wie is ons?

nuus!

sluit aan by praag!

donasies

roodt-geskrifte aanlyn

afrikanerforum

boekwinkel 

chronologie

menings

rubrieke

opstelle

resensies

poësie

satire

mediaverklarings

aksies

skrywers

abba

skakels

briewe

uit-BEELD

uit-RAPPORT

out-STAR

KRYT

tuis

Het u 'n brief aan Rapport gerig wat nie geplaas is nie? Stuur dit aan inlig@praag.org en ons plaas dit hier.

Chris Louw, 02/04/01: Is Rapport te bang , te lui of maar net pateties ?

Interessantheidshalwe, in opvolging van Johann Rossouw se brief aan/oor Rapport, enkele stawende voorbeelde van die soort joernalistiek wat dalk tot die "koerant" se dalende koopsyfers bydra:

* Sedert kort voor die stigting van die Groep van 63 net meer as 'n jaar gelede, skryf Anne-Marie Mischke gereeld oor my en oor my standpunte. Onder meer het sy al gespekuleer oor waar ek staan ten opsigte van die Afrikaans-kwessie, en ook oor my standpunte en rol in die sogenaamde Boetman-debat. Vir die rekord: Hoewel me Mischke se kantoor minder as 'n kilometer van myne is, het sy my nog nooit besoek of selfs net gebel om my kommentaar oor enigiets te kry nie. Indien sy my gebel het, sou Rapport se kwynende getal lesers haar bespiegelinge gespaar kon gewees het en ingelig kon gewees het oor wat my werklike standpunte is. (Vroeër jare het ons nogal met mekaar gepraat.)

* Wanneer 'n foto van my in Rapport gepubliseer word, is dit een wat ses jaar gelede geneem is. Ek het intussen grys geword en 'n hele paar plooie gekry, maar in Rapport lyk ek soos die jeugdige idealis (die "Boetman" wat maar nie te ernstig opgeneem hoef te word nie?) wat destyds by die SAUK begin werk het. Is Rapport, soos Annemarie Mischke, te bang/skaam om met my te praat en te reël vir 'n vars foto? Of is die redaksie in dié opsig ook net te lui om van hulle stoele af op te staan in die kantore waar hulle hul koppe hamer om nuwe stories te fabriseer?

* Kort na die stigting van die Groep van 63 het Mariechen Waldner van Rapport se Pretoria-kantoor my gebel. Ek ken haar die afgelope 25 jaar, 'n mens sou selfs kon sê ons is vriende, en ek het haar woord aanvaar toe sy sê ons gesprek is privaat ter wille van agtergrond vir haar voordat sy mense soos Johann Rossouw vir kommentaar nader. My amptelike reaksie sou sy later kry. Nodeloos om te sê dat nagenoeg alles wat ek privaat met 'n "vriendin" bespreek het, die volgende Sondag in Rapport verskyn het -- persoonlike opmerkings oor ander mense inkluis. (Nog 'n voorbeeld van Mariechen Waldner se soort joernalistiek word genoem in my boek "Boetman en die swanesang van die verligtes".)

* Onlangs het ene Liryn de Jager van Rapport my gebel nadat aanbieder Anne-Marie Bezdrob se kontrak met Monitor verval het en die SAUK nie 'n nuwe kontrak met haar onderhandel het nie. 'n Ou kollega het my die Saterdag voor publikasie uit Johannesburg gebel en laat weet dat die derde paragraaf van me De Jager se berig die stelling bevat dat ek (Chris Louw) "enkele jare gelede dissiplinêr (deur die SAUK) aangekla is weens rassisme en seksisme". Ek het Rapport se nuusredakteur, André le Roux (nog 'n ou vriend), gebel en hom daarop gewys dat daar nie 'n greintjie waarheid in me De Jager se "feite" is nie; ek is nog nooit dissiplinêr vir òf rassisme òf seksisme aangekla nie. Le Roux het gesê hy sal reël dat dit reggestel word. Sedertdien het Rapport twee keer berigte gedra waarin dit gestel word dat "Chris Louw teenoor Rapport ontken (het) dat hy enkele jare gelede weens seksisme en rassisme aangekla is". (Vir dieselfde geld kon ek me De Jager gebel het en sonder enige aanloop of bewys gevra het of sy van tyd tot tyd vroue-onderklere by Woolworths steel; sou sy dit ontken, kon ek met ewe veel stelligheid berig het: "Me Liryn de Jager het teenoor Monitor ontken dat sy van tyd tot tyd vroue-onderklere steel.")

Ek kla nie meer by Rapport oor die onprofessionele manier waarop berig gedoen word nie; die laaste keer dat ek by die redakteur, Johan de Wet, beswaar gemaak het oor die bestuur en manipulering van feite, het ek 'n patetiese boodskap in my e-pos gekry waarin hy vertel dat sy skoonma aan die sterf is en dat hy haar met 'n teelepeltjie water moet voer. Sy persoonlike tragedie het hom by implikasie onthef van alle aandadigheid of verantwoordelikheid, en het my inderdaad tot die aggressor omskep! (Die kwessie destyds het daaroor gegaan dat alle Afrikaanse koerante, met die uitsondering van Rapport, oorval is deur briewe van lesers wat my gesteun het in my Ope Brief aan Willem de Klerk. Die enkele briefie of so wat in Rapport gepubliseer is, het my baie voorspelbaar 'n paar dwarsklappe gegee. Dit verg nie eintlik 'n breinspesialis om te weet dat Rapport briewe manipuleer om 'n bepaalde "boodskap" by haar lesers tuis te bring nie. Net soos Johann Rossouw, sal baie ander mense kan getuig hoe hulle briewe in die brieweredaktrise se snippermandjie beland indien dit nie by haar agenda inpas nie.)

Skinderstories oor Monitor se binnewerkinge word gereeld as "nuus" in Rapport opgedis. Miskien moet ons nou maar openlik begin om lede van die joernalistiekberoep te ontmasker vir die filistyne wat ons is. Wat van 'n spesiale afdeling in LitNet warin net berigte oor joernaliste se skandes geplaas word? Suid-Afrikaners is geregtig daarop om te weet wie die mense is wat besluit wat hulle mag lees en hoor.

* Mense wat belang stel in hoe gemeenskappe deur hul nuusmedia gedien behoort te word, kan gerus die boek The Conversation of Journalism: Communication, Community, and News lees. Die skrywers is Rob Anderson, Robert Dardenne en George M Killenberg, en die boek word uitgegee deur Praeger. Die basiese tema is dat joernalistiek interaktief behoort te wees -- nie eensydighede uit die hoogte deur joernaliste nie, maar kommunikasie tussen redaksie en lesers. Miskien behoort ons eie media dit ter harte te probeer neem.

boontoe