boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

                

 

Verwoerd: slegs federalisme kan vrede bring

_____________________________________________________________________

Dan Roodt

Tree in gesprek met Dan Roodt op die geselsforum.

Vandag is dit presies veertig jaar gelede dat die destydse Eerste Minister, Hendrik Frensch Verwoerd in 'n sluipmoord om die lewe gebring is.

Terwyl die land destyds op 6 September 1966 in algehele rou gedompel is, het die revolusie van 1994 ook die herskrywing van die geskiedenis beteken sodat Tsafendas vandag in sommige kringe as 'n held beskou word en Verwoerd verguis word.

Die Johannesburgse dagblad Beeld maak Verwoerd af as "een van van apartheid se halsstarrigste politieke stuurmanne". Ook die SAUK het al meermale kommentaar gelewer wat Tsafendas se messteke as "'n goeie daad" ophemel en dit as die "begin van bevryding" tipeer. Die Nederlandse romansier Henk van Woerden het Verwoerd as haatlik en Tsafendas as 'n miskende held uitgebeeld; hierin het hy entoesiastiese ondersteuning van Antjie Krog ontvang wat sy boek Een mond vol glas in Afrikaans vertaal het.

Afgesien van J.C. Smuts, was Verwoerd egter waarskynlik die skerpsinnigste politieke leier wat Suid-Afrika nog gehad het. Sy welslae sowel binnelands as buitelands spreek boekdele. Nie net die destydse blanke kiesers, sowel Engels as Afrikaans, in groot getalle vir hom gestem nie, maar hy het ook gesorg dat die Wêreldhofsaak oor die destydse Suidwes-Afrika in Suid-Afrika se guns beklink word.

Om Verwoerd as sinoniem met segregasie en sogenaamde "klein apartheid" te sien, is nie juis nie. Veral in die Britse kolonies, maar ook in die VSA, is segregasie wyd toegepas. As lid van die destydse Statebond het Suid-Afrika dieselfde beleid gehad en dit min of meer op dieselfde stadium as die suidelike state in Amerika tydens die sewentigerjare afgeskaf.

Hedendaagse propaganda maak uit asof Suid-Afrika die enigste land in die geskiedenis was wat nog ooit aparte ingange of strande vir swartes gehad het. Daarby kan mens voeg: wat is die ANC-regering se "naturelleklub", regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging anders as 'n vorm van segregasie en apartheid?

Anders as Verwoerd s'n wat deur afsonderlike ontwikkeling 'n federasie of konfederasie van outonome volkere in dié wêrelddeel tot stand wou bring, is ANC-beleid afgestem op die naakte onderdrukking en uitwissing van volkere en veral die Afrikaner.

Verwoerd kan sekerlik gekritiseer word. Die grootste enkele kritiek wat teen hom ingebring kan word, is dat hy nêrens in sy plan 'n tuisland of volkstaat vir die Afrikaner voorsien het nie. In die sestigerjare kon Suid-Afrika deur sinvolle partisie in twee of meer state opgedeel gewees het sodat die Afrikaner daardie permanente tuiste kon verkry waarna hy reeds meer as honderd jaar streef, sedert hy nie meer bereid was om die Britse juk in die Kaap en later in Natal te aanvaar nie.

Aan die ander kant kon Verwoerd ook nie voorsien dat sy volk deur so 'n proses van innerlike verrotting gerysmier sou word dat hul leiers in 1992 onvoorwaardelik aan die revolusionêre van die ANC en SAKP sou oorgee nie. Waarskynlik het hy daarop gereken dat toekomstige leiers steeds die menigte opsies tot hul beskikking sou uitoefen. Een van sy nalatenskappe was immers 'n versterkte weermag waarmee die Afrikaner sy vryheid en soewereiniteit sou kon verdedig.

Gedane sake het geen keer. Verwoerd draai vandag in sy graf om te sien hoe die Afrikaner 'n vreemdeling in sy eie land geword het, hoe die oorlogspropaganda wat destyds klandestien vanuit Radio Freedom uit Dar es Salaam na die land uitgesaai is, vandag vrylik oor die senders van die SAUK versprei word. Terwyl die ANC oënskynlik in 1994 vrede gesluit het, het die revolusionêre Afrosentriese beweging nog glad nie van sy uiteindelike doelwit afgesien nie: om die Afrikaanse kultuur, tesame met die Westerse beskawing, in dié land met wortel en tak uit te roei.

