Wat van 'n Afrikaanse rugbyspan?
______________________________________________________
Dan Roodt
Geagte mnr. Rian Oberholzer, ek eet ook boerewors. En biltong, en beskuit, en bobotie. Maar ek kyk lankal nie meer rugby nie. Vandat die nasionale span so Engels geword het soos
Yorkshire pudding of fish and chips, hulle van die veld af net Engels praat, kan dit my nie skeel of die "Springbucks" wen of verloor nie.
In Italië het dieselfde span hom 'n tyd gelede van Die Stem gedistansieer toe die Italianers per ongeluk die Nkosi-gedeelte weggelaat het uit ons dubbeldoor-volkslied. Langenhoven stink dus, soos boerewors en Afrikaans. Nick Mallett het by die Dainfern-gholfklub na Afrikaners as "Dutchmen" verwys toe hy nog Springbokafrigter was.
Oberholzer het nie net vir Pieter van Zyl as 'n "boorish, boerewors-eating, brandy-drinking" persoon getipeer nie, maar sommer al die Afrikaanse ondersteuners van rugby. Uit lesersbriewe aan koerante betrek Afrikaners dit duidelik op hulleself. Die Engelse woord
boor drup van stedelike snobisme teen mense met 'n landelike kultuur, soos Afrikaners of Hollanders. Volgens die Shorter Oxford Dictionary is dit afgelei van "boer", wat beteken: 'n plaasjapie; 'n fieta; 'n onbeholpe of onverfynde persoon; 'n onbeskofte, sleggemanierde, buffelagtige persoon.
Gedagtig aan die pynlike politieke korrektheid van die rugbymense, is dit 'n wonder dat iemand dit nog nie onder hul aandag gebring het dat die Springbok "uit die apartheidsera" afkomstig is nie. In die gevleuelde woorde van Ngconde Balfour, is dit miskien die grootste "apartheidsdinosourus" van almal!
Duisende anti-apartheidsbetogers in Engeland, Nieu-Seeland en elders wat nie ons land op die węreldkaart sou kon kry nie, het almal een frase geken, en dit was: "Boks, go home."
Vandag speel dieselfde mense heerlik rugby en krieket teen die span van Zimbabwe, byvoorbeeld, want in weerwil van sy menseregteskendings, is ou Bob Mugabe mos nie
boorish nie. Hy dra duur pakke. Hy praat Engels.
Die krieketspan heet geruime tyd al die Proteas. Hulle en die rugbyspan word geborg deur SA Brouerye, die eerste onderneming wat net ná 1994 Afrikaans van sy produkte afgehaal het.
Danksy Oberholzer het die prentjie nou vir ons baie duidelik geword. So 'n ruk gelede sę 'n medetaalstryder vir my: "Winnie het 'n sokkerspan gehad. Ons benodig 'n rugbyspan."
Ek stem saam. Waarom kan die Walliesers, die Skotte, die Iere en selfs die Nieu-Seelandse Maori's hul eie rugbyspanne hę, en nie die Afrikaners nie?
Ons het 'n taal, 'n vlag, 'n volkslied en 'n letterkunde, maar geen eie rugbyspan nie. Nie dat ons soos die Nelson Mandela-sokkerspan kindermoord wil gaan pleeg nie, allermins. Ons wil net rugby speel sonder politiek en kwotas en 'n minister van sport wat in die keurder se nek afblaas elke keer as hy die span saamstel.
Rugby is volksbesit, sę hulle. Nou kom ons bewaarheid dié spreuk en kry 'n eie Afrikanerspan. Ons sal tevrede wees om die Springbokembleem weer terug te neem, terwyl Oberholzer en Balfour 'n naam vind wat Aussie- of Engelse joernaliste gemaklik kan spel. Indien hulle vasklou aan dié apartheidsimbool, is daar nog 'n paar bokspesies in Suid-Afrika wat ons van huissportdae af ken. "Gemsbokke" is ewe seer onvertaalbaar Afrikaans, en behoort 'n nasionale Afrikaanse rugbyspan waardig te wees. Ons kan gaan deelneem in die Sesnasies, die Drienasies, en watse nasies daar ook al bestaan.
Ten minste sal ons so die politiek uit rugby haal. Elke speler sal op meriete, en meriete alleen, gekies word en behalwe dat sy huistaal Afrikaans moet wees, is daar geen ander kriterium nie. Hier en daar mag 'n tweetalige speler kwalifiseer, maar hulle sal miskien eers 'n stywe taalkursus moet loop en slaag.
Stel jou voor 'n wedstryd tussen Engeland en die Afrikanerdom op Twickenham. Oral wapper die rooi kruis van St.
Georg in die hande van Engelse ondersteuners. Teenoor hulle sit 'n oranje-blanje-blou see van Afrikaanse ondersteuners met hul Prinsevlae. (Terloops, 'n vriend noem die ou Unievlag die "torvlag", en ek stem saam. Boonop bevat dit die Union Jack. Kry dus gerus 'n suiwer oranje-blanje-blou.)
Die spanne draf op die veld, en die volksliedere word gespeel. As die note van "Die Stem" opklink oor Twickenham, sing twintigduisend mense dit uit volle bors. In Afrikaans, sonder die monstrositeit van 'n Engelse vers. Daarna "God Save the Queen", en die fluitjie blaas vir die afskop. Ook in Suid-Afrika sit die hele Afrikaanse bevolking vasgenael voor die TV, terwyl die res van die land op 'n ander kanaal Kaiser Chiefs teen Moroka Swallows verkies, wat hul goeie reg is, net soos dit ons s'n is om 'n nuwe Bokspan die węreld in te stuur.
Die teenwoordigheid van 'n Afrikaanse span sal węreldwyd aandag trek, en ook weer ons taal op die węreldkaart plaas. Stel jou voor die Gemsbokke toer deur Frankryk, en vir agtergrond skryf Le Monde, Le Figaro en die sportkoerant L'Équipe oor die merkwaardige Afrikaners wat net 'n paar miljoen mense is, maar meeding met die bestes ter węreld op alle gebiede, in rugby, soos in die sakewęreld, en boonop 'n formidabele letterkunde het, waarvan die Franse leser 'n hele rits romans in vertaling kan lees.
'n Eie rugbyspan kan baie meer vir Afrikaans beteken as die moeë enfants terribles wat vandag nootonvas in die taal musiek maak.