
Prof.
Johan van der Woldemort aan die woord:
Leerstoel van die Donker Kunste,
Departement Patafisika
Hallo
myself. Vandag is weer een van daardie vreeslike dae waarop ek
so teneergedruk voel omdat ek 'n gedifferensieerde Afrikaanse
subjek is by die Universiteit van Dar-es-Almalsaam, te
Johannesburg. Ek is hier net 'n klipgooi van Mediespark se
sponskamers af.
Ek droom al
so lank daarvan om 'n ongedifferensieerde wêreldburger te wees
wat in die gange van lughawens op en af loop en vliegtuie na
belangrike bestemmings haal waar die filosofie van Patafisika
bestudeer word: Nairobi, Lagos, Harare...noem maar op.
(Nouja, dan
is dit maar vaarwel Afrikaans, vaar wel in die jare wat vir jou
oorbly noudat jou tyd kennelik verby is! Ek is van nou af
gelukkig taalvry omdat ek my middeljarekrisis op my identiteit
projekteer. Wonderlik. Maar ek wil nie te moeilike goed vir
julle skryf wat julle deurmekaar sal maak nie. Netnou raak ek
ook deurmekaar.)
Laat my dus
liewer gou 'n selfmoordreseppie vir Medies24 se Abhort skryf
sodat almal ewe sleg kan voel oor daardie ondemokratiese taal
wat ons kanse op wêreldburgerstatus so belemmer. Dalk is ek
gelukkig en die laaste Afrikaanse lesers pleeg selfmoord by die
lees van my reseppie nog voordat hulle deur misdaad getref word
en dan hoef ons nie die goeie ouens van die Haa-en-See (dis soos
Marthinus dit uitspreek) te blameer vir geweld nie.
Niemand hou
van ons nie. Dis nou maar wors. Om nie van Afrikaanse objekte te
praat nie. Boeke, daai soort goed. Vertaal die hele spul en raak
ontslae van die oorspronklike gemors. Ek wens regtig ek was iets
anders want dan was ek oulik vir die soort mense wat oulike
tweedehandse mense soos ek raaksien! Al wat ek nou is, is 'n
regte plein Afrikaanse. Wat 'n verdoemenis.
Daarom leer ek Sjona. Ek kan
nou al "chimurenga" en "Zanu-PF" sê sonder
'n aksent. Daardie grootse werk van Morfeen van Niewerk, Tarramf,
behoort ook so gou moontlik in Sjona vertaal te word. Wat 'n
lafenis sal dit nie vir ons wêreldburgers wees nie!
Ek sal maar
weer 'n paar reëls uit Tarramf skelm gaan lees om
beter te voel oor myself. Die verhaal van armlastige Afrikaanse
bloedskande is vir my tog te pragtig. Ek wens ons was almal so.
Ag, en as die afloerders - want die hele storie gaan oor twee
lesbiese afloerders wat regte Afrikaanses beskryf - so
vrugteslaai van mekaar se privaatdele afeet vir afleiding na 200
of wat bladsye van afloer, wil ek sommer ekstaties raak. Maar 'n
mens kan ook net soveel afloer voordat jy van verveling
bewusteloos raak.
Ek weet,
want ek is ook 'n afloerder. Ek loer witmense van Europa af. Wat
'n gedoente! Ek loer Franse, Duitsers, enige ding van daar af,
af. Jy sal nie glo wat hulle alles doen nie. Heeltemal anders as
ons regte Afrikaanses. Ek speel ook soms ek is van daar en dan
vermom ek myself soos een en loop en beduie kompleet nes hulle.
Ek kyk ook af en toe in 'n boek en maak of ek blaai. Te lekker.
Ek is al so
moeg vir ondemokratiese tale. Dit maak my ore seer en dis al wat
jy hoor. Frans is definitief een. Kyk wat het hulle in Algerië
gedoen! Ek kan dit nie meer vat nie. Hulle behoort uit te sterf.
En daai Italianers wat van Mussolini gehou het. Dit is net so
ondemokraties, dis walglik. Waarom het misdaad nog nie die plek
getref nie? Russies behoort ook dadelik te verdwyn en ek wil nie
'n gekerm hoor oor Dostojefski of wat ookal nie. Duitsland moet
sommer van die kaart afval. Weg met die lot!
Bring
rookseine terug. Jy kan dinge opbrand terwyl jy met 'n nat
kombers boodkappe uitsein. Demokraties verby want almal kan dit
sien, myle ver. En dit skep werk.
En al skep
dit nie werk nie, moet 'n mens net so sê, want dit klink goed.
Soos die uitdrukking radical democracy. Klink of jy
weet wat gaan aan. En jou gemiddelde taalvrye wêreldburger met
'n wielietjiestas en 'n inligtingstoonbank binne trefafstand is
die soort wat altyd weet wat gaan aan op 'n ander plek, al het
hy nie die vaagste benul nie. Dis hulle wat vir ons demokrasie
na SA, ag ek bedoel Azanië, gebring het. Dankie tog daarvoor.
Die
oplossing is so helder en niemand wil dit raaksien nie. Die
Patafisika verduidelik tog alles! En dan is daar sowaar nog mal
mense wat dit nie kan insien nie. Ek bid jou aan. Een het die
vermetelheid gehad om vir my te kom staan en vra wie ek gaan
afloer as ek al die afgeloerdes wil sien vergaan. Loer ek dalk
vir myself, hê? Daar is nou vir jou 'n voorbeeld van 'n mens
wat nie doodgewone Patafisika kan uitpluis nie.
Die enigste
raad vir daardie soort ongekunsteldheid is uitskryfwerk uit Tarramf.
Honderd keer. Die stukkie oor die posbus wat soos 'n spinnekop
lyk omdat die sweiswerk nie te goed is nie. Dis een van die reëls
in die boek wat die lewe die moeite werd maak. Bleddie oulik sê
ek ook vir myself, myself.
Maar wag,
laat ek gaan uitskryf!
15/09/2003