|
Het
u 'n brief aan Rapport gerig wat nie geplaas is nie? Stuur dit aan inlig@praag.org
en ons plaas dit hier.
Marthie
Richter, 25/06/2001: Dan Roodt en Winnie Mandela
Die brief was
oorspronklik vir Rapport bedoel(gestuur 18 Junie)
Twee gebeure in sameloop
met die draai van die week, lok onwillekeurig reaksie uit. Eers was
daar die onderonsie tussen pres. Mbeki en Winnie, waaroor 'n mond
vol gesê kan word en dan was daar Dan Roodt oor Jakes
Gerwel(Rapport,17 Junie). Vergun my dus nogeens 'n toepassing van
Gerwel se aanhaling van die filosoof Vico: 'nie om menslike gedrag
te bespot of daaroor te ween of om dit te haat nie, maar om te
verstaan.'(Rapport 10 Junie)
Sommige mense
raak wyser met die jare. Dan is daar diegene wat mettertyd so effens
van balans af raak. Is dit mense wat vanuit 'n magsbasis opereer
soos Winnie en Robert Mugabe, raak dit gevaarlik en is 'om te
verstaan' nie altyd voldoende nie. Hoewel mens aan die anderkant tog
ook nie kan help om so klein bietjie oor hulle te ween nie, veral as
in ag geneem word dat hulle lewenspaaie nie altyd met rose besaai
was nie.
As dit kom by Dan
Roodt, moet ek erken dat sy openbare tirades, meestal teen individue
gemik, my telkens met 'n warboel van emosies agterlaat. Eindelik is
dit nou uitgesorteer. My gevoelens oor sy openbare uitsprake kom in
drie fases. Eers laat dit my stomgeslaan oor die hewigheid van die
aanval op 'n medemens. Dan gaan ek in 'n staat van verwondering oor
die kleurvolheid van sy woordeskat en luisterryke beheer oor die
taal. Dit loop uit in 'n opwelling van opwinding en afwagting - dit
is weer lekker om Afrikaans te wees.
Om 'n
onverklaarbare rede verroer Dan met sy skrywery 'n bewuswording van
'n nuwe Afrikaanse identiteit wat onder ons aan die posvat is.
Bowendien wie anders het 'n Dan Roodt?
Roodt is soos
borrie en gemmer waarsonder ons armer sal wees. My versoek dus, moet
hom tog net nie doodswyg nie. Eintlik verdien hy sy eie hoekie in
die koerant, waar hy weekliks kan stoom afblaas. As ons kan
onderneem om mekaar nie te ernstig op te neem nie, kan dit sommer 'n
plek word waar ons van die oorblyfsels van opgekrapte woede ontslae
kan raak.
Marthie Richter
boontoe
|