
Humor
in hoghe ampte
Beste Alet Rademeyer en Liezel de
Lange,
Toe die geagte adjunk-president
aangestel is, het ek met verwondering die voorbladberig in jul
koerant deur Jan-Jan Joubert onder die opskrif Knap
vrou neem oor gelees.
Min kon ek dink dat sy benewens al
haar ander voortreflikhede soos Jan-Jan hulle besing het nog oor so
'n sprankelende humorsin ook beskik!
Jul berig SA
kort Zim-oempf sê Phumzile het werklik my dag opgekikker
en soos gewoonlik stem dit my optimisties oor ons toekoms.
Maar op 'n ernstiger noot, soos die
superbrein Ferdi Greyling vanmôre ook in Beeld
skryf: ons moet net armoede oplos, man. Dan sal alles dooddollies
gaan, want soos ons weet is dit die armes en ongeletterdes soos ou
slegte Robert Mugabe wat sulke opwellings van rassegevoelens ervaar.
Jou middelklas-swartman is gewoonlik ontdaan van enige
rasse-identiteit en telkens as ek sulke mense ontmoet, is ek skoon
oorbluf deur hul welwillendheid en toegeneentheid teenoor blankes
asook vrolike humor wat altyd onder die oppervlak bly borrel. Op 'n
keer was ek mos op Metro FM waar ek myself 'n papie gelag het vir al
die inbellers en sommer die omroeper ook wat sulke oulike grappies
gemaak het oor hoe mense soos ek wat nie respek vir ons regering
toon nie, in hul pasoppens moet wees... Natuurlik het ek sulke
"dreigemente" van al die gekskeerder-inbellers nie ernstig
opgeneem nie, want ons het mos 'n wonderlike grondwet en 'n
demokrasie en pragtige, pragtige leiers wat net ons beste belange op
die hart dra.
Ai, wie verlang nou terug na die
swaarmoedige en humorlose dae van die ou Suid-Afrika? Kom ons lag
nog 'n slag.
Lughartige groete,
Dan Roodt
Ns. As ek in die verlede nie veel van
die Nasionale Party en veral die Broederbond wat sulke briljante
denkers soos FW de Klerk en Roelf Meyer opgelewer het, gehou het
nie, moet ek sê dat ek nou 'n veel gemoedeliker siening oor hulle
koester. Hul manjifieke nalatenskap gaan vorentoe nog met baie swier
en vrolikheid gevier word, kom dit my nou voor.
11 Augustus 2005 10:08
SA kort Zim-oempf, sê
Phumzile
Alet Rademeyer en Liezel de
Lange
Adj.pres. Phumzile
Mlambo-Ngcuka het gister in Pretoria die spot gedryf met die
Zimbabwiese grondhervormingsbeleid op 'n konferensie oor
afstandsonderrig.
Sy het skertsend gesê
Suid-Afrika kan by Zimbabwe leer oor grondhervorming.
Volgens haar is daar baie
mense in Suid-Afrika wat glo die proses is te stadig en daarom het
dit straks 'n bietjie "oemf" nodig. "Miskien kan
ons van Zimbabwe leer hoe om dit vinniger te doen," het sy
onder 'n gedempte gelag gesê. "Miskien het ons 'n bietjie
vaardighede van daar af nodig."
Mnr. Murphy Morobe,
kommunikasiehoof in die presidensie, het gisteraand by navraag gesê
hy het met Mlambo-Ngcuka oor haar opmerkings gepraat. "Dit
was lighartige opmerkings, hoewel dit oor 'n ernstige onderwerp
gehandel het. Te midde van oproepe dat ons eie
grondhervormingsproses versnel word, is daar beslis lesse te leer
uit Zimbabwe se ervarings."
Dr. Kraai van Niekerk,
DA-woordvoerder oor landbou, het in sy reaksie gesê die regering
is te blameer vir die stadige vordering met grondhervorming, en
dat Zimbabwe die beste voorbeeld verskaf van hoe om dit nie te
doen nie.
"Die adjunkpresident
behoort nie oor sulke dinge grappies te maak nie. Haar amp vereis
gebalanseerde en verant woordelike openbare gedrag.
"Of probeer sy nou
populisties optree nadat sy op Vrouedag in KwaZulu- Natal uitgejou
is?" wou Van Niekerk weet.
Die Suid-Afrikaanse Raad
van Kerke het gister net gewag vir die finale groen lig van
Zimbabwe af voordat sy vragmotors met 37 t noodvoedselvoorraad en
byna 5 000 komberse uit Johannesburg sou vertrek, berig Neels
Jackson .
Die noodvoorraad is bestem om
die lot te verlig van duisende Zimbabwiërs wat dakloos gelaat is
nadat die regering hul wonings vernietig het in die omstrede
"opruimingsaksie" Operasie Murambatsvina.
Die sending sou al vroeg
verlede week vertrek het, maar dit is onverwags vertraag toe
Zimbabwiese owerhede aangedring het op dokumente wat sertifiseer
dat die mielies nie geneties gemanipuleer (GM) is nie. Hulle was
ook nie tevrede met 'n brief van die verskaffers wat verklaar dat
dit nie GM-milies is nie.
Past. Ron Steele van die
Rhema-Bybel kerk het egter gistermiddag gesê dat hy gisteroggend
danksy die departement van landbou die gevraagde sertifikaat gekry
het. Hy het dit deurgefaks na Zimbabwe en seker gemaak dat dit aan
die ander kant ontvang is.
Steele het gesê hulle wag net
vir die finale goedkeuring uit Zimbabwe en dan sou die vragmotors
kon vertrek. Die noodvoorraad sal in Harare aan die Zimbabwiese
kerke se noodlenigingsvleuel Christian Care oorhandig word wat dit
verder sal versprei.
Boontoe
|