chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Voorgestelde monument aan Afrikaner te Vryheidspark (Freedom Park)

PRAAG doen hiermee in sy hoedanigheid as kultuurorganisasie die volgende voorstel vir die voorgenome Afrikanermonument te Vryheidspark.  Dit word ter inligting op die webblad geplaas en sal aangestuur word aan prof. Willie Esterhuyse, lid van die Vryheidsparktrust wat onlangs in die grootste Afrikaanse Sondagkoerant ‘n oproep gedoen het vir voorstelle.  Na ons kommentaar van PRAAG-simpatiseerders ontvang het, sal die voorstel amptelik aan prof. Esterhuyse voorgelê word.  Stuur alle kommentaar aan inlig@praag.org .

Titel van die monument:  “DIE SWART GAT”. 

Aard van die monument:  ‘n gat in die grond, ongeveer twee meter diep, met geen besonderse vorm nie.

Bykomstighede:  ‘n luidspreker wat Nkosi Sikelel’ i Afrika speel.

Motivering:  die gat in die grond stel die vryheidstryd van die Afrikanerkomponent van die nasie voor.  Dit is ook ‘n metafoor vir transformasie aangesien ‘n stuk van Suid-Afrika getransformeer word deur ‘n gat daarin te grawe.  Omdat die Suid-Afrikaanse vryheidstryd ondergronds plaasgevind het, vind ons hier die suiwerste uitdrukking daarvan by wyse van post-moderne grondkuns of “land art”.

Dit is ‘n militante monument want dit toon aan ons die skoonheid van ‘n gat in die grond wat deur ‘n ontploffende handgranaat, mortier of landmyn veroorsaak kon gewees het.  Dit is daarom ‘n gepaste herinnering aan die glorieryke dae van MK en die gewapende stryd.

Die grafelement verwys veral na twee aspekte:  die strewe na totale gelykheid want in die dood is alle mense gelyk, en omgewingsvriendelikheid.  Deur die dood behaal die mens sy enigste ware vryheid, want hy word een met die elemente.  Vir die gelowige persoon is ‘n gat in die grond ook die poort tot die hiernamaals wat gesuggereer word deur die aanhoudende speel van die volkslied, “God seën Afrika”.

Die gat in die grond stel die nederigheid van die Afrikaner voor en sy berusting in sy nuutgevonde vryheid aan die einde van die heroïse stryd om bevryding.  Dit staan ook in narratiewe harmonie met die omliggende voorbeelde van sosiaal-realistiese kuns, die glinsterende brons vryheidsvegters met verhewe Kalasjnikofs wat opmarsjeer na die finale oorwinning.

Daar is ‘n kosmiese verwysing in die titel van die monument, wat natuurlik dui op die digte stof in die ruimte waar materie ingeplof het tot “donker materie”.  Hiermee word die nasiebouprojek op die skaal van die heelal gesimboliseer.

Die monument is ‘n treffende voorbeeld van afrosentrisme in die sin dat dit hoegenaamd nie gebruik maak van enige eurosentriese vorme of elemente nie.  Daar is geen aanwending van marmer of graniet nie, materiale wat dikwels fascistiese waardes soos ewigdurendheid en onmenslike kilheid kan suggereer.  Die binnekant daarvan is in droë weer stowwerig, en in nat weer modderig, wat ‘n openheid teenoor die Afrika-omgewing veronderstel.  Modder en klei is by uitstek tradisionele en natuurlike boustowwe binne Afrikaverband, en die uitgegrawe gat impliseer dat die grond wat daaruit gehaal is elders vir heropbou en ontwikkeling beskikbaar gestel word.

Die monument gaan verder as ‘n blote baas-klaasverhouding tussen die maker daarvan en die passiewe besoeker wat as’t ware gedwing word om die estetiese begrip van die kunstenaar te moet verduur.  In die eerste instansie kan enigeen ‘n gat in die grond grawe, wat duidelik maak dat die vorm uiters demokraties is en dat die gewone mens of gatgrawer ook kan optree as skepper en monumentmaker.  Die monument behels egter ook deelname aan die kant van die kykers of lesers daarvan deurdat besoekers aangemoedig sal word om enige reste of spore van hul besoek in die vorm van sigaretstompies, appelstronke, lekkergoedpapiertjies, gebruikte snesies, ens. in die gat te gooi.  So word die besoekers aan Freedom Park, die burgers van Suid-Afrika, medeskeppers van die Swart Gat en verval die elitistiese en burgerlike onderskeid tussen kunstenaar en kyker.  In Brechtiaanse terme word die besoeker ‘n aktiewe produsent en nie meer ‘n passiewe verbruiker nie.  Sodoende dra die monument by tot die tansformasie van die reaksionêre estetika met sy burgerlike klem op “skoonheid”, “oorspronklikheid”, ens.

Die monument sal uiters kostedoeltreffend wees en deur die byna stoïsynse eenvoud daarvan wil die Afrikaanse gemeenskap sy bereidwilligheid om materiële opofferings te maak in die belang van ‘n groter eenheid en welvaart, oordra.  Enige onbestede fondse na die oprigting of dan uitgrawing van die monument kan geskenk word aan die presidensiële vigsnavorsingsprojek om die vliegkaartjies van dissidente vigskenners te betaal.

Die historiese verwysingsveld van die monument betrek ons land se mynbougeskiedenis, veral die uitbuiting van die werkers (die grawers) deur hul base.  Deur ‘n nasionale monument op te rig ter ere van gate wat gegrawe is, word gepaste hulde aan die land se mynwerkers gebring.

‘n Baie subtiele vorm van tydgenootlike sosiale kommentaar kom verder by deurdat die monument ons daaraan wil herinner dat Suid-Afrika tans ‘n gebrek aan grafte het, omdat dié glo enersyds vol is en andersyds nie meer onderhou word nie weens ‘n gebrek aan geld.  Volgens statistieke gaan daar jaarliks eenmiljoen mense dood in Suid-Afrika, die slagoffers van vigs, motorkapings, padongelukke, moorde, ens., oftewel die erfenis van apartheid, wat sonder ‘n heenkome is.  Die monument is betrokke kuns in die ware sin van die woord omdat dit die breë bevolking wil oproep tot ‘n nuwe, of dan voortgesette, bevrydingstryd om ook iewers ‘n gat te grawe, vir hulself, hul naaste familie, vriende of selfs hul mede-Suid-Afrikaners.  Die ideaal is dat elkeen vir homself ‘n gat behoort te grawe, en sodoende te bou aan sy eie vryheid, maar ook aan die nasionale demokratiese rewolusie.

Die monument wil die nuwe getransformeerde Afrikaner voorstel, en is daarom die antitese van ander Afrikanermonumente soos die Voortrekkermonument of die Afrikaanse Taalmonument wat hemelwaarts reik.  Laasgenoemde word allerweë bestempel as voorbeelde van apartheidargitektuur, en met die Swart Gat doen die Afrikaner dus afstand van sy skandelike verlede en verken sy die grondwaartse lyn in die argitektuur.  Pleks van manlikheid en fallosentrisme wat uit die apartheidsmonumente spreek, vind ons hier ‘n bevrydende terugkeer na Moeder Aarde, die ewige Gaia, wat ‘n teenvoeter bied aan enige ooblyfsels van die patriargale en seksistiese.  Soos wat die monument deur die wind en die weer verander word, ervaar ons nie net die vrugbaarheid van ons aardmoeder nie, maar ook ‘n voortdurende verandering en transformasie, kortom, die orgiastiese ekstase van vryheid.

Boontoe