chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Was Hoofman Tshwane 'n eunug?

Dan Roodt

In die rang van beeldhouers sou mens nie Angus Taylor se naam neffens dié van Michaelangelo of Rodin noem nie. Trouens, voordat ek bewus geraak het van 'n bronsbeeld van Hoofman X, oftewel Tshwane, was ek nie bewus van Taylor se bestaan nie. En voordat genoemde standbeeld van Hoofman Tshwane deur vryheidsvegters geverf is wat onder die invloed van Breyten Breytenbach of Bertolt Brecht (von arme B.B.) verkeer, was ek ook nie so bewus van die bestaan van Taylor se werk nie.

Ons ken almal die vervelige vraag: "Wat dra 'n Skot onder sy rokkie", maar dié vraag raak regtig interessant as mens begin wonder wat Hoofman X, oftewel Tshwane, van 'n onbekende stam en van onbekende afkoms iewers in die 1600's onder sy voorskootjie gedra het?

Na my aanvanklike wederregtelike arrestasie en gedeeltelike aanranding, asook tydelike konfiskering van my kamera, motor en skootrekenaar deur die metropolisie van Johannesburg (nog 'n relaas hieroor later), beland ek toe uiteindelik voor die bronsbeeld van die onbekende hoofman genaamd Tshwane. Die monstruositeit wat 6,2 meter hoog toring is van Stalinistiese grootte.

Maar my nuuskierigheid oor die kwessie wat 'n hoofman onder sy voorskootjie gedra het, kry die oorhand en ek neem toe die foto hiernaas. Groot was my verbasing toe ek merk dat die beeld van Tshwane onbedeeld is! Tensy hy sy onderbroeke by Mr. Price gekoop het, maar soos u weet en ek weet verteenwoordig die onderbroek 'n verderflike erfenis van kolonialisme en apartheid en sou 'n onbedorwe hoofman wat vryelik oor die klippe in die Apies gehuppel het hom nie met so 'n liesriem van katoen laat inhibeer het nie.

Moontlik is Angus Taylor 'n kuise beeldhouer. Hoewel, hy het blykbaar 'n bostuklose Voortrekkervrou geskep, maar moontlik was dit Afrosentriese invloed want bostukke of buustelyfies stam insgelyks uit ons "bose verlede". As mens nou egter Taylor se "Tswhane" met Michaelangelo se "Dawid" vergelyk, val dit op dat die Liewe Heer (en sy Renaissaans-beeldhouer) hom met 'n peester geskape het.

Aan die ander kant weet Angus Taylor dalk veel meer van die geheimsinnige Hoofman Tshwane as wat tot dusver op die lappe gekom het (of onder die stertrieme kon uitsteek). Immers is Taylor 'n beoefenaar van die realisme, meer spesifiek die sosiaal-realisme, en sou hy nie sonder rede die geslag (in meer as een sin) van die hoofman verberg het nie.

Daarom kan daar net een afleiding wees: Hoofman Tshwane was 'n eunug! Nie net kon Taylor daardie ekstra kilogram brons of wat bespaar nie (anders het die standbeeld dalk meer as 'n miljoen rand gekos), maar om redes waaroor ons tans net kan spekuleer, is Hoofman Tshwane vroeg-vroeg van sy toerusting ontneem.

'n Mens moet ook die tydvak in ag neem. Die groot beskawing wat in daardie tyd langs die Apiesrivier bestaan het, sou nie teruggestaan het vir byvoorbeeld dié van Venisië en ander Italiaanse stede waar opera indertyd 'n gewilde kunsvorm was nie. Aan die  dramatiese wyse waarop die hoofman sy kierie vashou (by gebrek aan 'n familiekierie), kan ons sien dat hy heel moontlik 'n operasanger kon gewees het. Meer in die besonder, 'n operasangeres, want soos ons almal weet was dit in die sewentiende eeu die gebruik om jong seuns wat goed kon sing te kastreer sodat hul stemme nie breek nie. So 'n seun is 'n castrato genoem en het vrouerolle in operas gesing.

Heel waarskynlik wou Angus Taylor dus aan ons oordra dat Hoofman Tshwane, sy forse gestalte ten spyt, 'n sopraan eerder as 'n bariton was.

15 July 2006 08:22 AM

Boontoe