Ons postmenslike toekoms

______________________________________________________

Dan Roodt

Die Amerikaanse skrywer Francis Fukuyama wat die eerste was om die einde van die geskiedenis en die nasiestaat te voorspel, het redelik onlangs ‘n nuwe frase gemunt. Dit heet “ons postmenslike toekoms”.

Daarmee bedoel hy die wetenskapfiksiewêreld wat ons in die een-en-twintigste eeu tegemoet gaan, en waarbinne die grense tussen mense en masjiene toenemend gaan vervaag. Ook as gevolg van die menslike genoomprojek, is genetiese ingenieurswese op die mens self reeds moontlik. In vele lande is dit verbode om ‘n mens te kloon, en ‘n tyd gelede het dit geblyk dat bewerings van so ‘n kloning deur ‘n eienaardige godsdienssekte ‘n poets was. Maar dit is nie te sê dat dit nie een of ander tyd gaan gebeur nie.

Toenemend raak ons verslaaf aan ons eie silikonskeppings. ‘n Seun in Hong Kong moes glo met geweld huistoe geneem word omdat hy reeds twee dae lank in ‘n internetkafee deurgebring het en blykbaar totaal aan dié medium verslaaf is.

Die oorspronklike Matrix-rolprent was ‘n prikkelende uitbeelding van ‘n wêreld wat deur een groot rekenaarnetwerk oorheers word, en die masjiene hou mense as slawe gevange om as blote batterye te dien. Blykbaar genereer die menslike liggaam elektrisiteit en is Japannese wetenskaplikes tans besig om dit op ‘n manier te probeer aftap.

Oorsee is daar onlangs ‘n baba gebore wat reeds die kleinkind was van haar eie moeder, want die eiersel waaruit sy ontstaan het is geneem uit ‘n geaborteerde fetus wat tegelyk haar suster kon gewees het. Hoe moet die mens wat al duisende jare in ‘n vertroude en stabiele verhouding tot sy liggaam staan, al hierdie dinge hanteer?

In vele Westerse lande is daar komitees van wetenskaplikes en filosowe wat hierdie kwessies ondersoek en probeer riglyne stel vir die samelewing, vandaar die verbod op menslike kloning. Maar die nimmereindigende moontlikhede wat die tegnologiese oplewing skep, sorg altyd dat ‘n grys gebied oorbly wat nog nie gereguleer is nie.

Dit is algemene praktyk dat vroue in die VSA van hul eierselle laat “oes” en dan bevries vir ingeval hulle later onvrugbaar sou raak maar steeds kinders wil hê. Dit klink aanvaarbaar, maar wat van die jong blonde meisies met goeie punte vir die Amerikaanse universiteitstoelatingseksamen, die sogenaamde SAT, wat hul eierselle op die internet verkoop teen $50 000 elk? Of behoort farmaseutiese maatskappye toegelaat te word om byvoorbeeld sekere menslike gene te patenteer wat hulle ontdek het?

Behoort vryhandel in genetiese stowwe toegelaat te word, of gaan dit ons verontmenslik?

Duidelik is die gemiddelde persoon nie opgewasse vir hierdie soort vrae, waaroor boeke vol geskryf kan word sonder om werklik by ‘n antwoord uit te kom, nie. Dan praat ‘n mens nog nie eens van die meer fundamentele kwessies wat deur ons interaksie met gevorderde tegonologie aan die orde gestel word nie, soos: wat is ‘n mens nou eintlik? Van die ou filosowe, spesifiek Aristoteles, het hom beskryf as ‘n animal rationalis, oftewel denkende dier, maar vele van die lewelose voorwerpe rondom ons soos rekenaars en selfone beskik reeds oor intelligensie. ‘n Program genaamd ‘n neurale netwerk is iets waarmee ‘n rekenaar leer, net soos ‘n mens of ander soogdier, wat in beginsel ‘n toekomstige robotoorheersde aarde moontlik maak, net soos in die wetenskapfiksiefilms.

