| boekwinkel |
|
|
|
Adriaan Vlok: hofnar van die
revolusie
_____________________________________________________________________ Tree in gesprek met Dan Roodt op die geselsforum. Oud-minister Adriaan Vlok het onlangs die voete van Eerwaarde Frank Chikane, die radikale teoloog wat tans as direkteur-generaal in die ANC-presidensie dien, gaan was. Hierdie histrioniese gebaar van vernedering deur Vlok het glo vir Mbeki "diep ontroer". Toe ek daarvan lees, het dit my ook "ontroer" en my intense weersin in die vorige geslag NP-Broederbond leiers met die moontlike uitsondering van PW Botha en enkele ander, bevestig. Nie net het FW de Klerk, Roelf Meyer en die res ons uitverkoop nie, maar hulle hou aan om ons tans sáám met die ANC te verdruk. Plaasmoorde, verengelsing, regstellende aksie, dit alles kan op hulle rekening geskryf word. Ek weet nie of Vlok nog al sy varkies het nie. So 'n belaglike daad van selfontkenning en -verlaging as wat Vlok uitgevoer het, kan egter net in die verrotte verstand van die NP-Broederbond-verraaiers ontkiem het. Ons Afrikaners is trotse mense. Ons wou nie voor die Britte buig nie en tot vandag toe buig ons ook nie voor die Xhosa-Indiërkliek wat tans die land regeer nie. Persoonlik sal ek eerder onder marteling sterf as om voor Mbeki of Chikane te kniel. Ek dink ek praat namens elke Afrikaner as ek sê: "Ek is nie Mbeki of Chikane se slaaf nie en sal dit nooit wees nie." So pas hierdie naweek was ek by die Vegkopfeesterrein waar Andries Hendrik Potgieter en sy 34 man hulself op 16 Oktober 1836 met sukses teen 6 000 Matabeles verdedig het. Agterna het ek in 'n paar ou geskiedenisboeke weer daaroor gaan oplees. Maar die frase wat by my bly vassteek het, kom uit 'n brief wat Potgieter enkele jare later op 28 Augustus 1841 aan die goewerneur van Natal geskryf het: "Ek is geen Brit nie en hoop om dit nooit te word nie." Die onwrikbaarheid van Potgieter se woorde het vandag op 28 Augustus 2006 oor die 165 jaar wat ons skei weereens tot my gespreek soos 'n bliksemstraal wat die Hoëveldse vlakte verlig. Of dis ten minste net so onsterflik soos Van Melle se karakter Bart Nel wat tydens die 1914-rebellie sy grond, sy vrou, sy kinders en alles wat hy besit het, moes afstaan, maar aan die einde nog kon sê: "My kry hulle nooit. Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy." Deel van die aanslag op die Afrikaner is om deur herhaalde klein vernederings en propaganda sy trots en selfrespek af te breek sodat hy naderhand 'n willose werktuig in die hande van die regime kan word. Vir Adriaan Vlok het ek die grootste minagting. Maar sy veragtelike daad maak deel uit van 'n groter patroon wat saamhang met die revolusionêre tydvak en gees waarin ons land verkeer. In November 2000 tydens die sogenaamde Nasionale Konferensie teen Rassisme in Sandton het ek sterk daarvan bewus geraak. Tydens enige revolusie heers daar 'n massapsigose wat veroorsaak dat die revolusionêre soos Mao se Rooi Wagte die leier blindelings volg. Maar elke mens, veral dié wat daarvan verdink mag word dat hulle nie die heersende ideologie onderskryf nie, soos byvoorbeeld die koelakke of die burgery, word gedwing om vroeër of later sy lojaliteit en ideologiese suiwerheid jeens die nuwe orde te betuig. Indien dit vrywillig geskied, is dit egter soveel te beter. Onderliggend aan goedkoop openbare betuigings van lojaliteit aan die revolusie soos wat Vlok so pas uitgevoer het, is vrees en die Stockholm-sindroom. Tydens die