| wie
is ons?
nuus!
sluit aan by
praag!
donasies
roodt-geskrifte
aanlyn
afrikanerforum
boekwinkel
chronologie
menings
rubrieke
opstelle
resensies
poësie
satire
mediaverklarings
aksies
skrywers
abba
skakels
briewe
uit-BEELD
uit-RAPPORT
out-STAR
KRYT
tuis |
|
Het
u 'n brief aan Rapport gerig wat nie geplaas is nie? Stuur dit aan inlig@praag.org
en ons plaas dit hier.
Daar
doen die redakteur van ’n bekende Afrikaanse Sondagkoerant dit toe
self. Hy wy sy weeklikse
Politieke Rubriek daaraan om sy wyshede oor webwerwe kwyt te raak en
om die magsposissie wat die establishment aan hom toevertrou het te
misbruik sodat almal en alles in ’n politieke drukgang geforseer sal
word. Veral
webwerwe wat durf waag om alles te publiseer wat voor hul “voordeure
afgesmyt” word, word gewaarsku en afgedreig. Hy bepleit dat briewe aan webwerwe gesensor moet word, anders
verbeur hulle dalk die enkele “gunsie” wat hulle van sy koerant
mag ontvang. “Dan moet besluit
word hoe dapper die webwerf werklik wil wees,” waarsku hy.
‘Gereelde lesers van
sommige webwerwe (mens kan sommer ook bysê Sondagkoerante) sal weet waarvan ek praat,’ om die betrokke redakteur se eie
woorde te gebruik. Hy sê dat kritiek goed is maar hy verwerp die
geskinder en hy bevraagteken die etiek van webwerwe.
Volgens my oordeel is die skrywer van daardie spesifieke stuk
moreel bankrot.
Van etiek gepraat;
vandag se Afrikaanse koerante se beheptheid met politieke korrektheid
en hul fyngevoeligheid oor enige kritiek daaroor, beklemtoon die
konflik tussen filosofiese etiek teenoor gesonde verstand etiek.
Mens mag met reg vra of sulke koerante nie hul etiese kode van
eerlikheid en geregtigheid as ’n eng egoisties-hedonistiese drang
vertolk wat slegs hul eie belang nastreef; ’n utilitarisme waar die
enigste werklike goeie dinge in die lewe slegs plesier en afwesigheid
van pyn vir die maghebbers is. Is so ’n vertolking op sigself
deugsaam wanneer die funksie van etiese taal nie bestaan om inligting
deur te gee of om self enigiets substantief te beweer nie, maar om
emosionele en praktiese standpunte in te neem en om die lesers te lei
om hul standpunte te aanvaar, want etiese uitdrukkings kan nie waar of
vals wees nie. Dit
weerspieël slegs die gemoedstoestand van die een wat dit uiter, want,
daar is mos geen oordeel oor etiek as sulks nie. ( W.D. Ross The
right and the good (1930). R.
M. Hare, The language of morals (1952)
Misbruik sekere
koerante nie hul markoorheersing om hul spesifieke etiek so oor te dra
nie? Dit is duidelik dat
hierdie redakteur geen benul het van die werking van die internet,
vergeleke met dié van koerante nie.
Hy vergeet dat webwerwe nie meningsvormers
soos sy koerant is nie, maar dat hulle meningsdraers
is. Hulle is spieëlbeelde
van die werklikheidsgevoel van hul lesers.
Om ’n webwerf af te dreig is soos om ’n spieël af te dreig.
Webwerwe kan nooit polities korrek wees nie.
Hulle bestaan soos radiogolwe slegs in die kuberruimte en is
globaal en neutraal en konnekteer rekenaars met mekaar. Die kwessie
van etiek rus nie op die werf nie, maar op die skrywer self. ’n
Skrywer kan nooit ’n krater van die werf maak nie – net van hom/haarself.
Daar is onlangs nog op hierdie werf verwys na die gevare wat
die internet vir skrywers inhou.
Vanweë die feit dat webwerwe letterlik geen ruimtebeperking
het nie, is daar dus geen sin daarin om ’n brief te verkort nie.
Verder is dit uiters riskant vir ’n werf om inhoudelik aan
die briewe te torring, want, sou dit gebeur, dan loop die werf binne
’n kwessie van maande dood.
Die redakteur se
reaksie op die webwerf se publisering van ’n dokument wat hy of in
geheel of gedeeltelik nooit sou dra nie, is die oorspronklike
manifestering van die Afrikaner Establishment in sy naakte werklikheid.
Daar is klaar besluit wat goed vir die Afrikaners is en hoe
Afrikaners die veranderde politieke situasie moet dink en redeneer.
’n Bepaalde koers is reeds ingeslaan en hierdie betrokke
Sondagkoerant word skaamteloos ingespan om die Afrikaners weereens te
breinspoel om aan die establishment se norme te voldoen.
Enige vorm van weerstand teen die heersende orde sal as
‘regs’ en verwerplik vertolk en veroordeel word.
Almal is bewus van
die eeue-oue beperking wat op koerante rus.
Koerantredakteurs word aangestel om hul belanghebbers se
bepaalde siening op ’n bepaalde wyse oor te dra sodat hul inkomste
uit advertensies, tenders vir drukwerk, en die samewerking van hul
nuusbronne verseker kan word. Skynbaar
redeneer Afrikaanse koerante vandag dat hulle die lesers besit, dat sy
lesers, soos ’n vorige skrywer beweer het, inderdaad geprivatiseer
is. Daar is egter baie
slegte nuus vir die Redakteur, en nou skinder ek nie:
Was dit nie vir die Supertwaalf nie, het daardie betrokke
Sondagkoerant seker lankal die pyn van sy krimpende leserstal besef. Miskien sal dit hom ten goede strek om ’n meningspeiling
onder sy lesers te maak en om te sien watter deel van hul koerant
werklik gelees word. ’n
Alternatiewe Sondagkoerant, wat net in sport sou spesialiseer, sonder
enige van vandag se onwerklike politieke of sogenaamde sosiale nuus
daarin, sal vandag se Sondagkoerant waarskynlik binne ’n kwessie van
maande laat sluit.
Ek oorweeg dit nie
eens om hierdie skrywe aan die betrokke koerant deur te gee nie, want
dis seker te lank, te onvleiend en te krities.
Gelukkig kan ’n webwerf dit sonder enige moeite of
verleentheid hanteer, aangesien hy geen politieke of enige ander
belang het anders as om net ’n eerlike spieël te wees nie.
Johann Wingard
boontoe
|