wie is ons?

nuus!

sluit aan by praag!

donasies

roodt-geskrifte aanlyn

afrikanerforum

boekwinkel 

chronologie

menings

rubrieke

opstelle

resensies

poësie

satire

mediaverklarings

aksies

skrywers

abba

skakels

briewe

uit-BEELD

uit-RAPPORT

out-STAR

KRYT

tuis

Het u 'n brief aan Rapport gerig wat nie geplaas is nie? Stuur dit aan inlig@praag.org en ons plaas dit hier.

Johann Wingard, 10/04/2001: Kritiek, skinder en etiek

Daar doen die redakteur van ’n bekende Afrikaanse Sondagkoerant dit toe self.  Hy wy sy weeklikse Politieke Rubriek daaraan om sy wyshede oor webwerwe kwyt te raak en om die magsposissie wat die establishment aan hom toevertrou het te misbruik sodat almal en alles in ’n politieke drukgang geforseer sal word.   Veral webwerwe wat durf waag om alles te publiseer wat voor hul “voordeure afgesmyt” word, word gewaarsku en afgedreig.  Hy bepleit dat briewe aan webwerwe gesensor moet word, anders verbeur hulle dalk die enkele “gunsie” wat hulle van sy koerant mag ontvang. “Dan moet besluit word hoe dapper die webwerf werklik wil wees,” waarsku hy.  Gereelde lesers van sommige webwerwe (mens kan sommer ook bysê Sondagkoerante) sal weet waarvan ek praat,’ om die betrokke redakteur se eie woorde te gebruik. Hy sê dat kritiek goed is maar hy verwerp die geskinder en hy bevraagteken die etiek van webwerwe.  Volgens my oordeel is die skrywer van daardie spesifieke stuk moreel bankrot.

Van etiek gepraat; vandag se Afrikaanse koerante se beheptheid met politieke korrektheid en hul fyngevoeligheid oor enige kritiek daaroor, beklemtoon die konflik tussen filosofiese etiek teenoor gesonde verstand etiek.  Mens mag met reg vra of sulke koerante nie hul etiese kode van eerlikheid en geregtigheid as ’n eng egoisties-hedonistiese drang vertolk wat slegs hul eie belang nastreef; ’n utilitarisme waar die enigste werklike goeie dinge in die lewe slegs plesier en afwesigheid van pyn vir die maghebbers is. Is so ’n vertolking op sigself deugsaam wanneer die funksie van etiese taal nie bestaan om inligting deur te gee of om self enigiets substantief te beweer nie, maar om emosionele en praktiese standpunte in te neem en om die lesers te lei om hul standpunte te aanvaar, want etiese uitdrukkings kan nie waar of vals wees nie.  Dit weerspieël slegs die gemoedstoestand van die een wat dit uiter, want, daar is mos geen oordeel oor etiek as sulks nie. ( W.D. Ross The right and the good (1930).  R. M. Hare, The language of morals (1952)

Misbruik sekere koerante nie hul markoorheersing om hul spesifieke etiek so oor te dra nie?  Dit is duidelik dat hierdie redakteur geen benul het van die werking van die internet, vergeleke met dié van koerante nie.  Hy vergeet dat webwerwe nie meningsvormers soos sy koerant is nie, maar dat hulle meningsdraers is.  Hulle is spieëlbeelde van die werklikheidsgevoel van hul lesers.  Om ’n webwerf af te dreig is soos om ’n spieël af te dreig.  Webwerwe kan nooit polities korrek wees nie.  Hulle bestaan soos radiogolwe slegs in die kuberruimte en is globaal en neutraal en konnekteer rekenaars met mekaar. Die kwessie van etiek rus nie op die werf nie, maar op die skrywer self. ’n Skrywer kan nooit ’n krater van die werf maak nie – net van hom/haarself.   Daar is onlangs nog op hierdie werf verwys na die gevare wat die internet vir skrywers inhou.  Vanweë die feit dat webwerwe letterlik geen ruimtebeperking het nie, is daar dus geen sin daarin om ’n brief te verkort nie.  Verder is dit uiters riskant vir ’n werf om inhoudelik aan die briewe te torring, want, sou dit gebeur, dan loop die werf binne ’n kwessie van maande dood.

Die redakteur se reaksie op die webwerf se publisering van ’n dokument wat hy of in geheel of gedeeltelik nooit sou dra nie, is die oorspronklike manifestering van die Afrikaner Establishment in sy naakte werklikheid.  Daar is klaar besluit wat goed vir die Afrikaners is en hoe Afrikaners die veranderde politieke situasie moet dink en redeneer.  ’n Bepaalde koers is reeds ingeslaan en hierdie betrokke Sondagkoerant word skaamteloos ingespan om die Afrikaners weereens te breinspoel om aan die establishment se norme te voldoen.  Enige vorm van weerstand teen die heersende orde sal as ‘regs’ en verwerplik vertolk en veroordeel word.

Almal is bewus van die eeue-oue beperking wat op koerante rus.  Koerantredakteurs word aangestel om hul belanghebbers se bepaalde siening op ’n bepaalde wyse oor te dra sodat hul inkomste uit advertensies, tenders vir drukwerk, en die samewerking van hul nuusbronne verseker kan word.  Skynbaar redeneer Afrikaanse koerante vandag dat hulle die lesers besit, dat sy lesers, soos ’n vorige skrywer beweer het, inderdaad geprivatiseer is.  Daar is egter baie slegte nuus vir die Redakteur, en nou skinder ek nie:  Was dit nie vir die Supertwaalf nie, het daardie betrokke Sondagkoerant seker lankal die pyn van sy krimpende leserstal besef.  Miskien sal dit hom ten goede strek om ’n meningspeiling onder sy lesers te maak en om te sien watter deel van hul koerant werklik gelees word.  ’n Alternatiewe Sondagkoerant, wat net in sport sou spesialiseer, sonder enige van vandag se onwerklike politieke of sogenaamde sosiale nuus daarin, sal vandag se Sondagkoerant waarskynlik binne ’n kwessie van maande laat sluit.

Ek oorweeg dit nie eens om hierdie skrywe aan die betrokke koerant deur te gee nie, want dis seker te lank, te onvleiend en te krities.  Gelukkig kan ’n webwerf dit sonder enige moeite of verleentheid hanteer, aangesien hy geen politieke of enige ander belang het anders as om net ’n eerlike spieël te wees nie.

Johann Wingard

boontoe