Afrikaner-legitimisme en die ANC-mondstuk Beeld

______________________________________________________

   Dan Roodt

 

In hierdie kombi word brandewyn en Coca-Cola gedrink.

“Ons hulde aan ons bekwame bestuurder,” sê suster Fiskaal onselfsugtig.

Die woord “hulde” is nie onbekend aan die amptenare nie.

- Etienne Leroux, Magersfontein, o Magersfontein!

 

Indien enigiemand nog getwyfel het waar die Johannesburgse dagblad Beeld se partypolitieke simpatieë lê, moes hy net vandeesweek die uitroepe van Hulde! Hulde! ná die dood van die ANC-leier, Walter Sisulu in voorbladfoto’s, hoofartikels en selfs die spotprent - dié keer ‘n ereprent - aangehoor het.  Selfs die destydse Transvaler of die Vaderland kon nie groter eerbetoon aan Verwoerd bewys het nadat hy vermoor is as dit wat in Beeld se blaaie te siene was nie.

Soos by die groep “staatsamptenare en hoogwaardigheidsbekleërs van die verskeie provinsiale administrasies” in Etienne Leroux se Magersfontein hierbo, mag brandewyn en Coke ‘n rol gespeel het, maar vermoedelik doen harder dwelms die rondte in Beeld se kombi.  Een so ‘n ideologiese dwelm is die ANC se internetblad, ANC Today. Wat jy gister in Engels op ANC Today gelees het, kan jy vandag in Afrikaans op Beeld se voorblad lees, iets wat letterlik gebeur het, insgelyks dié week toe Jan-Jan Joubert met groot fanfare berig het dat Mbeki van mening is dat Mugabe net die verkeerde makro-ekonomiese beleid volg.

In die blaaie van Beeld word die mees absurde uitsprake van ANC-ministers, soos byvoorbeeld dié van Manto Tshabalala-Msimang, “neutraal” en “objektief” aangebied, terwyl Afrikaanse taalstryders gereeld as irrasionele maniakke uitgebeeld word. Om jou eie taal te wil praat en jou grondwetlike regte gerespekteer te sien, is ‘n simptoom van geestesongesteldheid, terwyl die slaafse aanbidding van die ANC se oud-bomplanters en voorstanders van die gewapende stryd beskou word as die toonbeeld van rasionaliteit en goeie burgerskap.

Beeld se vyandigheid teenoor opposisiepartye kom telkens na vore in die rubriek “Lood” waar die opposisie afgekraak word as ‘n lastige belemmering vir die uitoefening van die ANC se legitieme meerderheidsmag. Trouens, dit is juis hierdie Afrikaner-legitimisme wat onder die vorige bedeling gelei het tot die menseregtevergrype van ‘n Eugene de Kock. “Legitimisme” is die slaafse navolging van die huidige bewind, maak nie saak wie of wat nie. Die Afrikaner-legitimiste by Beeld het beweeg van ‘n blinkogige bewondering vir die ou Nasionale Party van P.W. Botha na ‘n ewe sieklike gekruip by die ANC, sonder om ‘n paradepas te mis, soos Breyten Breytenbach dit gestel het.

Die gevaar van Beeld se ophemeling van diegene soos Sisulu, Slovo, Heleen Pastoors en ander wat in die verlede stedelike terreur en politieke geweld gepredik het, is dat slegs geweldenaars as legitieme politieke akteurs in Suid-Afrika gesien mag word, hulle wat hul opponente met brutale mag kon uitroei, soos wat die ANC alle opposisie in swart geledere geëlimineer het tydens die vroeë negentigerjare.

In daardie opsig voed ‘n koerant soos Beeld die desperate frustrasie by Afrikaners wat uiteindelik lei tot die soort optrede waarvoor die Boeremag onlangs berug geword het, want enige nie-ANCër moet homself uitgesluit voel uit die stelsel as hy Beeld sou lees. Hy sou ook onder die indruk kom dat die geskiedenis altyd positief oordeel oor diegene wat hul politieke doelwitte met geweld bereik, en dat lede van die demokratiese opposisie ‘n klomp lastige en impotente kantlynkeffers verteenwoordig.

Die oorgrote meerderheid van Beeld se politieke rubriekskrywers en kommentators is onbeskaamde sikofante van die ANC. Hul gebrek aan enige kritiese sintuig of afstandelike ontleding van ons situasie maak hul bydraes eintlik onleesbaar want dit bestaan uit ‘n opeenstapeling van geykte clichés oor “nasiebou”, “armoedeverligting” en “rassisme”, alles begrippe wat net so van die regerende party se internetblaaie afgetrek word.

Dit is in die aard van legitimistiese denke dat dit nie tot vernuwing of oorspronklikheid in staat is nie. Dit onderhou eerder ‘n toestand van kognitiewe dissonansie soos wat Oos-Europeërs tot onlangs toe ervaar het waar amptelike optimisme oor die stelsel ingedruis het teen die burger se daaglikse ervaring van verval en verbruikerstekorte.

Hermann Giliomee het onlangs die term “grondwetters” vir grondwetoptimiste in Suid-Afrika gemunt. Beeld is by uitstek die grondwetter se koerant waarin die voortreflikhede van die grondwet aan die leser afgesmeer word met dieselfde fanatiese geesdrif as dit waarmee die ANC self aangehang word. Die grondwetter se denke is boonop, soos Marcel Proust gesê het, “so plat soos die sypaadjie waarop mense loop.”

Die enigste ruimte in Beeld waar daar enige sprake van ‘n diversiteit van menings is, is die briewerubriek. Dit is trouens die grootste rede waarom die meeste mense die koerant koop, om op hoogte te bly van hoe hul mede-Afrikaners dink.

Verder is dit asof die legitimistiese Afrikaners van Beeld ‘n sielkundige oorlog teen hul eie mense voer. Nog voor dit amptelik bekragtig was, het die koerant begin om die nuwe plekname in die Noord-Transvaal te gebruik. Die uitgawe van die koerant wat in Pretoria versprei word, staan ewe politiek korrek bekend as “Tshwane-Beeld”, so asof Pretoria opgehou het om te bestaan.

Die redaksie doen ook hul bes om die woord “Afrikaner” te stigmatiseer, en mense met so ‘n identiteit voor te stel as kranksinnige regses.  In vele rubrieke word die klem gelê op Afrikanerskuld vir apartheid – ‘n beleid wat Beeld self ondersteun het – en die verwronge voorstellings van die Waarheidskommissie word aangebied as ‘n gegewe waarmee die leser hom moet versoen. Afrikaners moet “heropgevoed” word, weliswaar nie in kampe soos in voormalige kommunistiese lande nie, maar in hul huise en op kantoor.

Soos dikwels die geval is by propaganda, is die mees diaboliese aspek daarvan nie geleë in dit wat gesê word nie, maar in dit wat ongesê gelaat word. Die agteruitgang en verengelsing van ons opvoedingstelsel, hetsy die skole, hetsy die universiteite, die korrupsie, misdaad en geweld, diskriminasie en verdrywing van jong Afrikaners uit die land, hoewel dit soms aan bod kom in sensasionele berigte wat fokus op die menslike lyding van verkragtes of vermoordes, word nooit herlei na regeringsbeleid nie.

As Beeld 'n mondstuk vir die ANC wil wees, is dit sy goeie reg, maar dan moet hy hom nie aanbied as 'n onafhanklike koerant nie.