|
Pavane
van die Afrikaanses (2)
Rolverdeling
Haarolie Pakendrup, ‘n gewese
koerantredakteur
Zakes Wrewel, top burokraat en
gewese rektor
Willem Beserk, ‘n man met sy eie
mandaat
Toneel 3
(Tafereel: Willem Beserk, Zakes
Wrewel en Haarolie Pakendrup saam in swart op ‘n hoogs geheime
bosberaad in ‘n donker konferensiekamer. Op die agenda is die
ontstellende verskynsel dat die nuwe regses onrusbarend toeneem in
getalle.)
Willem Beserk: Voor ons afskop wil
ek net sê ek is die enigste een hier wat namens enige iemand kan
praat.
Zakes Wrewel: Wat! Moenie vir jou
simpel hou nie. Waar was jy die afgelope 40 jaar?
WB: Hier, in dieselfde land as jy,
Zakes. En…
Haarolie Pakendrup: Wag, wag nou
julle twee. Wil julle nou sommer die bosberaad uit die staanspoor
uit laat misluk? Willem, dis ‘n wilde stelling wat jy daar maak.
WB: Glad nie, Haarolie. Kom ons kyk
objektief daarna. Van 1962 af werk ek al teen die sisteem. Dag en
nag.
ZW (rooi): Dis verregaande!
HP: Bedaar, Zakes. Onthou, hy het
darem baie gedoen om PUK-studente so ‘n weersin in CHO te gee
met sy wysbegeerte. Hulle het begin sê sy begeerte wys.
ZW (teësinnig): Dis seker so.
WB: Natuurlik, vandag is die sisteem
bankrot, Zakes. En dis alles te danke aan my. Ek het al my energie
daarin gestort. Ek het oor en oor vir myself gesê: hoe meer
belaglik jy dit maak, hoe beter. En siedaar!
HP: Goed Willem, ek en Zakes aanvaar
dit so. Maar kom ons praat liewer oor ‘n kernaangeleentheid wat
ons almal se posisies raak. Hierdie geheul van die regses helder
oordag, terwyl ons hier in ‘n donker kamer moet sit waar ons
mekaar skaars kan eien, bekommer my. Ek is so jammer Treurnicht is
nie vandag hier om ons te help nie.
ZW: Ja, Haarolie, jy’s reg. Kom
ons dink liewer wat ons aan die regse gevaar gaan doen. Ek slaap
snags sleg want ek kry die gevoel hulle gaan nie stilbly soos
Karel Schoeman nie. (Kyk na Willem) As ek my sonde nie ontsien nie…
HP: Zakes, bedaar nou. Jy kan mos
sien die man dra nie velskoene nie.
ZW: Nee, ek kan nie, dis te donker.
(Trek sy oë op skrefies en kyk onder die tafel in na Willem se
skoene) O, ja nou sien ek. Goed.
WB: Ek was nog altyd buite die
politiek, want dis net ‘n gestemmery en netnou is jy uit. Ek is
my eie mandaat. En bo en behalwe dit is ek, Willem Beserk, die
enigste een hier met twee verledes.
HP: Presies. En daarom kan jy nou
dubbel skuldig voel.
ZW: Ek hou van wat ek hoor, Haarolie.
HP: Willem, dit moet ‘n foltering
wees.
WB: Nee, glad nie. Dis ‘n plan. Ek
werk altyd van binne af. Ek verlam die volk met skuld en
boektitels. Hoe erger, hoe beter.
HP (onseker): Hoe so, Willem? Hoe
gaan jy die regses daarmee keer?
ZW: Ja, ek dog ons moet net teen die
taal werk. Moet nou net nie vir my sê ek het verniet die
universiteit toegemaak nie. Ek het dan my bes probeer om Afrikaans
heeltemal uit te kry.
WB: Nee, nee Zakes. Jy was reg.
Knapgedaan. Jou universiteit is op sy knieë. Maar daar lê nog
harde werk voor. Daar’s nog baie universiteite staande waar dit
wemel van die taal en regsheid.
HP: Absoluut. En dit gebeur openlik.
Die vraag is nou hoe ondergrawe ons hulle?
ZW: Ja, hoe gaan ons dit regkry? Ek
sukkel om julle te volg want ek het net een verlede.
WB: Ha! Maar ‘n mens doen dit met
skulbelydenis tot aan die einde van dae, natuurlik. Elke keer as
iemand iets probeer sê oor die behoud van die taal, slaan ons toe
met die kreet: Afrikaans = REGS = Nazis = Volksmoord! Ek hét die
geloofwaardigheid om dit te sê. En dan sak ons neer en bely.
HP: En dan?
WB: Dan kyk ons wie sê ja en wie sê
nee en dan jaag ons die nee-stemme in ‘n kamp. En daar het jy
jou regses op ‘n skinkbord. Maklik.
ZW: Fantasties. Maar sê nou net die
nee-stemme is te veel? Ons sal ‘n plan-B moet hê.
HP: Ja, anders kry ons dalk nie
hierdie universiteite wat so vinnig groei gesluit nie. Ek kan ‘n
ding wat groter word nie verdra nie. Ons sal moet optree.
ZW (onthou skielik): Wag, daar’s
‘n manier om daarby verby te kom. Onthou daar is nog
regstellende aksie, kwotas en daai soort ding wat ‘n mens kan
inspan en dit werk!
HP: Ek is maar skepties, Zakes. Die
taal is nie meer wit genoeg nie. Dis die probleem.
ZW: Ag nee wat, dis niks. Die taal
is eintlik nie swart genoeg nie. Daar’s in elk geval nie genoeg
mense wat swart voel nie. Nie eers swartes voel meer swart genoeg
nie. Hulle sukkel om daai analitiese konsep oor te neem. Ons druk
eenvoudig dié wat nie die konsep aanvaar nie uit, ongeag van
kleur.
WB: Die meesterplan begin nou vorm
aanneem. Ek is darem ‘n ou staatmaker. Hierdie regering gaan net
so trots wees op my as die vorige een. Ag, eenmaal ‘n wenner,
altyd ‘n wenner. Ek sien myself al…
ZW (onderbreek): Wat van ons?
HP: Ja, wat kry ons?
WB: Mmm? O. Wel, lof. Baie lof.
Nag daal oor die reeds donker kamer
waar hulle agter geslote deure die donkerte instaar, tastend na
die uitgang. Sal hulle uit wees vóór aandete…?
Boontoe
|