|
Pavane
van die Afrikaanses (1)
Rolverdeling
Haarolie Pakendrup, ‘n gewese
koerantredakteur (soek tans ‘n koerant om toe te maak)
Gouda Landvrou, ‘n bekende
televisieaanbiedster
Honja Bloots, ‘n jong skryfster
met ‘n verlede
Hyg Wilnetsê, ‘n swart Afrikaanse
Antie Krop, ‘n ver-linkse digteres
wat haar verlede wil verloor
Toneel 1
(‘n Skemerkelk ten behoewe van die
Regerende Party)
Haarolie Pakendrup (aan Gouda
Landvrou): Maggies Gouda, ek’s bly om jou weer te sien.
Gouda (gebelg): Beteken dit jy kyk
nie meer na my program nie?
Haarolie: ‘Skuus, man, ek bedoel
vrou, natúúrlik kyk ek altyd na jou program.
Gouda: Jy beter. As die beroemdste
Afrikaanse televisiepersoonlikheid, sal ek hoogs beledig voel as
jy nie na my kyk nie.
Haarolie (terwyl hy oorleun om voor
by haar rok in te kyk): Ek kyk, ek kyk!
Gouda (gee hom ‘n oorveeg): Nie so
nie, jou gek! Ek bedoel nou op TV.
Haarolie: O, o. ‘Skuus. Ek is
jammer. (Teug aan sy drankie.) Sê my Gouda, pla die regses jou
ook so?
Gouda: Ja, te vreeslik. Daar is nou
weer ‘n klomp wat kla dat ek nie meer Afrikaans praat nie. Dit
raak nou net te erg.
Haarolie: ‘n Mens sou dink hulle
het al tou opgegee. Maar, Gouda, ek sê jou, dis net ‘n kwessie
van tyd.
Gouda: Hoe bedoel jy?
Haarolie: Man, kyk so daarna. Ek het
al in my lewe drie Afrikaanse dagblaaie toegemaak, en daar is nog
net drie oor. Met ‘n bietjie geluk maak hulle my een van die dae
redakteur van een, en dan bly daar binnekort net twee oor! En dan
een, en dan niks! Dan sal almal Engelse koerante móét lees, net
soos hulle na jou móét luister as jy Engels praat. Ek is die wêreld
se kampioenkoerantsluiter en toevallig werk ek in Afrikaans, nes
jy.
Gouda: Moet nou nie belaglik wees
nie! Ek werk in Engels. Kyk, selfs met hierdie druk van die regses,
praat ek nie meer as twee woorde Afrikaans op my program nie, en
dan is dit net om die fanatici tevrede te stel. Maar jy weet, dis
vir my verskriklik, hierdie regse gevaar, want die paar Afrikaanse
woorde wat ek nou onder dwang moet praat, bederf my hele image.
Sowaar. My seuntjie word selfs daaroor gespot op skool.
Haarolie: Hoe dan nou? Is hy nie by
daardie Afrikaanse privaatskool vir die rykes nie? Sarel Cilliers
of so-iets nie?
Gouda: Nee, nee, is jy nou besimpeld?!
Ons het hom lankal daar uitgehaal. Hy is nou in St. John’s, hier
anderkant in Houghton. Dink jy ek is so common om my kind na ‘n
Afrikaanse skool te stuur? You must be joking! Hy het vreeslik
goed aangepas, weet jy. Ons praat nou al tot Engels by die huis.
Haarolie: ‘Skuus, Gouda man, ek
bedoel vrou, uh, Landvrou. Jy is regtig ons landsvrou. Jy hou die
volk op die regte pad. Wat sou die Afrikaanses sonder jou gedoen
het? Ek bedoel, as dit nou nie vir die regses was nie, dan het jy
steeds jou hele program eenhonderdpersent in Engels aangebied,
soos dit hoort vir die beroemdste Afrikaanse
televisiepersoonlikheid.
Gouda: Ja, hierdie regses, ek kan
dit nie meer uithou met hulle nie. Kan jy nie ‘n woordjie doen
by die Regerende Party om hulle vas te vat nie? Netnou ruk dinge
hande uit, en kom Afrikaans terug op ons televisiekanaal. Kan jy
dink hoe hulle my arme bloedjie by St. John’s sal spot as al sy
maats moet weet sy ma praat Afrikaans op die TV? Dit sal die kind
‘n kompleks gee.
Haarolie: Gouda, jy’s reg. Hierdie
regses word ‘n probleem vir ons. Dis omdat daar te veel
Afrikaanse koerante is. As hulle my nou net redakteur van Beeld
kan maak, dan’s dit net ‘n paar maande dan is daar nie meer
‘n enkele Afrikaanse koerant hier in die Noorde nie. Dit sal al
daai briefskrywers se monde snoer. Maar ek sal bietjie met die
Regerende Party praat, miskien is daar nog plek op Vlakplaas vir
hulle...
