal) Ons het al almal die storie gehoor, en wat ek nie wil betwis nie, dat Afrika die "wieg van die mens" in biologiese sin sou wees omdat die meeste aapmens-fossiele op Afrikabodem ontdek is, iets wat gelei het tot die sogenaamde "uit Afrika"-teorie van menslike biologiese evolusie. Op 'n manier, en sonder om na die biologiese proses te verwys, neem Bernal die "uit-Afrika"-teorie verder deur te beweer dat die beskawing insgelyks sy onstaan in Afrika gehad het.

Maar natuurlik sou geen uit-Afrika-teorie oor beskawing volledig wees sonder 'n verwysing na rassisme nie. Bernal voer aan dat die hoofrede waarom Afrika se bydrae tot die klassieke beskawing van Griekeland en Rome tot dusver misken is, op rassisme berus. Die hele begrip van 'n klassieke Westerse beskawing noem hy, met toespeling op die Nazi's se voorliefde vir dié term, die "Ariese beskawingsmodel".

Volgens Bernal het die klassieke beskawing in Afrika, spesifiek Egipte onstaan, waarna sleutelbegrippe deur die Grieke oorgeneem en verder ooswaarts versprei is. Hy bestee dan ook 'n hele hoofstuk aan leenwoorde uit oud-Egipties wat in Grieks opgeneem sou gewees het. Maar die Egiptiese beskawing self sou teruggevoer kon word na dié van Nubia wat deur swartes bewoon sou gewees het; vandaar dus die "swart" van die "swart Athene".

In die lig van Bernal se teorieë word sommige onlangse uitsprake deur president Thabo Mbeki duideliker. Onder andere het hy oor onwettige emigrasie vanuit Afrika na Europa gesê dat "Europeërs poog om Afrikane uit hul lande te hou, dieselfde mense wat aan hulle die beskawing gebring het".

Teenoor die kultusstatus wat Bernal onder Afro-Amerikaners, asook swart politici en akademici hier te lande, behaal het, staan die kritiek wat Amerikaanse klassici teen Afrosentriese opvattings van geskiedenis ingebring het. Sekerlik die bekendste teenstander van Bernal is Mary Lefkowitz, skryfster van Not out of Africa - how Afrocentrism became an excuse to teach myth as history (1996). Sy was ook mede-redaktrise met Rogers van Black Athena Revisited (1996), 'n bloemlesing van kritiese reaksies op Black Athena.

Bernal se Afrosentriese denke is hoogs spekulatief, maar nie belaglik nie. Hierteenoor bestaan daar in die VSA - en waarskynlik in Suid-Afrika - 'n soort tweede orde-Afrosentrisme wat die klassieke geskiedenis in rasseterme probeer inkleur deur stellings soos: "Cleopatra en Sokrates was swart" of "blankes het Afrikane se kultuur en beskawing van hulle gesteel". Volgens Lefkowitz,

"Weet nie almal by Amerikaanse universiteite wat ekstreme Afrosentriste in hul lesingsale doen nie. Of, selfs al weet hulle, verkies hulle om geen vrae te stel nie." (Not out of Africa, bl. 1)

Sy gee 'n voorbeeld van 'n sekere dr. ben-Jochannan wat tydens 'n openbare lesing (die Martin Luther King-gedenklesing aan Wellesley-kollege) beweer het dat Aristoteles saam met Alexander na Egipte gegaan het en daar sy filosofie uit die biblioteek van Alexandrië gesteel het. Lefkowitz het tydens vraetyd aan hom uitgewys dat Aristoteles nooit Egipte toe gegaan het nie en dat die ontstaansdatum van die biblioteek nie heeltemal bekend is nie, maar dat dit ten minste ná die stigting van die stad opgerig moes gewees het toe beide Aristoteles en Alexander reeds dood was.

Nodeloos om te sê, is Lefkowitz hierna van rassisme beskuldig en dat sy "deur blanke historici gebreinspoel is". Ons sien dus dat Afrosentrisme by uitstek 'n ideologiese siening op die geskiedenis afforseer, ongeag historiese feite.

Een van Samuel Huntington se bekendste slagspreuke wat ek ook in The Scourge of the ANC aangehaal het, is "Kultuur volg mag, nie andersom nie." Afrosentrisme het in Suid-Afrika en in 'n mindere mate in die VSA 'n belangrike en selfs heersende ideologie geword omdat dit deel uitmaak van die maghebber se kultuur en selfdefinisie.

Ons staan maar nog aan die begin van verafrikanisering in Suid-Afrika. Ons skoolkurrikula toon reeds Afrosentriese invloed. In die geesteswetenskappe is die Afrosentriese paradigmaverskuiwing in volle swang. Selfs in die natuurwetenskappe is daar sprake dat Afrosentriese denke besig is om universiteitsdepartemente binne te dring. Dan is daar nog die hele kwessie rondom tradisionele genesers en hul moontlike vergoeding deur mediese fondse.

As Westerlinge weet ons hoe moeilik dit was om aan bygeloof en irrasionele of onlogiese denke te ontkom. Dit het meer as tweeduisend jaar geduur voordat ons die heelal regtig kon begin verstaan. Arthur Koestler het in sy oorsig oor Westerse denke en wetenskap verwys na "die slaapwandelaars". Ons voorouers het soos slaapwandelaars voortgestrompel en hier en daar 'n wetenskaplike ontdekking gemaak. Die Westerse wetenskap het die moderne wêreld moontlik gemaak. Daarsonder sou ons nie vandag selfone, rekenaars en satelliete wat om die aarde wentel gehad het nie.

Omdat Afrosentrisme van meet af aan politiek en wetenskap vermeng, doen dit eintlik afstand van proefondervindelikheid. Die feit of die waarheid moet wyk voor regstelling en die streel van die etniese of kulturele ego.

Die vraag is: kan 'n mens 'n kultuur, 'n wetenskap en 'n samelewing bou op 'n ideologie wat, soortgelyk aan die "proletariese wetenskap" van Lisenko in die destydse Sowjetunie, die werklikheid en empiriese feite aan 'n utopiese doelwit ondergeskik maak?

Uiteindelik moet ons onsself dus afvra of die versameling van geestelike snuisterye tot vooruitgang in ons kennis kan lei, aldan nie.