|
Voorgestelde
monument aan Afrikaner te Vryheidspark (Freedom Park)
PRAAG
doen hiermee in sy hoedanigheid as kultuurorganisasie die volgende
voorstel vir die voorgenome Afrikanermonument te Vryheidspark. Dit word ter inligting op die webblad geplaas en sal
aangestuur word aan prof. Willie Esterhuyse, lid van die
Vryheidsparktrust wat onlangs in die grootste Afrikaanse
Sondagkoerant ‘n oproep gedoen het vir voorstelle.
Na ons kommentaar van PRAAG-simpatiseerders ontvang het,
sal die voorstel amptelik aan prof. Esterhuyse voorgelê word.
Stuur alle kommentaar aan inlig@praag.org
.
Titel
van die monument: “DIE
SWART GAT”.
Aard
van die monument: ‘n
gat in die grond, ongeveer twee meter diep, met geen besonderse
vorm nie.
Bykomstighede:
‘n luidspreker wat Nkosi Sikelel’ i Afrika speel.
Motivering:
die gat in die grond stel die vryheidstryd van die
Afrikanerkomponent van die nasie voor.
Dit is ook ‘n metafoor vir transformasie aangesien ‘n
stuk van Suid-Afrika getransformeer word deur ‘n gat daarin te
grawe. Omdat die
Suid-Afrikaanse vryheidstryd ondergronds plaasgevind het, vind ons
hier die suiwerste uitdrukking daarvan by wyse van post-moderne
grondkuns of “land art”.
Dit
is ‘n militante monument want dit toon aan ons die skoonheid van
‘n gat in die grond wat deur ‘n ontploffende handgranaat,
mortier of landmyn veroorsaak kon gewees het.
Dit is daarom ‘n gepaste herinnering aan die glorieryke
dae van MK en die gewapende stryd.
Die
grafelement verwys veral na twee aspekte:
die strewe na totale gelykheid want in die dood is alle
mense gelyk, en omgewingsvriendelikheid.
Deur die dood behaal die mens sy enigste ware vryheid, want
hy word een met die elemente.
Vir die gelowige persoon is ‘n gat in die grond ook die
poort tot die hiernamaals wat gesuggereer word deur die
aanhoudende speel van die volkslied, “God seën Afrika”.
Die
gat in die grond stel die nederigheid van die Afrikaner voor en sy
berusting in sy nuutgevonde vryheid aan die einde van die heroïse
stryd om bevryding. Dit
staan ook in narratiewe harmonie met die omliggende voorbeelde van
sosiaal-realistiese kuns, die glinsterende brons vryheidsvegters
met verhewe Kalasjnikofs wat opmarsjeer na die finale oorwinning.
Daar
is ‘n kosmiese verwysing in die titel van die monument, wat
natuurlik dui op die digte stof in die ruimte waar materie
ingeplof het tot “donker materie”.
Hiermee word die nasiebouprojek op die skaal van die heelal
gesimboliseer.
Die
monument is ‘n treffende voorbeeld van afrosentrisme in die sin
dat dit hoegenaamd nie gebruik maak van enige eurosentriese vorme
of elemente nie. Daar
is geen aanwending van marmer of graniet nie, materiale wat
dikwels fascistiese waardes soos ewigdurendheid en onmenslike
kilheid kan suggereer. Die
binnekant daarvan is in droë weer stowwerig, en in nat weer
modderig, wat ‘n openheid teenoor die Afrika-omgewing
veronderstel. Modder en klei is by uitstek tradisionele en natuurlike
boustowwe binne Afrikaverband, en die uitgegrawe gat impliseer dat
die grond wat daaruit gehaal is elders vir heropbou en
ontwikkeling beskikbaar gestel word.
Die
monument gaan verder as ‘n blote baas-klaasverhouding tussen die
maker daarvan en die passiewe besoeker wat as’t ware gedwing
word om die estetiese begrip van die kunstenaar te moet verduur.