Gouda: Nou praat jy, Haarolie, nou
praat jy! Ons moet iets doen teen die regse gevaar!
Honja Bloots (in ‘n rewolusionêre
rooi tabberd met klein hamer-en-sekeltjies op): Wat is dit van die
regse gevaar? Dood die fasciste! Fusilleer die taalstryders!
Gouda: Hallo Honja, so moet ‘n
vrou praat. Ek hoor jy werk so hard teen die taal?
Honja: Ja, vrou, jy weet, daar is
mos al die fascistiese gekonkel in Afrikaans, soos een van my
vriendinne altyd sê. Veral daai spul ou wit mans van PRAAG.
Haarolie: Honja, my Honja, party van
ons kan dit nie help nie. Ek bedoel nou, om ‘n wit man te wees
nie. Jy kan nog vir melanieninspuitings gaan teen die witheid,
maar aan die ouderdom kan jy niks doen nie.
Honja: Relax, Haarolie. Ek het niks
teen jou nie. Jy was nog altyd ‘n witman. En aan die kant van
die Regerende Party. Eintlik het ek dit teen die regses wat so
aangaan oor Afrikaans. Al daai wit mans soos Breyten Breytenbach
wat aan die melankolie van magsverlies ly.
Gouda: Die melankolie van
magsverlies? Honja, moenie sulke groot woorde gebruik nie. Onthou,
ek werk vir televisie. Kan jy nie plein Afrikaans praat nie? Of
miskien Engels nie?
Honja: Gouda, al wat ek wil sê is
dat hulle nou wil betoog vir Afrikaans omdat hulle spyt is hulle
is nie meer aan bewind nie.
Haarolie: Was Breyten al aan bewind?
Hoekom het niemand my vertel nie? Dis hoekom ek koerante toemaak,
want jou eie joernaliste is so oningelig, jy kan hulle net sowel
almal fire.
Honja: Nie letterlik nie, Haarolie,
nie letterlik nie. Maar om in die tronk te wees, is ook ‘n soort
magsposisie. Kyk nou maar vir Hitler, hy was ook op ‘n keer in
die tronk. As jy ‘n regse in die tronk sit, en hy kom uit, dan
is hy soveel gevaarliker. Dan word hy ‘n nuwe regse.
Gouda: Honja, jy is briljant! Jy is
een van die slimste vroue in die land. As jy so aanhou, nooi ek
jou om op my program te kom praat. Ek moet net eers gou my AMPS-syfers
check...
Honja: Enige tyd, Gouda, enige tyd.
Spreek net die woord, dan meld ek aan by die ateljee.
Gouda: Sê liewer studio, Honja.
Ateljee klink te veel na suiwer Afrikaans.
Haarolie: Janee, Honja, ons moenie
probeer suiwer wees nie. Die meerderheid sal niks daarvan hou nie.
Jy weet, ek hoor soveel swart Afrikaanses wat suiwer Afrikaans
praat. Ons sal hulle moet oortuig om op te hou, en meer Engelse
woorde te gebruik.
Hyg Wilnetsê: Wat skinder julle so
van die swart Afrikaanses? Hoe lyk dit, Gouda, met ‘n
spreekbeurt op jou program?
Gouda: Hallo, Hyg, wil jy deelneem
aan die program oor disleksiese bergies? Ken jy enige bergies daar
in jou buurt?
Hyg: Nee, nee, Gouda, moenie jou
interlokuteur kwets nie.
Gouda: Ekskuus, Hyg, man. Moenie my
verkeerd verstaan nie. Ek wou jou mening vra as swart Afrikaanse
kundige... Sien, ons het nou gedink as die bergies swart
Afrikaanses is, en jy is een, dan kan jy dalk swart as ‘n
analitiese konsep gebruik en die hele ding vir ons kom uitlê.
Hyg: O, as jy dit nou so stel... Ja,
weet jy, ‘n mens word ‘n bergie omdat jy gely het onder
apartheid. En alhoewel ek geen bergie is nie, kan ek tog getuig
van my lyding onder apartheid. (Slaan sy hand op sy hart.) Ek het
so gely, Gouda...
Honja (val hom om die nek): Toemaar,
Hyg, dis nou verby. Apartheid is verby.
