Kleinboer  

 

wie is ons?

nuus!

sluit aan by praag!

donasies

roodt-geskrifte aanlyn

afrikanerforum

boekwinkel 

chronologie

menings

rubrieke

opstelle

resensies

poësie

satire

mediaverklarings

aksies

skrywers

abba

skakels

briewe

uit-BEELD

uit-RAPPORT

out-STAR

KRYT

tuis


 

KONTREI – KLEINBOER

 

 

KOOP DIE BOEK NOU!

 

 

 

 

 

 

 

 

Outeur: Kleinboer. Titel: Kontrei. Fiksie/roman. Uitgewer: PRAAG. ISBN 0-9584635-4-9. Formaat: 205 x 140mm in sagteband, gestik op 90g houtvrye papier. Kleinhandelprys: R130, BTW ingesluit.

Kleinboer se dualisme

“Kleinboer sê toe hy vir die eerste keer in die laat jare tagtig in Yeoville ingetrek het, moes al sy bure toestemming gee dat hy met die swart vrou met wie hy destyds getroud was daar mag bly. Vandag is hy die enigste wit mens in die woonbuurt. Hy leef in twee wêrelde, sê hy. Die swart wêreld waar hy woon en die wit wêreld waar hy werk en soms saam met vriende kuier.

Hy verwys na N.P. van Wyk Louw, wat skryf dat hy "haat en liefhet", om hierdie dualisme te verduidelik.

In sy lewe het hy albei wêrelde nodig; die intellektuele Westerse boekewêreld waarin hy grootgeword het en die gemaklike, ontspanne wêreld van swart Yeoville. Hy kan nie sonder een van hulle klaarkom nie. As hy in die een is, verlang hy na die ander.”

Uittreksel uit Pieter Malan se onderhoud met Kleinboer, wat op 25 Januarie 2004 in Rapport verskyn het.

Wat sê die resensente van Kontrei?

“Kleinboer se Kontrei het verskyn in boekvorm en die Afrikaanse kulturele werf sal nooit weer dieselfde kan wees nie. Die ou meetsnoere het op nuwe plekke geval, die grensdrade van die vaders is verskuif. Hierdie 237 bladsye, met die roomwit omslag en die netjiese Times New Roman-lettertipe het die literêre bewussyn van ons volkie onherroeplik verander.”

Koos Kombuis

“Hierdie boek is nie vlak nie, hoewel ‘n mens hom seker maklik vlak kan lees, as blote pornografie met teksversies ter versiering. Kleinboer analiseer homself deur die loop van die boek heen; hy verander; hy skrik homself tot dieper nadenke. Daar is heelwat wat tussen die lyne gelees moet word, soos ‘n onverklaarde maar betekenisvolle verhouding wat Kleinboer met sy broer het, wat hier en daar deurskemer. Op verskillende maniere skryf Kleinboer hier sy lewe neer, ‘voor ek vergeet’”…

Christo Lombaard

“Die skuilnaam-skrywer Kleinboer se roman, Kontrei, is 'n bef*kte boek. Een van die genoeglikste lese in 'n lang ruk, maar bowenal 'n boek van paradokse: op die oog af 'n geil n**ikatalogus, maar daarágter 'n verbasend behoudende relaas. Die titel gee al so iets te kenne: enersyds 'n tong-in-die-kies voortsetting - in 'n nuwe sleutel - van die genre van kontreikuns; andersyds die afbakening van 'n nuwe gebied waarin k*nt koning is, met die hoerhuise en sjebiens van Johannesdurg, veral Yeoville en Hillbrow, in die sentrum…

Die merkwaardige is dat die hoofindruk nie soseer "losbandigheid" as beheersing is nie. Beheersing allereers van taal en vertelling; maar ook, en selfs, en dalk juis, in 'n morele dimensie. Dit kom van 'n grondige besef van sterflikheid (die hele vertelling begin al met 'n begrafnis), en van menslike beperktheid. Maar dit werk deur op alle vlakke. Dis nie régtig, soos die verteller ons wil laat glo 'n lewe "na aan die edge" nie, maar eerder 'n gevoel van verdwaaldheid in 'n wêreld wat - veral deur kompulsiewe seks - saamgehou móét word, anders vlieg alles in sy moer.”

André Brink

Jan Rabie/Rapportprys 2004

Tim du Plessis, redakteur van Rapport, wens Kleinboer

met die Jan Rabie/Rapportprys van 2004 geluk