
Ons
postmenslike toekoms
______________________________________________________
Dan Roodt
Die
Amerikaanse skrywer Francis Fukuyama wat die eerste was om die einde van die
geskiedenis en die nasiestaat te voorspel, het redelik onlangs ‘n nuwe frase
gemunt. Dit heet “ons postmenslike toekoms”.
Daarmee
bedoel hy die wetenskapfiksiewêreld wat ons in die een-en-twintigste eeu
tegemoet gaan, en waarbinne die grense tussen mense en masjiene toenemend gaan
vervaag. Ook as gevolg van die menslike genoomprojek, is genetiese
ingenieurswese op die mens self reeds moontlik. In vele lande is dit verbode om
‘n mens te kloon, en ‘n tyd gelede het dit geblyk dat bewerings van so ‘n
kloning deur ‘n eienaardige godsdienssekte ‘n poets was. Maar dit is nie te
sê dat dit nie een of ander tyd gaan gebeur nie.
Toenemend
raak ons verslaaf aan ons eie silikonskeppings. ‘n Seun in Hong Kong moes glo
met geweld huistoe geneem word omdat hy reeds twee dae lank in ‘n
internetkafee deurgebring het en blykbaar totaal aan dié medium verslaaf is.
Die
oorspronklike Matrix-rolprent was ‘n prikkelende uitbeelding van ‘n wêreld
wat deur een groot rekenaarnetwerk oorheers word, en die masjiene hou mense as
slawe gevange om as blote batterye te dien. Blykbaar genereer die menslike
liggaam elektrisiteit en is Japannese wetenskaplikes tans besig om dit op ‘n
manier te probeer aftap.
Oorsee is
daar onlangs ‘n baba gebore wat reeds die kleinkind was van haar eie moeder,
want die eiersel waaruit sy ontstaan het is geneem uit ‘n geaborteerde fetus
wat tegelyk haar suster kon gewees het. Hoe moet die mens wat al duisende jare
in ‘n vertroude en stabiele verhouding tot sy liggaam staan, al hierdie dinge
hanteer?
In vele
Westerse lande is daar komitees van wetenskaplikes en filosowe wat hierdie
kwessies ondersoek en probeer riglyne stel vir die samelewing, vandaar die
verbod op menslike kloning. Maar die nimmereindigende moontlikhede wat die
tegnologiese oplewing skep, sorg altyd dat ‘n grys gebied oorbly wat nog nie
gereguleer is nie.
Dit is algemene praktyk dat vroue in die VSA van hul eierselle laat “oes” en dan bevries vir ingeval hulle later onvrugbaar sou raak maar steeds kinders wil hê. Dit klink aanvaarbaar, maar wat van die jong blonde meisies met goeie punte vir die Amerikaanse universiteitstoelatingseksamen, die sogenaamde SAT, wat hul eierselle op die internet verkoop teen $50 000 elk? Of behoort farmaseutiese maatskappye toegelaat te word om byvoorbeeld sekere menslike gene te patenteer wat hulle ontdek het?
Behoort vryhandel in
genetiese stowwe toegelaat te word, of gaan dit ons verontmenslik?
Duidelik is
die gemiddelde persoon nie opgewasse vir hierdie soort vrae, waaroor boeke vol
geskryf kan word sonder om werklik by ‘n antwoord uit te kom, nie. Dan praat
‘n mens nog nie eens van die meer fundamentele kwessies wat deur ons
interaksie met gevorderde tegonologie aan die orde gestel word nie, soos: wat is
‘n mens nou eintlik? Van die ou filosowe, spesifiek Aristoteles, het hom
beskryf as ‘n animal rationalis, oftewel denkende dier, maar vele van
die lewelose voorwerpe rondom ons soos rekenaars en selfone beskik reeds oor
intelligensie. ‘n Program genaamd ‘n neurale netwerk is iets waarmee ‘n
rekenaar leer, net soos ‘n mens of ander soogdier, wat in beginsel ‘n
toekomstige robotoorheersde aarde moontlik maak, net soos in die
wetenskapfiksiefilms.
