chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

SlykNet, die Afrikaanse TV-kanaal bied met trots aan, ‘n program vir die connoisseur:

LUNSKAFEE

Op hierdie vertoonvenster van die Afrikaanse kunste, sal u af en toe ‘n bietjie Afrikaans hoor, meesal uit Namibië waar die kameraspan per ongeluk ‘n paar plattelanders raakgeloop het wat nie Engels verstaan nie. Maar moenie bekommer nie, LUNSKAFEE probeer sy bes om onder normale omstandighede die hoeveelheid Afrikaans op die program te beperk, ingeval kykers onder die indruk kom dat daar wel af en toe kunste in Afrikaans gepleeg word.

Op die pas afgelope uitgawe van LUNSKAFEE kon u dus volledige Engelse onderhoude, soms onderbreek met enkele woorde Afrikaans, aanhoor oor die volgende:

Die eienares van ‘n winkel wat keramiekhouers verkoop. ‘n Mens kan selfs ‘n keramiekvullishouer daar koop sodat die vullisverwyderaars jou met meer respek kan behandel op Woensdae.

‘n Vrou wat snuisterye versamel en hulle in ‘n "galery" tentoonstel. Dis ‘n slim advertensie vir die Kaapse strande, want na dese stel niemand hoegenaamd belang om ‘n galery te besoek nie.

Ten minste twee Engelse toneelstukke in die genre "seksklug met ‘n boodskap". LUNSKAFEE was geëerd om dié twee produksies te adverteer aangesien geen Engelse radiostasie of TV-program kans gesien het daarvoor nie.

LUNSKAFEE bevat ook vele bydraes van ‘n Christelike aard, en die vermenging van God, Engels en kuns berus op die bekende spreuk: God is an Englishman.

‘n Onderhoud met die bekende "nuwe regse" Antjie Krog wat meen dat die groot politieke filosoof, Dimitri Tsafendas, haar gehelp het om haar land te verstaan. Krog se bydrae was uiters steurend aangesien sy geen Engelse woorde of sinsnedes gebruik het nie, maar miskien kan dit volgende keer oorgeklank word of van onderskrifte voorsien word.

Gerugte wil dit hê dat u aanstaande week op LUNSKAFEE die volgende te wagte kan wees:

‘n Onderhoud met die winkelvensterversierder by Woolworths wat praat oor die kunstige nuwe kussingslope wat hulle ingekry het. Hierdie onderhoud sal in die gewone Englikaans gevoer word, dus sonder onderskrifte.

‘n Onderhoud met ‘n Christelike boemelaar wat sy eie plakkaat geprakseer het waarop staan: "GOD BLES... PLEZE HELP." LUNSKAFEE was so beïndruk met die kreatief taalvaardige en boonop Christelike boemelaar dat hy moontlik ‘n weeklikse bydrae gaan lewer.

‘n Opwindende bydrae oor Barney’s Paint Centre se nuwe kleurskakerings wat in die afdeling oor "beeldende kuns" ingesluit is.

In die tydgleuf vir LUNSNET word ‘n onderhoud gevoer met Koggelmander Strafhom wat sy navorsing in uiters moeilike omstandighede by die Ranch en die Summit Club gedoen het. Ter ere van Strafhom gaan LUNSNET voortaan die B.J. Vorsterprys vir borrelbadletterkunde toeken wat direk op LUNSKAFEE uitgesaai sal word.

Om dit verder te beklemtoon dat LUNSKAFEE as program ‘n voorstander is van loslitafrikaans, is die missie van die program verander na: "Out to lunch by die lunskafee!"

Boontoe