chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Pavane van die Afrikaanses (2)

Rolverdeling

Haarolie Pakendrup, ‘n gewese koerantredakteur

Zakes Wrewel, top burokraat en gewese rektor

Willem Beserk, ‘n man met sy eie mandaat

Toneel 3

(Tafereel: Willem Beserk, Zakes Wrewel en Haarolie Pakendrup saam in swart op ‘n hoogs geheime bosberaad in ‘n donker konferensiekamer. Op die agenda is die ontstellende verskynsel dat die nuwe regses onrusbarend toeneem in getalle.)

Willem Beserk: Voor ons afskop wil ek net sê ek is die enigste een hier wat namens enige iemand kan praat.

Zakes Wrewel: Wat! Moenie vir jou simpel hou nie. Waar was jy die afgelope 40 jaar?

WB: Hier, in dieselfde land as jy, Zakes. En…

Haarolie Pakendrup: Wag, wag nou julle twee. Wil julle nou sommer die bosberaad uit die staanspoor uit laat misluk? Willem, dis ‘n wilde stelling wat jy daar maak.

WB: Glad nie, Haarolie. Kom ons kyk objektief daarna. Van 1962 af werk ek al teen die sisteem. Dag en nag.

ZW (rooi): Dis verregaande!

HP: Bedaar, Zakes. Onthou, hy het darem baie gedoen om PUK-studente so ‘n weersin in CHO te gee met sy wysbegeerte. Hulle het begin sê sy begeerte wys.

ZW (teësinnig): Dis seker so.

WB: Natuurlik, vandag is die sisteem bankrot, Zakes. En dis alles te danke aan my. Ek het al my energie daarin gestort. Ek het oor en oor vir myself gesê: hoe meer belaglik jy dit maak, hoe beter. En siedaar!

HP: Goed Willem, ek en Zakes aanvaar dit so. Maar kom ons praat liewer oor ‘n kernaangeleentheid wat ons almal se posisies raak. Hierdie geheul van die regses helder oordag, terwyl ons hier in ‘n donker kamer moet sit waar ons mekaar skaars kan eien, bekommer my. Ek is so jammer Treurnicht is nie vandag hier om ons te help nie.

ZW: Ja, Haarolie, jy’s reg. Kom ons dink liewer wat ons aan die regse gevaar gaan doen. Ek slaap snags sleg want ek kry die gevoel hulle gaan nie stilbly soos Karel Schoeman nie. (Kyk na Willem) As ek my sonde nie ontsien nie…

HP: Zakes, bedaar nou. Jy kan mos sien die man dra nie velskoene nie.

ZW: Nee, ek kan nie, dis te donker. (Trek sy oë op skrefies en kyk onder die tafel in na Willem se skoene) O, ja nou sien ek. Goed.

WB: Ek was nog altyd buite die politiek, want dis net ‘n gestemmery en netnou is jy uit. Ek is my eie mandaat. En bo en behalwe dit is ek, Willem Beserk, die enigste een hier met twee verledes.

HP: Presies. En daarom kan jy nou dubbel skuldig voel.

ZW: Ek hou van wat ek hoor, Haarolie.

HP: Willem, dit moet ‘n foltering wees.

WB: Nee, glad nie. Dis ‘n plan. Ek werk altyd van binne af. Ek verlam die volk met skuld en boektitels. Hoe erger, hoe beter.

HP (onseker): Hoe so, Willem? Hoe gaan jy die regses daarmee keer?

ZW: Ja, ek dog ons moet net teen die taal werk. Moet nou net nie vir my sê ek het verniet die universiteit toegemaak nie. Ek het dan my bes probeer om Afrikaans heeltemal uit te kry.

WB: Nee, nee Zakes. Jy was reg. Knapgedaan. Jou universiteit is op sy knieë. Maar daar lê nog harde werk voor. Daar’s nog baie universiteite staande waar dit wemel van die taal en regsheid.

HP: Absoluut. En dit gebeur openlik. Die vraag is nou hoe ondergrawe ons hulle?

ZW: Ja, hoe gaan ons dit regkry? Ek sukkel om julle te volg want ek het net een verlede.

WB: Ha! Maar ‘n mens doen dit met skulbelydenis tot aan die einde van dae, natuurlik. Elke keer as iemand iets probeer sê oor die behoud van die taal, slaan ons toe met die kreet: Afrikaans = REGS = Nazis = Volksmoord! Ek hét die geloofwaardigheid om dit te sê. En dan sak ons neer en bely.

HP: En dan?

WB: Dan kyk ons wie sê ja en wie sê nee en dan jaag ons die nee-stemme in ‘n kamp. En daar het jy jou regses op ‘n skinkbord. Maklik.

ZW: Fantasties. Maar sê nou net die nee-stemme is te veel? Ons sal ‘n plan-B moet hê.

HP: Ja, anders kry ons dalk nie hierdie universiteite wat so vinnig groei gesluit nie. Ek kan ‘n ding wat groter word nie verdra nie. Ons sal moet optree.

ZW (onthou skielik): Wag, daar’s ‘n manier om daarby verby te kom. Onthou daar is nog regstellende aksie, kwotas en daai soort ding wat ‘n mens kan inspan en dit werk!

HP: Ek is maar skepties, Zakes. Die taal is nie meer wit genoeg nie. Dis die probleem.

ZW: Ag nee wat, dis niks. Die taal is eintlik nie swart genoeg nie. Daar’s in elk geval nie genoeg mense wat swart voel nie. Nie eers swartes voel meer swart genoeg nie. Hulle sukkel om daai analitiese konsep oor te neem. Ons druk eenvoudig dié wat nie die konsep aanvaar nie uit, ongeag van kleur.

WB: Die meesterplan begin nou vorm aanneem. Ek is darem ‘n ou staatmaker. Hierdie regering gaan net so trots wees op my as die vorige een. Ag, eenmaal ‘n wenner, altyd ‘n wenner. Ek sien myself al…

ZW (onderbreek): Wat van ons?

HP: Ja, wat kry ons?

WB: Mmm? O. Wel, lof. Baie lof.

Nag daal oor die reeds donker kamer waar hulle agter geslote deure die donkerte instaar, tastend na die uitgang. Sal hulle uit wees vóór aandete…?

Boontoe