Rassismekonferensie van 2000 het ek in niemand anders as die polities korrekte skryfster Antjie Krog vasgeloop nie. Sy het my van haar angs oor die revolusionêre swart middelklas en hul anti-blanke gevoelens vertel. Na afloop van die konferensie het sy en Carl Niehaus egter die "Tuiste vir almal"-veldtog aangekondig waardeur blankes hulself soortgelyk aan Adriaan Vlok voor swartes moes verlaag en om vergiffenis vir die sondes van apartheid moes smeek. Gegewe die risiko van volskaalse revolusie met openbare geweld en selfs massamoorde in Suid-Afrika - en wat elke dag groter word soos wat wet en orde verval - maak insidente soos dié van Vlok my baie bekommerd. Laat my verduidelik. Soos alle revolusionêre politieke of godsdienstige bewegings, glo die ANC dat hy die absolute waarheid in pag het. Sy politiek en veral sy weergawe van die geskiedenis wat blankes in die rol van Satan skets, is absoluut en onbetwisbaar. Met die uitsondering van Braam Fischer, Beyers Naudé en enkele ander wat regstreeks teen hulle eie mense gekies het en ook bereid was om geweld teen hul eie vlees en bloed te pleeg, is alle blankes en Afrikaners dus per definisie boos. Die enigste manier waarop hulle hulself van boosheid kan reinig, is deur histrioniese rituele soos dié van Adriaan Vlok waardeur lojaliteit en onderdanigheid aan die revolusie betuig word. Terwyl Vlok en sy mede-Afrikanerslange voor die ANC seil, sal alles goed gaan. Maar indien dit die norm word, sal dit op een of ander manier van elkeen van ons verwag word. In dieselfde uitgawe van Rapport waarin daar oor Vlok se wandaad berig is, lees ek 'n verbasende stuk van Heindrich Wyngaard waarin hy blanke jongmense oproep om hul toekomstige erfporsies aan swart en bruin te skenk: "Gaan vra jou ouers of daar vir jou 'n erfporsie gebêre word en of jy dit nie maar solank kan kry nie, maar moenie soos die verlore seun in die Bybel dit op verderflike dinge gaan uitmors nie: belê dit in jou eie toekoms deur ander te help bemagtig." Is dit na dese vir enigeen nog onduidelik dat Suid-Afrika in die greep van 'n klassieke revolusie verkeer en dat die proses nog lank nie voltrek is nie? Enersyds is die vorige besittersklas - en sy kinders - nog nie genoegsaam materieel en geestelik afgetakel nie; andersyds is die revolusionêre klas nog lank nie tevrede dat die prys wat ons betaal het, hoog genoeg is nie - die intense geweld wat in Suid-Afrika botvier ten spyt. Adriaan Vlok is 'n nar. Maar die aspek van sy ritueel wat moontlik tot sommige Afrikaners in hul naïwiteit mag spreek, is die dweperige Christelikheid daarvan. By Vegkop en Bloedrivier het die Afrikaner se geloof hom versterk om teen 'n oormag te kan baklei. Vandag word aspekte van die Christelike geloof soos nederigheid en mededeelsaamheid egter aangewend om ons volk op die duur te vernietig en te verslaaf. Dat hier 'n fyn berekende sielkundige aanslag teen ons aan die gang is, is gewis. Dit maak die SA revolusie egter nie minder gewelddadig nie. Vlok se sirkusagtige manewales en vrome Bybelversies moet ons nie verhoed om die bloedige geweld van die revolusie wat toenemend teen ons gemonster word, mis te kyk nie. Dade soos dié deur Adriaan Vlok voed die revolusionêre roofdier. Dit maak hom selfvoldaan en selfversekerd. Soos De Tocqueville gesê het, verskaf dit die vleis en spiere vir sy geraamte. En as hy vet genoeg gevoer is, bars hy uit sy hok los om sy kinders te verteer. Tree in gesprek met Dan Roodt op die geselsforum. |