|
Het
u 'n brief aan Rapport gerig wat nie geplaas is nie? Stuur dit aan inlig@praag.org
en ons plaas dit hier.
Chris
Louw, 02/04/01: Is Rapport te bang , te lui of maar net pateties ?
Interessantheidshalwe,
in opvolging van Johann Rossouw se brief aan/oor Rapport, enkele
stawende voorbeelde van die soort joernalistiek wat dalk tot die
"koerant" se dalende koopsyfers bydra:
*
Sedert kort voor die stigting van die Groep van 63 net meer as 'n jaar
gelede, skryf Anne-Marie Mischke gereeld oor my en oor my standpunte.
Onder meer het sy al gespekuleer oor waar ek staan ten opsigte van die
Afrikaans-kwessie, en ook oor my standpunte en rol in die sogenaamde
Boetman-debat. Vir die rekord: Hoewel me Mischke se kantoor minder as
'n kilometer van myne is, het sy my nog nooit besoek of selfs net
gebel om my kommentaar oor enigiets te kry nie. Indien sy my gebel het,
sou Rapport se kwynende getal lesers haar bespiegelinge gespaar kon
gewees het en ingelig kon gewees het oor wat my werklike standpunte
is. (Vroeër jare het ons nogal met mekaar gepraat.)
*
Wanneer 'n foto van my in Rapport gepubliseer word, is dit een wat ses
jaar gelede geneem is. Ek het intussen grys geword en 'n hele paar
plooie gekry, maar in Rapport lyk ek soos die jeugdige idealis (die
"Boetman" wat maar nie te ernstig opgeneem hoef te word nie?)
wat destyds by die SAUK begin werk het. Is Rapport, soos Annemarie
Mischke, te bang/skaam om met my te praat en te reël vir 'n vars foto?
Of is die redaksie in dié opsig ook net te lui om van hulle stoele af
op te staan in die kantore waar hulle hul koppe hamer om nuwe stories
te fabriseer?
*
Kort na die stigting van die Groep van 63 het Mariechen Waldner van
Rapport se Pretoria-kantoor my gebel. Ek ken haar die afgelope 25 jaar,
'n mens sou selfs kon sê ons is vriende, en ek het haar woord aanvaar
toe sy sê ons gesprek is privaat ter wille van agtergrond vir haar
voordat sy mense soos Johann Rossouw vir kommentaar nader. My
amptelike reaksie sou sy later kry. Nodeloos om te sê dat nagenoeg
alles wat ek privaat met 'n "vriendin" bespreek het, die
volgende Sondag in Rapport verskyn het -- persoonlike opmerkings oor
ander mense inkluis. (Nog 'n voorbeeld van Mariechen Waldner se soort
joernalistiek word genoem in my boek "Boetman en die swanesang
van die verligtes".)
*
Onlangs het ene Liryn de Jager van Rapport my gebel nadat aanbieder
Anne-Marie Bezdrob se kontrak met Monitor verval het en die SAUK nie
'n nuwe kontrak met haar onderhandel het nie. 'n Ou kollega het my die
Saterdag voor publikasie uit Johannesburg gebel en laat weet dat die
derde paragraaf van me De Jager se berig die stelling bevat dat ek
(Chris Louw) "enkele jare gelede dissiplinêr (deur die SAUK)
aangekla is weens rassisme en seksisme". Ek het Rapport se
nuusredakteur, André le Roux (nog 'n ou vriend), gebel en hom daarop
gewys dat daar nie 'n greintjie waarheid in me De Jager se "feite"
is nie; ek is nog nooit dissiplinêr vir òf rassisme òf seksisme
aangekla nie. Le Roux het gesê hy sal reël dat dit reggestel word.
Sedertdien het Rapport twee keer berigte gedra waarin dit gestel word
dat "Chris Louw teenoor Rapport ontken (het) dat hy enkele jare
gelede weens seksisme en rassisme aangekla is". (Vir dieselfde
geld kon ek me De Jager gebel het en sonder enige aanloop of bewys
gevra het of sy van tyd tot tyd vroue-onderklere by Woolworths steel;
sou sy dit ontken, kon ek met ewe veel stelligheid berig het: "Me
Liryn de Jager het teenoor Monitor ontken dat sy van tyd tot tyd
vroue-onderklere steel.")
Ek
kla nie meer by Rapport oor die onprofessionele manier waarop berig
gedoen word nie; die laaste keer dat ek by die redakteur, Johan de
Wet, beswaar gemaak het oor die bestuur en manipulering van feite, het
ek 'n patetiese boodskap in my e-pos gekry waarin hy vertel dat sy
skoonma aan die sterf is en dat hy haar met 'n teelepeltjie water moet
voer. Sy persoonlike tragedie het hom by implikasie onthef van alle
aandadigheid of verantwoordelikheid, en het my inderdaad tot die
aggressor omskep! (Die kwessie destyds het daaroor gegaan dat alle
Afrikaanse koerante, met die uitsondering van Rapport, oorval is deur
briewe van lesers wat my gesteun het in my Ope Brief aan Willem de
Klerk. Die enkele briefie of so wat in Rapport gepubliseer is, het my
baie voorspelbaar 'n paar dwarsklappe gegee. Dit verg nie eintlik 'n
breinspesialis om te weet dat Rapport briewe manipuleer om 'n bepaalde
"boodskap" by haar lesers tuis te bring nie. Net soos Johann
Rossouw, sal baie ander mense kan getuig hoe hulle briewe in die
brieweredaktrise se snippermandjie beland indien dit nie by haar
agenda inpas nie.)
Skinderstories
oor Monitor se binnewerkinge word gereeld as "nuus" in
Rapport opgedis. Miskien moet ons nou maar openlik begin om lede van
die joernalistiekberoep te ontmasker vir die filistyne wat ons is. Wat
van 'n spesiale afdeling in LitNet warin net berigte oor joernaliste
se skandes geplaas word? Suid-Afrikaners is geregtig daarop om te weet
wie die mense is wat besluit wat hulle mag lees en hoor.
*
Mense wat belang stel in hoe gemeenskappe deur hul nuusmedia gedien
behoort te word, kan gerus die boek The Conversation of
Journalism: Communication, Community, and News lees. Die skrywers
is Rob Anderson, Robert Dardenne en George M Killenberg, en die boek
word uitgegee deur Praeger. Die basiese tema is dat joernalistiek
interaktief behoort te wees -- nie eensydighede uit die hoogte deur
joernaliste nie, maar kommunikasie tussen redaksie en lesers. Miskien
behoort ons eie media dit ter harte te probeer neem.
boontoe
|