Die etniese geweld wat foutiewelik in die media as "misdaad" beskryf word, word geensins deur die staat beveg of selfs teengestaan nie. Geen regeringswoordvoerder het hom al teen plaasmoorde of aanvalle op stedelinge by snelwegafritte uitgespreek nie. Indien die ANC nie openlik teen die Afrikaner oorlog maak soos die "patriotiese milisie" van 'n Liberië, 'n Sierra Leone of 'n Kongo nie, voer hy ten minste 'n koue oorlog teen die Afrikaner waardeur ons op die duur vernietig moet word.

Die absurde eenheidstaat wat in 1994 op Suid-Afrika afgedwing is, is besig om sy krake te wys deur toenemende etniese konflik, rassehaat, kultuurkonflik en die vervreemding van rasseminderhede. Of Suid-Afrika op die duur 'n volskaalse burgeroorlog gaan vermy, is 'n ope vraag.

Een van Verwoerd se nalatenskappe was egter die federale visie wat hy vir die land en vir die streek gekoester het en wat die land op 'n ander weg as Afrika suid van die Sahara sou plaas. Die meeste state in Afrika neig tot burgeroorlog omdat 'n eenvoudige eenheidstaat op die model van Brittanje of Frankryk nie hul veelvolkige samestelling kan hanteer nie. Selfs dr. Barney Pityana, een van die ANC se ideologiese kommissaars, het al toegegee dat die meeste oorloë in Afrika om die reg tot selfbeskikking gaan.

Ook Smuts, die ander briljante politikus wat Suid-Afrika in die twingtigste eeu opgelewer het, wou sien dat daar 'n konfederasie van state in ons streek tot stand kom waarby die vorige Britse protektorate ingesluit sou wees. Hierdeur sou die voortbestaan van die Westerse beskawing hier te lande verseker sou word; Brittanje het egter geweier om aan sy versoeke gehoor te gee en agterna het die protektorate onafhanklikheid verkry.

Daar bestaan meer Afrikaners in Suid-Afrika as Sotho's of Swazi's. Nietemin beskik laasgenoemde oor volkstate waarin hulle vryheid geniet. Hierteenoor ervaar die Afrikaner 'n nuwe tydvak van onreg waardeur hy soos 'n tweedeklasburger behandel word, sy taal geheel en al misken word en daar ook op grond van ras teen hom gediskrimineer word.

Zimbabwe, die ander eenheidstaat wat onder Britse druk tot stand gekom het, het skouspelagtig misluk. Miljoene van sy inwoners woon vandag in Suid-Afrika as onwettige immigrante. Die chaos van Zimbabwe voed etniese konflik in Suid-Afrika sodat geweld besig is om hand oor hand toe te neem.

Onder Verwoerd het Suid-Afrika, soos die vyandige opposisiekoerant The Rand Daily Mail dit kort voor sy dood gestel het, 'n "oorvloed van voorspoed" geniet. Dit was nie toevallig nie. Daardie voorspoed het gespruit uit konserwatiewe regering, tesame met 'n federale visie vir Suider-Afrika.

Intussen is Verwoerdianisme verruil vir radikalisme, sentralisme, rassetransformasie en geweld. Dit maak nie saak hoeveel keer Verwoerd se naam deur Beeld of ander ondersteuners van die verraderlike oorgawepolitiek van die afgelope dekade deur die modder gesleep word nie. Aan die geskiedenis kan nie verander word nie, al word dit as fiksie herskryf.

Dit is sekerlik romanties om AK-47 in die hand verwoesting te saai, daar waar Verwoerd en sy volgelinge eers 'n land wou bou. Ongelukkig kan die huidige revolusionêre bestel nie hou nie en moet dit een of ander tyd in duie stort, hetsy weens die ongebreidelde geweld, hetsy omdat te veel burgers uit Afrikalande oor ons onbewaakte grense gestroom het.

Veel meer geweld is al in die naam van "een, groot Suid-Afrika" gepleeg as in die naam van apartheid. Dit was so in 1899 en dit is so in 2006.

Slegs federalisme en 'n herlewing van Verwoerd se visie kan 'n vrede bring wat kan duur.

Tree in gesprek met Dan Roodt op die geselsforum.