Kunsmatige
intelligensie is, soos hulle deesdae sê, ‘n gonswoord. In een opstel oor
kunsmatige intelligensie het ek gelees dat ‘n hond as ‘n biologiese robot
beskou kan word. ‘n Hond is blykbaar so ‘n komplekse soogdier dat geen lid
van die spesie canis, anders as die skaap Dolly, nog ooit gekloon is nie.
En dit in weerwil van ‘n eksentrieke Amerikaanse miljardêr wat reeds miljoene
dollar op ‘n wetenskapsprojek bestee het om sy gunstelingbasterhond te laat
kloon.
Die Japannese
maatskappy Sony verkoop reeds letterlik ‘n robothondjie met die naam Aibo, wat
kan loop, blaf en sy stert kan swaai. Dit is minder morsig as ‘n gewone hond
en mag aan sy eienaar ewe veel plesier verskaf. Pleks daarvan dat ons ons
vertroude betrekkinge met ander soogdiere soos honde en katte wat ons eeue lank
al as troeteldiere aanhou, voortsit, is ons besig om affektiewe verhoudings met
lewelose skepsels aan te gaan. Soms voel dit vir my asof ‘n selfoon ‘n
parasiet is wat aan jou kleef en gedurig nog woorde uit jou suig, en jou in
verbinding stel met miljoene ander selfoongebruikers, ‘n honger netwerk van
ander bellers en versenders van ongevraagde SMS-boodskappe.
Die punt is
egter dat sodra ons honde as biologiese robotte begin sien, loop ons reeds in
die lokval in om onsself in Fukuyama se postmenslike terme te beskou. Is mense
nie ook maar, soos honde, biologiese robotte nie? Ná alles bestaan ons lywe
hoofsaaklik uit koolstofverbindings en water, en watter reg het ons om die nuwe
kunsmatige lewe wat rondom silikon, pleks van koolstof, ontstaan het vir altyd
as minderwaardig en tweederangs te beskou?
Die
blikbreine wat toenemend ons woon- en werkruimtes beset, raak al hoe slimmer,
teen ‘n asemrowende tempo. Rekenaarhardeskywe bevat reeds meer stukkies
inligting as wat een mens in sy kop kan hou.
Die filosoof
Michel Serres het twee jaar gelede tydens ‘n besoek aan Suid-Afrika beweer dat
rekenaartegnologie die mens bevry van die noodsaak om ‘n klomp herhalende
bewerkinge met inligting uit te voer. Net soos wat die ontdekking van skrif en
die boekdrukkuns in vorige eeue die mens se kop skoongemaak het en sy brein
bevry het van die sleurwerk om as blote bewaringsmedium te dien soos in
primitiewe samelewings met orale kultuur waar alles uit die kop geleer moet
word. Volgens hom het die uitvinding van skrif ons meer kreatief gemaak omdat
ons breine voortaan meer tyd aan spekulasie en eksperiment kon afstaan as blote
memorisering. Dieselfde sou geld vir die inligtingstydperk wat die bewaring en
onttrekking van inligting nog soveel makliker maak as om iewers na ‘n
stowwerige boek in ‘n biblioteek te gaan soek.
Die verhaal
van die seun in Hong Kong wat aan die internet verslaaf is, asook die
manipulasie van ons gene en generasies deur biotegnologie maak my egter effens
bekommerd. Prometeus het die vuur gesteel, maar dit het Zeus so kwaad gemaak dat
hy vir Pandora met haar doos vol siektes na die aarde gestuur het. Uiteindelik
het Hefaistos hom aan die Kaukasus vasgeketting waar sy lewer elke dag deur ‘n
arend uitgepik is, net om weer aan te groei tot die volgende dag wanneer
dieselfde sou gebeur.
Ons tegnologiese beskawing is sekerlik Prometiaans. As ons nie meester bly van ons eie uitvindings en maaksels nie, mag ons binnekort, by wyse van spreke, die wraak van die gode oor ons afroep. Pessimiste sou sê dat Pandora se doos reeds geopen is.