Kunsmatige intelligensie is, soos hulle deesdae sê, ‘n gonswoord. In een opstel oor kunsmatige intelligensie het ek gelees dat ‘n hond as ‘n biologiese robot beskou kan word. ‘n Hond is blykbaar so ‘n komplekse soogdier dat geen lid van die spesie canis, anders as die skaap Dolly, nog ooit gekloon is nie. En dit in weerwil van ‘n eksentrieke Amerikaanse miljardêr wat reeds miljoene dollar op ‘n wetenskapsprojek bestee het om sy gunstelingbasterhond te laat kloon.

Die Japannese maatskappy Sony verkoop reeds letterlik ‘n robothondjie met die naam Aibo, wat kan loop, blaf en sy stert kan swaai. Dit is minder morsig as ‘n gewone hond en mag aan sy eienaar ewe veel plesier verskaf. Pleks daarvan dat ons ons vertroude betrekkinge met ander soogdiere soos honde en katte wat ons eeue lank al as troeteldiere aanhou, voortsit, is ons besig om affektiewe verhoudings met lewelose skepsels aan te gaan. Soms voel dit vir my asof ‘n selfoon ‘n parasiet is wat aan jou kleef en gedurig nog woorde uit jou suig, en jou in verbinding stel met miljoene ander selfoongebruikers, ‘n honger netwerk van ander bellers en versenders van ongevraagde SMS-boodskappe.

Die punt is egter dat sodra ons honde as biologiese robotte begin sien, loop ons reeds in die lokval in om onsself in Fukuyama se postmenslike terme te beskou. Is mense nie ook maar, soos honde, biologiese robotte nie? Ná alles bestaan ons lywe hoofsaaklik uit koolstofverbindings en water, en watter reg het ons om die nuwe kunsmatige lewe wat rondom silikon, pleks van koolstof, ontstaan het vir altyd as minderwaardig en tweederangs te beskou?

Die blikbreine wat toenemend ons woon- en werkruimtes beset, raak al hoe slimmer, teen ‘n asemrowende tempo. Rekenaarhardeskywe bevat reeds meer stukkies inligting as wat een mens in sy kop kan hou.

Die filosoof Michel Serres het twee jaar gelede tydens ‘n besoek aan Suid-Afrika beweer dat rekenaartegnologie die mens bevry van die noodsaak om ‘n klomp herhalende bewerkinge met inligting uit te voer. Net soos wat die ontdekking van skrif en die boekdrukkuns in vorige eeue die mens se kop skoongemaak het en sy brein bevry het van die sleurwerk om as blote bewaringsmedium te dien soos in primitiewe samelewings met orale kultuur waar alles uit die kop geleer moet word. Volgens hom het die uitvinding van skrif ons meer kreatief gemaak omdat ons breine voortaan meer tyd aan spekulasie en eksperiment kon afstaan as blote memorisering. Dieselfde sou geld vir die inligtingstydperk wat die bewaring en onttrekking van inligting nog soveel makliker maak as om iewers na ‘n stowwerige boek in ‘n biblioteek te gaan soek.

Die verhaal van die seun in Hong Kong wat aan die internet verslaaf is, asook die manipulasie van ons gene en generasies deur biotegnologie maak my egter effens bekommerd. Prometeus het die vuur gesteel, maar dit het Zeus so kwaad gemaak dat hy vir Pandora met haar doos vol siektes na die aarde gestuur het. Uiteindelik het Hefaistos hom aan die Kaukasus vasgeketting waar sy lewer elke dag deur ‘n arend uitgepik is, net om weer aan te groei tot die volgende dag wanneer dieselfde sou gebeur.

Ons tegnologiese beskawing is sekerlik Prometiaans. As ons nie meester bly van ons eie uitvindings en maaksels nie, mag ons binnekort, by wyse van spreke, die wraak van die gode oor ons afroep. Pessimiste sou sê dat Pandora se doos reeds geopen is.