
Duur
standbeeld verdwyn
Anton Barnard
(Met
apologie aan Marietjie
Louw
van Beeld)
Graskop
(Mamparralanga). – Onbekendes het die standbeeld van Jock of the
Bushveld, oorlede stamhoof van die plaaslike Staffordshire-honderas,
op die pad tussen Sabie en Graskop gesteel.
Gemoedere
het hoog geloop in plaaslike hondegeledere, en daar was ‘n
samedromming van rondloperbrakke om lamppale in Graskop. Die
emosionele gesnuiwery aan agterstewes het gedreig om handuit te ruk
en daar was plek-plek glo ‘n gehappery. Van die teenwoordiges het
ook gedreig om kateienaars se grasperke te gaan bevuil.
‘n
Duitse herdershond, die leier van die trop, het trane in sy oë
gehad terwyl hy na die klipstaander waarop die beeld voorheen was,
gestaar het. "Ek voel beledig."
Mnr.
Rottweiler Doberman, Mamparralanga se LUR vir Hondesake en Vermiste
Gedenkwaardighede, het 'n beroep op die dorp se viervoetiges gedoen
om nie toe te laat dat die daad verdeeldheid tussen spesies
veroorsaak nie. "Só 'n daad het die potensiaal om probleme te
veroorsaak. Ons vra die honde om bo dit uit te styg en nie toe te
laat dat dit moeilikheid veroorsaak nie. Ons moet veral nie summier
aanneem dat die skuldiges afgedwaalde leeus of olifante uit die
naburige Nasionale Krugerwildtuin was nie."
Dié
berig kom 'n week nadat die DBV beslis het dat die dorp se naam
Graskop moet bly en nié terugverander word na die tradisionele naam
waaronder Graskop onder die diere van die omgewing bekend gestaan
het nie. Volgens die uitspraak van die DBV sou mense glo gesukkel
het om die vorige naam uit te spreek en sou dit hul menseregte
geskend het.
Die
tropleier het gister by die voetstuk van die gesteelde standbeeld
geblaf dat hy hom skaam vir dié vandalistiese daad.
"Diere
moet onthou dat dade van diefstal nie ons ryke en gesofistikeerde
geskiedenis van hoë beskawing kan wegneem nie. Ons sal elke dag
teen die voetstuk piepie ter nagedagtenis", het hy gesê.
Volgens
hom is die standbeeld se diefstal duidelik die werk van diegene wat
nie glo dat Suid-Afrika aan alle spesies behoort nie.
Polisielede
het die gebied gefynkam vir urienmonsters en het gipsafdrukke van
voetspore rondom die beeld gemaak.
Mnr.
Kietsie Siamees, 'n bekende onder katgeledere in die dorp, het gesê
'n groep besorgde katte sal betaal vir ‘n privaatspeurder om die
beeld op te spoor.
"Wat
gebeur het, gee die dorp en katte oor die algemeen 'n slegte naam.
Nie alle katte beskou honde as ‘n minderwaardige spesie nie, en
van my beste vriende is honde. Ek skaam my dat dit gebeur het. Ons
en honde is immers almal lid van die groot familie Mammalia."
(Bostaande
is gedeeltelik gegrond op ‘n ware gebeurtenis: Volgens Radio 702
is die standbeeld van Jock of the Bushveld inderdaad vir maande lank
al soek. Die
bronsbeeld is opgerig ter nagedagtenis aan die diereheld in die
bekende verhaal deur
Sir Percy Fitzpatrick.)
29 September 2005 03:09 AM
Boontoe
|