Hyg: Nee, Honja, nee! Dit is nie
verby nie! Ek ly nog steeds. In die nanag skrik ek wakker, en vee
die sweet van my voorhoof, en tel die nagmerriedae van my verlede
wat soos dwarslêers van ‘n treinspoor voor my die toekoms
instrek... Ek sal altyd ly.
Haarolie: Nou laat jy my skuldig
voel, Hyg. Ek voel presies net soos jy. Ek voel soos ‘n lid van
die meerderheid. Ek sal nog net ‘n bietjie moet bely. Die
regerende party hou verskriklik daarvan as ‘n mens bely. Dis
amper beter as om te ly.
Hyg: Haarolie, jy weet nie hoe dit
voel om te ly nie. Om dit te kan ervaar, moet jy swart wees soos
ek, moet jy die analitiese konsep oorneem. So swart soos die nag
van my aaklige drome. (Verval in mymering.) Ek droom ek moet
alweer oorsee gaan met al my kostes betaal om vir die Duitsers,
die Hollanders, die Franse, die Engelse, die Amerikaners, te gaan
vertel hoe ek onder apartheid ly. Ek bly in ‘n driesterhotel en
ek is oortuig dat hulle my nie in die vyfster sit nie omdat ek
swart is...
Gouda: Hyg, dit klink wonderlik. Ek
sal jou sommer môre op my show kan sit. Maar ek het net een
probleem...
Hyg: En wat is dit, Gouda?
Gouda: Jy praat net ‘n bietjie te...
suiwer Afrikaans. Kan jy nie ‘n paar Engelse woorde tussenin
gebruik nie, jy weet, soos die jongmense maak?
Honja: Ja, Hyg, man, jy klink net
soos een van daai regses. Be cool, bra. Just speak the taal with a
bit of attitude. Die televisiekykers sal nooit glo jy’s swart as
jy so goed Afrikaans praat nie.
Hyg: Miskien het julle ‘n punt
daar beet. Ek sal probeer. I’ll try for black, alles lekker
opgemix.
Gouda: Nou praat jy, Hyg. Kan jy by
die ateljee aanmeld so halfsewe, dat hulle net gou jou make-up
doen? Sien jou op my show.
Toneel 2
(Die Mixer in Melville, Antie Krop
en Gouda Landvrou diep in gesprek.)
Antie Krop: Gouda, dit gaan nie goed
met my nie.
Gouda Landvrou: Maar wat makeer,
Antie, is daar enigiets waarmee ek kan help?
Antie (bars in trane uit): Boe-hoeee!
Ek is nie Engels nie! Ek sal nooit Engels wees nie!
Gouda: Toemaar, Antie, toemaar.
Shame. Jy’s seker oorspanne omdat jy die heeltyd so skuldig voel.
Moet dit nie oordryf nie. Ek is ook al daardeur.
Antie (droog trane af): Jy bedoel,
die skuld?
Gouda: Nee, om so bleddie Afrikaans
te wees. Ek kom van Kakamas af, kan jy dink watse setback is dit
in die lewe? Om in jou kinderjare te moet luister na ‘n Staal
Burgerprogram met dit titel, "Die mas van Kakamas?" Om
hier in Johannesburg deur almal bespot te word omdat jy ‘n
boeremeisie from the flippin platteland is?
Antie: Gouda, now you’re talking.
Weet jy, dis vir my so ‘n vernedering dat iemand al my spelfoute
moes regmaak toe ek "Country of my skuld" geskryf het.
En my tenses! Ek voel ek sal dit nooit regkry nie! Dis erg, maar
dis nie die ergste nie. Nou die dag voer die Pig & Whistle,
daai cool Engelse koerant, ‘n onderhoud met my en hulle vra my
so wragtig, "Do you feel removed from some sort of Boerdom?"
En die volgende vraag is: "What has been your most racist
thought or action?" Asof ek my dae deurbring om rassistiese
gedagtes of dade uit te dink. En kan ek dit nou fokken help dat ek
in die Boeredom gebore is? Ek gaan selfmoord pleeg, Gouda, wat kan
ek doen?
Gouda: Relax, Antie, relax. Ek weet
presies wat jy moet deurmaak. Ek was ook so Afrikaans, jy kon met
my toor. Maar ek het nie gaan lê nie, ek het vir berading gegaan,
en ek het my mind opgemaak, en ek het iets daaraan gedoen!
Antie: Maar wat het jy gedoen,
Gouda? Vertel my.
Gouda: Ek het vir elokusielesse
gegaan!
Antie: Gouda, jy speel! Jy het nie...
jy bedoel, al wat ek nodig het is om aan my aksent te werk, en dan
sal alles regkom?
