boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Verraaiers is erger as ANC

_____________________________________________________________________

Dan Roodt

Agteros kom ook in die kraal. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd lyk dit asof die redakteur van Rapport, Tim du Plessis, besig is om die skrif aan die muur te sien sover dit die ANC-bewind se antagonisme jeens Afrikaners betref. Verlede Sondag het hy dit bekla dat die regime besig is om Afrikaners te “treiter” met naamsveranderings, vyandigheid jeens Afrikaanse kunstefeeste en dergelike meer.

Verteenwoordig Du Plessis se uitspraak ‘n waterskeiding in sy denke en dalk ook dié van sy base by Naspers? Miskien. Dog pleks dat hy ‘n oplossing aan die hand doen oor hoe ons onsself kan begin organiseer om van ANC-verdrukking ontslae te raak, neem sy skrywe by nadere ondersoek ‘n bekende vorm aan wat Nasionale Party- en Nuwe Nasionale Partydenke sedert 1990 gekenmerk het: ‘n smeekbede aan die ANC.

Trouens, op ‘n manier speel hy op die ramkiekie van die “regse gevaar”. Indien die ANC nie “pasop nie… gaan hulle nog die Afrikaners verenig”. En volgens Du Plessis sou dit ‘n ramp wees: “As die Afrikaners maksimaal verenig is, doen hulle die verkeerde goed. As hulle verdeel is, tree hulle reg op, want een faksie handel dan gewoonlik in die breë landsbelang.”

Ter stawing van sy absurde stelling wat hy self erken nogal “simplisties” is, noem die Rapport-redakteur “die eerste twee dekades ná 1948… toe ons die grootste foute in ons geskiedenis begaan het”.

Ek wil vra: wat van Bloedrivier en Majuba, toe enersyds Andries Pretorius en andersyds Paul Kruger ‘n erg verdeelde volk kon verenig om hul vyande doeltreffend te verslaan? Bloedrivier het uiteindelik tot die totstandkoming van die Boererepublieke en vryheid weg van die Britse juk gelei. Net so het Majuba, gevolg deur die ontdekking van goud in 1886, gelei tot die opkoms van die modernste staat in Afrika. Die tydperk 1881-1899 bly een van die bloeitydperke in die Afrikanergeskiedenis. ‘n Mens hoef net Jaap Steyn se biografie oor M.E.R. te lees om onder die indruk te kom van hoe vryheid en onafhanklikheid moes gesmaak het.

M.E.R. wat ‘n Kapenaar was, skryf in die die 1890’s oor die Z.A.R.: “In plaas van die geskiedenis van die eie volk as ‘n belaglike flenterjie in ‘n Engelse skoolboek teë te kom, is dit as eervolle besitting bestudeer…En al jou vriende was mense wat net soos jy behae gehad het in die selfstandigheid en al sy uitinge, selfs ook die strikke en linte, die pluime en uniforms, die optogte en die staatskoetse, waarin die Presidente by groot geleenthede vervoer moes word… Ai, dit was dae! Dit was heerlik om toe nog jonk te wees, en in die Republieke!”

Juis die verdeeldheid tydens die Tweede Vryheidsoorlog toe hensoppery en verraad uitgebreek het, het tot ellende vir die Afrikaner gelei want dit het ons meer as 50 jaar geneem om aan die armoede en agtergesteldheid wat die Britse oorwinning veroorsaak het, te ontkom.

Du Plessis se historiese parallelle is dus vals. Die verkiesingsoorwinning van 1948 was in baie opsigte goed vir die Afrikaner en goed vir Suid-Afrika. Soos Hermann Giliomee al aangedui het, sou ‘n vroeë kapitulasie aan die ANC en SAKP deur ‘n meer liberale en Brits-gesinde regering – hoewel Smuts self tot sy dood toe teen swart meerderheidsregering gekant was – ons land in ‘n ware oehoeroe gedompel het. Met nasionalisering en moontlike verdrywing van die totale blanke bevolking.

Afrikanerverdeeldheid sedert die sestigerjare en veral na Verwoerd se dood het vir ons niks goeds gebring nie. Du Plessis self erken dat ons deesdae “onderdane eerder as landsburgers” geword het. Ons taal en kultuur het in tien jaar meer agteruit gegaan as tydens enige ander tydperk in die geskiedenis. Waarskynlik ‘n miljoen Afrikaners woon reeds in ballingskap oorsee. Kan dit alles as die positiewe vrugte van verdeeldheid gereken word?

Waar Du Plessis egter ‘n groot fout begaan, is om emigrasie as die enigste opsie vir die Afrikaner voor te hou. Volgens hom sou dit “futiel (wees) om (teen) 'n regering met soveel politieke mag en getalle” in opstand te kom, verwysende na die ANC-bewind.

Myns insiens beskik die ANC oor geen werklike mag nie. Studies van die Instituut vir Sekerheidstudies het al getoon dat ons weermag - of wat daarvan oorgebly het - nie ‘n binnelandse opstand sou kon baasraak nie.

Lord Milner het tydens die Tweede Vryheidsoorlog erken dat as dit nie vir Afrikaner-verraaiers en veral die Kapenaars was wat die Britse bewind aanvaar het nie, sou Engeland waarskynlik die aftog moes blaas. Net so sien ek nie vandag slim en bedrewe Xhosa-verdrukkers nie, maar ‘n nuwe geslag verraaiers en meelopers onder die Afrikaners wat meewerk om hul eie volk te vernietig of te laat vernietig.

Die werklike probleem lê dus nie by die ANC nie, maar by ons eie mense. Soos ek in The Scourge of the ANC geargumenteer het, het FW de Klerk deur sy optrede en politieke foute nuwe lewe in ‘n anachronistiese bende has been-kommuniste ingeblaas wat dit moontlik gemaak het vir ‘n klompie korrupte Xhosas en Indiërs om ons vandag te oorheers.

Nou die dag hoor ek van ‘n senior Afrikaner-advokaat in Pretoria wat ‘n dreigement namens ‘n korrupte ANC-politikus aan ‘n Afrikanervrou aflewer waarin sy met geweld en betogings gedreig word as sy nie haar onderneming aan die politikus sou afstaan nie. Praat van die nuwe hanskakies!

Indien drie miljoen Afrikaners hier en oorsee môre begin saamstaan teen die ANC met al ons kundigheid, organisasievermoë en militêre kennis, gee ek die regime ses maande voordat hy sal begin onderhandel om darem nog die Transkei te mag regeer.

Soos Van Wyk Louw gesê het, is “opstand net so noodsaaklik in 'n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat 'n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat 'n hele geslag sonder protes sal verbygaan."

Al wat tussen ons en daardie bevrydende opstand staan, is die meelopers en verraaiers. Soos daardie Pretoriase advokaat wat sy nuwe meesters en hul beginsels dien.