In die eerste instansie kan enigeen ‘n gat in die grond
grawe, wat duidelik maak dat die vorm uiters demokraties is en dat
die gewone mens of gatgrawer ook kan optree as skepper en
monumentmaker. Die
monument behels egter ook deelname aan die kant van die kykers of
lesers daarvan deurdat besoekers aangemoedig sal word om enige
reste of spore van hul besoek in die vorm van sigaretstompies,
appelstronke, lekkergoedpapiertjies, gebruikte snesies, ens. in
die gat te gooi. So
word die besoekers aan Freedom Park, die burgers van Suid-Afrika,
medeskeppers van die Swart Gat en verval die elitistiese en
burgerlike onderskeid tussen kunstenaar en kyker.
In Brechtiaanse terme word die besoeker ‘n aktiewe
produsent en nie meer ‘n passiewe verbruiker nie.
Sodoende dra die monument by tot die tansformasie van die
reaksionêre estetika met sy burgerlike klem op “skoonheid”,
“oorspronklikheid”, ens.
Die
monument sal uiters kostedoeltreffend wees en deur die byna stoïsynse
eenvoud daarvan wil die Afrikaanse gemeenskap sy bereidwilligheid
om materiële opofferings te maak in die belang van ‘n groter
eenheid en welvaart, oordra.
Enige onbestede fondse na die oprigting of dan uitgrawing
van die monument kan geskenk word aan die presidensiële
vigsnavorsingsprojek om die vliegkaartjies van dissidente
vigskenners te betaal.
Die
historiese verwysingsveld van die monument betrek ons land se
mynbougeskiedenis, veral die uitbuiting van die werkers (die
grawers) deur hul base. Deur
‘n nasionale monument op te rig ter ere van gate wat gegrawe is,
word gepaste hulde aan die land se mynwerkers gebring.
‘n
Baie subtiele vorm van tydgenootlike sosiale kommentaar kom verder
by deurdat die monument ons daaraan wil herinner dat Suid-Afrika
tans ‘n gebrek aan grafte het, omdat dié glo enersyds vol is en
andersyds nie meer onderhou word nie weens ‘n gebrek aan geld.
Volgens statistieke gaan daar jaarliks eenmiljoen mense
dood in Suid-Afrika, die slagoffers van vigs, motorkapings,
padongelukke, moorde, ens., oftewel die erfenis van apartheid, wat
sonder ‘n heenkome is. Die monument is betrokke kuns in die ware sin van die woord
omdat dit die breë bevolking wil oproep tot ‘n nuwe, of dan
voortgesette, bevrydingstryd om ook iewers ‘n gat te grawe, vir
hulself, hul naaste familie, vriende of selfs hul
mede-Suid-Afrikaners. Die
ideaal is dat elkeen vir homself ‘n gat behoort te grawe, en
sodoende te bou aan sy eie vryheid, maar ook aan die nasionale
demokratiese rewolusie.
Die
monument wil die nuwe getransformeerde Afrikaner voorstel, en is
daarom die antitese van ander Afrikanermonumente soos die
Voortrekkermonument of die Afrikaanse Taalmonument wat hemelwaarts
reik. Laasgenoemde
word allerweë bestempel as voorbeelde van apartheidargitektuur,
en met die Swart Gat doen die Afrikaner dus afstand van sy
skandelike verlede en verken sy die grondwaartse lyn in die
argitektuur. Pleks
van manlikheid en fallosentrisme wat uit die apartheidsmonumente
spreek, vind ons hier ‘n bevrydende terugkeer na Moeder Aarde,
die ewige Gaia, wat ‘n teenvoeter bied aan enige ooblyfsels van
die patriargale en seksistiese.
Soos wat die monument deur die wind en die weer verander
word, ervaar ons nie net die vrugbaarheid van ons aardmoeder nie,
maar ook ‘n voortdurende verandering en transformasie, kortom,
die orgiastiese ekstase van vryheid.
Boontoe
|