Gouda: Presies, Antie. Dit het vir
Margaret Thatcher gewerk, dit het vir my gewerk, en dit gaan vir
jou ook werk. Ek het die beste elocutionist in Suid-Afrika. Ek
gaan nog so af en toe terug vir ‘n slypsessie. As jy eers kan
Engels praat met ‘n stiff upper lip, gaan al jou probleme iets
van die verlede wees. Jy sal sien. As iemand jou vra of jy steeds
deel is van die Boeredom, dan gooi jy hom bietjie met ‘n British
hot potato, en dan verwelk hy sommer. Dit help nie jy skryf in
Engels, en jy kan dit nie behoorlik praat nie. Vergeet van tenses,
niemand gaan agterkom as jy verkeerd praat nie, solank jy dit net
met die regte aksent doen.
Antie: Is jy seker, Gouda? Wat van
my agtergrond, my verlede? Ek het darem in die Vrystaat
grootgeword, jy weet.
Gouda: Antie, sê net vir jouself:
van môre af gooi ek my verlede in die asblik. Dis verby. Die
regerende party verander in elk geval ons almal se verledes so
vinnig dat niemand sal agterkom of jy nou van Kroonstad of Sandton
af kom nie. Kyk nou vir my, ek het my verlede so goed afgeskud,
people can’t even recall I come from Kakamas.
Antie: Jy moet my die nommer van jou
elocutionist gee. Miskien sal dit help. Ek moet sê, ek is moeg
daarvoor dat almal my soos ‘n bledddie rock behandel. Vebeel jou,
"Boerdom"! Maar wat van die skuld, Gouda? Dit ry my, jy
weet.
Gouda: Positive thinking, my dear.
As jy eers jou selfbeeld verbeter het met die elokusielesse, gaan
jy sien die skuld verdwyn sommer vanself. Maar jy wil tog nie hê
jy moet gladnie meer skuldig voel nie. Skuld is jou trademark!
Dink jy jy gaan nog bestsellers in Amerika hê of pryse wen as jy
ontpop as Antie Krop the innocent! Kry net jou aksent reg, en die
res kom vanself. As jy nog probleme het met jou psige, kan ek vir
jou ‘n beradingsessie reël met Johan Remington, my predikant.
Hy is wonderlik. Of jy kan saam met my sinode toe kom, dan praat
ons bietjie oor Genesis. Moenie jou Bybel vergeet nie. Daar is
soveel interessante debatte nou in die kerk, soos of daar ‘n
preekstoel moet wees of nie.
Antie: Maar in watter taal moet ek
die Bybel lees, Gouda? As ek dit in Afrikaans lees, dan word ek
dalk lus om weer ‘n digbundel in Afrikaans te skryf, en dan is
ek net weer terug waar ek was.
Gouda: Maar natuurlik moet jy vir
jou ‘n Engelse Bybel aanskaf, Antie. Hoekom die Bybel in
Afrikaans vertaal is, weet nugter. Dis die regsheid, ek sê jou.
As die Boere lankal verengels het, dan het ons nie nou soveel
probleme gehad nie, dan was daar nie apartheid nie, en dan hoef ek
en jy nie nou vir elokusielesse te gegaan het nie. Soos ek nou die
dag vir die Sondagkoerante gesê het, Engels is ‘n wêreldtaal,
en hoe gouer mense dit besef, hoe beter.
Antie: Jy’s reg, Gouda. Hoekom
neuk almal so met Afrikaans? Hoe het dit alles begin? Ek verstaan
dit nie. Ek verstaan niks meer nie.
Gouda: Kyk maar net ‘n bietjie
meer TV, Antie. Soos na my show, byvoorbeeld. Moenie jou moegmaak
oor goed nie. Pasop vir die regse gevaar en hulle
Afrikaans-Afrikaans. Hulle is die Anti-chris, ek sê jou, met al
hulle gefilosofeer. Dis alles net retoriek van die vorige
gediskrediteerde geslag. En bel nou daai nommer van die
elocutionist.
Antie: Ek sal, Gouda. Ek sal.
(Word vervolg)
Wat gaan gebeur in die pavane van
die Afrikaanses? Sal Haarolie dit regkry om nog ‘n koerant toe
te maak? Of gaan ‘n ander koerantsluiter, Willem Berserk, sy
opwagting maak om ‘n pleidooi te lewer dat die toekoms van
Afrikaans agter geslote deure bespreek word? So ‘n privaat
bespreking kan interessant word, veral as mense swart klere
aantrek... Sal Antie Krop beter leer Engels praat, en wat van die
regses, is hulle steeds ‘n gevaar? Hou gerus ons webblad dop vir
verdere verwikkelinge in die dramatiese dans van die Afrikaanses...
Boontoe
|